Loading Events

« Alle Intreeredes

  • This event has passed.

Prof Susana Clusella-Trullas

Intreerede

September 19, 2023 @ 17:3018:30

Moet ek bly of moet ek gaan? Die bestudering van koudbloedige diere se reaksie op klimaatsverandering

Die klimaat verander teen ’n angswekkende tempo en het ’n verwoestende uitwerking op spesievolharding, wat ganse ekosisteme verander en menslike voedselsekerheid en gesondheid bedreig. Wetenskaplikes werk aan metodes om spesies se kwesbaarheid vir aardverwarming te bepaal en toekomstige spesiereaksies so akkuraat moontlik te voorspel. Ektoterme, wat in die volksmond ook as koudbloedige diere bekend is, maak staat op die omgewing om hulle termiese begrotings te reguleer en is besonder gevoelig vir temperatuurveranderlikheid, waaronder weeruiterstes soos hittegolwe en skielike koue. In hierdie praatjie gebruik prof Susana Clusella-Trullas van haar navorsingsgevallestudies oor reptiele en insekte om hierdie organismes se diverse reaksies op omgewingsverandering te toon. Hierdie reaksies wissel van gedragstrategieë soos termoregulering en verspreiding tot fisiologiese reaksies soos veranderinge in die temperatuursensitiwiteit van prestasie. Sy beklemtoon ook die skaal waarop hierdie reaksies voorkom, van korttermynaanpassings in die fenotipe tot langtermyn- evolusionêre veranderinge. Hoewel van hierdie aanpassingsreaksies ’n sekere mate van beskerming teen klimaatsveranderlikheid kan bied, kan inherente kenmerke van die sisteem of konteks, soos die termiese landskap waarin organismes hulle bevind, hulle blootstelling aan termiese stres verhoog eerder as beperk. Kompromieë tussen die koste en voordele van termoregulering, lewensgeskiedeniskenmerke (soos ouderdom by eerste voortplanting) en habitatgebruik kan byvoorbeeld ’n spesie se blootstelling aan aardverwarming vererger. Om verbande te lê tussen ekologies relevante klimaatswisseling, termoreguleringsgedrag en die tempo van fisiologiese aanpassing is dus van kernbelang vir die meganistiese voorspelling van spesies se sensitiwiteit vir klimaatsverandering. Hoewel die meerderheid van die spesies op aarde nie bestudeer kan word nie, sal die sorgvuldige studie van die reaksies van modelspesies, tesame met multispesiereaksiepatrone (plastisiteit en evolusionêre veranderinge) op groot ruimtelike en tydskale, ’n meer geïntegreerde en robuuste begrip van ektoterme se kwesbaarheid vir klimaatsverandering moontlik maak.

Kyk die intreerede hier

Kort biografie

Prof Susana Clusella-Trullas het haar BSc in Biologie aan die Universiteit van Perpignan, Frankryk, en haar MSc in Biologie aan Purdue-universiteit, Verenigde State, verwerf. Aangesien sy die meeste van haar kinderjare in Ivoorkus, Wes-Afrika, deurgebring het, keer sy terug na Afrika om veldwerk te doen vir haar doktorale studie in Ekologie en Omgewingswetenskap aan Drexel-universiteit, Verenigde State. Sy beklee daarna twee nadoktorale poste aan die Universiteit Stellenbosch (US) voordat sy in 2012 ’n betrekking as senior dosent in die US se Departement Plant- en Dierkunde aanvaar. Susana is in 2016 tot medeprofessor en in 2023 tot professor bevorder. Sy lei tans die navorsingsgroep CL•I•M•E (https://climelab.net/) en is ’n medewerker van die Skool vir Klimaatstudie (https://climate.sun.ac.za/).

Susana se navorsingskundigheid draai om biofisiese en fisiologiese ekologie, en haar werk op die gebied van die termiese ekologie van reptiele en insekte word internasionaal erken. Haar navorsing integreer teorie, eksperimentele biologie en velddata om hierdie organismes se reaksie op omgewingsverandering, waaronder die interaksies tussen klimaatsverandering en biologiese indringing, te verstaan. Sy is ’n wyd aangehaalde navorser (>6 500 sitate, h-indeks 37) en het al 85 ewekniebeoordeelde artikels in internasionale vaktydskrifte soos Science en Proceedings of the National Academy of Sciences die lig laat sien. Sy het 'n wye netwerk van medewerkers, beide nasionaal en internasionaal, en dien in verskeie hoëprofiel internasionale komitees, insluitende die Komissie vir Spesie-oorlewing (CSS) van die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (IUCN), die Wetenskaplike Komitee vir die Wêreldkongres vir Herpetologie en die Internasionale Unie vir Fisiologiese Wetenskappe (IUPS) Kommissie vir Vergelykende Fisiologie. Sy is ’n voormalige lid van die eindredaksie van Functional Ecology en Ecography en dien tans in die raadgewende eindredaksie van die Journal of Experimental Biology. Susana het oor die jare by etlike internasionale konferensies as gasspreker opgetree en was al studieleier vir agt PhD-, 13 MSc- en agt honneursstudente. Haar vrye tyd tussendeur haar werk en navorsing bring sy graag saam met haar familie en in die natuur deur.

RSVP HIER

Besonderhede

Datum:
September 19, 2023
Tyd:
17:3018:30

Organiseerder vir intreerede

Olivia Adams
Epos:
adamso@sun.ac.za

Lokaal

First Year Chemistry Building, De Beer Road, Stellenbosch
1 De Beer Road
Stellenbosch, Western Cape 7600 South Africa
+ Google Map
Afrikaans