Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Navorsing

Tyd vir rugsteun

Vrydag, Februarie 27th, 2015

Die afgelope week het ons gesien hoe maklik en vinnig iets verlore kan gaan – of dit eiendom of belangrike inligting is. Daarom is dit nou, meer as ooit, krities om `n rugsteun plan te hê.

Om seker te maak jy slaap rustig saans, maak `n gewoonte daarvan om jou data op `n gereelde basis te rugsteun. Kies een dag in die week wanneer jou werksdag minder bedrywig is en skeduleer `n tyd in jou dagboek om jou weeklikse rugsteun te doen.

Probeer om nie jou vorige rugsteundokumente te oorskryf nie, maar maak eerder opvolgende kopieë in verskillende leêrs met die dag se datum op jou eksterne hardeskyf of netwerkspasie. Indien enige van die dokumente om een of ander rede korrup raak, kan jy altyd terugval op `n ouer weergawe. 

Vir amptelike, universiteit en werksverwante dokumente is die veiligste rugsteunopsie jou netwerkspasie (gewoonlik die h-skyf) of die departementele netwerkspasie (gewoonlik die g-skyf). Jy het 1GB tot jou beskikking om jou mees kritiese dokumente op te rugsteun. Teen `n ekstra koste van R10-00 per 1GB kan hierdie spasie ook vergroot word. Jou netwerkspasie is ook beskikbaar via die internet by storage.sun.ac.za as jy nie op kampus is nie. 

Die departementele netwerkspasie kan gebruik word vir leêrs waartoe meer as een persoon toegang moet hê en 15GB word toegeken per departement. SharePoint se Teamsites kan ook gebruik word vir die deel van dokumente deur `n groep persone. 

Indien jy verkies om jou data binne bereikafstand te hê, skaf `n eksterne hardeskyf aan of selfs DVD’s (alhoewel die hoeveelheid data beperk is op DVD’s) Maak net seker dat hierdie toestelle elders (NIE in jou kantoor nie) of in `n kluis gestoor word. Indien konfidensiële, sensitiewe dokumente op `n eksterne hardeskryf gestoor word, moet dit beskerm word met `n wagwoord, geënkripteer word of weggesluit word. Onthou net dat, as jy die wagwoord verloor, selfs IT nie jou data vir jou kan terugkry nie. 

Moet nooit belangrike data op `n flitsgeheuestokkie bêre nie – die funksie daarvan is vir die vervoer van data tussen toestelle en dis nie `n betroubare rugsteun metode nie. As jy dit wel gebruik, sorg dat jy `n addisionele rugsteuntoestel ook gebruik.

Gaan gereeld jou rugsteuntoestelle na en maak seker jou inligting is nog veilig en toeganklik. Om hierdie rede is dit altyd goeie beleid om meer as een metode te gebruik, byvoorbeeld `n eksterne hardeskyf, sowel as jou netwerkspasie. 

As `n laaste opsie kan die “cloud” gebruik word, maar SLEGS vir privaatinligting. Geen akademiese of sensitiewe informasie mag op die wolk gestoor word nie. Lees ons vorige “cloud”-berging artikels. 

MATLAB in HPC cluster op die kampus

Vrydag, Februarie 27th, 2015

Sedert die tweede semester van 2014 is MATLAB beskikbaar op kampus in die HPC cluster, genaamd Rhasatsha.

Die fakulteitsraad van Ingenieurswese het goedgunstiglik ingestem om die aankoop van ‘n MATLAB Distributed Compute Server (MDCS) lisensie vir 16 MATLAB werkers te borg (weergawe R2014a). Hierdie fasiliteit laat die gebruiker toe om rekentake, wat in MATLAB geskryf is, op verskeie maniere in die HPC cluster te loop.

Diegene wat met MATLAB bekend is, sal vind dat die fasiliteit heel gebruikervriendelik is. Indien jy MATLAB op jou PC of skootrekenaar het, benodig jy daarby ook die Parallel Compute Toolbox ten einde MDCS op Rhasatsha vanaf jou MATLAB sessie op jou PC of skootrekenaar te bereik. Interaktiewe, sowel as nie-interaktiewe take word ondersteun.

