Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Ons mense

Ontmoet die IT-mense: Benette Brink

Vrydag, November 6th, 2015

IT se bestuurder van besigheidsanalise, Benette Brink, het in Februarie, haar 25ste jaar by die Universiteit gevier en haar uithouvermoë is beloon met ʼn langdienstoekenning.

benette

Die tydperk voor die afgelope 25 jaar is verwyl by ʼn ander akademiese instelling. By Tukkies werk sy eers as rekenaaroperateur en later as stelselprogrammeerder. Hierna raak sy betrokke by die implementering van sagtewarekonfigurasie-prosesse en -stelsels by die ou Krygkor. 

Eers hierna beland sy by sagteware-ondersteuning by Stellenbosch Universiteit Informasietegnologie, ʼn afdeling waarvan sy mettertyd die bestuurder sou word.

Sedertdien het haar fokus verskuif na besigheidsanalise. By IT is dit haar verantwoordelikheid om die aanwending van Informasie- en Kommunikasietegnologie (IKT) te bevorder om die Universiteit se besigheidsprobleme op te los. Saam met haar span besigheidsanaliste vertolk sy besigheidsbehoeftes vir die tegnoloë, asook tegnologie vir administratiewe, bestuurs- en akademiese entiteite en ontleed prosesse in die ontwikkelingsomgewing. 

Die blootstelling aan die verskillende besigheidsaspekte van die Universiteit maak haar werk stimulerend. Waar ander wegskram van iets nuut, is dit Benette se dryfveer. Sy funksioneer beter in  ʼn veranderende, progressiewe omgewing.

“My werk is nie gegiet in net een aspek nie en daar is voortdurend iets nuuts op die horison.”

Maar werk is nie alles nie. Ten spyte van ʼn loopbaan hoofsaaklik gevorm en gedefinieer deur tegnologie, is sy in haar hart eintlik steeds `n plaaskind wat geïnspireer word deur die natuur. Hierdie karaktertrek skyn deur in haar liefde vir orgideë en die uitdaging om hulle aan die lewe te hou.

Wanneer dit by wegbreek en vakansies kom, verkies sy erens stil en naby die natuur. Hulle hou selde op dieselfde plek vakansie en verkies dit om nuwe areas en dorpe te verken. 

“Ek moet so nou en dan ontsnap na stilte om “sane” te bly.”

Wanneer sy nie elders kan vlug nie, bestudeer sy eiendomspryse. Nie om te koop nie, maar sommer net om op hoogte te bly van tendense.

Vir `n bietjie ekstra ontvlugting lees sy graag. Suzanne Collins se Hunger Games-reeks is die mees onlangse byvoeging tot haar gelees-lysie. En fliek natuurlik. Enigiets van kunsflieks soos As it is in heaven tot die meer absurde Mad Max.

Sy erken sy is `n huishen. Na 4:30 is haar gunstelingtyd – by die huis, saam met haar beterhelfte. En miskien `n fliek…. en `n boek.

Ontmoet ons mense: Basil Pietersen

Vrydag, Junie 26th, 2015

basilNa amper 25 jaar moet IT baie teësinnig einde Junie totsiens sê aan Basil Pietersen. 

Basil is die een persoon wat elke oggend verby jou kantoor stap en sal groet – en as hy vergeet (feitlik nooit), `n punt daarvan maak om dit later te doen.  

Deur die jare het ek hom leer ken as iemand wat altyd tyd sal hê om te gesels, `n grappie te maak en uit sy pad uit sal gaan om iets vir iemand anders te doen. En dis ook hierdie gewoonte om sy medemens gelukkig te hou wat die vurk in sy pad meegebring het.

Voortaan sal hy fokus op geestelike bediening – iets wat hy sedert sy inwyding as pastoor in 2013 deeltyds moes inpas saam met sy werk. Noudat sy tyd `n bietjie meer buigbaar gaan wees, sal `n vakansie vir die eerste keer in `n lang tyd moontlik wees. En sy vrou Magdalene (Maggie), drie seuns, Bradley, Shane en Elvizo en vier kleinkinders sal verseker bly wees om meer van hulle man, pa en oupa te sien.

