Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Ons mense

(English) Post COVID challenges: On the ground experiences

Donderdag, Desember 15th, 2022

Jammer, hierdie bladsy is nie in Afrikaans beskikbaar nie.

2018 in oorsig

Donderdag, Desember 6th, 2018

Wat ʼn opwindende jaar het ons nie gehad nie! Terwyl ek hier skryf, het ons sopas nog ʼn uur of twee van beurtkrag betree en is ek dankbaar vir ʼn betroubare skootrekenaar met batterykrag.

Gedurende die Eeufeesjaar van die Universiteit is ʼn aantal moedige besluite gefinaliseer om van die grootste hernieuwingsprojekte van die laaste twee dekades te loods.

Die opvolgstelsels van die twee kern administratiewe toepassings, Studente en Finansiële Bestuur, is evalueer, gekies en einde November deur die Rektoraat goedgekeur. Beide hierdie toepassings, wat oor die volgende twee jaar implementeer word, is modern en innoverend om verskeie redes:

  • Die stelsels sal in die wolk implementeer word  en deur toonaangewende internasionale verskaffers ontwikkel en onderhou word. Dis ʼn belangrike verandering vir die Universiteit wat die bestaande toepassings vir meer as 25 jaar intern ontwikkel en onderhou het.
  • Die platforms wat hierdie toepassings bedien sal wolk- en nie meer kampusgebaseerd wees nie. Dit sal ʼn groot impak hê op die aard van ons werk en ons in staat stel om hulpbronne verskillend aan te wend en sodoende ons dienste aan die Universiteit te verbeter.

Sover ons kennis strek het geen Suid-Afrikaanse universiteit hierdie toepassings al voorheen na ʼn wolkgebaseerde platform migreer nie.

Die IT-afdeling het hard gewerk om die kwaliteit en volhoubaarheid van ons dienste te verbeter. Die tweejaarlikse kwaliteitverbeteringsverslag is in Augustus voorgelê aan die institusionele Kwaliteitskomitee, is positief ontvang en goedgekeur. Belangrike verbeteringsmylpale is in die verslag genoem, onder andere die vestiging van ʼn nuwe bestuursliggaam en tegnologiebestuur, die Tegnologie- en Informasiekomitee, sowel as verskeie organisatoriese, infrastruktuur- en diensverbeterings.

ʼn Verdere beduidende sukses in 2018 is die ontwikkeling en implementering van die ICT Partner Portal, ʼn stelsel wat ons werksvloei en wisselwerking met ons vennote, kollegas en kliënte vaartbelyn maak en bestuur. Ongeveer 80% van die IT-afdeling se diensprosesse is sedert die stelsel se implementering in September gedefinieer en -konfigureer en meer as 17000 insidente en versoeke is die afgelope drie maande verwerk. Die stelsel is ontwerp sodat daar deursigtigheid vir alle prosesaandeelhouers, kliënte, dienspersoneel en bestuur is ten opsigte van die werksvloei en voltooiing van take. 

Die jaar sal ook onthou word vir ʼn skerp toename in kuberaanvalle, veral strikroofpogings. ʼn Gespesialiseerde kubersekuriteitsfunksie is gevestig om die toename in bedreigings te hanteer. Dis egter onthutsend dat ʼn beduidende persentasie van ons mannekrag gevolglik ook deur hierdie verskynsel absorbeer word. 

Ons is ook hartseer dat ʼn paar van ons kollegas die span verlaat, sommige vir aftrede, ander vir groener weivelde. Ons wens hulle almal voorspoed toe, veral Callie van der Merwe en Thys de Wet wat hulle hele loopbaan by die Universiteit spandeer het.

Laastens wil ons ook vir prof Stan du Plessis, ons nuwe Uitvoerende Bedryfshoof, bedank vir die eerste volledige jaar van sy leierskap en ondersteuning. Ons is gretig en geïnspireerd om na ʼn kort rustyd 2019 aan te durf met nuwe energie.

Beste wense vir die feesgety!

