Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Academic IT

Gartner IT-navorsing en adviesdiens – gratis vir alle personeel en studente 

Maandag, Maart 25th, 2019

Universiteit Stellenbosch is reeds vir meer as twee dekades, via die IT-afdeling, ingeskryf vir Gartner se IT-navorsing en adviesdiens . Sedert 2004 is Gartner se navorsingsinligting ook beskikbaar vir alle personeel en studente deur aan te teken met jou US-details (e-pos en wagwoord) by www.sun.ac.za/gartner

Hierdie diens is van onskatbare waarde vir die IT-afdeling en ander institusionele IKT-vennote. Core IT Research Reference for Higher Education is ʼn diens wat Gartner aan die US bied om aan die behoeftes van studente, fakulteite, personeel en tegnologie vakkundiges te voldoen. Dit verskaf ongeëwenaarde toegang tot werklike, praktiese navorsing en advies oor IT-tendense, markte, verskaffers, stelsels en tegnologieë, beste praktyke, leierskap, tenderprosesse, die kartering van tegnologie t.o.v. universiteitsmodelle, ens. Hierdie navorsing word uitgevoer deur meer as 15000 van Gartner se wêreldwye personeel wat onvergelykbare toegang het tot IT-verskaffers, leiers en besigheidskliënte. Gartner beskik ook oor ʼn span kundige analiste met akademiese en professionele ondervinding binne Hoër Onderwys en wat fokus op die toepassing van IKT op, en die digitalisering, van Hoër Onderwys.

Oor die jare het dosente en studente van die Bestuurskool en Departement Inligtingswetenskap hierdie diens in ‘n meerdere of mindere mate gebruik, maar ons wil graag meer akademici uitnooi om, met die fokus op die digitalisering van die universiteit en sy groeiende afhanklikheid van inligtingstelsels- en programmatuuroplossings, die diens te gebruik. 

Gartner is nie net vir techies nie, dit bedien leiers en professionele beroepsmense oor alle velde heen. Dis ʼn wonderlike manier om meer “IT-geletterd” te word en help om ʼn gemene taal tussen leke en professionele IT-persone te vestig met behulp van ʼn streng woordelys en klassifikasie.

Voel dus vry om enige tyd toegang tot die diens te kry (geen kostes is betrokke nie) deur: 

OF 

[ARTIKEL DEUR RALPH PINA]

(English) TechSmith Relay for lecture recordings

Donderdag, Februarie 28th, 2019

Jammer, hierdie bladsy is nie in Afrikaans beskikbaar nie.

Elke dag is Databeskermingsdag

Dinsdag, Februarie 5th, 2019

Databeskermingsdag is in Suid-Afrika nog in sy kinderskoene. Dié inisiatief is reeds sedert 2007 aktief in Europa en twee jaar later het Amerika ook begin deelneem. 

“Data wat?” hoor ons jou vra. Volgens Wikipedia is Dataprivaatheidsdag (in Europa ook bekend as Databeskermingsdag) ʼn internasionale dag wat elke jaar op 28 Januarie herdenk word. Dit word tans erken in Amerika, Kanada, Israel en 47 Europese lande.

Ten spyte van Databeskermingsdag se bestaan vir reeds meer as tien jaar, het bewustheid oor die beskerming van data oor die afgelope jaar of twee skerp toegeneem. Die rede is tweeledig. Eerstens was daar die afgelope tyd ʼn stuwing in databreuke wêreldwyd, of dit nou Facebook is of meer onlangs Google wat met £44 miljoen in Frankryk beboet is vir GDPR oortredings.

Wat ons bring by punt twee – die implementasie van GDPR verlede jaar. Voorheen was maatskappye nie wetlik verplig om hulle kliënte se data te beskerm nie. GDPR en POPI-wetgewing het dit verander. Maatskappye word tans verantwoordelik gehou vir data en kan swaar beboet word as hulle kliënte se inligting blootstel.

