Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Algemeen

(English) New malware warning

Dinsdag, Desember 4th, 2012

Jammer, hierdie bladsy is nie in Afrikaans beskikbaar nie.

Tyd vir `n nuwe webwerf?

Vrydag, November 23rd, 2012

Watter platform moet ek gebruik om my departement/fakulteit of afdeling se webwerf te skep en publiseer? Hierdie is `n vraag wat die afdelings IT en E-kommunikasie op `n gereelde basis gevra word. In antwoord hierop het ons die volgende riglyne en advies saamgestel.

Maar eers, `n paar belangrike beginsels …. Die skep, publiseer en instandhouding van `n webwerf hoef nie uitsluitlik gereserveer te word vir diegene wat meer tegnies georienteerd is nie. Om die waarheid te sê, is dit verkieslik dat hierdie take eerder verrig word deur die mense wat nou betrokke is by die kommunikasie van die afdeling. En om dit te doen, is dit nie nodig dat hulle geskool moet wees in “html, javascript” en ander obskure tegniese hulpmiddels en tale nie.

Tweedens – webwerwe moet al meer en meer vars, dinamies en interaktief wees. Dit beteken dat webonderhoud nie net `n eenmalige oefening is nie, maar `n voortdurende verpligting wat verskeie bydraers en skrywers in die omgewing, gekoördineer deur `n aangewese redakteur, se betrokkenheid vereis.

Waar daar wel professionele en meer tegniese insette nodig is, is by die aanvanklike fase van die webwerfontwerp: die ontwerp van `n spesifieke gebruikersondervinding, grafiese ontwerp en uitleg van inligting (byvoorbeeld template of “master pages”) en die voorbereiding van die tegniese platform. Nadat dit in plek gesit is, is die fokus op die genereer van inhoud en die effektiewe gebruik van die webwerf vir kommunikasie met die afdeling se teikengehoor.

Om dus persone, wat nie geskool is in webtegnologieë nie, te bemagtig om hul eie webwerwe te bestuur en inhoud by te dra en om die voorkoms en algemene “look-and-feel” oor veelvuldige bladsye en webwerwe te verseker, word institusionele webwerwe toenemend op sogenaamde Web Content Management Systems (WCMS) gebou. Daar is verskeie voorbeelde van WCMS’s, insluitende Joomla!, WordPress, Sharepoint, Drupal, Oracle Portal, Nettoolbox, ens. So watter van hierdie behoort jy te gebruik?

Ons beveel die volgende sterk aan:

  1. Tot onlangs is baie fakulteit en departementele webwerwe gebou en geskryf op die Oracle Portal WCMS. Hierdie platform nader egter sy vervaltyd en sal oor die volgende paar jaar uitfasseer word. Moet asseblief geen nuwe webwerwe op hierdie platform bou of groot opgraderings doen nie.
  2. Die universiteit het amptelik die Microsoft Sharepoint platform geselekteer as die institusionele WCMS vir amptelike webwerwe. Alle nuwe webwerwe moet op Sharepoint gebou word. Beide IT en die E-kommunikasie Afdeling is besig om op te rat vir die nuwe platform en sal mettertyd in staat wees om ondersteuning, sowel as advies oor die gebruik daarvan aan webwerfeienaars te gee.
  3. Ons bied ook `n WordPress blogplatform vir webwerwe wat blogfunksionaliteit vereis. Institusionele ondersteuning is beperk, maar WordPress is maklik om te gebruik en ideaal vir klein, losstaande webwerwe.
  4. Maak seker dat alle webwerwe die nodig kode bevat wat die data van webgebruik kan aanteken (bekend as Web Analytics). Ons bied `n  PIWIK Web Analytics platform vir die doel, alhoewel jy ook Google Analytics kan gebruik. Wees egter bewus dat gebruikers op kampus Inetkey sal moet gebruik om statistieke te sien indien jy Google analytics verkies. Indien hierdie gebruikers jou teikengehoor is, gaan hulle swakker werksverrigting van jou webwerf ervaar as Inetkey nie oop is nie.
  5. Maak seker dat jy vooraf bekend is met die vereistes van die Universiteit se Web Regulasie, wat die bestuur van institusionele webwerwe beheer.