“Die bediening is my passie. Dit is ek.”

Hy wil die lewe probeer beter maak vir ander en is reeds nou betrokke by die opheffing van die gemeenskap. Of dit nou is deur middel van insette op die munisipale behuisingskomitee of maatskaplike werk, raadgewing en gemeenskapsinteraksie in Idasvallei. Hy dien ook op die Idasvallei-leraarsforum en sien een van sy hoofdoelwitte om plaaslike predikante saam te laat werk en verhoudings binne die gemeenskap te bou.

Maar moenie dink hy beperk hom tot sy nabye omgewing nie – “Ek gaan waar dit nodig is”. Hy maak reeds planne vir sendingwerk in Transkei en Nederland is selfs `n opsie.

Sy kollegas is dit eens. “[Basil] is `n goeie berader wat jou rigting gee in die lewe. Ek sien hom as die pastoor van Informasietegnologie”, sê een van sy jarelange kollegas, Anthony Bailey. Hy is altyd gewillig om enigiemand te help, enige tyd van die dag.

“IT het my gebring waar ek nou is. Ek sal dié deel van my lewe nooit uitskryf nie.”

Die uitdagings wat gebruikersondersteuning soms bied was nie vir hom `n frustrasie nie. Hy het dit gesien as deel van die groeiproses. Buiten vir die werksondervinding en tegniese ervaring wat hy opgedoen het, het dit hom  as `n mens laat groei. Iets wat hom gebring het waar hy nou is – gereed vir die volgende fase van sy lewe.

Data-oordrag was sy spesialisarea, omdat dit ure neem en hy “die geduld van Job” het.

Onthou jy nog Windows 3.1 en XT DOS CW16? Dis die sagteware waarmee Basil gewerk het toe hy in Maart 1991 as oorsiener in die bekabelingspan begin het by SED (Sentrale Elektroniese Dienste). Dit was voordat daar `n IT-afdeling bestaan het soos ons dit tans ken. Albrecht Bester, tans hoof van netwerkinfrastruktuur, was ook sy hoof en dié span was destyds verantwoordelik vir die eerste uitfassering van koaksiale en ethernet kabels, ‘n groot werk wat die grondslag sou lê vir die huidige netwerkinfrastruktuur.

Die voltooing van A+ kwalifikasie het hom van rigting laat verander en hy het hom begin bekwaam as tegnikus. In dié omgewing word jy in die diep kant ingegooi en moet jy leer swem en oorleef.

Om na-ure bystand te doen was soms uitdagend. Jy is op jou eie aangewese en in `n tyd van krisis moet jy die regte besluit neem as niemand beskikbaar is nie en dit bring geweldige verantwoordelikheid.

“Basil is `n mens-mens. Dit kan nie van hom weggeneem kan word nie.”

Deur op `n daaglikse basis op kampus te wees en gebruikers te help met probleme, het hom geweldig baie van mense geleer. Later kon hy bepaal hoe om iemand te benader en deur die jare het hy geleer wanneer om iets te sê, wanneer om te luister en wanneer om liewer stil te bly. Die belangrikste doel was om IT se naam te dra, beskerm en sy beste sy te wys. 

Stellenbosch is waar hy grootgeword het en dis waar hy hoort en gelukkig is.

Om weg te gaan by IT was `n moeilike besluit en het gesorg vir baie slapelose nagte. Maar hy weet hy neem die regte besluit en dat die nuwe fase van sy lewe nou gaan begin. Vir die eerste keer in `n lang tyd is hy ook nou rustig en opgewonde oor wat voorlê.

“IT se mense het vir my baie beteken en was daar deur al die hoogte- en laagtepunte. En dan moet ek dankie sê vir my Skepper, want sonder hom sou niks hiervan moontlik gewees het nie.” 

 

 

Ontmoet die IT-deskundiges: Helmi

Vrydag, Desember 5th, 2014

helmiNa 28 jaar tree Helmi Dreijer, Informasietegnologie se Senior Direkteur, aan die einde van 2014 af. “Aftree” is inderwaarheid nie heeltemal die regte beskrywing nie, want daar is geen sprake van op `n stoep sit en rus nie. Marida, sy vrou, het te veel planne vir hom. Hy sal eers oor 20 jaar stoepsit begin oorweeg, sê hy.

