Die eerste ding wat ek op Pietie Traut se boekrak raakkyk, is `n stewige Sosiologie-handboek, vasgepen tussen allerlei tegniese handleidings. Dit maak sin dat `n vakgebied wat sosiale optrede, ontwikkeling, organisasie en instansies hom interesseer.
Hier het ons met iemand te doen wat soveel stories het om te vertel dat my pen se ink na `n uur en 45 minute begin opraak het. Hy’s lief vir mense, maar sy deeglikheid en konsekwentheid kry stewige vastrapplek in sy huidige posisie as Bestuurshoof van IT se Portefeulje- en Projekkantoor.
Mense moet die geleentheid gegee word om `n toekoms te bou by `n organisasie en ruimte vir ontwikkeling gegun word.
“They must be given the opportunity to contend. Keep the dream alive!”. Sy eie loopbaan is die toonbeeld hiervan.
Hy’s op `n jong ouderdom skool toe – “Ek is te woelig, my ma wou my seker maar uit die huis uit hê.” Op 19 begin hy reeds klasgee in Datakommunikasie nadat hy 3 jaar tevore in matriek was.
Sy eerste rekenaar was `n ZX Spectrum met net 1k geheue en toe reeds toe was hy vas oortuig dat alles eendag met knoppies gaan werk.
Die voorliefde vir tegnologie lei tot `n tegniese diploma, onderwysdiploma (met tegnologie as spesialisgebied) en ‘n diploma in Datametrie en kry gestalte by verskeie besighede, onder andere die destydse Poskantoor, vandag Telkom SA.
“Ek is eintlik maar `n elektriese ou.”
Hy onthou toe die eerste modem in Kaapstad destyds geïnstalleer is en modems nog uitmekaargehaal en reggemaak is. Die eerste modems het teen 200 bisse per sekonde geloop, daarna 600 bps, 1200bps, 2400bps, ens. Nuusfotos vir koerante, of té wel landlynfotos, is via koper landlyne versend en dan op fotopapier gedruk met die woorde “Foto per landlyn” onderaan.
Morsekode was natuurlik een van die voorlopers van elektriese telekommunikasie en later die teledrukker – `n stukkie ongelooflike elektromeganika wat teen 50bps karakters, van 7.5bisse lank, kon stuur oor ‘n koper landlyn – ook oorsee.
Destyds kon jy nie binne 6 maande nadat jy bedank het ‘n aanstelling by sekere ander privaatinstansies kry as jy by die Poskantoor gewerk het nie. Maar Pietie se uithouvermoeë het op die ou end vir hom `n pos by Saambou se rekenaarafdeling laat kry. Dit het `n skuif na Sunnyside in Pretoria beteken, waar hy aanvanklik `n woonstel van `n boer van die Vrystaat gehuur het met koerantpapier vir gordyne. Hy werk hy vir 7 maande as Netwerkhoof, terwyl Estelle, sy beterhelfte, droewiglik verlang na die Kaap.
“Elke keer as Tafelberg op die televisie gekom het, het sy begin huil.”
Dit was rondom dié tyd, in 1983, toe die eerste referendum, die driekamer parlement referendum, plaasgevind het wat hy met sy jongste met stootwaentjie en al gaan stem het in Sunnyside.
Sy geluk het gedraai toe`n neef van `n mede-kollega, `n bestuurder by R&R in die Paarl (toe Rupert & Rupert), eendag opdaag vir `n toer van Saambou se hoofraamkamer. Sonder om te skroom, vra hy of hulle werk vir hom in die Paarl het.
`n Week later kry hy `n oproep van die hoof van R&R se Inligtingsafdeling. Na armdraai oor verhuisingskoste en 3 maande se meubelstoring, is Pietie en Estelle terug in die Kaap en by Tafelberg.
In 1984 begin hy by Stellenbosch Universiteit se IT-afdeling werk saam met Kobus Meij, Nick Lubbe, Helmi Dreijer, Johann Kistner en ook Herman Heunis, stigter van Mxit.
Kort voor lank bied Boland Bank hom die geleentheid om sy toekoms te verbreed met `n splinternuwe pos. Hy onthou dié tyd as een van baie harde werk. Dit was nie net `n kwessie van 8 tot 5 nie.
“Na gewone werksure het ek huistoe gegaan en allerhande goedjies rondom die huis gedoen wat mans maar moet doen, aandete geëet en 9 uur se kant die tweede skof ingesit tot 2 uur die oggend.”
Met tyd verander die dinamika by die bank, soos met die meeste banke gedurende die 80′s en 90′s. Bolank Bank word NBS Boland, toe Boland PKS en daarna BoE Bank. PEP Bank is hieruit gebore en later ook Capitec.
