Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Ons mense

IT raak aktief

Vrydag, Junie 24th, 2016

Het jy gedink IT-personeel se enigste oefening is vlieënde vingers oor sleutelborde of rekkende breinspiere as daar programmeer word? Jy moes ons met Welweesdag gesien het.

Fasiliteitsbestuur, IT en die Launchlab het besluit om op Vrydag, 10 Junie, aktief te raak met ons eie Welweesdag. Die tema vir die dag was `n vriendelike vermaning – “Don’t be afraid of the “F” word. Fitness Fun on Freaky Fitness Friday. “

Uit die groot opkoms, ten spyte van ongure, koue en reënerige weer, was dit duidelik dat IT-personeel nie `n bang haar op hulle koppe het nie. Tagtig mense het deelgeneem aan die verskeie aktiwiteite wat deur die dag beplan is. Die belofte van `n gratis maaltyd mag ook as motivering gedien het, maar ons verkies om te glo dit was die vooruitsig van oefening. 

Om 08:00 is deelnemers verwelkom deur `n warm koppie koffie, waarna Digi Cape demonstreer het hoe die Discovery fiksheidstoepassing werk. Om seker te maak ons personeel is in goeie kondisie, is cholesterolvlakke, bloeddruk en algemene fisiese toestand beoordeel. Dis hier waar jou ware ouderdom bepaal is. Na hierdie onthulling was die motivering om ekstra hard te oefen aansienlik groter.

Gelukkig was die 2.5 kilometer stap die ideale geleentheid om `n paar ekstra jare af te skud. `n Volgende sessie strawwe oefening, was die Spinathon tussen Fasiliteitsbestuur, IT en die Launchlab. Wiele is aan die draai gehou vir `n hele drie uur en ons kan met sekerheid nou bevestig dat IT-personeel meer uithouvermoë het as wat ons gedink het.

`n Boot camp het die meer avontuurlikes tevrede gestel en Shanee, Millicent en Anthea het weggeloop met `n paar lekker pryse. 

 Vir diegene wat meer in tune met hulle innerlike Zen wou wees, was daar yoga, pilates en selfs `n meditasie-sessie om die nodige kalmte te bereik. Vir ander was die masseersessies `n beter keuse.

Jerome Swarts het `n prys gewen vir die meeste items ingeskryf. Petro Uys en Ciska Marais is beloon vir hul trapvermoë met die Spinathon en IT het die Fiksheidsvasvra ore aangesit.

all

[FOTOS DEUR JEROME SWARTS]

 

 

Institusionele programmatuuroplossings

Donderdag, Mei 26th, 2016

MISSIESTELLING | BESTUURDERS

MISSIESTELLING

Inligting is kritiek en strategies vir `n kennis-intensiewe en kennis-skeppende onderneming, soos `n universiteit, om te floreer. Institusionele programmatuuroplossings[1] vorm die basis van alle institusionele inligtingstelsels en is fundamenteel tot die meeste institusionele prosesse. 

Die IPO-afdeling:

Bou, verskaf, onderhou en ondersteun betroubare, innoverende en volhoubare institusionele programmatuuroplossings wat tydig en oor die lang termyn aan die Universiteit se behoeftes voldoen.

Om bogenoemde missie suksesvol uit te voer, verrig die IPO-afdeling die volgende funksies: 

  • Bestuur verhoudings met oplossing- en stelseleienaars (vennote/kliënte), eksterne en interne IT-vennote, belanghebbers, gemeenskappe en verskaffers;
  • Voer besigheidsanalises uit om institusionele prosesse beter te verstaan, te verfyn en sodoende die nodige behoeftes te bepaal;  
  • Ontwikkel programmatuur, insluitende die ontwerp en kodering van oplossings met die langtermyn in gedagte en die vestiging en instandhouding van die nodige omgewing, vaardighede en kennis vir programmatuurontwikkeling;
  • Instandhouding van die programmatuur-toepassings portefeulje oor die langtermyn;
  • Integreer (verbind) programmatuurtoepassings en -stelsels om institusionele prosesse te orkestreer, geintegreerde verslaggewing te bewerkstellig, sowel as om ge-integreerde oorsigte van institusionele inligting te verskaf;
  • Verkry programmatuuroplossings deur kliënte en vennote te help om oplossings te kies en oplossings te bemiddel, m.a.w. fasiliteer die verkryging van oplossings;
  • Ondersteun programmatuuroplossings deur bedryf te monitor, stelsels te konfigureer, insidente en probleme te bestuur en kliënte en vennote te help om eindgebruikers op te lei;
  • Ontwerp die argitekuur van data, programmatuur, besigheidsprosesses (in samewerking met funksionele vennote)  en integrasie, in samewerking met die IT Argitektuurfunksie.
  • Bestuur programmatuur ontwikkelings- en implementeringsprojekte

