Loading Events

« Alle Intreeredes

  • This event has passed.

Prof Annie Bekker

Intreerede

Mei 12, 2022 @ 17:3018:30

Wat ons kan leer uit die ritteltits van ‘n skip tydens ‘n ysige wrakjagtog

Die SA Agulhas II is ʼn poolvaartuig – en die enigste skip van haar soort in besit van enige land in Afrika. Haar missies verg seevaart in die onstuimige Suidsee en die afgeleë Antarktiese ys. Haar omvangryke struktuur is met ʼn ‘ingenieurssenuweestelsel’ toegerus, waarin sensors en modelle gebruik word om elke impak en siddering waar te neem tydens haar interaksie met die dinamiese omgewing. Die navorsing poog is om ʼn ‘digitale SA Agulhas II’ te ontwikkel waar data en modelle gebruik word om ʼn prototipe ‘Vlagskip vir Vaartuig 4.0’ te ontwikkel. Die doel heermee is om strategiese, taktiese en bedryfsbesluite vir insig en voorsigtelike beplanning in skepe van die toekoms te ondersteun.

In Februarie 2022 vertrek die SA Agulhas II op die Endurance22-ekspedisie na die Weddellsee in Antarktika. Dit was haar tweede poging om as platform te dien vir die soektog na sir Ernest Shackleton se skeepswrak, Endurance, wat in 1915 deur die reusekrag van ys inmekaar gekners is. Die beperkings van die moderne ysskip sou getoets word deur die poging om in een van die mees afgeleë en onbevaarde gebiede op die aarde te vaar. Hier volg die storie van hoe sensordata en ingenieursmodelle van skipvibrasie seevaarders en skeepsontwerpers kan bystaan om veiliger skeepsbedrywighede en vaartuigbestuur in staat te stel.

Kyk die intreerede hier

Kort biografie

Anriëtte (Annie) Bekker het as derdejaarstudent in Meganiese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch haar passie vir toetsingenieurswese en die vibrasie van strukture ontdek. Hierdie veelsydige veld was die ideale wegspringplek vir haar diverse navorsing oor onderwerpe soos dinamiese sitplekgemak in motorvoertuie vir Ford Motormaatskappy en die voorspelling van beenfrakture vanvoertuigbemanning tydens landmynontploffings vir die Wapenkorporasie van Suid-Afrika. In die bedryf was sy verantwoordelik vir die tegniese leiding vir geraas, vibrasie en hardheid vir Optimal Energy. Die werk het die geraas en psigo-akoestiese eienskappe ondersoek wat ʼn positiewe bestuurservaring vir die opkomende elektriese voertuigmark ‘ komponeer’. Sy sluit in Julie 2011 by die Fakulteit Ingenieurswese van die Universiteit Stellenbosch aan, waar sy sedert 2020 ʼn professor is. Sy was in beheer van veelsensor-metingsveldtogte vir die swaar mobiele voertuigvloot van Richardsbaai Minerale en poolvaartuie, insluitende die Suid-Afrikaanse SA Agulhas II en die Duitse Polarstern. Sy beywer haar tans daarvoor om munt te slaan uit die nis wat deur digitale tweelinge geskep word, waar bedryfsdata as inset vir ingenieursmodelle gevoer word. Hierdie tegnologie lewer inligting wat toenemend vinnig aan belanghebbers beskikbaar gestel kan word om hulle in staat te stel tot beter besluite oor die bestuur en hantering van hul bates. Sy is as ʼn professionele ingenieur by die Ingenieursraad van Suid-Afrika geregistreer en is ʼn NNS-beoordeelde navorser. Haar publikasierekord sluit in 24 vaktydskrifartikels en 38 artikels in simposiumverrigtinge. Annie is getroud met Bernard en het drie kinders, Aardt (9) en ʼn tweeling, Berto en Lena (6).

RSVP vir hierdie Intreerede


Kyk die intreerede hier

Besonderhede

Datum:
Mei 12, 2022
Tyd:
17:3018:30

Organiseerder vir intreerede

Amira Brown
Epos:
browna@sun.ac.za

Lokaal

Reitz Hall, Engineering Faculty
156 Banghoek Road, Stellenbosch Central
Stellenbosch, Western Cape 7605 South Africa
+ Google Map
Afrikaans