Teen dié tyd rook hy 40 sigarette `n dag en beland Kersfees 1999 in die hospitaal om hy `n stent kry. Hierna besluit hy dat die onstuimigheid by die bank nie meer lekker vir hom werk nie en sluit, ter wille van ‘n meer stabiele omgewing, `n tweede keer in Oktober 2000 by die Universiteit aan. Dié keer as Internet- en Telekommunikasiebestuurder.
Onder sy bestuur word die 3-vlak internet tariefstruktuur in werking gestel, groter bandwydte onderhandel en die eerste Siemens IP spraak-telefoonstelsel geïmplementeer.
“Ek was ook verantwoordelik vir die ondersoeke na en beskikbaarstelling van die groter video-konferensiestelsels op kampus.” Die hoogtepunt hiervan was Prof Russel Botman se video-gesprek met die rektor van die Rensselaer Polytechnic Institute in New York, intyds kampuswyd uitgesaai vanuit die Endlersaal via ‘n “geleende” 15Mbps verbinding.
“Ek onthou hoe Mohamed Shaikh my na die tyd tydens die cocktail party kom omhels het van blydskap dat alles probleemvry verloop het.” Joe Smit en Barry Sauermann het darem ook `n groot rol gespeel in die sukses van hierdie tegnies-senutergende gebeurtenis.
Tussendeur word massa sms’e geimplementeer, die tradisionele skakelbord uitfasseer en ons huidige US Dienssentrum skakelbord gevestig.
In 2011 vind grootskaalse herorganisasie binne IT plaas en Pietie beland voor `n vurk in sy pad.
“Ek moes `n leap of faith vat.”
Die leap of faith is vandag IT se Projekkantoor, bestaande uit Pietie, Marius Vorster en Camen Petersen. Hierdie span sorg dat alle projekte van die afdeling IT gedokumenteer en die regte projekbestuursprosesse gevolg word. Tans is daar in die orde van 83 projekte in ontwikkeling en gereelde projekraadvergaderings word gehou om te verseker dat projekte waarde toevoeg tot besigheid in die drie strategies belangrike areas van die US, naamlik Akademie, Navorsing en Gemeenskapsinteraksie.
Dis egter verseker nie `n maklike, soomlose oefening nie – kopskuiwe moet gemaak word in `n omgewing waar mense gewoond is aan hul eie vaste metodes.
“Success breeds success. As ons kan wys dat die prosesse werk, kan ons denke verander.” Dis alles deel van die uitdaging.
As dit tyd is vir vakansie, pak Pietie en Estelle hul nuwe teardrop-sleepwaentjie en gaan kamp in Kenhardt in die winter en Dwarskersbos in die somer.
“Tent opslaan is `n toets vir enige huwelik. Dis hoekom Estelle dit doen en ek liewer maar wegloop”.
Dit gaan ook maar bars, siende dat `n Bul en Leeu altwee ewe hardkoppig en eiesinnig kan wees.
So af en toe vat hulle die motorfiets, `n stewige BMW R1200R padfiets en verken die land. Hy het al 3 Buffalo Rallies agter die blad en ry maklik op sy eie na vêr bestemmings.
Van hierdie ritte sluit een van 4700km oor 7 dae Phalaborwa toe vir `n pel se troue, 2700 km in 5 dae na ‘n plaas op die Botswana-grens, 90km oos van Aranos in Namibië en vanjaar ook sowat 2400 km in 6 dae na sy geboortedorp, Kenhardt. Tydens laasgenoemde rit het hy in Elandsbaai gebackpack en met `n besoek aan die Wit Mossel Pot te heerlik gesing en kitaar gespeel. Die plan was nog om Route 66 in die VSA aan te pak, maar op die stadium sal hy dit liewer verruil vir `n besoek aan Nashville vir die Country Music Awards.
Na amper 2 ure se stories (en `n droë pen) was ek oppad na `n volgende vergadering, tevrede dat daar oorgenoeg materiaal is om iets met `n bietjie vleis saam te stel. Maar Pietie, soos `n storieverteller betaam, moes nog `n laaste lyn gooi om my nuuskierig te maak.
“Daai tyd wat ek so hard gewerk het, het ek elke naweek ook in die band gespeel … saam met Clive Bruce, Bles Bridges, Hennie van Egoli en Gene Rockwell. ”
“Het julle hulle liedjies gespeel”, vra ek ewe.
“Nee man, ek was saam met hulle op die stage! En dan is daar nog daai bekende neef van my. Hy sing van drie pikkewyne, maar ek sing beter as hy!”, spot hy.