Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Groen IT

Nuwe IT-gebou – groenste op kampus

Vrydag, Mei 15th, 2015

In September 2015 betree die Informasietegnologie-afdeling `n nuwe era. Nie net skuif ons na `n nuwe gebou nie, maar ons nuwe tuiste is ook die eerste volwaardige “groen” gebou op kampus.

`n Wye reeks volhoubare eienskappe is in die gebou se ontwerp geïnkorporeer en kan volgens die Green Building Council of South Africa’s Green Star Office se lys kategorieë gemeet word.

Energie-effektiwiteit en hernieubare energie
Foto-voltaïese sonpanele op die dak; optimale noordelike orientasie en venstergroottes; skadu-elemente; `n vertikale tuin aan die noordelike kant om hitte te minimaliseer en verkoeling te gee; gebruik van riverwater vir verkoeling en lae energie en slim beligting.

Kwaliteit van binneshuise omgewing (IEQ)
Natuurlike lig; ventilasie en geraasvermindering.

Vervoer
Fietsstoor en fasiliteite vir fietsryers; optimale hoeveelheid parkeerplekke.

Innovasie
Vertikale tuin, gebruik van rivier en reënwater vir lug- en perseelverkoeling.

Die gebou nie net `n kantoor wat `n afdeling huisves nie, maar is ‘n integrale deel van IT se werkstelsel – die mense, hul prosesse en die ruimtes en fasiliteite in die gebou, vorm ‘n integrale eenheid.

Met die inbruikneming van die nuwe gebou word daar beoog om `n nuwe werkskultuur te bepaal, veranderings in werkswyses te bewerkstellig, en veral samewerking en kommunikasie te bevorder.

Die ontwikkeling van nuwe werkswyses en `n nuwe kultuur is nou belangriker as ooit in die Informasie-Era waarin ons onsself bevind. Soos die fokus toenemend skuif na die toepassing van informasie en kommunikasietegnologieë (IKT) binne die US-strategie, word daar hoë verwagtinge gestel aan Informasietegnologie. Die nuwe gebou kan gesien word as `n potensiële hulpmiddel in die aanpassing van die werkskultuur.

Werk in vandag se Informasie-Era is toenemend meer spangeorienteerd, sosiaal, kommunikasie-intensief, interaktief, vereis kennisuitruiling en voortdurende leer en konsultasie. Gevolglik bestaan die nuwe gebou uit groot, oopplan werksareas met volop natuurlike lig en glaspanele – soortgelyk aan die kantore van Google en Apple.

Ook meublement moet in lyn wees met nuwe werkswyses. Spanwerk vereis buigbare toebehore wat maklik en vinnig die werkspasie-uitleg kan verander. Doelmatige vergader- en wegbreekareas moet toegerus wees om `n balans te bied tussen gedeelde en privaat werksareas. Digitale kommunikasiefasiliteite in hierdie areas moet virtuele vergaderings en die vermoeë om van elders te werk, maklik en effektief maak.

Laastens moet die werksplek gesond wees, kreatiwiteit en samewerking bevorder en `n plek wees waar mense wìl werk en tyd spandeer. Met ander woorde, `n werksomgewing wat verwelkomend en oop is, nie hierargieë afdwing nie en buigsaamheid en kommunikasie bevorder. Dit opsigself sal lei tot die oorgang na `n volgende generasie IT-afdeling.

[ARTIKEL: RALPH PINA]

Nuwe IT-gebou: Wat is ‘n werksplek?

Donderdag, Desember 11th, 2014

Hierdie artikel is tans slegs in Engels beskikbaar.

 

 

(more…)

E-afval inisiatief steeds volstoom aan die gang

Vrydag, Mei 24th, 2013

IT se e-afval program is stilweg steeds op die agtergrond besig om die regte ding te probeer doen. 

Vanaf Julie 2012 tot April 2013 het  Cape e-Waste Recyclers, ons e-afval kontrakteurs die volgende items van ons kampus verwyder vir verantwoordelike wegdoening en herwinning: 

  • 325 rekenaars
  • 162 drukkers en skandeerders
  • 269 Monitors
  • 3 houers van algemene e-afval

Onthou, as jy enige e-afval by jou kantoor of huis het en nie weet wat om daarmee te maak nie, kontak ons gerus en ons kan jou help om op `n omgewingsvriendelike manier daarvan ontslae te raak!  

Die prosedures om IT-bates uit diens te haal en in die e-afval stroom te plaas is op die IT Help wiki beskikbaar: e-Afval Prosedures.

 

Kuberkonferensies ons voorland?

Vrydag, Maart 23rd, 2012

Hoender of bief? Sal dit nie salig wees om nie meer jouself bloot hoef te stel aan suspisieuse vliegtuigmaaltye en verlore bagasie nie? Deesdae is dit nie meer nodig om kilometers ver te vlieg vir `n een uur vergadering nie. Meer en meer besighede maak gebruik van virtuele konferensies om geld te spaar en terselfdertdyd hul koolstof-voetspoor ligter te maak.