In besonder verskaf MDCS ondersteuning vir hoogsparallelle toepassings by wyse van tot 16 gelyklopende werker threads, wat verwerking bespoedig. Die MDCS opstelling is voorberei deur dr J P Barnard van Prosesingenieurswese en mnr Charl Moller van IT. 

Jy kan bykomend inligting hier vind: 

Rhasatsha, http://hpc1.sun.ac.za/

Jaarlikse registrasie om Rhasatsha te gebruik,  https://www0.sun.ac.za/hpc/index.php?title=HOWTO_register

Gebruikskoste van Rhasatsha, R1200 per jaar.

Koste om MDCS te gebruik word pro-rata bereken op die totale licensiehernuwingskoste. Kontak asseblief dr Barnard.

MDCS, http://www.mathworks.com/products/distriben/

Dr J P Barnard, jbarnard@sun.ac.za

Mr C Moller, cwmoller@sun.ac.za

eResearch Africa Werkswinkel

Woensdag, November 12th, 2014

azure-researchMicrosoft Research bied as deel van eResearch Africa 2014 dié jaar twee opleidingswerkswinkel gratis aan by die Universiteit van Kaapstad op 27 en 28 November. Dit maak deel uit van die Microsoft Azure vir Navorsingsprogram. (http://www.azure4research.com)

Die doel van eResearch Africa is om praktisyns en navorsers bymekaar te bring vir `n stimulerende week om idees en voorbeelde van nuwe informasiegesentreerde navorsingsmoontlikhede te deel. eResearch fokus op die wyse waarop informasie en kommunikasietegnologieë navorsers help om inligting in te samel, bestuur, deel, verwerk, analiseer, opspoor en hergebruik. Lees meer hier.

Daar is twee aparte een-dag werkswinkels. Jy kan vir enige van die twee, of albei, aansoek doen:

Donderdag 27 November. `n Microsoft Azure vir Navorsing tutoriaal wat webwerwe, virtuele masjiene, wolkberging, opskaleringsverwerking en visualisasie. Jy sal leer hoe wolkberekening jou navorsing kan versnel. Om te registreer, gaan na http://aka.ms/Azure4ResearchZA

Vrydag 28 November. Microsoft Azure Masjienleer vir Navorsing, waar jy sal leer om masjienleer voorspelde analises maklik in die wolk te skep, toets, evalueer en publiseer. Om te registreer, gaan na http://aka.ms/Azure4ResearchML-ZA

Werkswinkelbywoners sal gedurende die opleiding toegang tot Microsoft Azure hê en `n Microsoft Azure Pass ontvang vir evaluasiedoeleindes. (geen kredietkaart benodig) Jy sal ook leer oor die toekenning van beduidende 12-maandelange Microsoft Azure subsidies vir jou navorsing en aansluit by meer as 300 projekte wêreldwyd wat die wolk gebruik. http://www.windowsazurepass.com/research

Microsoft Azure is `n algemene, oop, en buigsame globale wolkplatform wat enige taal, hulpmiddel of raamwerk ondersteun – insluitende Linux, Java, Python en ander nie-Microsoft tegnologieë. Die program sal `n verskeidenheid praktiese sessies hê met programmeringsvoorbeelde uit, hoofsaaklik, Python en Java. Geen vorige Microsoft Azure ondervinding is nodig nie. Die enigste voorvereiste is basiese programeringsondervinding in enige taal.

Microsoft Azure Machine Learning is `n nuwe aanbieding van Microsoft wat dit maklik maak vir die akademiese gemeenskap om masjienleer-tegnologie vir hulle navorsing te kan gebruik. Azure Masjienleer kan bemeester word sonder omvangryke tegniese opleiding en dit fasiliteer samewerking met kollegas.

Die werkswinkelbywoner hoef nie die Windows-bedryfstelsel geinstalleer te hê nie. Toegang tot Microsoft Azure vind via die internetblaaier plaas. Na bywoning van die kursus, sal navorsers die vertroue hê om wolkberekening in hul huidige en toekomstige navorsing te kan toepas.

