Loading Events

« Alle Intreeredes

  • This event has passed.

Prof Anél du Plessis

Intreerede

16 Mei 2024 @ 17:3018:30

’n Voorspelling oor die impak van klimaatsverandering op die toekoms van stedelike reg in Suid-Afrika

Die snelle pas van verstedeliking in Afrika hou regsrelevante uitdagings en kwessies in. Hierdie kwessies is kompleks omdat stede en dorpe gedeelde ruimtes is waar die reg, kwasi-reg en wetteloosheid ineenloop om verhoudings tussen diverse mense én tussen mense en dinge (waaronder gemeenskaplike stedelike hulpbronne) te rig. Stede word ook gekenmerk deur kop-aan-kop-botsings tussen mense se regte. Dikwels word stede nie deur demokratiese orde beheer nie, maar eerder deur politiek, handel en belegging, tesame met ’n invloedryke kombinasie van eiendomsbesit, welvaart en voordelige toegang tot andersins ontoeganklike inligting en nuwe tegnologieë.

Stedelike reg, synde die reg ‘van’ en ‘in’ stede, is stewig veranker in ’n verwikkelde mengsel van die privaat-, publiek- en handelsreg en het ’n magdom bewysplase en bronne van oorsprong. In Suid-Afrikaanse verband behels dit meer as net die klassieke reg van plaaslike regering. As ’n manifestasie van regsgeografie, bepaal stedelike reg die gang van sosiale en omgewingsgeregtigheid en maak dit die kern uit van menige onlangse hofuitspraak in verband met metropolitaanse, middelslag- en kleiner munisipaliteite. ’n Mens dink dalk dat die studie, ontwerp en implementering van stedelike reg nie méér kompleks kan wees as wat dit reeds is nie.

Nogtans bevind Suid-Afrikaanse stede hulle as gevolg van ’n wêreldwye klimaatskrisis in die oog van die storm, wat ’n heel nuwe dimensie van kompleksiteit oopbreek. Hierdie intreerede dink na oor die eise van klimaatsveerkragtige ontwikkeling en hoe dít na verwagting die toekoms van stedelike reg in Suid-Afrika sal beïnvloed – nie net as ’n praktiese regskwessie nie, maar ook as ’n navorsings- en onderrigterrein

Kyk die intreerede hier

Kort biografie

Anél du Plessis is in Julie 2023 as die eerste bekleër van die Leerstoel in Stedelike Reg en Volhoubaarheidsbestuur by die Universiteit Stellenbosch aangestel. Nadat sy haar regsopleiding aan Noordwes-Universiteit (NWU) voltooi (BA (Regte), LLB, LLM, LLD), sluit sy haar in 2005 by daardie instelling se onderrigpersoneel aan en word in 2012 tot volprofessor bevorder. In 2018 word sy aangewys as die eerste hoof van NWU se NNS SARChI Leerstoel in Stede, die Reg en Volhoubaarheid. Die leerstoel is ná die eerste siklus van vyf jaar tot vlak 1 opgegradeer en het in 2023 ’n institusionele toekenning vir navorsing relevant tot die samelewing ontvang.

Haar navorsing en onderrig konsentreer op die kruispunt tussen omgewing- en klimaatsveranderingsreg en bestuur, en die regsrelevante dinamiek van formele en informele stedelike ontwikkeling en ruimtelike geregtigheid. Sy het ook ’n lewendige belangstelling in die ontluikende rol van stede as onmiskenbare niestaatsrolspelers in internasionale reg. Sewentien doktorale en 37 magisterstudente het tot dusver onder haar studieleiding hul studies voltooi, en sy het tans ’n verdere agt onder haar vlerk.

Anél het gedurende haar akademiese loopbaan al genootskappe, beurse en toekennings van die Fulbright-program, die Duitse Akademiese Uitruildiens (DAAD), die Alexander von Humboldt-stigting, die Max Planck-genootskap, die Oppenheimer Gedenktrust en die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) ontvang. Sy dien tans as mederapporteur van die Internasionale Regsvereniging se komitee oor verstedeliking en internasionale reg en was voorheen ’n lid van die IUCN Akademie vir Omgewingsreg se komitees oor bestuur sowel as onderrig en vermoëbou. Anél het vir 16 jaar in die uitvoerende komitee van die Omgewingsregsvereniging van Suid-Afrika en vir meer as ’n dekade as assistentredakteur van die Potchefstroomse Elektroniese Regstydskrif gedien. Sy is ’n stigterslid van die Afrikatak van die Internasionale Vereniging vir Stedelikeregskenners en ’n buitengewone regsprofessor aan die NWU.

Sy is die skrywer en (mede)samesteller van verskeie wetenskaplike boeke en publiseer wyd in geakkrediteerde internasionale en plaaslike regstydskrifte. Sy is onder meer die alleensamesteller van Environmental Law and Local Government in South Africa (eerste en tweede uitgawes).

RSVP HIER

Besonderhede

Datum:
16 Mei 2024
Tyd:
17:3018:30

Organiseerder vir intreerede

Amira Brown
Epos:
browna@sun.ac.za

Lokaal

Kamer 1023, Ou Hoofgebou, Fakulteit Regsgeleerdheid, Ryneveldstraat, Stellenbosch
50 Ryneveld Street
Stellenbosch, Western Cape 7600 South Africa
+ Google Map
Afrikaans