Attie Juyn

 

 

IT-oorsig: 2017

Donderdag, Desember 7th, 2017

Aan die einde van nog ʼn besige jaar is dit tyd om terug te dink aan enkele van die belangrikste IT-gebeure, tendense en prestasies.  

Wat kubersekuriteit betref, is dit kommerwekkend om te berig dat kuberaanvalle en -bedreigings dié jaar rekordgetalle bereik het. Universiteit Stellenbosch, soos die meeste instellings regoor die wêreld, word toenemend geteiken deur kuberkriminele. Hierdie aanvalle verkwis ons hulpbronne, hulpbronne wat aangewend kon word vir meer opbouende projekte. Is dit bloot ʼn weerspieëling van ons samelewing?

Op ʼn meer positiewe noot het ons voortdurende vordering gemaak met belangrike vernuwingstrategieë soos die Stelselvernuwingsprogram, die Kampusinfrastruktuur Opgraderingsprogram en die implementering van verskeie nuwe dienste. Talle van die verbeterings is moontlik gemaak deur die innoverende hertoekenning van hulpbronne en die verbetering van ons werkverrigting op verskeie wyses.  

Heelwat van ons gebruikers het hul bekommernis uitgespreek oor die beskikbaarheid van wifi op ons kampusse. Wifi bly een van ons grootste beleggings en sal voortgesit word teen ʼn reëlmatige tempo namate soos meer akademiese en administratiewe geboue, en veral koshuise, toegerus en verbind word aan wifi. Ongelukkig is dit ook ʼn moeisame proses aangesien wifi-infrastruktuur grotendeels afhanklik is van die vernuwing van die geboue se infrastruktuur.  

Namate ons die digitale era betree, is dit belangrik om tegnologiese geleenthede raak te sien en te benut sodat koste-effektiewe verbeterings aan dienste gemaak kan word. Twee belangrike voorbeelde hiervan is die benutting van sg. wolkdienste (insluitende SaaS – Sagteware-as-diens-toepassingsplatforms) en die oplewing in persoonlike rekenaartoestelle en sosiale media. Hierdie tendense bied geleenthede vir die innoverende herstrukturering van IT-dienste en beter benutting van hulpbronne. Die suksesvolle migrasie van talle van ons Microsoft-toepassings (Outlook, Exchange, Office) na die Microsoft Azure platform het opsigself ʼn reeks voordele moontlik gemaak.

Dis met groot genoeë dat ons kan aankondig dat Universiteit Stellenbosch vir ten minste twee maande van 2017 die hoogste internetspoed van alle universiteite in Suid-Afrika aangeteken het. Internetkonnektiwiteit is die sleutelbemagtiger vir die meeste toepassings en kommunikasie. Spoed en betroubaarheid bly noodsaaklik vir prestasie. Ander goeie nuus is dat die beskikbaarheid van bandwydte nasionaal en internasionaal toegeneem het. Die Hoër Onderwys sektor het nou meer betroubare, wedersyds aanvullende verbindings na Europa via die Seacom en WACS-kabels van tussen 40 en 100 gigagrepe per sekonde!

Om af te sluit moet ek die IT-personeel gelukwens met die afgelope jaar se prestasies. Dankie vir al julle harde werk en toewyding.

Ons wens al ons kliënte en gebruikers ʼn gelukkige, rustige, feestelike vakansietyd toe en sien uit na ʼn nuwe jaar vol geleenthede en uitdagings. 

Attie Juyn
Senior Direkteur: Informasietegnologie

 

Een-tot-een konsultasiediens vir personeel

Donderdag, Oktober 26th, 2017

Die IT Hub, sentraal geleë in die hartjie van kampus, onder die brug wat Admin A aan Admin B verbind, bied nou ook `n een-tot-een konsultasiediens met `n professionele tegnikus aan.

Die IT Gebruikerskonsultasie lokaal, kamer 1021, is privaat geleë in die ITHUB en bied aan personeel die geleentheid en tyd om aan `n tegnikus vrae te vra terwyl jy gehelp word.

Die beskikbare tye vir die konsultasielokaal is vanaf 8:00vm – 16:30nm, Maandae tot Vrydae.