Almal wat vir Helmi ken, weet dat hy `n onuitputbare bron van energie is en altyd soveel moontlik probeer uitrig. Volgens hom gaan die lewe te vinnig verby en daar is net soveel dae om alles in te pas.

Hy sien wel daarna uit om meer tyd te hê om sy passies –  vriende, familie en golf (in geen spesifieke volgorde) uit te leef. Veral golf natuurlik. Hy beweer hy het nie `n voorgee nie, golf self is sy “handicap”. Maar hy bly optimisties dat hy oor `n paar jaar aansienlik beter gaan wees en wil ook `n paar kollegas ompraat om saam te begin speel.

“Tegnologie het die geneigdheid om jou in te suig…en die mooi berge rondom ons mis te kyk. Ek kry nou die geleentheid om meer gereeld die berge te geniet. “Ek en Marida sien uit na die volgende fase in ons lewe, maar dit gaan baie van my ou kollegas insluit.

Een van die belangrikste lesse wat hy oor die jare geleer het, is dat `n mens jou passie vir werk moet balanseer met jou passie buite werk.

Tegnologie was nog altyd een van sy grootste passies en hoewel sy tyd by Informasietegnologie tot `n einde kom, is daar alreeds `n hele reeks idees en planne waarmee hy homself besighou.

“Ek wil nog `n bydrae en verskil maak waar tegnologie `n rol kan speel.”

Hoër opvoedkundige instansies gaan in die toekoms toenemend staatmaak en gebruikmaak van tegnologie.  Veral videostroom-tegnologie skep groot geleenthede vir leer en onderrig.

Hy was destyds reeds betrokke by die eerste eKampus-projek waar die fokus op die waarde van tegnologie geplaas is. Die tweede eKampus projek gaan nou nog verder om ‘n baie groter rol te speel, om die ervaring in die klaskamer te verryk en ook die voetspoor van die universiteit te verbreed, plaaslik sowel as internasionaal.

Oor sy nalatenskap by IT is hy geensins bekommerd nie. “Die IT-terrein verander so vinnig en die IT-bestuur vir 2015 is reeds besig met lekker nuwe planne.”

Sy grootste motivering om elke dag positief by die werk op te daag, was mense. Kollegas het mettertyd vriende geword en dis hulle wat hy die  meeste gaan mis.

“Om Maandag by die werk te kom en almal se naweekstories te hoor oor wie die berge is was, wie met `n fiets geval het, wie gaan “wind-surf” het, en natuurlik, wie wat reggekry het met tegnologie.

Intellektuele gesprekke, die uitdaging om `n probleem te help oplos en die geleentheid om `n verskil te maak, het daagliks oorgenoeg motivering gebied. Hy sê dis maklik om positief te wees as daar min mense by die universiteit is wat nie ook positief is nie.

“Sukses lei tot sukses en positiewe denke. Saam met kollegas het IT nogal iets reggekry.”

Hy onthou nog toe die eerste e-pos wat hy en Herman Heunes tussen die Vax en PR (persoonlike rekenaar soos dit destyds genoem is) gestuur het en die opwinding wat daarmee saamgegaan het.

Sy belangstelling in rekenaars het in 1974 begin toe die eerste Apple rekenaar na Suid-Afrika ingevoer is. Hy het dit dadelik uitmekaargehaal en elektronies probeer nadoen sodat hy en sy vriende dit kon bekostig. Dit het lank geneem, maar, soos hy tereg sê, aan die Weskus waar hy hom gedurende daardie tyd bevind het, is daar baie tyd.

“My seun se naam was amper Apple!”

Op skool was wiskunde, wetenskap en sport soos kano, rugby en atletiek , “die goed wat seuns se adrenalien laat pomp”, vir hom lekker.  Hy glo ook `n mens moet elke dag iets waarvoor jy eintlik bang is, doen. Wees waagmoedig, maar nie waaghalsig nie.

