Kom ons gebruik `n bekende voorbeeld. Jy stuur gereeld e-posse aan jou ma wat onlangs `n rekenaar gekry het. Sy gebruik Outlook of Thunderbird en het dosyne e-posse van jou in haar posbus. Sy’t jou selfs bygevoeg as `n kontak in haar adresboek. Sy kry ook gereeld e-pos van `n verlangse familielid – neef Johan van Australië. Jy en Johan het nie regtig kontak nie, maar jy weet definitief wie hy is.
Verlede jaar, net voor Kersfees, het Johan ‘n baie oulike Kersfees skermskut (“screensaver”) afgelaai wat `n feestelike boom en flikkerende kersies wys as hy weg is van sy rekenaar. Wat Johan egter nie geweet het nie, is dat, terwyl die kersies vrolik geflikker het, die skermskut op die agtergrond besig was met ander aktiwiteite. Die sagteware wat Johan installeer het, het stelselmatig deur sy e-posse, adresboek, webblaaier se kasgeheue en ander leêrs gesoek en elke e-pos adres wat dit kon opspoor, gebêre op `n lys.
Die program het daarna die saamgestelde lys na `n bediener in Rusland versend waar `n kuberkrimineel dit kombineer het met soortgelyke lyste om `n super-lys saam te stel wat oor en oor verkoop kan word. Asof dit nie genoeg was nie, het die program ook boodskappe aan al Johan se kontakte gestuur. Sonder dat Johan bewus was, het sy rekenaar honderde e-posse geskep deur middel van die ge-oeste adresse, saam met die inhoud van die Russiese bediener en dit uitgestuur via Johan se adres en internetkonneksie. Een hiervan het jou ma se e-posadres as versender en joune as ontvanger gebruik.
Ewe skielik kry jy nou e-pos van jou ma oor nagemaakte horlosies en verskeie ander gemorspos. Natuurlik het sy het niks daarmee te doen nie en jy sal waarskynlik nooit uitvind dat Johan se rekenaar eintlik die skuldige party is nie.
Dit was `n kykie in die nare onderwêreld van die Internet waar “botmasters” (die ou in Rusland) “botnets” (besmette rekenaars wat almal aan dieselfde rekenaar rapporteer) beheer of afstandbeheerde zombies (Johan se rekenaar) wat blootgestel is d.m.v. trojaanse perde (die skermskut) of soortgelyke “malware”.
En daar hou dit nie op nie. Die “botmaster” huur gewoonlik net die “botnet” uit aan wie ookal die meeste betaal. Die ewe verdagte fabriek in China wat nog meer nagemaakte Rolex-horlosies wil verkoop kan dit, onder andere, huur om hul e-posse te versprei. Daarna verkoop hy die lys ten duurste aan ander suspisieuse besighede, jou adres ingesluit.
Met ander woorde, as jou adres opgetel word deur `n “botnet” is die deure wawyd oop. Ongelukkig is daar nie baie wat jy kan doen om dit te voorkom nie, maar jy kan op die volgende let:
- Moet nooit e-pos aanhangsels oopmaak waarvoor jy nie gevra het nie – selfs al is dit van iemand wat jy ken. As jy wel nuuskierig is, vra vir die persoon of hulle dit gestuur het.
- Moet nooit iets aflaai as jy nie self kan verifieer dat dit veilig is nie. Lees eers op daaroor op forums, blogs, webwerwe of vind uit by kenners.
- Moenie val vir sekuriteitswaarskuwings of video-opdaterings om daai oulike katprentjie te sien nie. As jy dink jy het `n Flash-speler nodig, laai dit af van die webwerf self.
- Deel hierdie inligting met jou vriende en familie.
- Om veilig te speel kan jy meer as een e-posadres gebruik. Kry `n privaat adres vir jou naaste vriende, `n tweede een vir kennisse en gebruik jou sun-adres net vir jou kollegas, nie vir privaat aangeleenthede nie. GMail het byvoorbeeld `n baie goeie gemorsposfilter en dis maklik om ontslae te raak van ongewenste e-posse.
[BRON: BustSpammers.com & David Wiles]
Tags: bank e-posse, bots, malware, trojaanse virus, zombies
Thank you very much. This will help me a great deal.