Goed, maar kom ons begin by die begin. Wat beteken dit as almal verwys na jou “carbon footprint”?

Elke persoon het sy eie voetspoor (“carbon footprint”), of jy `n individu is, deel van `n groot maatskappy of `n vervaardiger van goedere. Jou daaglikse aktiwiteite en alles wat jy doen het `n impak op die omgewing rondom jou. Jou voetspoor is die maatstaf van hierdie impak en kan gemeet word volgens jou eetgewoontes, hoe jy reis, wat jy koop en natuurlik hoe jy ontslae raak van al jou rommel. (As jy graag wil weet hoe diep jy jou spoor trap, gaan kyk by Carbon Footprint Calculator.)

Daar is verskeie maniere om jou impak te verlig en seker te maak dat jy met ligter treë op die aarde trap. Konferensies en vergaderings is bloot een hiervan.

Voor jy op `n vliegtuig spring vir `n vinnige uitstappie Johannesburg toe, vra jouself af of dit regtig nodig is om 1000+ kilometers te vlieg om hierdie vergadering by te woon? Volgens Dave Rochlin of ClimatePath kan die  meeste konferensies meer as `n ton CO2 per deelnemer genereer. Dit sluit in, reis (ongeveer 90% van die voetspoor), papiergebruik, konferensiemateriaal en spyseniering. Volgens navorsing gedoen deur ClimatePath can die impak op die omgewing met 90% verminder word deur bloot `n virtuele vergadering te hou. Een maatskappy, Manpower, het 400,000 pond se CO2 gasse vermy deur hul jaarlikse  “Global Leadership Team”-vergadering virtueel aan te bied en ook lugreise met een miljoen myl verminder!

Met hedendaagse moderne tegnologie soos videokonferensiefasiliteite word dit al makliker om die “carbon footprint” van vergaderings te verminder. Die aanvanklike onkoste om tele- en videokonferensiefasiliteite aan te koop, sal die nodigheid om te vlieg verminder en daarmee saam geld, tyd en uitlaatgasse spaar. Die installasie van moontlike duur tegnologie is egter nie nodig nie. ‘n Virtuele vergadering kan net so maklik met Skype afgehandel word binne `n fraksie van die tyd.

Indien die bywoning van `n vergadering of konferensie elders nie moontlik is nie, is daar egter steeds maniere om te verseker dat jou impak so laag moontlik is. Die The National Conference Centre’s blog het `n paar handige voorstelle. Gaan loer gerus en maak seker jy gaan vergader volgende keer ligvoets.

E-wat?!

Vrydag, Maart 23rd, 2012

 

Elektroniese afval (e-afval) is die term wat gebruik word om verouderde of weggooi-toerusting wat met elektrisiteit werk, te beskryf. Dit sluit rekenaars, enige elektroniese toerusting, batterye, ens. in wat uit die weggeruim is deur die oorspronklike eienaars.

Die toksiese inhoud van e-afval as gevolg van sekere bestanddele, soos lood, kwik, kadmium en ander stowwe hou `n gevaar in vir die mens se gesondheid en ekosisteme. Wanneer e-afval afbreek en nie op die korrekte manier van ontslae geraak word nie, kan die giftige stowwe in grond en grondwater beland. Die materiaal waarvan hierdie produkte gemaak is, kan eerder herwin word om rou materiaal te skep wat weer gebruik kan word. Gevolglik word minder energie gebruik (sowel as koolstofuitskeiding) vir vervaardiging, myn en prosesering.

Die onvolhoubare, vinnige omset van verouderde elektronika en rekenaartegnologie is nog `n geldige rede vir herwinning – of selfs beter – vir die hergebruik van e-afval.

Vir meer inigting: www.ewasa.org

Wat gebeur met e-afval?

Kontrakteurs skei die artikels in die volgende drie kategorieë. Items wat

  • opgeknap kan word,
  • herwin kan word en
  • veilig ontslae van geraak moet word.

Opknapping van toerusting en rekenaars skep weer opsigself werk en hierdie items word dan weer gebruik in behoeftige skole en gemeenskappe. Nuttige, skaars en waardevolle metale en ander stowwe word verwyder dmv herwinning, terwyl giftige e-afval in spesiale gevaarlike afvalfasiliteite gestort word. Voorbeelde van sulke items sluit ou rekenaarskerms (CRT’s) en fluoorbuise in.

Vinnige feite

Tans koop die universiteit gemiddeld 500 nuwe rekenaars per jaar aan (sonder `n merkwaardige groei in die bateregister). Dit impliseer natuurlik dat die jaarlikse stroom e-afval van soortgelyke omvang is. Op enige gegewe tyd is daar 8000 rekenaars op kampus, met meer as 5000 in koshuise. `n Rekenaar word elke 4 tot 5 jaar vervang en dus kan die hoeveelheid e-afval nog meer wees.

Die IT-afdeling TAS (toegangsbeheer) raak elke jaar van tussen 300-400 lood suurbatterye ontslae.


Nou kan jy al jou ou rommel vir IT bring en ons sal daarvan ontslae raak VIR jou. Kliek hier vir meer inligting.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.