Wanneer `n tegnikus u kontak nadat u `n insident aangemeld het, kan u `n konsultasie versoek. Hoewel elke gebruiker se versoek vir ons belangrik is, hanteer ons versoeke volgens prioriteit. 

Ons hoop hierdie diens sal van waarde wees vir ons kliënte.

ITHUB
STELLENBOSCH-KAMPUS

FOON: 021 808 9289
E-POS: ithub@sun.ac.za

Wie is ISS?

Vrydag, Junie 24th, 2016

Aan die einde van die maand is jou salaris veilig in jou bankrekening. Ons beskou dit as `n gegewe en dink skaars daaroor. Maar wie sorg dat dit elke maand klokslag plaasvind?

Inligting is krities en strategies vir `n instelling wat kennis verskaf en ook kennis-intensief is, soos die universiteit, om te gedy. Institusionele programmatuuroplossings[1] vorm die basis van alle institusionele inligtingstelsels en verwerk die grootste gedeelte van institusionele inligting. Voorbeelde hiervan by Universiteit Stellenbosch  sluit die Menslike Hulpbronne, Finansiële, Navorsingsadministrasie en Studente-inligtingstelsels, in.

Informasietegnologie se nuutstruktureerde afdeling, Institusionele Programmatuuroplossings (ISS) word gelei deur Ralph Pina. Die afdeling is verantwoordelik vir die bou, onderhoud en ondersteuning van innoverende en volhoubare institusionele programmatuuroplossings wat tydig en langdurig aan die Universiteit se behoeftes voldoen. Die afdeling, bestaande uit 36 programmeerders, besigheidsanaliste en bestuurders, word gehuisves in `n oopplan-area in die nuwe IKT-gebou.

Sonder hierdie stelsels sal jy nie jou salaris maandeliks ontvang of aansoek om verlof kan insit nie. Geen finansiële transaksies sou moontlik wees nie. Studente sou nie toegang tot hulle eksamenresultate kon kry of aan die begin van die jaar registreer vir studies nie. Administrasie vir studente sou per hand moes geskied.

Bogenoemde is enkele programmatuuroplossings waarvoor ISS verantwoordelik is. Om sy kritieke funksie te vervul, moet die afdeling: 

    • verhoudings met oplossing-en stelseleienaars, (kliënte), eksterne en interne IT-vennote, aandeelhouers, gemeenskappe en verkopers bestuur;
    • besigheidsanalises uitvoer om institusionele prosesse te verstaan en verfyn en ook om behoeftes te bepaal;
    • programmatuur ontwikkel met langtermyn ontwerp- en kode-oplossings en die nodige omgewing vir programmatuurontwikkeling, vaardighede en kennis, vestig en handhaaf;
    • programmatuur in stand hou oor die langtermyn;
    • programmatuurtoepassings en – stelsels integreer sodat institusionele prosesse georganiseerd is, verslae ïntegreer kan word en institusionele inligting geïntegreerd bestudeer kan word;
    • programmatuuroplossings vind vir kliente en vennote, hulle help met hul keuses en die proses fasiliteer. 
    • programmatuuroplossings ondersteun deur prosesse te monitor, stelsels te konfigureer, insidente en probleme te bestuur en kliente en vennote te help om gebruikers op te lei;
    • datastrukture en programmatuuroplossings ontwerp en integreer, in samewerking met die IT Argitek.
    • die ontwikkeling van programmatuuroplossing bestuur en projekte implementeer.

[1] Programmatuurtoepassings of -oplossings besit en bestuur deur die Universiteit en wat oorhoofs gebruik word, in teenstelling met die gespesialiseerde waarde van `n enkele of paar organisatoriese entiteite binne die universiteit. Dit sluit programmatuur soos webinhoud bestuurstelsels en mobiele toepassings in.  `n Laboratorium inligtingstelsel wat waarde het vir `n enkele, akademiese departement of fakulteit, sal byvoorbeeld nie geklassifiseer word as `n institusionele programmatuuroplossing nie. 

 

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.