Vir enige vrae oor die kursus, kontak asseblief kenji.takeda@microsoft.com

Gebruik ’n tablet om slimmer te leer (deel 1)

Vrydag, Augustus 22nd, 2014

Sedert tablette in 2010 die hoofstroom betree het, het ’n toenemende aantal studente begin om op hierdie slim toestelletjie te vertrou om hulle leerervaring na die volgende vlak te neem.

Daar is egter baie studente wat nog onbewus of onoortuig is van die voordele van tabletgebaseerde leer. In die volgende afdeling sal ons ondersoek instel na presies hoekom ’n tablet ’n fantastiese belegging is.

Hoekom ’n tablet?

Daar is basies vier redes:

1. Die mees voor-die-hand-liggende voordeel van ’n tablet is die vlak van mobiliteit wat dit bied. As ’n student sal jy heel moontlik ten minste ’n notablok, jou voorgeskrewe boeke en jou klasnotas met jou ronddra. En in sommige gevalle is ’n sakrekenaar, ’n woordeboek en ’n dagboek/kalender ook onmisbaar. Die gewig van al hierdie items word vinnig ’n uitputtende las – wat die rede is hoekom baie studente eenvoudig hulle swaar boeke by die huis los.

Met ’n tablet kan jy egter al hierdie hulpbronne kompakteer tot die grootte van ’n A5 notablok. Dan is daar nie meer ’n kans dat jy boeke of notas by die huis sal vergeet nie – alles wat jy benodig is net ’n paar vingertikke weg. Dít is ’n wenner eienskap op sigself.

2. Die ware akademiese waarde van ’n tablet word egter duidelik in sy potensiaal as ’n metgesel in die klaskamer. Nie net hou ’n tablet alles wat jy benodig byderhand nie, maar dit laat jou ook toe om hierdie hulpbronne op bruikbare wyses te manipuleer. Byvoorbeeld, jy kan boekmerke, veelkleurige onderstreping en notas by jou voorgeskrewe boeke en klasnotas voeg terwyl die dosent hulle bespreek. Jy kan ook baie doeltreffend ryk notas van jou eie skep.

Jy sal tik en teken op die skerm kan kombineer om byvoorbeeld sleutelpunte in klaskamer besprekings of diagramme en tabelle wat deur die dosent geteken word, vas te lê. Jy sal al hierdie notas netjies kan organiseer in vaklêers vir toekomstige verwysing.

Die beste wenner-eienskap van ’n tablet in die klas is egter die feit dat dit jou toelaat om op te neem wat in die klas gesê word, wat beteken dat jy na die opnames kan luister terwyl jy vir ’n eksamen voorberei. Hoewel dit nie prakties is om elke sekonde van elke klas op te neem nie (want – en laat ons nou eerlik wees – jy sal nooit weer na alles luister nie), is hierdie eienskap baie nuttig om belangrike dele van ’n dosent se verduideliking of van ’n bespreking in die klas op te neem.

Laastens, ’n tablet verskaf ook vinnige toegang tot nuttige verwysingsmateriaal. Moet jy vinnig die definisie van ’n woord naslaan of ’n berekening doen? ’n Tablet laat jou toe om albei teen die spoed van weerlig te doen, wat beteken dat jy nie jou gedagtegang in die klas sal verloor nie.

3. Tablette is nie net in die klaskamer so wonderlik nie. Enige student wat al deur hope en hope notas op papier moes swoeg om spesifieke inhoud voor ’n eksamen te hersien, sal weet hoe frustrerend, vervelig en ’n gemors van tyd dit kan wees.

Maar as al jou notas – en die skyfievertonings en uitdeelstukke wat deur die dosent verskaf is – netjies in ’n enkele toestel bymekaar is, waar dit met ’n paar tikke van die vinger toeganklik is, sal dit die gesukkel van papiergebaseerde eksamenvoorbereiding uitskakel en jou meer tyd gee om werklik te studeer.

4. Een voordeel van tabletgebaseerde leer wat gereeld misgekyk word, is die feit dat e-boek weergawes van voorgeskrewe en handboeke gewoonlik goedkoper is as hulle gedrukte weergawes.

