Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Nuus

Addisionele Outlook-funksie geaktiveer

Maandag, Maart 2nd, 2020

Informasietegnologie het onlangs ’n addisionele vlak van sekuriteit, Exchange Online Protection, geaktiveer. Sedert die implementasie het ons enkele navrae ontvang van gebruikers wat nie hulle e-posse ontvang nie of e-posse wat in die Junk mail-vouer beland.

Die agtergrond tot hierdie verandering is dat ons vorige spam filter nie baie aggressief gestel was nie en kon daarom met veiligheid die spam geklassifiseerde boodskappe weggooi. Gebruikers het vanweë die konserwatiewe filter egter steeds heelwat spam ontvang. Ons wil die spam drasties verminder, maar daar bestaan dus ʼn groter kans dat geldige boodskappe foutiewelik as spam geklassifiseer kan word. Daarom word die boodskappe nie uitgevee nie, maar in die Junk Mail folder geplaas waar die gebruiker self kan besluit of dit inderdaad spam is.

Report Message add-in is die afgelope naweek geaktiveer word sodat gebruikers boodskappe wat verkeerd geklassifiseer is kan herklassifiseer. Die herklassifisering van die boodskap sal eerstens op jou eie posbus aangebring word, maar tweedens ook deurgegee word aan die sentrale SPAM filter en as baie gebruikers ʼn spesifieke tipe boodskap soortgelyk klassifiseer, sal daardie klassifikasie vir alle gebruikers toegepas word, behalwe waar ʼn spesifieke gebruiker ʼn ander keuse vir homself aangeteken het.

Laasgenoemde opsie stuur die klassifikasie aan Microsoft. Terugvoer sal Microsoft help om die e-pos klassifikasie en dreigmentverlaging-protokols meer akkuraat te maak. Alhoewel dit na Microsoft gestuur word, moet IT steeds dadelik in kennis gestel word van suspisieuse e-posse. 

Meer inligting oor die Report Message add-in is beskikbaar op hierdie veilige, aflaaibare PDF.Vir verdere navrae kontak asb. die IT Dienstoonbank by 021 808 4367 of meld ʼn versoek aan op die ICT Partner Portal.

Die einde van Windows 7

Woensdag, Desember 4th, 2019

Na tien jaar het ondersteuning vir Windows 7  tot ’n einde gekom op 14 Januarie 2020.

Hoe gaan dit jou beïnvloed?

Na 14 Januarie sal jou rekenaar nie meer enige sekuriteitsopdaterings of tegniese ondersteuning van Microsoft ontvang nie. Weens die sekuriteitrisiko wat jou rekenaar op die universiteit se netwerk plaas, kan dit in die toekoms van die netwerk verwyder word. Dit beteken dat jou data nie meer effektief beskerm kan word nie en jy ook moontlik geen toegang tot die netwerk sal hê nie  (m.a.w. geen internet, e-pos, ens).

Indien jou rekenaar steeds gebruikmaak van die Windows 7 en Windows 8.1 bedryfstelsels, moet jy so gou moontlik opgradeer na Windows 10, ’n bedryfstelsel wat wel die nuutste sekuriteitsopdaterings kan verskaf om jou data veilig te hou. Lees meer oor Microsoftprogrammatuur se lewensiklus op hulle webwerf.

Opgraderings van Windows 7 & Windows 8.1 na Windows 10 sal gratis vir personeel gedoen word. Om die opgradering aan te vra, teken asb ’n versoek aan op die ICT Partner Portal (Windows 7 to Windows 10 upgrade) waarna jy `n e-pos sal ontvang. Verskaf asseblief die volgende inligting:

  • die rekenaar se batenommer
  • tipe toestel
  • kontaknommers
  • gebounaam
  • kamernommer

Jou rekenaar se spesifikasies sal nagegaan word vir `n moontlike opgradering aangesien ouer toerusting komponente mag benodig vir die opgradering en dit die departement se onkoste sal wees. Dis ook moontlik dat baie ou toerusting wat nie aan die minimum vereistes voldoen nie, dalk nie opgradeer kan word nie. 

’n IT-tegnikus sal jou kontak om verdere reëlings te tref indien nodig.

IT sal die volgende gratis doen:

  1. Lei ten opsigte van die rugsteun van werkverwante data na OneDrive
  2. Die bedryfstelsel opgradeer van Windows 7 & 8.1 na Windows 10
  3. Na die opgradering kan `n tegnikus help met die volgende indien nodig: Installasie van nie-standaard kampusverwante sagteware, bv. SPSS, Statistica, ens, sowel as die installasie van drukkers.

Jy of jou departement betaal vir:

  1. Rugsteun van alle data.
  2. Hardeware komponente benodig vir die opgradering na Windows 10

Indien IT versoek word om die data te rugsteun, sal dit teen onderstaande koste gedoen word:

Minder as 15GB – R1310-00
Meer as 15GB – R2240-00

Relevante artikels oor die uitfassering van Windows 7:

 

Inetkey: Die einde is in sig

Woensdag, Desember 4th, 2019

Op Maandag, 2 Desember 2019, het die US Raad die begroting vir 2020 goedgekeur. Dié begroting sluit ’n nuwe model in wat befondsing vir internet-kapasiteit vir die hele universiteit insluit. In die verlede was Inetkey die kontrolepunt wat moes rekord hou van die individuele gebruik van personeel en studente sodat die nodige fondse gehef kon word om die internetdiens vir die universiteitsgemeenskap te kan bekostig.