Maar hoekom is data so belangrik? Volgens Mark Barrenechea, Hoof Uitvoerende Beampte by OpenText, bou ons elke dag stukkie vir stukkie ʼn digitale kopie van onsself sonder dat ons dit eers weet. Hierdie digitale voetspoor maak dit makliker om inligting oor jou te kry, of dit persoonlike inligting soos gebruikersname en wagwoorde is, jou fisiese bewegings of jou belangstellings en gunsteling restaurant. Algoritmes spoor jou aksies na en voorsien jou optrede voordat jy dit self weet. Elke stukkie inligting maak deel uit van jou groter prentjie en kan tot jou nadeel gebruik word.

Die deel van data word ook toenemend makliker, wat dit krities maak dat jy self verantwoordelikheid neem vir die beskerming daarvan. Ons kan nie meer staatmaak op maatskappye of sosiale netwerke om ons digitale identiteit veilig te hou nie. Dit het duidelik geword uit verskeie databreuke oor die afgelope jaar – insluitende groot maatskappye soos Facebook en Google.

Databeskermingsdag is net een dag in die jaar waar dataeienaars (dis elkeen van ons wat digitale platforms gebruik) bewus gemaak kan word van die belangrikheid van data. Ons moet egter elke dag bewus wees van die risiko’s. Hoe kan jy jou data beskerm? Jy weet reeds, jy moet dit net begin doen of beter doen. www.digitalguardian het ʼn deeglike gids oor databeskerming, maar hier is 10 wenke om mee te begin:

  1. Gebruik netwerke met enkripsie wanneer jy toegang nodig het tot belangrike inligting. Oop en gratis Wi-Fi is handig, maar dit kom met risiko’s. Indien jy webwerwe besoek wat nie https gebruik nie, onthou dat jou data deur enigiemand anders gesien en misbruik kan word.
  2. Kies sterk wagwoorde. Weet nie hoe nie? Hier is ʼn paar wenke. Daar is ʼn neiging na twee-faktor bekragtiging en meer sekuriteitsdeskundiges beveel sagteware aan wat jou wagwoorde bestuur.
  3. Beskerm jou wagwoorde. Moet dit nie neerskryf nie. Moet dit nie deel nie. Moet ook nie dieselfde wagwoord gebruik vir al jou sosiale netwerke of ander webwerwe nie.
  4. Dateer jou sagteware op wanneer dit jou aanhits. Moet dit nie ignoreer omdat jy haastig is nie – dit kan ʼn belangrike sekuriteitsopdatering insluit.
  5. Dateer gereeld jou anti-virus sagteware op. Nuwe weergawes van virusse, malware, ens. word op ʼn daaglikse basis vrygestel. As jy dit nie opdateer nie, word jy ʼn maklike teiken. Oorweeg ook anti-virus sagteware vir jou mobiele toestelle – hulle is selfs meer kwesbaar as jou rekenaars.
  6. Gaan die privaatheidverstellings op jou slimfoon na. Oorweeg versigtig vir watter toepassings jy toegang wil gee tot sekere funksies op jou foon.
  7. Sluit jou slimfoon en tablet wanneer jy dit nie gebruik nie. Mobiele toestelle word meer gereeld gebruik vir toegang tot sosiale media, bankdienste en minder veilige toepassings wat maklik misbruik kan word as iemand toegang kry.
  8. Aktiveer die “remote location” en die toestel-skoonvee funksies. Indien jou mobiele toestel gesteel word, kan iemand ten minste nie toegang tot jou inligting ook kry nie.
  9. Verwyder al jou data van ou toestelle, byvoorbeeld ou slimfone wat verkoop, weggegooi of vir iemand anders gegee word.
  10. Laastens, maak seker jy rugsteun jou data op ʼn gereelde basis. Ten minste sal jy steeds toegang hê, al verloor jy jou toestel.

 Data is mag en as jy die mag in jou hande wil hou, moet jy dit beskerm.

[BRONNE: https://www.forbes.comhttps://www.techradar.com]

 

© 2013-2019 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.