Augsburg leerders bekyk Sederberg blomplante en bestuiwers van nader

  • Post author:
  • Post category:News
  • Reading time:4 mins read

In September elke jaar trek die Sederberge sy blommejas aan  ̶  en dit is presies wat ‘n groep leerders onlangs tydens ‘n buitelugkamp in die Sederberg Wildernisgebied beleef het.

Die kamp, wat deur Iimbovane en Cape Leopard Trust (CLT) aangebied is, het van 8 to 10 September 2023 plaasgevind en is deur 30 leerders en 2 onderwysers van Augsburg Landbougimnasium in Clanwilliam bygewoon.

Die doel van die kamp was om leerders praktiese blootstelling te gee aan dit wat hulle in die klaskamer doen. Die Lewenswetenskap-kurrikulum behandel biodiveristeit, maar leerders kry selde die geleentheid om biodiversiteit van nader te bestudeer. Die Sederberg Wildernisgebied met sy enorme verskeidenheid plantspesies, interessante rotsvormasies en dierelewe is ‘n klipgooi van Clanwilliam af en was dus die perfekte bestemming vir só ‘n kamp.

Die kamp het afgeskop met ‘n begeleide staptog van die bekende ‘Lot se vrou’ staproete. Tydens die staproete het Jaco Fourie, Omgewingsopvoedkundige van Cape Leopard Trust, die leerders meer van veldkameras en die gebruik daarvan vertel. Daarna was dit die leerders se beurt om ‘n geskikte plek te kies en self die veldkameras op te stel.

Die aand se program het ‘n lekker braai asook ‘n skerpioen-soek uitstappie ingesluit. Die skerpioen-soek uitstappie, onderleiding van Handré Basson, het tot ‘n paar senuweeagtige oomblikke gelei nadat die groep op drie skerpioenspesies afgekom het. Met nie ‘n bang haar op hulle kop nie, het ‘n paar van die leerders kans gesien om aan die skerpioene te vat. Handré is gelukkig ‘n kenner op dié gebied en kon vir die leerders uitwys watter skerpioene is onskadelik en watter vermy moet word. Die nagtelike uitstappie het op ‘n hoë noot geëindig toe hulle ‘n hoogs-bedreigde skurwejantjie, of anders bekend as die sonkykerakkedis (Cordylus giganteus), onder een van die klippe gevind het.

Die volgende dag het die leerders plantopnames in verskeie areas gedoen en die plantdiversiteit bepaal. Tot die leerders se verbasing het die plantspesies van die areas almal van mekaar verskil, selfs al was die areas net ‘n paar meter uitmekaar. Leerders het tydens die plantopnames kennis gemaak met bekende plante van die streek soos skilpadbessie (Muraltia spinosa), blousporrie (Heliophila sp.), kankerbossie (Sutherlandia sp.), poprosie (Hermannia sp.) en nog baie meer.

Leerders het ook verskillende gekleurde panlokvalle gebruik om te bepaal watter kleur blomme die meeste bestuiwers lok. Geel, oranje, pers, wit en blou panlokvalle (plastiek houers) is uitgeplaas en na twee dae is die bestuiwers wat in die houers beland het sorgvuldig uitgehaal en geklassifiseer. Aan die einde van ondersoek het die leerders tot die slotsom gekom dat die geel panlokvalle die meeste bestuiwers gelok het. Hulle het ook opgelet dat grootste gedeeltes van die veld waar die ondersoek gedoen is, deur plante met geel blomme bedek was.

Die aand is die leerders heerlik vermaak deur ‘n baie interessante en leersame praatjie deur Jaco oor die luiperde van die Sederberge. Die volgende dag is die kamp afgesluit met ‘n foto-reis van Handré se loopbaan as entomoloog en fotograaf.

Handré Basson is ‘n oudskolier van Augsburg Landbougimnasium en in sy Graad 10-skooljaar aan die Iimbovane Projek deelgeneem. Hy is tans besig met sy Magistergraad in Bewaringsekologie by die Universiteit van Stellenbosch.

Die kamp is moontlik gemaak deur ondersteuning van die Het Jan Marais Fonds.

Leerders besig om insekte te versamel.

Jaco Fourie (Cape Leopard Trust)

‘n Leerder besig om insekte te klassifiseer.

Handre Basson besig om die leerders te help met die identifikasie van die insekte.