In Leiden: Remona se ervaring

Voorvertrek:

My Europese avontuur waarvoor ek so lank gewag het, het op 24 Januarie 2015 begin. Dit is voorafgegaan deur weke se administrasie (visumafsprake, die koop van vliegkaartjies, die reël van verblyf ens).

Die reël van verblyf was die moeilikste, aangesien die universiteit (aan wie ek ‘n nie-terugbetaalbare deposito van 350 Euro moes betaal!) die allerduurste verblyfopsies aangebied het – twee uit die drie daarvan nie eers in Leiden nie, maar in Den Haag (‘n 15min rit na Leiden met die trein). Hierdie verblyfopsies was tussen 650 en 800 Euro, byna my hele maandelikse beurstoelaag, en ek het daarom besluit om self ‘n blyplek te soek. Dit is egter makliker gesê as gedaan. Ek was eerstens amper uitgevang deur ‘n scam, wat my finansieel sou ruïneer – ek het gelukkig gou genoeg besef dat die “deal” te goed klink om waar te wees (en dit was!) Die volgende probleem was dat meeste verhuurders van kamers in studentehuise potensiële huurders wil ontmoet, wat natuurlik onmoontlik is as jy nog in Suid-Afrika sit. Ek was gelukkig genoeg om op die ouend ‘n tuinwoonstel op te spoor teen ‘n redelike prys, sonder enige ontmoeting.

Die visum-aansoekprosedure het redelik pynloos geskied, aangesien dit via Leiden Universiteit gedoen is. Dit is egter steeds heelwat administrasie, aangesien heelwat papierwerk en dokumente by die aansoekproses betrokke is. Ek het ook nie ‘n “unabridged birth certificate” gehad nie, en moes kort voor my vertrek daarvoor gaan aansoek doen by Binnelandse sake. Dié dokumentasie het eers ná my vertrek garriveer. Dit was egter nie ‘n krisis nie – ek moes dit nooit erens wys nie.

Januarie is hoogwinter in Europa. Ek het besluit om meeste van my warm klere daar aan te skaf. Die uitverkope op wintersklere daardie tyd van die jaar is nogals groot, en ons klere in Suid-Afrika is in elk geval nie warm genoeg vir die Europese winters nie. As gevolg van die feit dat ek relatief min klere saam geneem het, was dit nie vir my nodig om ‘n ekstra tas te bespreek vir my vlug Amsterdam toe nie.

 Ervaring by Leiden Universiteit:

Die oriëntasieweek was ‘n wonderlike geleentheid om nuwe mense te ontmoet (internasionaal en plaaslik) en die universiteit het regtig uit hul pad uit gegaan om studente op ‘n sosiale vlak bloot te stel. Tog is dit jammer dat administratiewe goed, soos die verkryging van ‘n studentekaart, minder aandag geniet het. Dit het dinge moeilik gemaak in die eerste week van klasse, aangesien mens nie toegang tot die biblioteek, kopieermasjiene en drukkers het sonder dié kaart nie. Daar was in die eerste paar weke nog heelwat ander administrasie om af te handel, soos om ‘n bankrekening oop te maak, te registreer by die stadsaal ens. Toe dit afgehandel was kon die avontuur uiteindelik regtig begin!

Flowers at your feet
                                              Flowers at your feet

Tydens my studie by Leiden Universiteit het ek vier modules gevolg. Ek het Vertaalwetenschap gedoen, onder leiding van professor Wim van Anrooij. In dié module was die fokus veral op teoretiese benaderings by die vertaling van Nederlandse na Engelse (en vice versa) tekste. Ek kon baie hierby baat, aangesien die fokus by Stellenbosch meer prakties van aard is. Ek het ook ’n Engelse module, Karibbiese letterkunde, onder leiding van prof. Kitty Zijlmans en prof. Yra van Dijk gevolg. Hierdie kursus was vir my interessant, aangesien ek nog altyd aanklank gevind het by die musiek en poësie van dié lande. Die kursus bied ook ’n interessante blik op die eilande se koloniale geskiedenis met Nederland. Ek het ook twee kursusse gevolg vir internasionale studente, wat onderskeidelik ’n oorsigtelike blik van Nederlandse letterkunde gegee het, en ’n blik op die Nederlandse samelewing en kultuur.

