Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

E-pos

ABSA eStaat phishing

Sondag, September 22nd, 2013

Die enigste ding meer irriterend as ons wat jou voortdurend waarsku teen e-pos skelmstreke, is die deursettingsvemoë van kriminele en kuberswendelaars om jou te probeer uitvang en jou data en geld te steel.

Ongelukkig sal die probleem nie verdwyn solank as wat hierdie metodes telkens suksesvol is nie –  selfs binne `n akademiese instelling soos die Universiteit.

Onlangs het nog `n ABSA eStaat in ons posbusse beland, hierdie keer `n bietjie meer gesofistikeerd, maar gewapen met `n paar wenke, kan jy dit baie maklik herken. 

Kyk uit vir hierdie e-posse, vee hulle uit of skuif dit na jou Junk-Mail filters sodat dit volgende keer geblok word.

Hier is hoe jy dit kan uitken:

1. Het jy jou @sun.ac.za werkadres as primêre kontakadres vir jou internetbankdiens gegee? 

2. Doen jy jou banksake by ABSA?

3. Is die aanhef aan jou persoonlik gerig of is dit net `n vae “Dear Customer”? 

4. Is daar `n .pdf of ‘n .html leêr aangeheg? (kuberkrakers gebruik graag .html omdat dit jou herlei na `n vervalsde webblad) 

5. Klink die onderwerp van die e-pos “belangrik” of amptelik? (In die geval “Absa Cheque Account Statement”)

6. As jy kliek op die aanhangsel of dit per ongeluk oopmaak, lyk die webblad soos die bank se normale aantekenblad, maar sonder die https:// teks vooraan die adres? (https:// dui op `n veilige bediener, terwyl http:// `n oop webblad is)

Na aanleiding van bogenoeme vrae kan jy duidelik vasstel of `n  e-pos `n phishing-poging is en bloot uitgevee kan word. Wees waaksaam en op jou hoede. Enigiemand kan uitgevang word.

[ARTIKEL DEUR DAVID WILES]

 

Teken in, teken uit

Vrydag, September 20th, 2013
Een van die algemeenste vrae wat gebruikers vir ons vra is – Hoe kry gemorsposversenders my e-posadres? Vorige kere het ons gekyk na Repelsteeltjie-aanvalle, robotte, trojane en zombies. Hierdie keer fokus ons op `n derde metode – die inteken/uitteken opsie van nuusbriewe.
 
In die 21ste eeu kan daar gesê word “Kennis is mag, nie geld nie“. Hierdie twee is egter baie naby aan mekaar. Kennis of “data” is `n gewilde gebruiksartikel op die internet. Facebook het byvoorbeeld meer as 1.2 biljoen gebruikers. Dink net aan die waarde van al daardie data as Mark Zuckerberg (stigter van Facebook) besluit om die inligting te verkoop?

Jy sal dikwels `n e-pos ontvang in die vorm van `n nuusbrief met `n skakel onderaan wat gemerk is met “Unsubscribe” en aan jou die geleentheid gee om uit te teken, maar gaan die e-posse ophou as jy daarop kliek?

Ongelukkig is daar vele gewetenlose nuusbrief-versenders wat jou adres vir `n lekker vet kommissie sal verkoop. `n Algemene “unsubscribe”  taktiek is om `n e-pos na miljoene mense te stuur met `n bedrieglike “you have joined a newsletter” e-pos. Wanneer gebruikers kliek op die “unsubscribe”-skakel, teken hulle nie uit nie, maar bevestig onwetend dat hulle `n regte persoon is met `n aktiewe e-posadres.

Hierdie aksie veroorsaak nog meer gemorspos en binnekort oorstroom jou posbus. Daarbenewens sal gemorspos-versenders ook hul databasis (wat jou “bevestigde “adres insluit) aan ander gemorspos-verspreiders en bemarkingsfirmas stuur.  

`n Ander metode om e-posadresse in die hande te kry is deur wettige nuusbriewe. Jy skryf dalk dikwels in vir `n regmatige nuusbriefdiens en ontvang die nuusbriewe op `n gereelde basis. Wanneer jy egter jou persoonlike inligting en kontakdetails in `n derde party (die nuusbrief-diens) se hande vertrou, maak jy staat daarop dat hulle stelsel en databasis sekuriteit voldoende is en nie kwesbaar is vir kodebreking of identiteitsdiefstal nie. Kodebrekers kan die nuusbriefdiens se e-pos databasis steel en sonder moeite is jou adres in die hande van gemorsposversenders en swendelaars.

In sommige gevalle samel bemarkers en nuusbriefdienste e-posadresse en verkoop dit aan `n derde party. Ongelukkig het jy waarskynlik vir hulle toestemming gegee toe jy ingestem het tot hulle voorwaardes, soos gestipuleer in die “Terms & Conditions” toe jy ingeskryf het vir die diens. Daar word dikwels aangedui dat jy aan die diens die reg gee om jou inligting met hulle vennote te deel, wat jou om die beurt weer mag kontak. 

