Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Die einde van XP

Op Dinsdag, 8 April het die einde van die Windows XP-era uiteindelik na 12 jaar aangebreek. Vanaf dié datum sal Microsoft nie meer opdaterings vir XP vrystel nie. 

Hoewel jou XP-bedryfstelsel steeds sal funksioneer, beteken dit wel dat jou rekenaar meer blootgestel sal wees aan rekenaarvirusse. Terselfdertyd is XP verouderd en nie meer  effektief genoeg om aan ons behoeftes vandag te voldoen nie. 

Daar is egter nog nie rede vir grootskaalse paniek nie. IT is sedert verlede jaar in die proses om Windows 7, XP se plaasvervanger, uit te rol na XP-rekenaars op kampus.  Ons wil so min as moontlik ongerief veroorsaak en verstaan dat personeel baie besig is en stel ons gebruikers se hulp in die verband hoog op prys.

Met die uitrol van Windows 7 stel ons ʼn aanvaarbare standaard van digitale sekuriteit en integriteit, en ewe belangrik, skep ons ʼn geleentheid vir gebruikers om nuwe tegnologie aan te leer en te bemeester.

Dis wel belangrik om in gedagte te hou dat `n groot aantal rekenaars se hardeware nie in staat is om `n swaarder en nuwer bedryfstelsel te hanteer nie. Ouer werkstasies mag komponente benodig en in so `n geval sal `n tegnikus `n aanbeveling doen. Hierdie uitgawes sal vir  die departement se koste wees. 

Opgradering van XP na Windows 7 is gratis, maar daar is `n koste verbonde aan die rugsteun van werksverwante data,  persoonlike data soos musiek, video en flieks, asook die addisionele hardeware (indien enige) benodig.

Geen 3de party sagteware sal herinstalleer word nie. Indien die rekenaar byvoorbeeld AutoCAD of SAS opgehad het, sal dit nie oorgelaai word nie. Sagteware soos SAS, wat nie deel vorm van IT se standaardsagteware installasie nie, maar steeds ondersteun word deur IT, sal per versoek aan help@sun.ac.za weer installeer word. Sagteware soos AutoCAD, word glad nie deur IT ondersteun nie en die onus berus bydie personeellid/departement om dit weer gelaai te kry.

Die koste vir datarugsteun beloop  R950-00 vir minder as 15GB en R1650-00 bo 15GB. 

As jy haastig is om jou rekenaar op datum en spoed te kry, kan jy ons gerus kontak om `n tyd te skeduleer wat jou sal pas.

`n Vinnige manier om vas te stel watter bedryfstelsel jy tans gebruik, is om HTTP://WHATSMYOS.COM/ te raadpleeg en die webwerf sal die dinkwerk vir jou doen. Indien jy wel XP gebruik, kan jy `n e-pos stuur aan HELP@SUN.AC.ZA  en `n opgradering versoek. Onthou net om vir ons die volgende inligting te gee om die proses te bespoedig – 

die rekenaar se batenommer,  kontaktelefoonnommer,  gebounaam en kamernommer.

Comments are closed.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.