Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Sekuriteit

Is daar “malware” op my rekenaar?

Vrydag, September 26th, 2014

As jou rekenaar skielik snaaks begin optree, is dit moontlik dat dit simptome van `n loerprogram of ander ongewensde sagteware kan wees.

Wikpedia definieer “malware” as volg:

“Malware”, die verkorting van “malicious software”, is enige sagteware wat gebruik word om die werking van `n rekenaar te belemmer, sensitiewe informasie probeer insamel of om toegang tot privaatrekenaars te kry. Dit kan die vorm aanneem van uitvoerbare kode, skripte, aktiewe inhoud of ander sagteware, aanneem. “Malware” is `n algemene term om te verwys na `n verskeie vorme van sleggesinde of indringende sagteware.  [www.wikipedia.org]

Hier is `n paar simptome waarvoor jy kan uitkyk:

  • Ek sien gereeld opwip-advertensies.
    Sommige ongewensde sagteware sal jou toegooi met opwip-advertensies wat niks te doen het met die spesifieke webwerf wat jy besoek nie. Hierdie advertensies is dikwels vir volwasse of twyfelagtige webwerwe.
    Indien jy dadelik opwip-advertensies sien as jy jou rekenaar aansit of wanneer jy nie op die internet is nie, het jy waarskynlik `n loerprogram of ander ongewensde sagteware op jou rekenaar.
  • My verstellings het verander en ek kan dit nie terugverander nie.
    Sommige ongewensde sagteware kan jou blaaier tuisblad of jou soekblad se verstellings verander. Selfs al verander jy dit terug, sal dit elke keer as jy jou rekenaar aansit, weer teruggaan na die verkeerde verstellings.
  • My webblaaier bevat ekstra komponente wat ek nie afgelaai het nie.
    Loerprogramme en ander ongewensde sagteware kan nutsbalke wat jy nie nodig het of wil hê nie, installeer in jou webblaaier. Selfs al verwyder jy dit, sal dit weer verskyn as jy jou rekenaar af- en weer aansit.
  • My rekenaar is traag.
    Loerware is nie ontwerp om effektief te wees nie. Die hulpmiddele wat hulle gebruik om jou aktiwiteite te volg en advertensies op jou rekenaar te laat loop, kan jou rekenar stadig maak en foute in hul sagteware kan veroorsaak dat jou rekenaar uitbom. As jy `n skielike toename in die hoeveelheid kere wat `n sekere program vries of ophou werk, of as jou rekenaar stadiger is as gewoonlik, is dit moontlik dat jy loerware of ander ongewensde sagteware op jou rekenaar het.

As jy vermoed dat jou rekenaar besmet is met “malware”, kontak die IT diensttoonbank by x4367 of meld `n fout aan op die HEAT FOUTRAPPORTERINGSTELSEL

[BRON: http://www.microsoft.com/security/pc-security/malware-symptoms.aspx]

Is jou McAfee op datum?

Vrydag, September 5th, 2014

Alle Windows tafel- en skootrekenaars wat bates van die Universiteit is, word outomaties gelaai met McAfee vir sekuriteitsdoeleindes. Die besigheidsweergawe van dié virussagteware dateer outomaties daagliks op om te verseker dat rekenaars die maksimum beskerming teen moontlike aanvalle het.

Volgens Gartner is McAfee enterprise een van die beste anti-virus oplossings op die mark.

Dis belangrik om nie enige ander anti-virus sagteware soos AVG, Norton, ens. te installeer op jou rekenaar as jy reeds McAfee het nie. Meer as een anti-virus kan die werking van jou rekenaar belemmer en onnodige krag van die verwerker gebruik. Die verskeie programme kompeteer ook teen mekaar en stel sodoende jou rekenaar bloot.

As jy wil vasstel of jou McAfee anti-virus op datum is, kan jy die volgende stappe volg:

Onder in die regterkantste hoek van jou skerm sal jy onderstaande ikoon sien –

1

Wanneer jy daarop kliek sal `n volgende skerm opspring met verskeie verskillende ikone.

2

3

Die rooi skild met die M is die McAfee EPO-agent ikoon. Regskliek daarop en kies “About”

4

Die “DAT Created on” datum behoort nie meer as `n week gelede se datum te wys nie.

Wat is QR-kodes?

Vrydag, Augustus 22nd, 2014

qr-code

Twee weke gelede het ons julle vertel van SnapScan, `n slimfoon-applikasie wat deesdae algemeen gebruik word vir betalings. SnapScan gebruik QR-kodes om winkeleienaars se bankinligting op `n veilige wyse te stoor. Maar hoe werk hierdie onverstaanbare blokkies?

`n QR-kode of “Quick Response Code” is `n tipe matriks of twee-dimensionele strepieskode. So eintlik is dit maar net `n snaakse strepieskode. Die enigste verskil is dat `n QR-kode meer inligting kan hou as die gewone strepieskode. Dis ook tans een van die mees-gebruikte twee-dimensionele strepieskodes.

