Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Ontmoet die techies: Die kopers

aankopeJacky November, Anthea Davids en Jenny Watson is die formidabele trio wat Informasietegnologie se Aankoop-afdeling uitmaak.

Dié drie vrolik vinkies het verlede Vrydagmiddag `n halfuur opsy gesit sodat ek met hulle kan gesels. En alhoewel hulle vas oortuig was dat hulle lewens hopeloos te vervelig is om oor te praat, het die resultate van ons gesprek die teendeel bewys.

In totaal werk die drie reeds 25 jaar by IT. Jy kan daarom verseker wees jy is in goeie hande as jy `n navraag het oor enigiets van skootrekenaars tot netwerkkabels.

Die hooffunksie van die Aankope-afdeling is om telefoniese en e-pos navrae oor hardeware, en bestellings te beantwoord en kwotasies vir verskeie komponente, skootrekenaars, drukkers, drukkercartridges en tafelrekenaars by verskaffers te kry. Rekenaars wat herstel moet word, word ook deur dié afdeling ontvang.

Die verskeidenheid mense waarmee hulle te doen kry en soms eienaardige navrae verskaf oorgenoeg materiaal vir ligter oomblikke. Ongelukkig kan hulle nie te veel uitbrei nie, anders beland hulle dalk net in die kookwater. Maar volgens Jenny beskryf die sêding ,”Never a dull moment”, hul werksomgewing die beste. Sy glo ook die 25 jaar wat sy in die meubelbedryf spandeer het, het haar baie geleer oor kliëntediens.

Jacky het haar kwota van moeilike kliënte hanteer toe sy voorheen by `n versekeringsmaatskappy se dienssentrum gewerk het. Tog hou sy daarvan om met mense te werk en te help met navrae of probleme. In so `n mate dat sy tans besig is met ekstra opleiding as tegnikus twee keer per week. Beide sy en Anthea het die N+ en A+ kwalfikasies agter hulle naam, sowel as finansiële diplomas.

Die feit dat Jacky lief is vir “stand-up” komedie, veral die van Trevor Noah, sê dalk ook iets van haar eie sin vir humor en vermoeë om dinge met `n knippie sout te vat indien nodig.

“Ek hou van grappies en om te lag.”

Humor en grappies maak is `n deurlopende eienskap in hierdie kantoor. En as daar `n verskoning is vir snaaks aantrek, is Anthea heel eerste met `n goeie uitrusting – hiervan kan haar kollegas op Loslitdag elke jaar getuig. En sy doen dit met entoesiasme. Enigiets wat pret en oefening insluit, sal sy probeer.
“Ek is game vir alles”. Binne perke natuurlik, las sy vinnig by.

“By Ratanga Junction is ek die een wat die hardste skree”.

So hard, dat hulle haar uit die ry trek eerste op te klim omdat sy so opgewonde raak. Blykbaar gesels sy soms net so entoesiasties met haar rekenaarskerm – amper net so erg soos wanneer sy rugby kyk.

Sy sien selfs kans om “foefie-slide” te ry, maar vir “paintball” sien sy nie kans nie. “Dis te seer!”

Maar moenie dink Anthea is die enigste avontuurlustige nie. Jenny het self met `n onlangse vakansie by Stormsrivier tussen die bome rondgeswaai. Sy moes wel die video koop om haar kinders te oortuig dat sy dit wel gedoen het. Heel indrukwekkend vir iemand wat nie eers op `n swaai kan ry sonder om duidelig te raak nie.

Buiten vir dié meer aksiebelaaide deel van die vakansie, het sy `n behoorlike geskiedkundige toer dwarsoor die land onderneem oppad Kruger Wildtuin toe. Haar belangstelling in geskiedenis kom van kleins af.

“As ek in `n ander tyd gebore was, sou ek graag `n argeoloog wou gewees het.”

Besienswaardighede en museums op Matjiesfontein en Graaff-Reinet, die Uniegebou en die Voortrekkermonument is stuk-stuk deurgewerk en selfs die Vallei van Verlatenheid is besoek.

Ook Anthea gaan binnekort die langpad vat na Barkley-Oos as deel van haar kerk se VGK-brigade. En as jy dink “brigade” het iets met marsjeer te doen, is jy heeltemal reg. Maar dis meer as net dit. Anthea se rol as offisier beteken dat sy nou saamwerk met kinders van alle ouderdomme en baie nuwe mense ontmoet wanneer daar gereis word vir kompetisies.

Terwyl Anthea met haar skerm praat, vermaak Jacky blykbaar haar twee kollegas deur te sing – iets wat sy voorheen in haar kerk se gospel-groep gedoen het. Die telefoon weerklank elke paar minute, maar die navrae word soomloos korte mette van gemaak tussen `n giggel en noot deur. “Never a dull moment” inderdaad.

Vir meer inligting, kontak hulle by quotes@sun.ac.za.

Comments are closed.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.