- This event has passed.
Prof Sophie von der Heyden
Augustus 8, 2023 @ 17:3018:30
’n Kort reis deur die evolusie van mariene molekulêre ekologie in Suider-Afrika: 15 jaar se perspektiewe
Die Suider-Afrikaanse kuslyn, wat oor meer as 3 000 km strek, is stellig die mees diverse ter wêreld en wissel van oorwegend kouewater- tot tropiese stelsels. Die unieke omgewingstoestande by die samevloeiing van die Atlantiese en die Indiese Oseaan bied fassinerende geleenthede vir navorsing oor die historiese en kontemporêre patrone en prosesse wat biologiese gemeenskappe vorm. Heelwat mariene spesies het populasies met die merkwaardige vermoë om in sowel toenemend koue as warm water te oorleef. Die invloed wat dít op die evolusiedinamiek van mariene spesies kan hê, is aanvanklik nie juis goed verstaan nie. Sedert 2005 dui Sophie von der Heyden se navorsing met behulp van ’n wye verskeidenheid molekulêre benaderings, waaronder die volgordebepaling van gene, genome, en meer onlangs ook volledige populasies, egter op aansienlike kriptiese populasie- genetiese struktuur, selfs by spesies wat potensieel wydverspreid voorkom. Baie spesies het dus duidelik onderskeibare populasies langs die kuslyn, en vir kommersiële spesies soos stokvis en koningklip, selfs in die diepsee. Dít het ingrypende gevolge vir hoe ons mariene hulpbronne bestuur en bewaar, veral in veranderende klimate, en is van die allergrootste belang om te bepaal of huidige bewaringspogings, soos dié deur middel van mariene beskermde gebiede, in die toekoms die unieke diversiteit van Suider-Afrikaanse oseane sal kan bewaar. Sophie se werk dui op die behoefte aan, en bied oplossings vir, die beter integrasie van molekulêre data om die langtermynoorlewing van die unieke mariene biodiversiteit langs die kuslyn van Suider-Afrika te ondersteun.
Kort biografie
Sophie von der Heyden het in 2001 die graad BSc in Biologiese Wetenskappe met spesialisasie in Akwatiese Biologie aan King’s College in Londen verwerf, en in 2004 ’n DPhil in Evolusiebiologie aan die Universiteit van Oxford. Sy sluit haar in 2005 as ’n nadoktorale genoot by die Departement Plant- en Dierkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) aan en word in 2010 as ’n dosent aangestel. Sy kombineer haar liefde vir sowel die see as genetika om die dinamiek van mariene populasies langs die diverse kus van Suider-Afrika te bestudeer, en om te bepaal hoe molekulêre data vir die bewaring en bestuur van mariene hulpbronne gebruik kan word. Dít lei nie net tot boeiende insigte in die evolusiedinamiek van een van die uniekste ekosisteme ter wêreld nie, maar ook die ontwikkeling, toepassing en uitbreiding van molekulêre benaderings tot die studie van natuurstelsels. Sedert haar aanstelling in 2010 was Sophie al studieleier vir meer as 60 honneurs-, MSc- en PhD-studente, het sy bykans 100 artikels in internasionaal gerekende vaktydskrifte gepubliseer, en een boek sowel as verskeie boekhoofstukke die lig laat sien. Sy het ’n wye nasionale en internasionale netwerk kollegas en dien in etlike hoëprofiel- internasionale beheerkomitees, waaronder vir die Vereniging vir Bewaringsbiologie, die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (UNESCO) en die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (IUCN). Haar innoverende benaderings tot die studie van mariene stelsels in Suider-Afrika maak Sophie ’n gewilde hoofspreker by internasionale konferensies en werksessies en het haar erkenning van sowel die Wêreldakademie vir Wetenskap as die Japanse Forum vir Wetenskap en Tegnologie in die Samelewing besorg. Sy was al lid van die redaksiekommissies van ’n aantal topvaktydskrifte en het jare lank as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Netwerk vir Kus- en Oseaannavorsing gedien. As gevolg van haar werk om die wêreld se begrip van die impak van veranderende klimate en oseane te verdiep, is sy onlangs ook as medewerker van die US se transdissiplinêre Skool vir Klimaatstudie aangestel.
Nuutste Opmerkings