Dit was egter nie altyd die geval nie. Voor SnapScan en ander betaal-toepassing begin het om die QR-kode te populariseer, is dit dikwels gebruik vir bemarking in tydskrifte, op busse, besigheidkaartjies, ens. Dit het enige addisionele inligting bevat waarin gebruikers sou belangstel, byvoorbeeld ook `n skakel na `n webwerf, waarop al die ekstra inligting gelaai was.

Die poging om gebruikers van die drukmedia na digitaal te lok, was nie heeltemal suksesvol nie. Mense het verveeld en geirriteerd geraak met die nuttelose blokkies en  minder en minder begin gebruik. Totdat betaaldienste onlangs hul populariteit verhoog het.

`n QR-kode bestaan uit `n versameling vierkantige kolletjies op `n vierkantige gids met `n wit agtergrond. Dit kan gelees word deur `n toestel met `n kamera met die regte leestoepassing geinstalleer – soos jou slimfoon. Die skandeer van die kodes met `n mobiele foon word na verwys as “mobile tagging”.

Nadat die beeld geskandeer is, word dit verwerk deur middel van die Reed-Solomon foutkorreksie metode om die beeld te interpreteer. Data word dan onttrek uit die patrone wat in die beeld opgetel word. Kodes kan gebruik word vir produkhandel, item-identifikasie, dokumentbestuur en algemene bemarking.

Denso Ware het in 1994 aanvanklik die QR-kode ontwerp om voertuie na te spoor gedurende die vervaardigingsproses and dis spesifiek gebruik in Japan se motor industrie. Vandag is dié blokkies te sien op treinkaartjies om China (al sedert 2011) en `n maatskappy in Seattle het begin om grafstene te vervaardig met QR-kodes (ja regtig, lees meer daaroor hier)

[BRONNE: www.memeburn.com & www.wikpedia.org]

Hou die wurms weg van jou Apple

Vrydag, Junie 27th, 2014

Met die toenemende “sukses” van die Flashback Trojan, is dit nie onwaarskynlik om aan te neem dat meer virusse, malware en ander nare kubergoggas hulle pad gaan vind na die Apple-platform nie. Dit beteken jy moet op hoogte bly en jou rekenaar veilig hou. 

Java (nie jou oggendkoffie nie)

Al 700,000+ Apple rekenaars wat besmet is met die Flashback Trojan het een ding in gemeen – Hulle gebruik almal verouderde weergawes van die Java webblaaier toepassing. Aangesien die opdatering van sagteware op Macs `n handaksie is, moet opdaterings vir middele soos Java deur Apple self geimplementeer word. Die maklikste manier om hierdie probleem te omseil, is bloot om Java binne die Safari webblaaier af te skakel. Hierdie opsie is beskikbaar onder Security in die Preferences spyskaart. Jy kan die diens ook heeltemal afskakel op jou rekenaar deur onder Applications > Utilities die Java-weergawes wat gelys is onder die General knoppie te deselekteer.

Hou jou Mac op datum

Gepraat van opdaterings, maak seker dat jou rekenaar die nuutste weergawes van OSX en Safari loop. Apple roem hulself op die opdatering van sy bedryfstelsel en dis ook goeie praktyk om jou rekenaar te beskerm deur gereeld sagteware opdaterings te loop. Maak dit `n gewoonte om eenkeer `n weer opdaterings te doen en maak seker dat die beskikbare opdaterings en regstellings geinstalleer is in stede van bloot afgelaai. Om te kyk vir opgraderings, kliek op die Apple-ikoon in die boonste linkerhoek en kies Software Update.

Gebruik `n sterk wagwoord

Skep `n wagwoord wat ten minste agt karakters lank is, beide letters en syfers bevat en gebruik ten minste een hoofletter of `n simbool om dit veiliger te maak. Onthou om verskillende wagwoorde te gebruik vir verskillende dienste. 

Skakel outomatiese aantekenfunksie af

`n Sterk wagwoord gaan van geen nut wees as jy dit nie gebruik nie. Selfs al is dit `n irritasie om al jou wagwoorde in te tik, elke keer as jy jou rekenaar aansit, aanteken, kletsprogramme oopmaak of by webwerwe aanteken, is dit werklik die veiligste opsie. Origens, as iemand toegang tot jou rekenaar kry terwyl jy weg is, sal hulle outomaties toegang hê tot al jou inligting. Dis net `n paar ekstra sleutelhale, maar dit sal verseker dat jou data veiliger is.

Gebruik `n wagwoordbestuurder 

Daar is wel `n manier om die voortdurende intik van wagwoorde te vermy. Keychain is `n wagwoordbestuurder wat gratis verskaf word met huidige weergawes van Mac OSX.

Wanneer jy `n wagwoordbestuurder gebruik, sal jy gevra word om `n unieke, sterk wagwoord te kies en dit in jou sleutelketting te stoor. Jy het dus een sterk wagwoord in plaas van vele maklike, kort wagwoorde. Dié stelsel is ook baie handig as jy jou wagwoorde wil afwissel, wat natuurlik baie belangrik is.