[1] Programmatuurtoepassings (of -oplossings) wat besit en bestuur word deur die universiteit en breedweg regdeur die instelling aangewend kan word, in teenstelling met oplossings wat slegs gespesialiseerde waarde vir `n enkele of paar organisatoriese entiteite binne die universiteit bied. Die definisie sluit, onder andere, programmatuur soos stelsels wat webinhoud bestuur, in. `n Laboratorium inligtingstelsel wat vir `n enkele departement of `n enkele fakulteit `n spesifieke waarde het, sal waarskynlik nie geklassifiseer word as `n institusionele programmatuuroplossing nie.

BESTUURDERS

daneel

DANEEL VAN WIJCK | Bestuurder:  IT Finansiële en Fasiliteite Inligtingstelsels

Daneel is verantwoordelik vir die bestuur, verskaffing, ontwikkeling en ondersteuning van die portefeulje van inligtingstelsels en programmatuuroplossings wat beide omsien na die behoeftes van die afdelings Finansies en Fasiliteitsbestuur en hulle funksies moontlik maak. Die handhawing van verhoudings met hierdie funksionele vennote en hul hoofgebruikers maak deel uit van die rol. Gevolglik is Daneel ook hierdie afdelings se enkele kontakpunt by IT.

ANNA-MARI DU TOIT | Bestuurder: IT Studente-inligtingstelsels

Anna-Mari is verantwoordelik vir die bestuur, verskaffing, ontwikkeling en ondersteuning van die portefeulje van inligtingstelsels en programmatuuroplossings wat beide omsien na die behoeftes en bemagtiging van die professionele en diensafdelings wat die student se lewenssiklus van voornemende student tot alumni administreer. Ingesluit by die rol is die handhawing van verhoudings met hierdie funksionele vennote en hulle hoofgebruikers. Anna-Mari is ook hierdie afdelings se enkele kontakpunt by IT.

benette

BENETTE KRIEL | Bestuurder: IT Besigheidsanalise  

Benette is verantwoordelik vir die bestuur en ontwikkeling van die Besigheidsanalise-praktyk en -vermoë binne ISS. Analise bevorder die toepassing van inligting- en kommunikasietegnologie (IKT) om die instelling se besigheidsprobleme op te los; dit fasiliteer transformasie in die werking van administratiewe en akademiese prosesse deur IKT doelmatig toe te pas en vertolk besigheidsbehoeftes vir tegnoloë en tegnologie vir administrateurs, bestuurders en akademici. Benette lei `n span vaardige besigheidsanaliste en bestuur ook verhoudings met geselekteerde vennote en kliënteafdelings.

marc-allen

MARC-ALLEN JOHNSON | Bestuurder: IT Programmatuurontwikkeling

Marc-Allen is verantwoordelik vir die bestuur en ontwikkeling van die Sagteware Ontwikkelingspraktyk en vermoë binne ISS. Hy lei `n span ontwerpers en programmeerders wat institusionele programmatuur-oplossings ontwikkel en integreer.  Marc-Allen is ook verantwoordelik vir die verskaffing en koördinering van die argitektuurriglyne vir integrasie en programmatuurtoepassings, en raadgewing aan die IT Argitektuur funksie.

