Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Algemeen

Ek het `n voëltjie hoor fluit

Vrydag, Julie 24th, 2015

Het jy al ooit gehoor van “Larry, the bird?”.  Ja, dis reg, selfs die Twitter-voëltjie het `n naam.

twitter-bird-blue-on-white

Ons is waarskynlik bekend met die  aanlyn sosiale netwerk Twitter, maar weet ons meer as dat dit bestaan uit 40-karakter “twiets”?

Twitter, of twttr soos dit aanvanklik bekendgestaan het, is in Maart 2006 geskep deur Jack Dorsey, Evan Williams, Biz Stone en Noah Glass gedurende `n voldag breinstormsessie. Dorsey het die keuse van die naam Twitter as volg beskryf:

“…we came across the word ‘twitter’, and it was just perfect. The definition was ‘a short burst of inconsequential information,’ and ‘chirps from birds’. And that’s exactly what the product was.”

twttr is aanvanklik gebruik aangesien die domein-naam twitter.com nie op daardie stadium beskikbaar was nie. Ses maande later, met Twitter se amptelike bekendstelling, is die naam verander na die een wat ons vandag gebruik.

Amper tien jaar later is Twitter Inc. steeds gebaseer in San Francisco, met meer as 25 kantore regoor die wêreld en 500 miljoen gebruikers. 

Deur die jare het Twitter ontwikkel van `n sosiale hulpmiddel waarmee mense kommentaar lewer oor hul daaglikse doen en late en lug van opinies tot iets wat gebruik word vir bemarking, onderrig en nuus en veral handig is vir noodkommunikasie. Gedurende die San Francisco aardbewings en Boston-marathon bomaanvalle was Twitter die hoof-kommunikasiekanaal vir die vespreiding van inligting. In Suid-Afrika het Twitter sy nut bewys gedurende die brande in Kaapstad en daarna met die insameling van fondse. 

In gevalle soos hierdie gebruik Twitter-gebruikers `n # om inligting oor `n spesifieke onderwerp te groepeer en soekbaar te maak, byvoorbeeld #capetownfires.  Sodra `n spesifieke hutsteken se gebruik toeneem en dit `n tendens word, word dit `n trending topic en word dit vertoon op die sypaneel vir alle gebruikers. Hierdie onderwerpe wys die onderwerpe waaroor daar die meeste gepraat word, hetsy dit nuusgebeure is of persone se opinies oor aktuele gebeure. (Meer oor # hier)

Kolleges en universiteite maak deesdae ook gebruik van Twitter as `n kommunikasie- en leerhulpmiddel vir studente. Wanneer `n kursus bestaan uit `n groot groep studente, kan Twitter ingespan word om gesprekke tussen klaslede te fasiliteer.

HOE WERK DIT?

Twiets is by verstek sigbaar vir almal, maar versenders kan hul boodskappe beperk tot hul ondersteuners. Gebruikers kan twiet op die Twitter webwerf, deur middel van versoenbare eksterne toepassings (byvoorbeeld toepassings vir selfone) of selfs met SMSe in sommige lande. Hertwiet (retweeting) is wanneer `n twiet populêr is en ander gebruikers dit verder versprei. Beide twiets en hertwiets kan nagespeur word om te sien hoe dikwels dit gelees word. 

Gebruikers kan inskryf vir ander gebruikers se twiets – dit staan bekend as following en intekenaars staan bekend as followers  of tweeps. Gebruikers kan ook ander gebruikers blokkeer as hulle dit so verkies.

As `n gebruiker iemand wil antwoord of noem, word `n @-teken voor die persoon se gebruikersnaam gevoeg. Om `n twiet van `n ander Twitter-gebruik te deel met jou eie lesers, kan jy die retweet knoppie in die twiet self gebruik.

Kyk gerus dié oulike, geanimeerde geskiedenis van Twitter op YouTube.

[SOURCE: www.wikpedia.org]

Mathematica by die US

Donderdag, Julie 16th, 2015

Moderne berekeningshulpmiddels is belangrik in verskeie dissiplines, en veral noodsaaklik in studievelde waar gesofistikeerde wiskunde, komplekse getalle of die verwerking van groot hoeveelheid data vereis word. Mettertyd het elke veld sy eie versameling gespesialiseerde oplossings of pakkette ontwikkel. 

’n Kampuswye lisensie is egter onlangs verkry vir die pakket Mathematica  wat deur Wolfram Research Inc ontwikkel is. Mathematica is een van ’n baie klein groep buitengewoon kragtige, hoëvlak sagtewarepakkette wat spesialiseer in gevorderde algebra, getalle en beeldverwerkingsberekenings.

mathematicaBy die Universiteit Stellenbosch het kollegas dit reeds met welslae gebruik in die biologiese, wiskundige en fisiese wetenskappe, sowel as in die ekonomiese en bestuurswetenskappe in beide onderrig en navorsing. Dit is dus regtig die moeite werd om uit te vind of dit ook toepaslik vir jou akademiese werk kan wees. 

Bykomend tot sy funksie as ’n hoëprestasie navorsingshulpmiddel, het dit ook ontwikkel tot ’n doeltreffende, gebruikersvriendelike onderrig-instrument.  Dit is kragtiger as enige ander algemene simbool-manipulasiepakket en boonop maklik om te gebruik op basisvlak.  Mathematica plaas die klem op die berekening van wiskundige objekte en kom met sy eie formele taal. Dit is gekoppel aan ’n uitgebreide, geouditeerde databasis waarmee sommige leerders dalk al kennis gemaak het deur die Wolfram Alpha-webwerf. 

Vir `n lisensie vir die gebruik van die Mathematica sagteware, kontak narga@sun.ac.za.

