Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Algemeen

Nuwe IT-gebou – groenste op kampus

Vrydag, Mei 15th, 2015

In September 2015 betree die Informasietegnologie-afdeling `n nuwe era. Nie net skuif ons na `n nuwe gebou nie, maar ons nuwe tuiste is ook die eerste volwaardige “groen” gebou op kampus.

`n Wye reeks volhoubare eienskappe is in die gebou se ontwerp geïnkorporeer en kan volgens die Green Building Council of South Africa’s Green Star Office se lys kategorieë gemeet word.

Energie-effektiwiteit en hernieubare energie
Foto-voltaïese sonpanele op die dak; optimale noordelike orientasie en venstergroottes; skadu-elemente; `n vertikale tuin aan die noordelike kant om hitte te minimaliseer en verkoeling te gee; gebruik van riverwater vir verkoeling en lae energie en slim beligting.

Kwaliteit van binneshuise omgewing (IEQ)
Natuurlike lig; ventilasie en geraasvermindering.

Vervoer
Fietsstoor en fasiliteite vir fietsryers; optimale hoeveelheid parkeerplekke.

Innovasie
Vertikale tuin, gebruik van rivier en reënwater vir lug- en perseelverkoeling.

Die gebou nie net `n kantoor wat `n afdeling huisves nie, maar is ‘n integrale deel van IT se werkstelsel – die mense, hul prosesse en die ruimtes en fasiliteite in die gebou, vorm ‘n integrale eenheid.

Met die inbruikneming van die nuwe gebou word daar beoog om `n nuwe werkskultuur te bepaal, veranderings in werkswyses te bewerkstellig, en veral samewerking en kommunikasie te bevorder.

Die ontwikkeling van nuwe werkswyses en `n nuwe kultuur is nou belangriker as ooit in die Informasie-Era waarin ons onsself bevind. Soos die fokus toenemend skuif na die toepassing van informasie en kommunikasietegnologieë (IKT) binne die US-strategie, word daar hoë verwagtinge gestel aan Informasietegnologie. Die nuwe gebou kan gesien word as `n potensiële hulpmiddel in die aanpassing van die werkskultuur.

Werk in vandag se Informasie-Era is toenemend meer spangeorienteerd, sosiaal, kommunikasie-intensief, interaktief, vereis kennisuitruiling en voortdurende leer en konsultasie. Gevolglik bestaan die nuwe gebou uit groot, oopplan werksareas met volop natuurlike lig en glaspanele – soortgelyk aan die kantore van Google en Apple.

Ook meublement moet in lyn wees met nuwe werkswyses. Spanwerk vereis buigbare toebehore wat maklik en vinnig die werkspasie-uitleg kan verander. Doelmatige vergader- en wegbreekareas moet toegerus wees om `n balans te bied tussen gedeelde en privaat werksareas. Digitale kommunikasiefasiliteite in hierdie areas moet virtuele vergaderings en die vermoeë om van elders te werk, maklik en effektief maak.

Laastens moet die werksplek gesond wees, kreatiwiteit en samewerking bevorder en `n plek wees waar mense wìl werk en tyd spandeer. Met ander woorde, `n werksomgewing wat verwelkomend en oop is, nie hierargieë afdwing nie en buigsaamheid en kommunikasie bevorder. Dit opsigself sal lei tot die oorgang na `n volgende generasie IT-afdeling.

[ARTIKEL: RALPH PINA]

Office Mix – Powerpoint, net beter

Vrydag, April 24th, 2015

Soos die behoefte aan `n ryker leerondervinding toeneem, is daar ook `n beweging na sagteware, toepassings en webwerwe wat meer interaksie en samewerking tussen studente en opvoeders wil aanmoedig en bevorder.

office mix2

Daarom is dit glad nie verbasend dat Microsoft `n voorloper in die veld is en verlede jaar hul eie poging, Office Mix, bekendgestel het nie. Volgens Microsoft is Office Mix ontwikkel om opvoeders by te staan met die implementering van nuwe leermetodes met `n eenvoudige sagtewarepakket soos PowerPoint. Dit bied dieselfde voordele aan die e-Leer samelewing as die industrie-standaard verpakking van digitale leerinhoud, met die hulp van SCORM (Sharable Content Object Reference Model)

Met funksies soos stem, video, digitale ink, meningsopnames en interaktiewe toepassings, insigte en analises en terugspeelfasiliteite op enige toestel, beloof hierdie PowerPoint byvoeging om gewone skyfies te verander in interaktiewe aanlyn-lesings en aanbiedings.

Onderwysers of lektore kan hulleself opneem terwyl hulle klas gee en `n video maak van die aanbieding. Hulle kan skryf op die skyfies deur middel van “digitale ink” en vasvrae, meningspeile, video, skermgrepe, skermopnames en ander elemente byvoeg. Studente kan weer op die beurt na die interaktiewe dokument op die Office Mix webwerf gaan kyk.

Analise van die aanbieding is ook moontlik aangesien statistieke beskikbaar gestel word deur Mix.

Om Office Mix te gebruik, het jy Office 2013 of Office 365 nodig. Jy kan dit nou plaaslik aflaai van IT se ondersteuningswebwerf

[BRON: www.pcworld.com; www.microsoft.com]

 

Nuwe hulpmiddel vir krititese analise van akademiese teks

Vrydag, April 17th, 2015

Met die hulp van Universiteit Stellenbosch, en in besonder InnovUS, is `n nuwe webtoepassing en hulpmiddel, Abstrahere Academic, ontwikkel om magister- en doktorale studente te help met die kritiese analise van akademiese tekste. 

