Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Is Zoom veilig om te gebruik?

Twee maande gelede het ons afgeraai dat Zoom gebruik word vir universiteitsake. Die hoofrede vir die besluit was die ernstige leemtes in Zoom se sekuriteitsmaatreëls wat gelei het tot vele sekuriteitsbreuke in hoë-profiel vergaderings.

Sedert ons vorige kommunikasie oor Zoom se sekuriteitskwessies het Zoom vinnig sy eendjies in ʼn ry gekry en sy sekuriteit verbeter.  

Maar die vraag is steeds, is Zoom veilig om te gebruik? 

Tensy jy universiteitsgeheime bespreek of ʼn pasiënt se persoonlike gesondheidsinformasie, kan jy Zoom gebruik. Vir skoolklasse, na-werk bymekaarkomste of selfs werksvergaderings waar standaard besigheid bespreek word, hou Zoom nie ʼn hoë sekuriteitsrisiko in nie. 

Wanneer jy uitnodigings na eksterne vergaderings op Teams, Zoom of enige ander platform aanvaar, moet jy steeds goeie sekuriteitspraktyk toepas en nie enige sensitiewe inligting deel indien jy nie seker is wie ook die vergadering bywoon nie.

Informasietegnologie beveel die gebruik van Adobe Connect en Microsoft Teams aan vir vergaderings en aanlyn leer. Hierdie is tans die enigste twee produkte waarvoor IT ondersteuning bied. Dié platforms verskaf aan personeel, studente en eksterne gebruikers ʼn volledige stel kommunikasie-hulpmiddele op standaardtoestelle of op webblaaiers.

Ons beveel steeds aan dat personeel, so ver moontlik, die standaard-sagteware wat ons ondersteun gebruik. Dit stel ons in staat om beter ondersteuning te gee, lisensiekostes laag te hou en integrasie met die institusionele stelsel te kan bewerkstellig. Wanneer sagteware oorweeg en aangekoop word, word ʼn goeie pas met die Universiteit se tegnologiese ekosisteem ook oorweeg. Indien die standaard-sagteware nie voldoende is vir jou behoeftes nie, sal jy die gebruik van die alternatief moet motiveer en die koste sal vir die individu of departement se rekening wees. In hierdie geval sal die Zoom-lisensie dus ook vir die gebruiker of departement se eie koste wees. 

Indien jy Zoom vir ʼn spesifieke situasie wil gebruik, moet jy asseblief ʼn konsultasie versoek met die Verenigde Kommunikasiespan om te bepaal of dit uitvoerbaar is. Dit kan gedoen word deur ʼn versoek aan te teken op die ICT Partner Portal. 

 

 

Comments are closed.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.