Op Stellenbosch het hy Ingenieurswese, eers Elektronies en daarna Bedryfsingenieurswese, studeer. Later in sy loopbaan het hy ook `n MBA voltooi en meer in Informasietegnologie begin belangstel.

Tydens die onderhoud vir sy pos by IT het die destydse Viserektor: Bedryf gevra hoekom hy wil terugkeer na Stellenbosch. Sy antwoord was dat jy na Stellenbosch kom om “mens” te word en dat hy die lekker gevoel van “mens-word” nog verder op Stellenbosch wil uitbou en uitleef.

“Sjoe, ek en Marida sal Stellenbosch vir geen plek in die wêreld wil verruil nie.”

Daar is niks wat hy NIE gaan mis nie. Dit selfs lekker om met probleme te stoei en oplossings te vind – al was daar frustrerende tegnologie soos netwerke, 3G en Wi-Fi wat dinge soms moeilik gemaak het. Sommige gebruikers het egter gedink Informasietegnologie is `n inligtingsdiens en verskaf ook inligting soos hoe om paddaboutjies gaar te maak. Sulke insidente het gesorg vir vermaak tussendeur.

“Om by Informasietegnologie te kon werk was `n hoogtepunt al die pad. Om deel te wees en om `n (e)verskil te maak is wonderlik en `n voorreg.”

 

Ontmoet die techies: Nita

Vrydag, November 21st, 2014

Sy’t al in `n tweeman-vliegtuig oor die see gevlieg, is toe oë met die Breërivier af in `n rubberboot en vang af en toe `n tuna. Een van die dae sal `n warmlugballon-rit, spring uit `n vliegtuig en ry op `n olifant tot die lysie gevoeg word. Om te sê Nita de Lange geniet `n uitdaging en hou van besigbly, is dalk ietwat eufemisties.

nitaWanneer haar voete op vaste grond is, is sy verantwoordelik vir projekkoordineering, administrasie en finansies van KKW-versoeke en NIMs  (die onderhoud en regstel van netwerkpunte, ens. ) by IT. Gedurende hierdie prosesse werk sy ook nou saam met Fasiliteitsbestuur, buitekontrakteurs en die netwerkinfrastruktuur-span by IT.

“Ek pak soveel goed aan, want projekbestuur is reeds deel van my persoonlike lewe en dis my passie om ander te help, projekte aan te pak en ‘n sukses daarvan te kan maak.” Sy het ook in Oktober die Projekbestuurkursus by USB voltooi.

Haar 13 jaar ondervinding in die bankwese kom handig te pas met die bestuur van twee eiendomme in Gordonsbaai. Hierdie, en haar finansiële ondervinding in die twee jaar waartydens sy vir `n Huiseienaarsvereniging gewerk het, het haar die verantwoordelikheid as voorsitter ook losgeslaan. Ook met verhuring en bestuur van eiendom is daar uitdagings, maar vir Nita is die blootstelling aan `n heel ander gebied en sy sien dit as `n positiewe ondervinding.

“Doen vir ander iets wat niks vir jou kan doen nie.”

Nita het verlede jaar betrokke geraak by Die Ark in Faure, `n welsynsorganisasie wat omsien na ongeveer `n 1000 behoeftige mense, onder meer haweloses, werkloses, prostitute en dwelmverslaafdes. Dit bestaan reeds vir 20 jaar, maar het toenemend meer hulp nodig.

Aanvanklik het sy gehelp met die insamel van Kersgeskenke vir die 200 kinders wat daar woon, maar het gou besef dat sy hulle op die langtermyn wil bystaan. Sy het besef die projek is te groot om alleen aan te pak, en het 6 ander mense, Cheryl Cornelissen, Gareth Cornelissen, Terence Pietersen, At van Hout, Marijhan Hendriks,  Elma Titus, Michelle Pietersen en Petro Uys, gekry om uit te help. Saam wil hulle probeer omDie Ark se inwoners se omstandighede en toekoms te verbeter en `n verskil te maak in die samelewing. Omdat dit ook `n Matie Gemeenskapsdiensprojek is, doen sy tans `n kursus in Community Interaction en sy is vol lof vir die inspirasie wat dit bied.