Accademic-logo

Abstrahere Academic fokus op akademiese omgewings en help meesters en PhD-studente om hul kritiese leesvaardighede te verbeter en toe te pas – `n belangrike komponent van hulle lees- en skryfproses.

Magister en doktorale studente het onlangs `n e-pos-uitnodiging ontvang van WARP Development waarin hulle toegang kan verkry tot die Abstrahere Academic-toepassing deur middel van `n skakel – http://academic.abstrahere.co.za

Die toepassing kan gebruik word om wetenskaplike artikels direk op te laai deur middel van `n leer of `n URL, waarna `n student die inhoud kan analiseer deur middel van aanlyn wenke. Die insette word ingevoer in die Critical Reading Box en unieke opsommings kan sodoende gemaak word vir insluiting in die literatuuropname, teoretiese grondslae of die gevolgtrekkings van `n tesis/verhandeling.

Hoe help Abstrahere Academic studente met akademiese leesmateriaal? 
  • Jy sal gelei word om akademiese literatuur op jou eie manier krities te evalueer. 
  • Abstrahere wenke sal jou met leiding help om die kern-idees van jou akademiese tekste op te som. 
  • Jou Abstrahere Critical Reading Box opsommings sal jou beter voorberei om te weet watter dele van jou akademiese tekste jy wil insluit in jou tesis/verhandeling. 
  • Opsionele wenke lei jou om jou Abstrahere Critical Reading box-opsommings te bestuur. 
  • Jy kan direk aanlyn kommunikeer met jou tesis-moderator oor jou Critical Reading Box-opsommings.

Alle dokumente moet in PDF-formaat wees as dit na Abstrahere Academic opgelaai word. Onthou ook om jou Inetkey te aktiveer as jy op kampus is en Mozilla Firefox of Google Chrome te gebruik as jou webblaaier. Moet asb. nie Internet Explorer gebruik nie, aangesien spesifiek PDF-byvoegings tegniese probleme veroorsaak.

Enige terugvoer oor die toepassing sal opreg waardeer word en kan gestuur word aan hjb@sun.ac.za. Agtergrond-inligting oor hierdie toepassing is beskikbaar by http://abstrahere.warpdemo.co.za/.

 

Papierlose klaskamers Google se mikpunt

Vrydag, April 17th, 2015

Google Classroom is ‘n digitale platform wat spesialiseer in die bestuur van leer en onderig. Dit poog om die skep, versprei en nasien van werkstukke te vereenvoudig, samewerking tussen studente en opvoeders aan te moedig en ook om te streef na `n papierlose omgewing.

Hierdie volgende ontwikkeling in Google se ewig-groeiende portfolio is in Augustus 2014 vrygestel op – natuurlik – die Google toepassing-winkel. Die verskeie Google Classsroom toepassings is gratis beskikbaar vir enigeen met Google Apps for Education, `n gratis pakket van produktiwiteitshulpmiddele wat Gmail, Drive en Docs insluit.

Volgens Jorge Lugo, `n sagteware ingenieur wat in die Google Education-span, is meer as 30 miljoen werkstukke reeds sedert die bekendstelling, vier maande vroeer, verwerk. 

Die grootste voordeel blyk die verbetering in opvoeders se werksvloei en die gepaardgaande tydbesparing, te wees. Dit kan gebruik word om virtuele klaskamers te skep, inskrywings op klaskamer-voere te plaas, te kommunikeer met studente en te kyk na werkstukke. 

Tutoriale oor Google Classroom is beskikbaar op Educational Technology en Mobile Learning se webwerf.

MEER INLIGTING:

http://www.zdnet.com/article/google-opens-up-classroom-tool-for-teachers-worldwide/
http://www.zdnet.com/article/google-classroom-mobile-ios-android-education/
http://www.alicekeeler.com/teachertech/2015/02/08/10-additional-things-you-can-do-google-classroom/

BRON: www.wikipedia.org

Padlet: jou virtuele aansteekbord

Vrydag, April 17th, 2015

padlet

Padlet spog dat hulle platform (moontlik) die maklikste manier ter wereld is vir `n groep mense om saam te werk en skep. Nogal `n redelik brawe stelling, sou `n mens dink.

Ons het dit self gaan toets en sal graag wil hoor wat jy daarvan dink. Kan dit op `n akademiese vlak gebruik word vir studente  of dalk selfs binne ander omgewings binne die universiteit? Gaan loer gerus by ons eie Bits & Bytes Padlet-bladsy en los vir ons kommentaar. (Jy kan dit anoniem doen of jou naam bysit)

Maar eers – wat is Padlet?

Die klaarblyklik eenvoudige platform bied aan opvoeders, byvoorbeeld lektore en onderwysers en leerders of studente `n virtuele aansteekbord waarop hulle na hartelus hul gedagtes en opinies oor `n geselekteerde onderwerp kan lug. Dit werk soos `n tradisionele aansteekbord, behalwe dat dit meer funksionaliteit bied.  `n Dosent kan byvoorbeeld tydens `n klas `n bord skep, `n vraag vra en studente kan aanlyn tydens die klas op Padlet kommentaar en insette lewer. Jy kan selfs grafika en leers laai, sowel as skakels plaas. 

Wat Padlet wel handig maak is dat dit `n verskeidenheid opsies bied om jou bladsy te pasmaak soos jy dit verkies. Of jy die agtergrond wil verander of verskeie regte toeken aan verskeie persone. Jy kan self `n QR-kode gebruik vir jou bladsy, dus is dit heeltemal selfoon- en veral ook tablet-vriendelik. Indien jy belangstel in wat Padlet nog te bied het, lees gerus Shaun Takenouchi se artikel. 

 

 

 

© 2013-2025 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.