Loading Events

« Alle Intreeredes

  • This event has passed.

Prof Richard Pitcher

Intreerede

Oktober 12, 2023 @ 17:3018:30

Radiologie in my leeftyd – elke dag ’n nuwe diagnostiese deurbraak

In hierdie intreerede bied prof Richard Pitcher ’n oorsig van die merkwaardige vooruitgang in diagnostiese beelding in sy leeftyd. Hy onthou die drama en gelukkige toeval van die ontwikkelings wat radiologiedienste volwaardig deel van die hoofstroom van kliniese sorg gemaak het, en bied inligting oor die mense agter elke nuwe tegnologie. Hy vertel van sy reis deur die snel ontvouende radiologielandskap en van sy vernaamste reisgenote. Prof Pitcher beskryf ook hoe die transformasie van radiologie wêreldwye toegang tot beelding beïnvloed het, en verduidelik watter bepalende invloed dít op sy navorsing oor radiologievereistes op die Afrikavasteland gehad het.

Kyk die intreerede hier

Kort biografie

Prof Richard Pitcher, ’n diagnostiese radioloog, is die hoof van die Afdeling Radiodiagnose en die uitvoerende hoof van die Departement Mediese Beelding en Kliniese Onkologie in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Ná sy spesialisopleiding begin hy ’n privaat radiologiepraktyk aan die Kaapse Weskus (1991–2001) en betree daarna die akademie. Voordat hy hom by die US aangesluit het, was hy hoof van die Afdeling Pediatriese Radiologie by die Rooikruis-kinderhospitaal en die Universiteit van Kaapstad (2001–2009).

Sy tyd by die US word gekenmerk deur volgehoue voorspraak vir akademiese uitnemendheid en samewerking. Hiervan getuig die benoeming van die Afdeling Radiodiagnose as die Radiologievereniging van Noord-Amerika se heel eerste Globale Leersentrum (GLC) in 2020 ná ’n mededingende wêreldwye evalueringsproses. Hierdie besondere eer het die Afdeling se internasionale statuur en sterk akademiese leierskap bevestig.

Danksy prof Pitcher se onwankelbare toewyding aan die uitbreiding van radiologiedienste in Afrika lok hy voortdurend voortreflike nagraadse studente van oor die hele Suider-Afrika en het hy ’n aansienlike navorsingsnetwerk op die vasteland opgebou. Hierdie staatmaker van die Kolleges vir Geneeskunde van Suid-Afrika (KGSA) het drie termyne as President van die Kollege van Radioloë en twee termyne as direksielid gedien, en is tans eretesourier.

Met sy Nasionale Navorsingstigting- (NNS-)gradering as gevestigde navorser het hy al aan negentig ewekniebeoordeelde publikasies saamgewerk en as leier of medestudieleier van veertig gepubliseerde magistervlaknavorsingsprojekte opgetree. Sy studente het reeds herhaaldelik nasionale navorsingspryse verower, waaronder die jaarlikse Maurice Weinbren-toekenning van die KGSA en die Radiologievereniging van Suid-Afrika (RVSA) se reistoekenning.

Ander loopbaanhoogtepunte sluit in lidmaatskap van die Wêreldgesondheidsorganisasie se internasionale werkgroep oor long-ultraklank gedurende Covid-19, sy optrede as hoofspreker by die jaarkonferensie van die Vereniging vir Radioloë in Ultraklank (Denver, Colorado), poste as besoekende professor by die Universiteit van Washington se geneeskundefakulteit (Seattle, Washington) en die Levy Mwanawasa-universiteit (Lusaka, Zambië), en sy Suid-Afrikaanse nasionale lesingtoer as die KGSA se JN & WLS Jacobson-dosent.

Hy en Stevie (Stephanie) is al bykans 35 jaar getroud en het ’n dogter, Sorrel, en ’n seun, Sean. Baxter, straks die beste Staffordshire-terriër ter wêreld, is die nominale hoof van hulle huishouding.

RSVP HIER

Besonderhede

Datum:
Oktober 12, 2023
Tyd:
17:3018:30

Organiseerder vir intreerede

Olivia Adams
Epos:
adamso@sun.ac.za

Lokaal

JN de Villiers Boardroom, Clinical Building, Faculty Medicine and Health Sciences
Francie Van Zijl Drive
Cape Town, 7605 South Africa
+ Google Map
Afrikaans