Laasgenoemde vak het my veral gehelp om insig te kry in die Nederlandse manier van dink en optree. Ek het na Leiden verhuis met die idee dat die Afrikaanse en Nederlandse kulture bykans dieselfde is, as gevolg van die klein taalgaping. Tog was dit glad nie die geval nie. Ek het gevind dat Nederlanders (in teenstelling met Suid-Afrikaners), dikwels “koud” voorkom. Dit was vir my, wat ’n ekstrovert is, aanvanklik moeilik om aan te pas in die Nederlandse samelewing. Die module het my help verstaan dat dit nie ’n aanval op my as persoon is nie, maar ’n kulturele verskil.

Die module oor die Nederlandse letterkunde was ook vir my baie interessant, hoewel ek nie dink dat ’n volledige oorsig van die Nederlandse letterkunde moontlik is in ’n enkele semester se klasse nie. Om hierdie rede was daar, volgens my, belangrike Nederlandse skrywers heeltemal uit die kursusraamwerk gelaat.

Vir my was die grootste pluspunt om in Nederland te woon, die feit dat ’n mens nooit onveilig of bang hoef te voel nie. Anders as in Suid-Afrika, is daar amper geensins sprake van geweld nie, en selfs diefstal is iets waarvan mens selde indien ooit hoor. Ek het byvoorbeeld my foon verloor op een van die besigste dae van die jaar, naamlik by die Gay Parade Fees. ’n Nederlandse meisie het my foon opgetel en die volgende dag aan my terug besorg. Dit is iets wat nie sommer in Suid-Afrika sal gebeur nie. Die publieke vervoersisteem en die effektiwiteit daarvan is ook iets wat in skrille kontras staan met Suid-Afrika, en ek het dit veral geniet om met die treine te reis. Ek dink die element wat vir my die moeilikste was om by aan te pas, was die winterweer. Ek is nie ’n somermens in die Suid-Afrikaanse sin van die woord nie, maar die Europese winter was vir my verskriklik moeilik om aan gewoond te raak.

Terugkeer:

Na sewe maande in Europa, was dit vir my verskriklik lekker om terug te wees in die Kaap. Ek het heelwat getoer terwyl ek in Nederland gewoon het – ek was in Portugal, Spanje, Berlyn, Praag en Frankryk, maar daar is waarlik geen stad so mooi soos die Kaap nie. Tog is die traveling een van die goed wat ek die meeste mis. Dit is so maklik om daar tussen verskillende lande te toer teen bekostigbare pryse.

Dit was ook vir my moeilik om weer aan te pas by die Suid-Afrikaanse leefstyl: Weg is die dae van fietsry op ‘n mens se eie tot na middernag. Nou moet ek weer versigtig wees wanneer ek selfs net na my motor toe loop in die aand na skemer. My foon is in die eerste week na my terugkoms uit my handsak gesteel – iets wat selde indien ooit in Nederland gebeur. In Nederland word die gebruikilike halfuur nuusberigte op televisie meeste van die aande kort geknip omdat daar niks is om oor te berig nie. In Suid-Afrika loop die koerante, nuusberigte, radiostasies ens. Egter oor van inligiting oor gewelddadige proteste, moored, verkragting ens. End it alles terwyl Nederlandse tronke besig is om toe te maak, as gevolg van die lae misdaadsyfer.

Dit was verder frustrerend om terug te kom na ‘n land waar iets van selfsprekends soos elektrisiteit nie aldag werk nie, as gevolg van beurtkrag. Almal om my is egter reeds hieraan gewoond, en het selfs apps op hulle selfone om te waarsku wanneer die volgende beurtkragsessie gaan plaasvind. Dit was vir my uiters vreemd en moeilik om aan gewoond te raak. Verder moes ek weer gewoond daaraan raak om nie van die publieke vervoersisteem gebruik te kan maak nie – iets waarop ek nogals aangewese geraak het in Europa.

My tyd in Europa het my oë oopgemaak vir ander wêrelde, mense en hul verskillende kulture. Wanneer ‘n mens vir so lank in die buiteland woon, besef ‘n mens hoe groot die wêreld daar buite eintlik is, en hoe baie daar is om te leer. In dieselfde asem besef mens ook op nuut hoe spesiaal Suid-Afrika, en veral die Kaap met sy pragtige strande en mense werklik is. Om in Nederland te bly was vir my ‘n lewensveranderende ervaring. Ek sal graag in die toekoms wil teruggaan, volgende keer vir ‘n langer periode.