Bou jou firewall

Mac OS X het `n ingeboude vuurmuur (firewall) om te keer dat ongemagtigde gebruikers of programme toegang tot jou rekenaar probeer kry. Maak seker dat dit wel aktief is, anders is al jou ander sekuriteitsprosedures nutteloos. Hoewel daar `n kort leerkurwe is om die vuurmuur te leer om oor die weg te kom met nie-Apple programme, is dit `n klein lastigheid wat opmaak in terme van gerustheid.

Skakel Open safe files af 

Hierdie is `n bietjie van `n tameletjie van lank gelede toe sekere tipes lêers nie risiko vir die huisves van virusse of malware beskou is nie. Ongelukkig het kuberkrakers en tegnologie slimmer geword en “veilige” lêers is iets van die verlede. Enige tipe malware kan netjies weggesteek word in die mees onverwagse lêer. Selfs die voorheen onskadelike MP3, .jpg, PDF en .doc leêrs kan deesdae kode versteek wat jou Mac kan aanval.  Om hierdie lastige verstelling te verander, gaan na Safari Preferences > General, en deselekteer Open safe files. Onthou, moenie kliek op skakels in e-posse of op onverwagse e-pos aanhangsels kliek nie.

Moenie deel nie! 

Toepassings wat deel, insluitende Bluetooth en Airport wat ontwerp is om toegang tot jou rekenaar vanaf `n afstand te bewerkstellig, kan jou rekenaar blootstel aan gevare. Skakel dit af as jy dit nie gebruik nie. 

Laai slegs af van betroubare bronne 

Roof- en inbreeksagteware (cracks) en ander onwettige sagteware word gereeld gebruik om malware en virusse te versprei en jou rekenaar te besmet sodra jy die lêer oopmaak. Maak seker dat jy sagteware, toepassings, media en ander lêers direk van die bron en wettige webwerwe aflaai om jou risiko te verminder.

Dateer die “res” op 

Adobe Reader nog `n toepassing wat jy op datum moet hou. Dis `n gunsteling vir Windows-georienteerde kuberkriminele en Macs se beurt is nie ver weg nie. Dié sagteware is van die mees uitgebuite in die wêreld, maar elke nuwe weergawe verskaf verbeterde sekuriteitsmaatreëls.

Installeer goeie sekuriteitstelsels 

Jy het dalk al gehoor dat Macs eenvoudig net nie virusse kry nie, maar die onlangse Flashback Malware bewys die teendeel. Mac-gegeurde virus-skandeerders is skielik nie meer so oorbodig soos voorheen nie. Toepassings soos ClamXav, Virus Barrier en die Mac-vriendelike weergawes van Sophos en Kaspersky Anti-Virus is spesifiek ontwerp vir Mac OSX. Op die oomblik is hulle geneig om slegs PC-virusse of nou en dan `n spam phishing e-pos of opsporingskoekie te vang. Binnekort sal Mac-georienteerde malware egter met mening te voorskyn kom.

Soos ons reeds genoem het, kyk mooi wat jy aflaai en van waar! Mac anti-virus programme is maklik bekombaar, so jou rekenaar hoef nie `n slagoffer te wees nie. 

Gebruik jou gesonde verstand 

Die meeste wurms wat in jou Apple wil kom wegkruip, maak gebruik van onvoorbereide gebruikers en ou sagteware – `n gevaarlike kombinasie op `n goeie dag. Volg bogenoemde riglyne en jy sal jou kanse verbeter om nie `n vrot Apple te kry nie.

 

Identiteit- en toegangsbestuur 101

Woensdag, Junie 25th, 2014

Universiteit Stellenbosch is tans besig met die hernuwing van sy Identiteit- en toegangsbestuur (IAM) en die eerste hoeksteen van die identiteit-lewensiklus, “Provisioning”, is reeds in plek met die vestiging van SUNid. Lees meer oor SUNid hier.

Wat is Identiteit- en Toegangsbestuur (IAM)? 

IAM is `n stel besigheidsbeleide, prosesse en `n ondersteunende infrastruktuur om die skep, onderhoud en gebruik van digitale identiteite te bestuur. Met IAM kan die universiteit veilige toegang tot bronne verskaf; hierdie toegang effektief beheer, vinniger reageer op veranderende verhoudings en ook vertroulike inligting beskerm teen ongemagtigde gebruikers.

Vir individue wat toegang nodig het tot rekenaarstelsels of fisiese bronne, kontroleer IAM wie jy is en bestuur wat jy mag en nie mag sien nie, gebaseer op besigheidsreëls en jou rol binne die universiteit en affiliasie met departemente.

Hoe werk Identiteit- en Toegangsbestuur (IAM)?

Die fokus van IAM is op die behoeftes en funksies van persone wat by die universiteit werk of studeer, nie op `n enkele stelsel nie. Daarbenewens moet die proses en werkvloei`n einde-tot-einde identiteit-lewensiklus weerspieël.

Die identiteit-lewensiklus lyk as volg: 

how_IAM_works9727

 

 

[IMAGE COURTESY OF THE UNIVERSITY OF BRITISH COLUMBIA]

 

 

© 2013-2025 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.