Sal Inetkey skielik heeltemal verdwyn? Nog nie.

Sedert begin Januarie het Inetkey nie meer inligting oor datagebruik vir rekeningdoeleindes ingesamel nie. Daar sal inderwaarheid geen kostes meer vir gebruik wees nie.

Inetkey vervul egter ander tegniese doeleindes buiten die befondsing van die internetdiens. Gebruikersidentifikasie is ’n basiese vereiste om tred te hou met hoeveel elkeen gebruik, maar die universiteit moet ook weens sekuriteit- en ouditvereistes basiese inligting oor internetverkeer versamel. Gevolglik sal Inetkey steeds nodig wees vir toegang tot die internet, maar sonder koste.

’n Paar historiese feite:

Die verhaling van internetkostes was ’n algemene praktyk by die meeste SA-instellings sedert die 90’s. Bandwydte was ’n skaars bron en universiteite moes dit versigtig bestuur om die ineenstorting van dienste en ander negatiewe impak te vermy.

Vanaf 2000 het internet bandwydte geleidelik meer bekostigbaar geraak, soos gesien kan word in die verandering in tariewe sedert 2001. Die Universiteit het drie tariewe per dag ingestel om afslag gedurende aftye in ag te neem – A, B en C. Mettertyd het tariewe gestabiliseer en soos die kostes verminder het, het die universiteit ook gereeld die kapasiteit vermeerder.

In 2001 het jy R1-50 per MB (megabytes) vir internetdata betaal. Oor die afgelope 18 jaar het dit afgeneem na vandag se 2c. Terselfdertyd het ons internetkapasiteit toegeneem. In 2008 was die algehele kapasiteit slegs 0.4 Gbps (gigabits per sekonde) — op die oomblik loop ons netwerk op 1.7 Gbps en die moontlikheid bestaan dat dit volgende jaar verhoog kan word.

Wanneer verdwyn Inetkey finaal? Die oorblywende tegniese funksionaliteit van Inetkey sal na ander meganismes migreer word, soos die nuwe vuurmuur wat in die eerste helfte van 2020 aangekoop sal word. Ons verwag die finale ondergang van Inetkey later in 2020.

 

Windows 10-opgraderings aan die gang

Donderdag, Augustus 8th, 2019

Informasietegnologie se ondersteuningspan het onlangs rekenaars wat ’n verouderde weergawe van Windows 10 loop en moontlik ’n sekuriteitsrisiko is, geidentifiseer. Om die situasie te herstel sal ons tegnici die verouderde rekenaars opgradeer na die nuutste, stabiele weergawe van Windows 10. Voordat ons voortgaan met die opgradering sal jy eers ’n e-pos ontvang om die situasie te verduidelik en ’n paar instruksies deur te gee.

Die opgraderings sal na-ure om 19h00 plaasvind om die impak wat dit moontlik op jou dagtake het te minimeer. Jy sal ook eers ’n e-pos kry om jou te laat weet wanneer jou opgradering plaasvind. Omdat die opgradering na-ure plaasvind, vra ons dat jy voordat jy in die middag huistoe gaan al jou dokumente stoor en toemaak, sowel as alle sagteware op jou rekenaar toemaak. Indien jy ’n skootrekenaar het, beveilig dit asb. deur dit met ’n slot aan jou lessenaar vas te maak. 

Die hele proses word gedoen sonder dat jou rekenaar hoef in te kom na IT. Geen data of sagteware sal ook verwyder word van jou rekenaar.

Indien jy enige navrae het, meld dit asb. aan by die IT Dienstoonbank.

Phishing vanaf ’n sun e-posrekening

Dinsdag, Julie 16th, 2019

Personeel en studente is steeds slagoffers van die RFQ strikroof-aanval. Wees asseblief bedag wanneer jy ENIGE e-pos vanaf ’n sun-rekening ontvang oor ’n kwotasieversoek.

​’n E-pos met die onderwerp “RFQ” is Woensdag aan sommige studente en personeel gestuur vanaf, wat lyk soos, ’n sun e-pos adres. Die e-pos versoek dat jy op ’n skakel kliek om ’n kwotasieversoek te sien.  

​Hierdie e-pos is nie ’n geldige e-pos van die persoon nie, maar ’n gekompromiteerde sun personeelrekening. Sedert Woendag is verskeie sun e-posadresse op hierdie wyse blootgestel. Dit het gebeur omdat meer van ons personeel geval het vir die phishing e-pos, op die skakel gekliek het en hulle persoonlike inligting verskaf het. 

Wees asb. versigtig wanneer jy ENIGE e-posse van sun e-posadresse ontvang wat ’n kwotasie versoek. Kontak eerder die persoon direk om seker te maak dis geldig. Indien jy nie die persoon ken nie, is dit waarskynlik nie veilig nie, selfs al is dit vanaf ’n sun-adres gestuur.

Moet nooit persoonlike inligting deur middel van e-pos verskaf nie. Indien jy op skakels kliek en jou inligting gee, gee jy toegang aan krininele tot jou persoonlike inligting en jou rekeninge. 

Indien jy gekliek het op die skakel in ’n phishing e-pos, verander onmiddellik jou wagwoord by www.sun.ac.za/password. Vir navrae, kontak die IT Dienstoonbank deur ’n  versoek aan te teken of bel 808 4367. Meer inligting oor kubersekuriteit is beskikbaar op ons blog en deurlopende nuus word geplaas op  Twitter.

 

 

© 2013-2025 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.