Onthou hierdie paar belangrike wenke: 

  • Opnames genereer baie gemorspos. Menige mense neem deel aan opnames vir `n ekstra inkomste, gratis geskenke, ens, maar jou details word dikwels deurgegee aan bemarkers vir verdere gebruik.
  • Poog om jou gemorspos tot `n minimum te beperk deur nie jou adres vir enigiemand te gee wat jy nie ken of vertrou nie. Moet ook nie dieselfde adres wat jy vir besigheiddoeleindes, soos jou internetbankdienste gebruik vir nuusbriewe nie.  
  • Verskillende gemorspos kom dikwels vanaf dieselfde bron. Sodra jy begin uitteken, sal jy sien dat die uitteken-webblad telkens dieselfde lyk. 
  • Indien jy inligting op `n webwerf probeer kry en die blad vra vir `n e-posadres, probeer abc@123.com of iets soortgelyk aan jou adres eerder as jou regte adres.  Ten minste word JOU adres nie op rekord gehou en later misbruik nie.  
  • As jy jou inskrywing gekanselleer het en jy kry steeds gemorspos, blokkeer die stuurder se adres of domein by Outlook se “junk mail”-opsie.

[INLIGTING VERSKAF DEUR DAVID WILES]

Die trojane, bots & zombies val in

Vrydag, Augustus 30th, 2013
Een van die algemeenste navrae wat ons by gebruikers kry, is – “Hoe kry gemorsposversenders my e-posadres?!”. By `n vorige geleentheid het ons gekyk na Repelsteeltjie-aanvalle en die keer kyk ons na `n tweede metode, die gebruik van Trojaanse perde, robotte en zombies. Dit klink nou wel soos iets uit `n fliek, maar ten spyte van hul belaglike name, hou al drie `n gevaar in vir jou as e-posgebruiker.

Kom ons gebruik `n bekende voorbeeld. Jy stuur gereeld e-posse aan jou ma wat onlangs `n rekenaar gekry het. Sy gebruik Outlook of Thunderbird en het dosyne e-posse van jou in haar posbus. Sy’t jou selfs bygevoeg as `n kontak in haar adresboek. Sy kry ook gereeld e-pos van `n verlangse familielid – neef Johan van Australië. Jy en Johan het nie regtig kontak nie, maar jy weet definitief wie hy is.

Verlede jaar, net voor Kersfees, het Johan ‘n baie oulike Kersfees skermskut (“screensaver”) afgelaai wat `n feestelike boom en flikkerende kersies wys as hy weg is van sy rekenaar. Wat Johan egter nie geweet het nie, is dat, terwyl die kersies vrolik geflikker het, die skermskut op die agtergrond besig was met ander aktiwiteite. Die sagteware wat Johan installeer het, het stelselmatig deur sy e-posse, adresboek, webblaaier se kasgeheue en ander leêrs gesoek en elke e-pos adres wat dit kon opspoor, gebêre op `n lys.

Die program het daarna die saamgestelde lys na `n bediener in Rusland versend waar `n kuberkrimineel dit kombineer het met soortgelyke lyste om `n super-lys saam te stel wat oor en oor verkoop kan word. Asof dit nie genoeg was nie, het die program ook boodskappe aan al Johan se kontakte gestuur. Sonder dat Johan bewus was, het sy rekenaar honderde e-posse geskep deur middel van die ge-oeste adresse, saam met die inhoud van die Russiese bediener en dit uitgestuur via Johan se adres en internetkonneksie. Een hiervan het jou ma se e-posadres as versender en joune as ontvanger gebruik.

Ewe skielik kry jy nou e-pos van jou ma oor nagemaakte horlosies en verskeie ander gemorspos. Natuurlik het sy het niks daarmee te doen nie en jy sal waarskynlik nooit uitvind dat Johan se rekenaar eintlik die skuldige party is nie.

Dit was `n kykie in die nare onderwêreld van die Internet waar “botmasters” (die ou in Rusland) “botnets” (besmette rekenaars wat almal aan dieselfde rekenaar rapporteer) beheer of afstandbeheerde zombies (Johan se rekenaar) wat blootgestel is d.m.v. trojaanse perde (die skermskut) of soortgelyke “malware”.

En daar hou dit nie op nie. Die “botmaster” huur gewoonlik net die “botnet” uit aan wie ookal die meeste betaal. Die ewe verdagte fabriek in China wat nog meer nagemaakte Rolex-horlosies wil verkoop kan dit, onder andere, huur om hul e-posse te versprei. Daarna verkoop hy die lys ten duurste aan ander suspisieuse besighede, jou adres ingesluit. 