Hoewel baie boeke nog nie in digitale formaat beskikbaar is nie, kan die besparing op dié wat wel is, vinnig ’n noemenswaardige bedrag uitmaak.En die gebruik van ’n e-boek bied natuurlik al die voordele van digitale leer, insluitend tydbesparings soos dat jy onmiddellik woorde en frases kan naslaan, na spesifieke bladsye en hoofstukke kan spring, veelkleurige onderstreping kan byvoeg en digitale notas kan maak.

Volgende keer : die keuses wanneer jy ’n tablet koop

[ARTIKEL DEUR JOHANNES JONKER]

Nuttige, gratis web apps waarvan almal behoort te weet

Vrydag, Augustus 8th, 2014

As deel van die uitbreiding van die web het die afgelope dekade die opkoms van duisende – indien nie miljoene nie – web apps gesien: in baie gevalle eenvoudige gereedskap wat gebruikers toelaat om spesifieke take via ’n webblad te voltooi, vanaf enige rekenaar wat aan die internet gekoppel is. Dit is egter belangrik om te weet waar om te kyk. En dít is waar hierdie gids jou kan help. Hieronder sal jy ’n lys vind van ’n paar bewese webtoepassings (apps) wat – indien hulle reg gebruik word – jou lewe baie makliker kan maak. Probeer hulle. Gebruik hulle. Deel hulle.

AANTEKENINGE NEEM EN STUDIEHULPMIDDELS

Evernote: ’n Baie gewilde nota-bestuurstelsel, wat jou toelaat om notas van jou tablet, rekenaar, foon en elders in te trek. Die web app laat jou toe om ’n nota-biblioteek te skep, verander, bestuur en te deursoek. www.evernote.com

Mindmap: ’n Stuk gereedskap wat maklik is om te gebruik en jou toelaat om jou eie breinkaarte vinnig en doeltreffend te skep. Wonderlik om kursusnotas, artikels en boeke op te som. www.mindmup.com

Gliffy en LucidChart: Albei wonderlike apps om ’n konsep d.m.v. diagramme te illustreer. Albei sluit baie bruikbare vorms en gereedskap in. Albei het egter ’n paar beperkings op die gratis rekening. Tog is hulle goed as jy net nou en dan diagramme wil skep. www.gliffy.com en www.lucidchart.com

Google Drive Documents: Google se webgebaseerde woordverwerker. Dis perfek vir opsommings, opstelle en dies meer en jy en ander mense kan terselfdertyd in dieselfde dokument tik. Dít maak hierdie eienskap dus perfek vir beplanning in spanverband, agendas en om die notule in ’n vergadering te neem. Google Drive Documents is deel van – ja, jy’t reg geraai – Google Drive, dus is dit nie nodig om ’n nuwe rekening daar te skep nie. drive.google.com

Cram: ’n Liggewig flitskaart hulpmiddel wat jou toelaat om jou eie flitskaarte te skep (met een woord/frase voorop en een agterop) en hulle dan alfabeties of lukraak te hersien. Baie nuttig vir enige inhoud m.b.t. waarmee jy ’n spesifieke sleutelpunt vir ’n spesifieke konsep moet onthou, bv. wanneer jy ’n taal aanleer. www.cram.com

AANBIEDINGS

Prezi: Moeg van skyfievertonings met flitsende teks of te veel kollyste (bullet lists)? Berei jou volgende aanbieding voor met Prezi. Dis ’n wonderlike manier om te illustreer hoe jou idees met mekaar verband hou omdat al jou inhoud op ’n enkele skerm vertoon word, met die ‘gesigspunt’ wat eenvoudig van een area na ’n ander swaai en inzoem. www.prezi.com

Google Drive Presentations: Indien jy ’n meer tradisionele ‘skyfievertoning’ verkies, of as Prezi nie gepas is om jou boodskap te kommunikeer nie, kan jy Google se PowerPoint alternatief gratis gebruik. Hoewel dit nie so vol eienskappe soos PowerPoint is nie, is dit nog steeds ’n goeie manier om aanbiedings te doen as jy nie geld op die voorgenoemde kombinasie wil uitgee nie. drive.google.com

