Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Algemeen

Weet jy nog nie van SUNid nie?

Vrydag, Februarie 14th, 2014

In Oktober verlede jaar is daar `n eenvoudige proses geimplementeer om besoekers of eksterne werkers op die universiteit se stelsels te registreer. Voorheen was dit nodig om `n vorm in te vul en by Menslike Hulpbronne in te dien. Hierdie stap is sedertdien nie meer nodig nie, aangesien elke departement sy eksterne werkers of besoekers kan registreer. 

Wanneer ‘n persoon ‘n aanstelling of rol benodig en die persoon gaan geen betaling ontvang vir die tydperk van die aanstelling nie, moet hierdie persoon as ‘n eksterne werker aangestel  en dus op SunID registreer word.

Daar is slegs drie tipes aanstellings wat Menslike Hulpbronne steeds hanteer: 

1)      ‘n Permanente aanstelling. 

2)      ‘n Tydelike aanstelling. Hier praat ons sommer ook van ‘n HEMIS aanstelling en dit verwys na die tipe vorms wat voltooi moet word met aanstelling om betaling te ontvang.

3)      Diverse betalings word deur persone in departmente gelaai deur die sun-e-HR stelsel te gebruik. Indien daar nuwe diverse betalings gelaai moet word, skep hierdie funksie ook nuwe UT nommers. Die diverse betalings word wel deur MHB hanteer, maar indien hierdie tipe betaling of aanstellings enige elektroniese toegang of toegang na geboue benodig, moet die persoon ook as eksterne werker of besoeker geskep word op SunID.

Meer volledige instruksies kan hier gevind word of volg ons maklike diagram hieronder.

 

Rekordgetal oproepe vir IT Dienssentrum

Vrydag, Februarie 14th, 2014

Daar is min werke wat so ondankbaar is as om by `n hulptoonbank te werk – gooi dan nog tegnologie ook by en dis dubbeld so erg. Dink maar net hoe jy voel teen die tyd dat jy die IT Dienssentrum skakel. Jy’t nog nie eers met iemand gepraat nie en jou frustrasievlakke is reeds hoog. 

In die laat 90’s het ek ook `n draai gemaak by die einste IT Dienstoonbank – destyds net vier mense wat `n hele kampus se gebruikers moes red van tegnologiese jakkalsies. Deesdae is dit darem `n stewige spannetjie van agt, maar intussen het gebruikers se tegnologiese behoeftes ook meer geword.

Gelukkig was myne `n vlugtige ondervinding, anders was moord of `n senuwee-ineenstorting my voorland. Ten spyte van hierdie stresvolle omstandighede verrig die IT Dienstoonbank steeds elke dag wondere – kyk maar na die statistieke oor die afgelope jaar:

Jan 2014 

9 798 oproepe is in Jan 2014 ontvang by IT se Dienstoonbank waarvan 8 780 (90%) hanteer is. Dit is die hoogste aantal oproepe in die afgelope 4 jaar. 

Gemiddelde wagtyd: 1 minuut, 6 sekondes

Gemiddelde duur van oproepe: 2 minute, 17 sekondes

 Jan 2013 

8 004 oproepe ontvang waarvan 7 402 (92%) oproepe hanteer is.

Gemiddelde wagtyd: 42 sekondes

Gemiddele duur van oproepe: 2 minute, 12 sekondes 

 

1 378 meer oproepe is hanteer as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

 

Meer inligting insake IT se Dienstoonbank is beskikbaar by: https://stbsp01.stb.sun.ac.za/innov/it/it-help/Wiki%20Pages/Service%20Desk.aspx

E-ink, nie jou gewone BIC-pen nie

Donderdag, November 28th, 2013

Met die verskyning van e-boeke, is mense blootgestel aan `n wêreld van nuwe tegnologieë.  Een hiervan is e-ink. 

Vir diegene wat glo die enigste ink is die tipe wat in jou hempsak uitloop, hier is `n kort verduideliking van die elektroniese eweknie.

Elektroniese ink, e-ink,  elektroniese papier of e-papier is skermtegnologieë ontwikkel om die voorkoms van gewone ink op papier na te maak. Anders as gewone skerms wat lig uitstraal, reflekteer elektroniese papier lig soos tradisionele papier. 

Die elektroforiese beeld bestaan uit duisende lig- en donker nano-partikels vasgevang tussen twee plate elektrostaties-gelaaide glas. Die noukeurige toepassing van die stroom na die skerm trek die nanopartikels aan of stoot hulle weg om ‘n sigbare beeld te skep.