Tydens `n 4-jaar verblyf in Nieu-Zeeland het sy geleer om altyd nederig te bly. Of jy nou strate vee of jou eie besigheid het in Nieu-Zeeland, jy is maar dieselfde en almal behandel mekaar met respek.”Moet nooit dink jy is beter as iemand anders nie.”

Gedurende die tydperk in Auckland, of te wel, die City of Sails, het sy goeie ondervinding in die bankwese opgedoen, baie van haarself geleer – ook hoe om onafhanklik te kan wees. Maar sy het ook `n liefde vir die see ontwikkel. Dit was hier, in `n stad met heerlike strande en `n kultuur van seil en visvang, waar die gogga haar ook gebyt het.

“`n Mens speel nie met die see nie.”

Die see leer jou baie en jy moet respek daarvoor hê. Sy was self al in gevaarlike situasies waar hulle byna nie die hawe kon opspoor nie, omdat die GPS nog nie ingestel was op daardie stadium nie. Maar sy was ook al vir 13 ure aaneen op die see. Gelukkig is seesiek nie `n probleem vir haar nie.

Tuna en galjoen word gereeld gevang, maar deesdae word die vis minder en `n Fish Finder is nodig as jy nie vir ure doelloos op die water wil ronddobber nie.  Selfs skilpaaie, haaie en dolfyne vergesel soms die bote –  `n ondervinding ver verwyderd van haar grootword in Alberton.

“Ek geniet dit om na aan die natuur te lewe.”

Aangesien ons land soveel mooi plekke het, is kamp die ideale tydverdryf vir haar. “Deur te reis, ander plekke en ander kulture te leer ken, kan `n mens soveel leer van mense en hul dinge.” Die “whitewater rafting”-ondervinding was `n ander les en meer skrikwekkend – waarskynlik omdat sy nie kan swem nie.

Aan die meer veilige spektrum van tydverdrywe is daar darem dans, perdry, haar tropiese visse, bonsai-boompies en kruie. Bruno, `n slim en sterk  border-collie en husky kruis is ook `n deurlopende opleidingsprojek. Maar vir nou is dit eers genoeg hooi op haar vurk.

Indien enige iemand meer inligting wil bekom oor DIE ARK projek, kontak haar by nita@sun.ac.za. Meer inligting sal ook binnekort verkrygbaar wees op IT se Gemeenskapsinteraksie webwerf.

Ontmoet die techies

Vrydag, November 7th, 2014

blue-tekkiesIn Julie, aan die begin van die tweede semester het ons begin met `n reeks profiele van ons IT-personeel. Die rede hiervoor was om julle bekend te stel aan die mense aan die ander kant van die e-posse en telefoonlyne en te wys dat ons eintlik onskadelik is, al is ons IT-bleeksiele.

Oor die afgelope paar maande het ek ook besef dat ons `n hele paar interessante en oulike mense het wat by IT werk. (Selfs al ontken die meeste van hulle dit hewiglik.) Ek het in die tyd al geleer watter tipe vis van `n boot af gevang word, wat `n “beeswagtertjie” is. Ek is reiswenke gegee en het versteekte talente ontdek. En ek het nog nie eers met `n tiende gesels nie!

Want, kom ons wees nou eerlik, IT is soos Telkom … of enige ander diens-georienteerde maatskappy. Ons is meeste van die tyd in die moeilikheid en jy’s gewoonlik nie gelukkig teen die tyd dat jy ons moet bel nie. (Ja, ons kry onsself miskien so `n bietjie jammer.) Ten spyte hiervan wil ons altyd bitter graag help en tegnologiese tameletjies oplos waar ons kan. Ons hoop, soos julle ons leer ken, julle ook makliker die foon op te tel of `n e-pos te stuur. Selfs al het jy nie `n probleem nie.

Vorige techies:

Wendy Robyn
Marinka Naudé
Jacky November, Anthea Davids and Jenny Watson
Pietie Traut
Quinton Luiters
Mandy Wanza
Petro Uys

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.