Met ander woorde, as jou adres opgetel word deur `n “botnet” is die deure wawyd oop. Ongelukkig is daar nie baie wat jy kan doen om dit te voorkom nie, maar jy kan op die volgende let:

  • Moet nooit e-pos aanhangsels oopmaak waarvoor jy nie gevra het nie – selfs al is dit van iemand wat jy ken. As jy wel nuuskierig is, vra vir die persoon of hulle dit gestuur het.  
  • Moet nooit iets aflaai as jy nie self kan verifieer dat dit veilig is nie. Lees eers op daaroor op forums, blogs, webwerwe of vind uit by kenners.
  • Moenie val vir sekuriteitswaarskuwings of video-opdaterings om daai oulike katprentjie te sien nie. As jy dink jy het `n Flash-speler nodig, laai dit af van die webwerf self.
  • Deel hierdie inligting met jou vriende en familie. 
  • Om veilig te speel kan jy meer as een e-posadres gebruik. Kry `n privaat adres vir jou naaste vriende, `n tweede een vir kennisse en gebruik jou sun-adres net vir jou kollegas, nie vir privaat aangeleenthede nie. GMail het byvoorbeeld `n baie goeie gemorsposfilter en dis maklik om ontslae te raak van ongewenste e-posse. 

[BRON: BustSpammers.com & David Wiles]

 

Wagwoord-sinkronisasie problematies

Vrydag, Augustus 16th, 2013

Die afgelope week ervaar die IT Dienstoonbank `n toename in probleme met die sinkronisasie van wagwoorde. Gelukkig is dit slegs `n tydelike situasie, maar daar is `n paar stappe wat jy kan volg om seker te maak jy sit nie met dieselfde probleem nie.

Wanneer jy `n tydelike wagwoord by IT kry, wag eers ten minste 30 minute voordat jy by www.sun.ac.za/useradm ingaan en dit verander na die wagwoord van jou keuse. Die sinkronisasieproses neem `n tydjie en as jy dit onmiddellik doen ondervind die databasis probleme. 

Skakel al jou toestelle af, behalwe een, bv. die skootrekenaar as jy wel jou wagwoord verander anders gaan dit nie soomloos oor al die toestelle sinkroniseer nie.  Indien jy klaar jou wagwoord verander het, skakel die ander toestelle een vir een aan en teken aan met jou nuwe wagwoord. 

Onthou, jy kan self jou wagwoord enige tyd verander op HTTP://WWW.SUN.AC.ZA/USERADM by die Change Password-opsie. Probeer om te hou by die riglyne wat gegee word om jou wagwoord so veilig moontlik te hou – dit sal jou baie moeite en frustrasie spaar op die lange duur. As jy jou wagwoord heeltemal vergeet het, kan jy dit self verander deur te gaan na DIE PERSONEELPORTAAL.

Nog wenke vir die verandering van jou wagwoord kan op https://stbsp01.stb.sun.ac.za/innov/it/it-help/Wiki%20Pages/Change%20password.aspx gevind word.

Kaap van Storms en e-pos storms

Vrydag, Augustus 16th, 2013

Die Wes-Kaap is die afgelope week met mening deur stormweer geteister. Maar het jy geweet dat daar selfs in die tegnologiese wêreld storms is – e-pos storms.

`n E-pos storm is `n skielike toename in Reply All boodskappe op `n e-pos verspreidingslys, gewoonlik veroorsaak deur `n kontroversiële of verkeerdelik geadresseerde boodskap. Hierdie storms ontstaan wanneer veelvuldige lede van `n verspreidingslys antwoord aan almal op die hele lys in reaksie op die aanhitsende boodskap. Ander lede antwoord gevolglik vinnig, vra om verwyder te word van die lys of dat die boodskappe moet stop, maar gooi daardeur nog meer olie op die vuur. 

Indien genoeg lede antwoord op hierdie ongevraagde boodskap ontlont dit `n kettingreaksie van e-posadresse. Die brute lading van verkeer gegenereer deur dié storms kan selfs e-pos bedieners plattrek.

`n Soortgelyke verskynsel vind plaas wanneer `n intekenaar van `n verspreidingslys aan die lys e-pos stuur op te  “UNSUBSCRIBE”. Ander lede sal die arme individu antwoord en raadgee oor hoe om die lys te verlaat of die persoon verwys na die handleiding. Nog meer intekenare sal op die vorige persone antwoord – hierdie keer oor e-pos etiket.

Sommige e-pos virusse kan ook e-pos storms veroorsaak deur kopieë van hulself te stuur na `n besmette gebruiker se kontakte en verspreidingslyte en dan ook die kontakte in die proses besmet. 

[SOURCE: www.wikipedia.org]

 

 

© 2013-2025 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.