Elektroniese papier word alreeds suksesvol gebruik vir elektroniese borde in winkels, digitale advertensies, skedules op stasies en selfoonskerms. Met e-ink kan e-lesers soos die Amazon Kindle,Barnes & Noble Nook, Sony Reader, en die Kobo e-leser, digitale weergawes van boeke en tydskrifte vertoon. 

E-ink is ideaal vir lees wanneer die stadige herlaaispoed onbelangrik is. Omdat dit reflekteer soos gewone paper en nie, soos `n skerm, lig uitstraal nie, word die leesproses vergemaklik en het die oppervlak `n wyer leesvlak.  Die ideale e-ink skerm kan gebruik word in direkte sonlig sonder enige refleksie of om weg te raak. 

[SOURCE: www.howtogeek.com & www.wikipedia.org]

E-boeke – lees se toekoms?

Donderdag, November 28th, 2013

In die eerste helfte van 2013 het `n derde van boekverkope in Amerika bestaan uit e-boeke. Menige bibliofiel het slapelose nagte oor die toekoms van gedrukte boeke en statistieke soos bo genoem is nie goeie leesstof vir insomnia-lyers nie.

`n Opname vroeër die jaar deur Surveymonkey behoort tot `n mate gerustellend te wees vir liefhebbers van gedrukte boeke. Die maatskappy het `n steekproef gedoen met 300 Amerikaanse lesers om te bepaal wat hul voorkeure is.

Resultate was onverwags in die guns van gedrukte boeke en het aangedui dat 40% van die groep slegs gedrukte boeke koop, 50% koop beide elektronies en gedruk, terwyl `n skrale 10% slegs e-boeke aankoop. 

Nostalgie en gerief word as hoofredes vir die voorkeur van tradiosionele boeke aangevoer. Lesers wil papier en ink ruik en die klank van `n bladsy wat omblaai hoor. E-boeke kan nie met die tasbare kompeteer nie, hoewel vervaardigers hard probeer om dit op ander wyses in e-lesers in te bou.

Gemak is ook die grootste rede waarom lesers e-boeke lees.

Met die koms van die e-boek is dit makliker as ooit tevore om in te haal met jou leeswerk terwyl jy oppad is. E-lesers is lig en kan meer as 1000+ boeke bevat. Perfek vir die besluitelose reisiger wat `n hele biblioteek tot sy beskikking nodig het. 

Herbenewens leen e-boeke hulle tot groter interaksie met lesers. Skakels na webwerwe kan ingebou word, bladsye kan geboekmerk word, gedeeltes gemerk en die betekenis van `n woord kan, deur middel van `n ingeboude woordeboek, vinnig opgespoor word.

Interaktiwiteit word egter `n nadeel asdit by e-boeke vir kinders kom. Die Joan Ganz Cooney Center in New York het in 2012 navorsing gedoen oor die effektiwiteit van e-boeke vir geletterdheid. (http://www.theguardian.com/books/2012/jun/07/enhanced-ebooks-bad-for-children?CMP=twt_gu)

E-boeke met addisionele, interaktiewe funksies het kinders se konsentrasie belemmer en hul aandag in so `n mate afgetrek dat minder van die storielyn onthou en weergegee kon word. Gedrukte boeke was voordelig vir die aanleer van geletterdheid met behulp van saamleestegnieke. E-boeke, spesifiek interaktiewe e-boeke, was meer suksesvol om kinders betrokke te kry en aan te moedig om fisies deel te neem aan die leesproses. 

Daar is areas waar die e-boek loshande voorloop, maar op die keuse van formaat word bepaal deur lesers se voorkeure en behoeftes.

Miskien moet ons nie een formaat bo die ander kies nie – beide het voordele en kan aanvullend tot mekaar wees. Geletterdheid moet eerder die fokus moet wees  –  op watter wyse dit ookal bewerkstellig word.

 

[BRONNE: www.wordalivepublishers.comwww.theguardian.com
www.surveymonkey.comwww.spreeder.com
www.digitaltrends.com]

Wanneer woorde jou ontduik

Donderdag, November 28th, 2013

Daar word beweer dat die gemiddelde spreker oor ‘n woordeskat van ongeveer 20 000 woorde beskik. Jy kan selfs `n aanlyn-toets doen om uit te vind hoe groot (of klein) jou huidige woordeskat is. 

Ons ken ook die tong-in-die-kies bewering dat vrouens meer as dubbeld soveel as mans praat. Oor laasgenoemde sal ek my liewer nie uitlaat nie, maar jy kan hier meer daaroor lees.

