Soos die behoefte aan `n ryker leerondervinding toeneem, is daar ook `n beweging na sagteware, toepassings en webwerwe wat meer interaksie en samewerking tussen studente en opvoeders wil aanmoedig en bevorder.
Daarom is dit glad nie verbasend dat Microsoft `n voorloper in die veld is en verlede jaar hul eie poging, Office Mix, bekendgestel het nie. Volgens Microsoft is Office Mix ontwikkel om opvoeders by te staan met die implementering van nuwe leermetodes met `n eenvoudige sagtewarepakket soos PowerPoint. Dit bied dieselfde voordele aan die e-Leer samelewing as die industrie-standaard verpakking van digitale leerinhoud, met die hulp van SCORM (Sharable Content Object Reference Model)
Met funksies soos stem, video, digitale ink, meningsopnames en interaktiewe toepassings, insigte en analises en terugspeelfasiliteite op enige toestel, beloof hierdie PowerPoint byvoeging om gewone skyfies te verander in interaktiewe aanlyn-lesings en aanbiedings.
Onderwysers of lektore kan hulleself opneem terwyl hulle klas gee en `n video maak van die aanbieding. Hulle kan skryf op die skyfies deur middel van “digitale ink” en vasvrae, meningspeile, video, skermgrepe, skermopnames en ander elemente byvoeg. Studente kan weer op die beurt na die interaktiewe dokument op die Office Mix webwerf gaan kyk.
[BRON: www.pcworld.com; www.microsoft.com]