 

BERNARD HEESEN | Hoof: ISS Konfigurasie en Ondersteuning

Bernard is verantwoordelik vir die konfigurasie van generiese programmatuurplatforms soos SharePoint en ander inhoudsbestuurstelsels, Dynamix en Office365 met die doel om institusionele oplossings te skep en ondersteun. Hy lei `n span deskundiges wat opgelei is om hierdie platforms te ontgin. Bernard bestuur ook verhoudings met geselekteerde vennote en kliënteafdelings.

 

PAUL ROOS | Hoof: IT Inligtingstelselsbestuur

Paul is verantwoordelik vir die bestuur, verskaffing, ontwikkeling en ondersteuning van datastore en data-analitiek stelsels en -dienste soos SUN-i en SUNRep wat die basis van institusionele analitiek, bestuursinligting en operasionele rapportering. Gevolglik bestuur hy ook IT se verhouding met die Institusionele Navorsing en Beplanningsafdeling. Paul is ook verantwoordelik vir die verskaffing en koördinering van  data-argitektuurriglyne en raadgewing aan die IT Argitektuurfunksie.

 

MALANIE ORTMAN | Hoof: Menslike Hulpbronne Inligtingstelsels

Malanie is verantwoordelik vir die bestuur, verskaffing, ontwikkeling en ondersteuning van die portefeulje van inligtingstelsels en programmatuuroplossings wat beide omsien na die behoeftes en bemagtiging van die Menslike Hulpbronne afdeling. Die handhawing van verhoudings met hierdie funskionele vennoot en sy hoofgebruikers is ingesluit by haar rol. Malanie is ook Menslike Hulpronne se enkele kontakpunt by IT. Daarbenewens is sy ook verantwoordelik vir die koördinering van die insident- en probleembestuurproses binne ISS.

Wat doen ons?

Vrydag, Februarie 5th, 2016

Wanneer IT se naam gedurende `n gesprek opduik, wat is jou eerste assosiasie? Dink jy dadelik aan die IT Dienstoonbank wat jy gereeld bel as jou wagwoord verander, of beskou jy IT as die mense wat sorg dat die internet altyd werk?

Die IT-afdeling word oor die algemeen gesien as ʼn  diensleweringsorganisasie – en soms eenvoudig as ʼn “nuttigheid”. Aangesien IT hoofsaaklik `n geskiedenis het om kantoor en administratiewe stelsels te ondersteun, mag dit as `n verrassing kom dat ons doelwitte deesdae in lyn is met die universiteit se kernfunksies – navorsing, leer, onderrig en gemeenskapsinteraksie.

Die term “IT-afdeling” verwys slegs na die afdeling, wat die sentrale, verantwoordbare gesag is vir die institusionele inligting- en kommunikasietegnologie funksie binne die universiteit.

Die IT-afdeling bestuur, bou, voorsien, dryf en onderhou kuber-infrastruktuur (onder andere netwerke, sentrale rekenaarbedieners, identiteitsbestuur en e-pos en telekommunikasiestelsels) en ook `n wye reeks sagtewaretoepassings, inligtingstelsels en -platforms, en dienste wat noodsaaklik is vir die universiteit se kern akademiese en administratiewe funksies en, in samewerking met desentraliseerde groepe, ook gebruikers ondersteun in die effektiewe gebruik van inligting- en kommunikasietegnologie (IKT)

Die sentrale Informasietegnologie afdeling, wanneer dit op volle kapasiteit funksioneer, bestaan uit 140 personeellede wat ondersteuningstegnici, hulptoonbankagente, stelseladministrateurs, ingenieurs, sagteware ontwikkelaars, stelselanaliste, databasis administrateurs, projekbestuurders, argitekte en besigheidsanaliste insluit.

Oor tyd het ʼn  magdom organisatoriese entiteite wat IKT ondersteuningsdienste, infrastrukture, sagtewaretoepassings en -stelsels bestuur, sowel as die sekuriteit en integriteit van inligting onderhou, binne die universiteit ontstaan. Dikwels, maar nie altyd nie, werk hierdie entiteite saam met die sentrale IT-afdeling, alhoewel hulle aan die dekane van fakulteite, skole en ander afdelings rapporteer.  Ons verwys na hierdie verspreide groep entiteite as die “IT-organisasie”.  