Maar hoe gemaak as jy worstel met `n stuk teks en die regte woord jou telkens ontduik? Ek is `n groot voorstaander van woordeboeke – my lessenaar sug op die oomblik onder drie lywiges, maar daar is ook alternatiewe wat waarde kan toevoeg tot die konvensionele weergawes.

Tipes elektroniese woordeboeke kan opgedeel word in twee afdelings – aanlyn woordeboeke en aflaaibare woordeboeke. Elkeen het eie voordele, nadele en handige ekstras. Ongelukkig kan ons nie `n spesifieke weergawe aanbeveel nie, maar jy kan gerus `n bietjie rondspeel en ons laat weet wat jy verkies.

AFLAAIBARE WOORDEBOEKE

  1. Ultimate Dictionary bevat 61 verskillende tale se woordboeke en is maklik om te installeer en gebruik.
  2. WordWeb bied `n woordeboek en tesourus met `n wye verskeidenheid funksies, sowel as `n sleutelbord kortpad vir vinnige toegang.
  3. TheSage bevat meer as 210 000 definisies en`n tesourus met meer as 1 400 000 verhoudings tussen woorde.
  4. LingoPad bevat `n Duits-Engelse woordeboek, maar ook ander aflaaibare woordeboeke. Jy kan ook jou eie woordeboek oplaai en woordlyste skep.
  5. Artha is gebaseer op WordNet,`n groot leksikografiese databasis ontwikkel deur Princeton Universiteit.
  6. Aard Dictionary laat jou toe om die betekenisse vir moeilike woorde op te soek deur middel van veelvuldige woordeboeke in veelvuldige tale. Jy kan tot 50 addisionele woordeboeke op die databasis byvoeg.
  7. GoldenDict kan gebruik word vir Windows en Linux en gebruik ook die uitspraakgids forvo.com
  8. Lingoes is `n maklik bruikbare woordeboek en teksvertalingshulpmiddel wat ook betekenisse, vertalings en uitsprake weergee in meer as 80 tale.
  9. Mobysaurus Thesaurus bevat 30 260 kernwoorde en meer as 2.5 miljoen sinonieme. Dis gratis, maar jy moet registreer vir toegang.

AANLYN WOORDEBOEKE

  1. Dictionary.com is `n interaktiewe aanlyn woordeboek met meer as 50 miljoen gebruikers wêreldwyd per maand. Dis die grootste gesaghebbende aanlyn woordeboek en mobiele verwysingsbron. Dictionary.com kan ook op mobiele platforms gebruik word.
  2. The Free Dictionary lewer, buiten die standaarddienste, ook spesialis-woordeboeke, byvoorbeeld mediese, regs- en finansiële woordeboeke. Daarbenewens bevat dit `n tesourus, akronieme en afkortings, idiome, `n ensiklopedie, `n literêre verwysingsdatabasis  en `n soekenjin.
  3. Wiktionary is die leksikografiese metgesel van Wikipedia. Wiktionary is `n wiki en kan dus geredigeer word. Kriteria vir redigering ais egter aansienlik strenger as Wikipedia.
  4. Merriam-Webster Online Dictionary is die elektroniese eweknie van die Merriam-Webster’s Collegiate Dictionary en sluit ook vreemde woorde en frases en biografiese en geografiese name in.
  5. Oxford Dictionaries Online bied riglyne vir beter skryfvaardighede aan lesers, speletjies en raaisels, sowel as `n taalblog. 
  6. Collins Dictionary bevat meer as `n miljoen inskrywings en gratis toegang tot definisies, vertalings en voorbeelde. Hiermee saam bied dit ook `n afdeling vir woordspeletjies.
  7. Word-Net Online kan aanlyn gebruik word, maar bied ook `n aflaaibare weergawe vir Windows.
  8. OneLook maak raaiwerk nog makliker deur jou toe te laat om slegs `n gedeelte van die woord in te voer en verskaf `n lys van moontlike opsies. Dit het ook `n Reverse Dictionary-funksie waarmee `n konsep beskryf kan word en die moontlike verwante opsies van woorde of frases gelys word.
  9. Urban Dictionary bevat grotendeels jargon en frases, beoordeel deur besoekers beoordeel en geredigeer deur vrywilligers. Woorde en terme wat hier gevind word, is nie tipies in `n standaard woordeboek nie.
  10. MetaGlossary is die wêreld se grootste, voortdurend-opgedateerde depot van informasie. Die informasie word geoes vanaf die internet en verskaf noukeurige en volledige definisies van terme en frases. 

[BRON: www.howtogeek.com]

 

© 2013-2025 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.