[Artikel deur Kristian Muller-Nedebock]

 

Registreer vir Wi-Fi-toegang

Dinsdag, Julie 14th, 2015

Indien jou werk vereis dat jy op meer as een US-kampus moet werk en `n internetverbinding nodig mag hê, is daar iets wat jy in gedagte moet hou.

Om Wi-Fi te kan gebruik op Stellenbosch, USB of Tygerbergkampus moet jou rekenaar of toestel op al drie kampusse apart geregistreer wees. As jy reeds Wi-Fi op Stellenbosch-kampus gebruik beteken dit nie dat jy outomaties Wi-Fi op al die ander kampusse kan gebruik nie. 

Om dus die Secure of  MatiesWifi SSIDs elders te gebruik, registreer jou toestel deur die volgende inligting aan help@sun.ac.za te stuur:

  • Gebou
  • Kamernommer
  • US nommer
  • Gebruikersnaam
  • Batenommer van skootrekenaar of `n beskrywing van die toestel
  • Netwerkkaartadres (ook bekend as die MAC-adres)

Windows 10 is oppad

Vrydag, Junie 12th, 2015

cortanaAs jy `n Windows 7 of 8.1 gebruiker is, sou jy dalk gedurende die afgelope twee weke `n kennisgewing van Microsoft op jou skerm sien opspring het. Hierdie poging is deel van ‘n baie direkte bemarkingsveldtog vir hul nuutste produk, die Windows 10 bedryfstelsel.

“Wat het van Windows 9 geword?”, vra jy? Dit blyk of Microsoft besluit het om die volgende logiese benaming, Windows 9, heeltemal oor te slaan en direk van 8 na 10 te beweeg.

Die maatskappy voer aan dat Windows 10 so drasties verskil van 8 dat hulle nie bloot net numeries kon voortgaan nie.  Toevallig was Windows 8 ook onpopulêr en minder suksesvol by gebruikers.

Wat die rede ookal is, Windows 10 is in September verlede jaar aan die media bekendgestel en gaan, volgens Microsoft, einde Julie uitgerol word aan die publiek. Die nuus wat egter op almal se lippe is, is dat Microsoft Windows 10 gratis bied aan almal wat tans Windows 7 Service Pack 1 of Windows 8.1 gebruik.

Sommige personeel mag `n kennisgewing van Microsoft  ontvang het waarin daar gevra word of jy wil opgradeer. As jou antwoord “ja” was, word `n kopie vir jou gereserveer en sal jy sal laat weet word wanneer dit beskikbaar is. Jy kan dan kies óf en wanneer jy dit wil aflaai en installeer.

MAAR, net omdat Microsoft vir jou `n boodskap gestuur het, beteken dit nie dat jou rekenaar die nuutjie sal kan hanteer nie.

En, soos met enige nuwe sagteware, het die eerste weergawes nog skaafwerk nodig en kom daar hier en daar haakplekke voor. IT gaan eers Windows 10 deeglik toets en gebruikers in kennis stel wanneer dit veilig is om te gebruik.

Probeer maar eerder nog `n bietjie uithou en kyk uit vir kennisgewings op Twitter en in Bits & Bytes.

Te danke aan Microsoft se deeglike bemarking lyk Windows 10 egter belowend en moontlik `n verbetering op sy voorganger. (meer inligting is beskikbaar op Microsoft se webwerf). Sommige funksionaliteit is nie noodwendig al beskikbaar aan alle gebruikers nie en Windows Media Center, sowel as sagteware vir DVDs in die slag.

Die mees sigbare veranderinge is die byvoeging van Cortana, `n persoonlike assistent – moontlik Microsoft se antwoord op Apple se minder suksesvolle Siri en Microsoft Edge, Internet Explorer se plaasvervanger.

Meer antwoorde oor die opgradering na Windows 10 word ook deur die Guardian beantwoord

Dink jy’s veilig aanlyn?

Vrydag, Junie 12th, 2015

Memeburn, `n webwerf wat spesialiseer in technuus en -analise, het onlangs berig oor die stand van kuberveiligheid in Suid-Afrika. (lees die volledige artikel hier)

Volgens die artikel is daar gedurende die 2015 Security Summit, in Johannesburg, bekendgemaak dat, in Afrika, Suid-Afrika die land is wat die afgelope ses weke die meeste deur kuberkrakers geteiken is. Hierbenewens het DDOS-aanvalle die afgelope 18 maande  met 150% toegeneem in Afrika.

Volgens Antonio Forzieri van Symantec was een uit elke 214 e-posse verlede jaar in Suid-Afrika gestuur, pogings om internetgebruikers se inligting te bekom.

Suid-Afrikaners verloor reeds R2.2 biljoen per jaar aan kubermisdaad. Statistieke soos hierdie benadruk weereens dat ons as internetgebruikers in Suid-Afrika meer ingelig en versigtig moet wees.

Terselfdertyd neem aanlynaankope toe en verskaf dit ‘n addisionele kanaal vir kubermisdaad om plaas te vind.

onedollarKaspersky Lab, `n maatskappy wat hulle roem daarop dat hulle sekuriteitsdeskundiges is, het `n projek begin wat die gevaar van kubermisdaad op `n meer visuele,  verstaanbare en interaktiewe manier demonstreer.

Die one dollar lesson is `n geanimeerde webwerf wat jou eerstehands wys wat kan gebeur as jy aanlyn inkopies doen en jou inligting word onderskep.

One dollar lesson bied ook drie opleidingsmodules wat elk een dollar se  virtuele reis na die bank volg met al die uitdagings langs die pad. 

Moenie aanneem jy weet alles van kuberveiligheid nie. Bly op hoogte van nuwe kuberbedreigings en wees versigtig wat jy met jou persoonlike inligting doen.

 

 

© 2013-2025 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.