Geskiedenis en Waardes
Helshoogte is dalk nie die oudste koshuis op kampus nie, maar wees verseker dat dit oor die jare heen ‘n blywende geskiedenis en baie gekoesterde tradisies opgebou het. Ons koshuis word om hierdie redes op kampus gerespekteer. Hier is ‘n kort opsomming van die verskillende tradisies en stukkies uit die geskiedenis van Helshoogte:
Helshoogte is op 11 Mei 1973 geopen en amptelik die volgende dag ingehuldig. Tydens die konstruksiefase is die koshuis aanvanklik op 12 Mei 1972 “Ellehoogte” gedoop, maar die naam is later daardie jaar na “Helshoogte” verander.
Helshoogte se huiswapen simboliseer die drie aspekte van ‘n goed afgeronde opvoeding in Stellenbos: akademiese lewe, wat die primêre rede vir ons teenwoordigheid aan die universiteit is; sosiale lewe, waar menslike verhoudings ‘n belangrike rol speel; en atletiese betrokkenheid, waar fisieke ontwikkeling bydra tot die handhawing van ‘n gesonde geestelike balans. Die drie pyle op die wapen vertrek vanaf ‘n gemeenskaplike basis en vind eenheid in ‘n warboel van beweging. Die horisontale deel dui op stabiliteit en standvastigheid – die strewe na al drie gelyktydig is simbolies van ons opwaartse nastrewing van ideale.
Alhoewel Helshoogte se amptelike simbool die drie pilare is, het die koshuis ook ‘n bekende kenteken: die Hoender. Helshoogte-inwoners staan trots op kampus bekend as “Hoenders”. Die koshuis word liefdevol die “Hoenderhok” genoem, ‘n feit wat ons met trots omhels. Hierdie identiteit is in 1982 bevestig toe ‘n hoenderhaan op die koshuis se dak monteer was. Die haan is in 1983 gesteel en later herstel, en is toe in 1998 vervang met ’n nuwe haan. Sedert 1995 kraai dié haan elke oggend om 07:30 en herinner die kampus aan ons teenwoordigheid. Ons het ook in 1981 ons beroemde “Hoenderdag” begin – ’n dag wat een van die grootste sosiale geleenthede op kampus geword het.
Helshoogte volg die BRUT-waardestelsel:
- Broederskap: Meer as 300 broers, 10 vloere, 1 huis. Saam staan ons, deur dik en dun.
- Respek: Respek vir ons waardes en dié van die Universiteit Stellenbos. In Helshoogte toon ons respek vir dames, vir mekaar en vir diegene in ons onmiddelike en eksterne omgewing.
- Uitnemendheid: Ons streef na uitnemendheid.
- Trots: Ons is trots daarop dat elke broer in Helshoogte maniere kan vind om hul talent tot die sukses van ons koshuis en gemeenskap by te dra.