Alhoewel al bogenoemde WCMS’s, sowel as ander wat nie genoem is nie, op ons bedieners gehuisves word en deur baie gebruik word, lewer IT en E-kommunikasie nie WCMS-vlak ondersteuning daarvoor nie.  Entiteite wat binne die afdeling oor die tegniese vaardighede beskik of in staat is om eksterne tegniese ondersteuning te kan bekostig, mag moontlik verkies om daarmee voort te gaan, maar ons beveel aan dat reëlings getref word om mettertyd die webwerwe te migreer na die Sharepoint platform.

Kontak die E-kommunikasie afdeling (ecomms@sun.ac.za) of Gevorderde Ondersteuning, IT (helpinfo@sun.ac.za) om meer te leer oor Sharepoint en om voor te berei vir jou nuwe of opgegradeerde webwerf.

ARTICLE BY RALPH PINA

So jy wil `n webfundi wees?

Vrydag, November 23rd, 2012

Jou departement het ingegee en besluit dis tyd vir `n webwerf. Jy is egter gekies as die gelukkige persoon wat die hele projek van begin tot einde moet bestuur. Maak die blote gedagte jou angsbevange? Dis eenvoudiger as wat dit klink.

Kom ons begin by die verskeie tipes webwerwe wat die universiteit huisves. Dit sluit die korporatiewe of institusionele webwerf, fakulteit, skole en akademiese departemente, afdelings, eenhede, sentrum vir uitnemendheid en alle institusionele webwerwe in, sowel as die institusionele webportale: studente portaal; personeel portaal; alumni portaal; voornemende studente portaal, koshuise en studente verenigings, institusionele blogs en wiki-dienste en ander webwerwe van ander geaffilieerde entiteite.

Elke departement, fakulteit, afdeling, sentrum of instituut is verantwoordelik vir sy  eie webwerf. IT verskaf die platform en infrastruktuur, sowel as hulp met die aanvanklike adminstrasieproses. Die bou en onderhoud van die webwerf berus egter by die entiteit self.

So waar begin jy? Daar is `n paar basiese besluite om te neem voor jy by die diep kant inspring.

Eerstens – en hierdie is jou belangrikste besluit – bepaal watter platform aan jou afdeling se behoeftes sal voldoen. Meer gedetaileerde inligting oor die beskikbare platforms, kan hier gevind word.

Goed, so julle het besluit watter platform is die gepaste een, die volgende stap is om iemand aan te wys om die webwerf te bou en in stand te hou. Alhoewel dit die maklikste en vinnigste oplossing sou wees om `n buitemaatskappy te gebruik, hou net in gedagte dat `n webwerf dinamies is en gereeld opgedateer en aangepas moet word. Op die lang duur mag die kostes meer wees. Indien dit enigsins moontlik is, belê eerder in opleiding vir iemand binne die departement.

Laastens, registreer die verantwoordelike persoon as webmeester. Hierdie persoon hoef nie die persoon te wees wat die opdaterings self doen nie, maar dit sal administrasie wel vergemaklik. Die registrasie-aansoek word gedoen deur `n eenvoudige vorm. Sodra die aansoek verwerk is, sal `n e-pos aan die kontakpersoon gegee word met die nodige inligting.

Op die selfhelp-wiki is daar verdere inligting oor onder andere ftp, blog- en wiki-aansoeke, ens. Kontak ons ook gerus vir verdere inligting.

Jou persoonlike inligting in die verkeerde hande?

Vrydag, November 9th, 2012

As jy enigsins so sku vir administrasie en liasseerwerk is soos ek, ontvang jy ook deesdae al jou state en rekeninge per e-pos in plaas van slakkepos.

Ons het al tot vervelens toe gehoor hoe belangrik dit is om die inligting op jou rekenaar te beskerm. Meeste van die tyd dink ons slegs in terme van werksverwante data en ons is nie te bekommerd nie. Maar jy het meer persoonlike inligting op jou rekenaar as wat jy dink en ons stuur maar te maklik bankdetails, wagwoorde en ander belangrike inligting via e-pos omdat ons glo dis veilig.

Het jy al gedink wat `n kuberkrimineel met al daardie inligting kan maak as hy sy skelm handjies daarop kry? Daarom is dit tog belangrik dat jy steeds sekere maatreëls tref as dit kom by jou rekenaar se sekuriteit.

