Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Ontmoet die techies: Mandy Wanza

mandyDinamiet kom in klein pakkies – dit mag  nou wel `n cliche wees, maar dis waar as Mandy ter sprake is. As jy `n geklik-klak van hakke in IT se gang hoor, kan jy maar weet dié klein pakkie is op `n missie om iets gedoen te kry.

Mandy het aanvanklik in 2006 net tydelik by IT aangesluit as Dienstoonbankagent, maar teen 2008 is sy permanent aangestel. Na die agte jaar is sy die enigste vrou wat oorgebly het tussen die sewe ander hulptoonbank-manne, maar hierdie Sneeuwitjie laat haar nie onderkry nie.

Die pad tot hier het `n paar interessante wendings gemaak voordat Mandy haar nis by IT gevind het. Dit het in 1999 begin met `n aansoek by UWK vir `n BA-graad, met die doel om joernalistiek te studeer. Sy het egter gou agtergekom dat haar verwagtinge, gebaseer op haar betrokkenheid by `n  skoolkoerant en realiteit verwyderd van mekaar was. Kort voor lank het Joernalistiek verander na Sielkunde, maar weens persoonlike redes moes sy ook dit, haar eintlike roeping, opgee.

Sy en Adrian vier dié jaar hul tiende huweliksherdenking en het `n dogter wat in graad 4 by De Kuilen Laerskool is. Familie is vir haar belangrik en sy glo daarin om so veel moontlik kwaliteit-tyd saam met hulle te spandeer.

“Ek noem myself `n alspeler, `n “Jack of all trades”.”

“Ek was in die kleinhandel-industrie vir `n tydjie …. ek skat dis waar ek my sterkpunt ontdek het – om goeie kliëntediens te bied en aandag te gee aan detail.”

Sy het selfs al as `n tandartsassistent gewerk – `n “heel interessante” ervaring!

“Maar ek het meer werkstevredenheid gesoek en ingeskryf vir `n paar basiese rekenaarklasse en ek raai dis waar my reis eintlik begin het …”

Op die oomblik is Mandy `n dienstoonbank-agent en haar hooffunksies is om oproepe te beantwoord, insidente aan te teken en eerste vlak gebruikersondersteuning te gee. Maar dit sluit `n bietjie meer as dit in. Sy behartig ook netwerkregistrasies en sagteware navrae en daarmee saam is sy verantwoordelik vir die Microsoft IT-kursusse. Sy behartig die registrasies, besprekings, administrasie en kursusnavrae. Dis haar rol by IT in `n neutedop.

“Die lekkerste deel van my werk is die bevrediging wat jy kry as jy iemand se probleem kan oplos. Op die ou end is dit tog die hoofdoel van ons werk!”

Die minder lekker deel is wanneer belangrike stelsels skielik net ophou werk en gebruikers antwoorde soek.

Ten spyte van die stresvolle tye, is daar darem ligter oomblikke. Soos wanneer jy vir die eerste keer `n afstandsessie (VNC) doen met `n nuwe gebruiker. “Hulle skrik SO groot as die muismerker skielik vanself op die rekenaar beweeg. Daardie reaksie is kostelik.”

“Om by IT te werk, het my so baie geleer – dis die plek waar ek geleer het om my opinie te lug en in die diep kant te leer swem! Elke dag daag jou uit, terwyl dit aanhou om `n leerkuwe te skep.”

IT DIENSTOONBANK KONTAK DETAILS

Tel:: +27 21 808 4367
E-pos: helpinfo@sun.ac.za (navrae)
help@sun.ac.za (foutaanmelding)
Skype: handle = ITStellenUni
Twitter: handle = ITStellenUni
Web: www.sun.ac.za/itselfhelp
Blog: www.sun.ac.za/infoteg

Tags:

Comments are closed.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.