Baie van die verspreide IKT-entiteite het ook geleidelik vervorm in rekenaargebruiksareas of rekenaarlaboratoria met die doel om ondersteuning en advies te bied aan studente en akademiese gebruikers in hul omgewings.

Die IKT-funksie by Universiteit Stellenbosch bestaan uit die volgende:

• Die IT-organisasie en sy mense, bevoegdhede, kennisgrondslag en vaardighede;

• Die prosesse en vermoëns nodig om die dienste en infrastruktuur wat deur onderstaande IKT-domeine omvang word, te beplan, bestuur, bou en dryf sodat die universiteit se kern akademiese, gemeenskapsinteraksie en administratiewe prosesse ondersteun en aktiveer kan word. 

o ICT ondersteuningsdienste,
o onderrig-tegnologie dienste,
o navorsingsverwerkingsdienste,
o verwerkingsinfrastruktuur dienste,
o kommunikasie-infrastruktuur dienste,
o inligtingsekuriteit en
o inligtingstelsels en -toepassings;

• Die IKT bates, insluitende tegnologieë, hardeware, sagteware en inligting.

IT HUB – personeel welkom

Maandag, Januarie 18th, 2016

Hoekom die hitte aandurf om jou rekenaar na IT se hoofgebou, op die uithoeke van kampus, te dra? Klop eerder aan by die IT HUB in Admin A, waar daar deesdae ook basiese dienste aan personeel verskaf word. 

IT-map

Alle toerusting word steeds herstel by die hoof IT-gebou, maar kleiner funksies soos die registrasie van toestelle, wagwoorde, ens. kan onmiddellik by die IT HUB gedoen word.

Personeel se persoonlike toerusting kan ook hanteer word by die IT HUB of IT Hoofgebou en personeel kan 5 persoonlike toestelle (byvoorbeeld slimfone, tablette en skootrekenaars) op die netwerk registreer. Beperkte ondersteuning sal aan die toestelle gebied word. 

KONTAK ONS

Tel:  021-808 4367
Skype: ITStellenUni
E-pos: helpinfo@sun.ac.za (vir algemene navrae) of help@sun.ac.za (om ʼn fout aan te meld)
Twitter: @itstellenuni

Kliek hier vir instruksies om ʼn fout te rapporteer. Verskaf asseblief die korrekte inligting anders sal die versoek nie op die stelsel aangeteken kan word nie.  

Al ons dienste is gelys op ons Dienskatalogus en as jy braaf genoeg is, kan jy ook gebruik maak van ons  Self-help wiki

 

IT HUB – jou eenstop

Woensdag, Desember 2nd, 2015

IT-mapHet jy geweet jy kan jou rekenaar by die IT HUB, wat sentraal op kampus geleë is, afgee in plaas van om dit na die hoof IT-gebou te bring?

Personeel kan hul toerusting by die IT HUB afgee en sal bygestaan kan word met sekere funksies. Alle toerusting word steeds herstel by die hoof IT-gebou, maar kleiner funksies soos die registrasie van toestelle, wagwoorde, ens. kan onmiddellik by die IT HUB gedoen word.

Personeel se persoonlike toerusting kan hanteer word by die IT HUB of IT-werkswinkel en personeel kan 5 persoonlike toestelle (byvoorbeeld slimfone, tablette en skootrekenaars) op die netwerk registreer. Beperkte ondersteuning sal aan die toestelle gebied word. 

kaart

KONTAK ONS

Tel:  021-808 4367
Skype: ITStellenUni
E-pos: helpinfo@sun.ac.za (vir algemene navrae) of help@sun.ac.za (om ʼn fout aan te meld)
Twitter: @itstellenuni

Google-kaarte

Kliek hier vir instruksies om ʼn fout te rapporteer. Verskaf asseblief die korrekte inligting anders sal die versoek nie op die stelsel aangeteken kan word nie.  

Al ons dienste is gelys op ons Dienskatalogus en as jy braaf genoeg is, kan jy ook gebruik maak van ons  Self-help wiki

 

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.