1. As jy vir langer as `n paar minute wegloop by jou rekenaar, sluit dit eerder deur Windows en L of die Lock this computer-funksie te gebruik. Jou inligting is dan weggesteek vir nuuskierige, dwalende oë.

2. Kies wagwoorde versigtig. (Vir nog handige inligting oor wagwoorde en hoe om die beste wagwoord te kies, lees gerus hier)

2.1 Oppas om ‘n wagwoord te gebruik wat ‘n patroon op die sleutelbord vorm. Dis die algemeenste manier om `m wagwoord te kies en gevolglik ook die maklikste manier vir `n kuberkrimineel om jou wagwoord in die hande te kry. Vermy iets soos 1q2w3e4r5t of !QAZ@WSX of qwertasdf of 654321 of 123456.

2.2 Wees eerder kreatief en dink ‘n sinnetjie uit wat jy maklik sal kan onthou, en gebruik dan die eerste letter van elke woord, maar gooi so ‘n syfer of twee of dalk ‘n leesteken tussenin.

2.3 Kies altyd ‘n wagwoord wat minstens 8 karakters (letters, syfers, leestekens en spesiale tekens soos @$%^&* ens) het.

3. Moenie wagwoorde neerskryf nie. Dis net so goed as of jou voordeursleutel op jou stoeptrappie te los.

4. Moet nooit wagwoorde in jou webblaaier, byvoorbeeld Internet Explorer, Firefox, Chrome, Safari, ens stoor nie. Dis geweldig maklik vir iemand om dan daardie wagwoorde in die hande te kry. As die blaaier vir jou vra of dit die wagwoord moet onthou, sê eerder nee al is dit minder moeite. Dieselfde geld vir Remote Desktop sessies en gestoorde wagwoorde.

5. Moenie jou wagwoord vir enigiemand oor die foon of via epos of ‘n kitsboodskap (IM) gee of reageer op enige epos wat vra dat jy dit (of jou bank rekeningnommer en PIN) aanlyn intik of per epos stuur nie.

(INLIGTING VERSKAF DEUR NEELS BLOM)

Ly jy aan wagwoord-uitputting?

Vrydag, November 9th, 2012

Volgens `n studie wat in Augustus in die VSA uitgevoer is, het 3 uit 5 volwassenes, 5 of meer unieke aanlyn wagwoorde. (Verskillende studies het natuurlik ook verskillende opinies oor die spesifieke getal wat ter sprake is!) Dis dan ook geen wonder dat ons so sukkel om almal te onthou nie.

Daar is selfs `n erkende sielkundige verklaring vir jou onvermoë om jou wagwoord te onthou en die gepaardgaande effek wat dit op jou het. Ja inderdaad, daar is iets soos wagwoord-uitputting, of te wel password fatigue! Hierdie verskynsel word gedefinieer as die gevoel wat ervaar word deur persone wat daagliks `n groot hoeveelheid wagwoorde moet onthou as deel van hulle daaglikse roetine. Dit sluit enige wagwoord of kode in – van jou fietsslot tot jou rekenaar of otm-wagwoord. Lees hier meer oor wagwoord-uitputting.

As jy nie al 5 wagwoorde kan onthou nie, is daar egter hoop vir jou. Gelukkig is daar handige sagteware wat jou kan help onthou as jou grysstof die dag net nie meer kan byhou met al die inligting nie.

Die bekendste hiervan is KeePass Password Safe.

KeePass is gratis oopbron-sagteware wat jou kan help om jou wagwoorde op `n veilige, sekure wyse te bestuur. Jy sit al jou wagwoorde in een databasis en dit word dan gesluit met slegs een master key of wagwoord. Dis veiliger om al jou wagwoorde op een sentrale plek te stoor agter een sterk wagwoord as om dieselfde wagwoord te gebruik vir al jou programme omdat jy bang is jy vergeet dit!

Die addisionele voordeel van KeePass is tweedens sy aanpasbaarheid op die meeste stelsels. Dis oorspronklik bedoel vir Microsoft Windows, maar kan ook suksesvol geimplementeer word op Linux, Mac OS en `n verskeidenheid fone.

Die program het `n wye verskeidenheid funksies, onder andere `n funksie wat outomaties wagwoorde genereer. Lees meer oor KeePass hier.

Indien jy wil sien watter ander sagteware beskikbaar is vir wagwoordbestuur het www.smashingapps.com `n paar voorstelle.

 

© 2013-2025 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.