Voorvertrek:
My Europese avontuur waarvoor ek so lank gewag het, het op 24 Januarie 2015 begin. Dit is voorafgegaan deur weke se administrasie (visumafsprake, die koop van vliegkaartjies, die reël van verblyf ens).
Die reël van verblyf was die moeilikste, aangesien die universiteit (aan wie ek ‘n nie-terugbetaalbare deposito van 350 Euro moes betaal!) die allerduurste verblyfopsies aangebied het – twee uit die drie daarvan nie eers in Leiden nie, maar in Den Haag (‘n 15min rit na Leiden met die trein). Hierdie verblyfopsies was tussen 650 en 800 Euro, byna my hele maandelikse beurstoelaag, en ek het daarom besluit om self ‘n blyplek te soek. Dit is egter makliker gesê as gedaan. Ek was eerstens amper uitgevang deur ‘n scam, wat my finansieel sou ruïneer – ek het gelukkig gou genoeg besef dat die “deal” te goed klink om waar te wees (en dit was!) Die volgende probleem was dat meeste verhuurders van kamers in studentehuise potensiële huurders wil ontmoet, wat natuurlik onmoontlik is as jy nog in Suid-Afrika sit. Ek was gelukkig genoeg om op die ouend ‘n tuinwoonstel op te spoor teen ‘n redelike prys, sonder enige ontmoeting.