NAVORSING

Google Scholar: Bring die krag van ’n Google soektog na navorsing. Deur jou toe te laat om vinnig en maklik duisende akademiese databasisse te deursoek (insluitend dié wat deur EBSCOHost, JSTOR, ens.) gebruik word, verminder dit die tyd wat jy benodig om artikels vir jou projekte, opstelle en tesisse te soek. ’n Bonus is dat dit jou ook toelaat om belangrike metadata van die artikels in ’n aanhalingsbestuurder (sien Zotero hieronder) direk van die blad met die soekresultate in te voer. Wanneer jy van buite die Universiteit Stellenbosch toegang tot Google Scholar wil verkry, moet jy scholar.google.com.ez.sun.ac.za gebruik om toegang te kry tot die vaktydskrifte waarvoor die Universiteit inteken. Andersins: scholar.google.com

[Spesiale vermelding] Zotero: Hoewel Zotero nie streng gesproke ’n web app is nie (ten spyte daarvan dat dit ook in jou blaaier loop), is dit net té goed en té relevant om nie hier ingesluit te word nie. Meer oor Zotero in `n vorige artikel.

ORGANISERING EN KOMMUNIKASIE

Google Calendar: Die goue standaard van gratis kalender gereedskap. Dit help jou om op hoogte te bly van jou afsprake, geleenthede, sperdatums en algemene beplanning — maar bly tog baie maklik om te gebruik. Dit kan ook op al jou toestelle sinkroniseer sodat jy toegang tot jou kalender het op jou tablet, foon en rekenaar. calendar.google.com

Gmail: Hierdie e-posdiens met immer groeiende stoorruimte en ongelooflike soekfunksionaliteit. Gmail verskil van Microsoft Outlook, Yahoo Mail en ander dienste omdat dit ‘etikette’ in plaas van tradisionele lêers gebruik. Jy kan enige e-pos met een of meer etikette merk en gevolglik volgens daardie etiket soek. Omdat jy ook so ’n groot hoeveelheid ruimte het (15 GB vroeg in 2014), hoef jy nooit e-posse uit te vee en hulle vir ewig te verloor nie. Omdat jy gevolglik toegang het tot al die e-posse wat jy al ooit gestuur of ontvang het, sluit Gmail kragtige soekvermoë in (dink: Google vir jou e-pos) wat dit vir jou moontlik maak om met gemak deur tonne en tonne boodskappe te soek. www.gmail.com

Wunderlist: Taakbestuur vergemaklik – en pragtig. Bly op hoogte van jou daaglikse taaklys, prioriteite, inkopielys en meer. Jy kan ook taaklyste met jou vriende deel – ’n wonderlike stuk gereedskap vir groepprojekte. www.wunderlist.com

LÊERS DEEL

Google Drive:  Installeer Google Drive op jou rekenaar en plaas dan eenvoudig ’n lêer in die toegewese vouer om dit op te laai. Sodra dit opgelaai is, kan jy die lêer met vriende deel. ’n Wenner eienskap van Google Drive is die verskeidenheid webgebaseerde wysigers wat by verstek ingesluit word – twee waarvan ons reeds vroeër na verwys het – wat samewerking so maklik maak. Jy kan ook spesifieke vouers in jou Drive met jou vriende deel, wat goed werk as jy al die lêers vir ’n groepprojek op een plek wil stoor. drive.google.com

Dropbox: Eenvoudig en maklik om lêers te deel. Hoewel dit soortgelyk aan Google Drive funksioneer, sluit dit nie die aanlyn wysigers in wat in laasgenoemde ingebou is nie. Dropbox is egter steeds een van die eenvoudigste maniere om lêers tussen toestelle en mense te deel. Dit is veral nuttig wanneer jy ’n groot dokument per e-pos moet stuur en nie die ontvanger se posbus wil oorlaai nie: laai die lêer eenvoudig op na jou Dropbox en deel dan die skakel in ’n e-pos. www.dropbox.com

[ARTIKEL DEUR JOHANNES JONKER]

 

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.