Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Internet

Hoë internetgebruik problematies

Vrydag, Mei 29th, 2015

Die dienstoonbank is die afgelope twee weke oorval met navrae oor hoë internetrekeninge.

Tydens een insident is buitengewone hoë internetverkeer by `n personeellid se rekening opgemerk. Met nadere ondersoek het dit geblyk dat iemand gesien het hoe hy sy wagwoord intik en dit daarna gebruik het om onwettig reekse daarmee af te laai. 

Informasietegnologie kan gebruikers nie beskerm teen gevalle soos hierdie nie. Dit bly uitsluitlik jou verantwoordelikheid om jou wagwoord veilig te hou.

Daar is steeds personeel wat hul gebruikersname en wagwoorde met ander deel of dit sigbaar op `n stukkie papier op hul lessenaar tentoonstel.

Dis net so belangrik om jou netwerk-wagwoord veilig te hou as jou bankkaart se PIN-nommer en jy sal sekerlik nie jou PIN-nommer vir iemand gee nie?

Met jou netwerk-wagwoord kan iemand nie net toegang kry tot jou internet nie, maar ook tot e-posse wat jou bankdetail en persoonlike informasie bevat, sowel as jou menslike hulpbronne inligting – insluitend jou salarisinligting! Die risiko bly dieselfde.

Maak seker dat jy `n goeie, sterk wagwoord het. Microsoft het goeie riglyne daarvoor. 

Bo en behalwe goeie wagwoordpraktyk, moet jy onthou om altyd jou Inetkey toe te maak as jy weg is van jou rekenaar of jou rekenaar te sluit. (ctrl+alt+del) As dit oop bly, kan enigiemand dit gebruik en daar is geen manier vir IT om te bepaal wie jou internet gebruik het as jy die een was wat dit ontsluit het met jou wagwoord nie. 

Gaan gereeld jou internetgebruik na sodat jy nie aan die einde van die maande `n verrassing kry nie. Jou internetbalans verskyn op die Interkey aantekenblokkie en kan ook nagegaan word by www.sun.ac.za/useradm.

Hou in gedagte dat die spoed van die universiteitnetwerk en jou ADSL-lyn by die huis nie dieselfde is nie. Jy mag dink dat dieselfde hoeveelheid tyd op die US-netwerk jou dieselfde gaan kos as by die huis. Die universiteitnetwerk is baie vinniger en jy gaan meer data vinniger gebruik.

As jy `n ongewone toename in jou internetgebruik opmerk, kan jy `n navraag rig aan IT teen die koste van R200-00. Verdere inligting oor internetgebruik op die US-netwerk kan in ons dienskatalogus gekry word.

Aanlyninkopies aan die toeneem

Vrydag, Mei 29th, 2015

987110_basket_reflectionOf jy `n boekwurm is wat gereeld op Exclusive Books se webwerf kuier of `n techie wat katoeters soek op Takealot, daar is `n aanlynwinkel vir elke smaak.

Hoewel aanlynaankope nie die norm in Suid-Afrika nie, is die prentjie besig om vinnig te verander.

Statistica.com het in Januarie berig dat 40% van internetgebruikers wêreldwyd reeds items aanlyn gekoop het. Met ander woorde, 1 biljoen aanlyn-kopers. Hierdie getal sal toeneem soos enkripsie en sekuriteitsmaatreëls verbeter.

In Suid-Afrika is die persentasie kopers ongeveer 22% en glo 48% van internetgebruikers dat hulle dit in die toekoms tog sal oorweeg. (IPSOS-opname namens PayPAL en FNB) As ons in ag neem dat Suid-Afrika die mees-ontwikkelde ekonomie in Afrika het en 86% van volwassenes selfoongebruikers is, lyk voorspellings soos dié van IPSOS en Statistica.com nie so verregaande nie. 

Studies wys `n opmerklike groei in internetaankope en ook die bedrae wat gebruikers bereid is om te spandeer. 

Die SA council of shopping centres (SACSC) se opname in Februarie vanjaar bevestig dat ernstige gebruikers reeds 50% van hul inkopies aanlyn doen en tot R2500-00 per maand spandeer. Ligte gebruikers daarenteen doen 14 transaksies en spandeer R350-00 per maand. Kopers is geneig om aanlynwinkels te gebruik om eers navorsing oor `n produk te doen en dit daarna in `n winkel te gaan koop.

Waar en wat koop Suid-Afrikaners? Woolworths, Exclusive Books en Pick `n Pay se aanlynweergawes blyk populêr te wees, terwyl die uitsluitlik aanlynwinkels Kalahari.com, Takealot en Amazon die voorkeurkeuse is. Op die klerefront trek Zando en Spree by slegs 9% in 2014. 

Gewilde keuses is digitale produkte, kaartjies na geleenthede en vir reis en klere.  

Sekuriteit is die grootste rede waarom Suid-Afrikaners nie aanlyn wil koop nie. 38% van die deelnemers aan Statistica.com se opname vertrou nie sekuriteit op die internet genoeg om aankope aanlyn te doen nie.

Sekuriteit behoort nie `n probleem te wees as `n webwerf PCI DSS gesertifiseer is of goeie enkripsie- en waarmerkmetodes soos 3D secure, gebruik word nie. Soos met enige ander webwerf, vertrou jou goeie oordeel en moenie onbekende winkels gebruik en jou inligting daarop gee nie. Hou by die bekendes soos Takealot, Zando, ens.

Gebruikers verkeer onder die wanindruk dat jy `n kredietkaart nodig het om aanlyn te koop. Dis nie die geval is nie. Aanlynwinkels bied ook alternatiewe aan kopers. Buite-betalingsmaatskappye soos Paypal maak transaksies meer sekuur. As jy onveilig voel om jou kredietkaartdetails in te vul, betaal met `n bank EFT. Sommige winkels laat jou selfs toe om die koerier kontant te betaal met aflewering.

Tasbaarheid en `n waarborg van produkkwaliteit  `n verdere bekommernis. Beter prosedures is reeds in plek gesit sodat gebruikers moeiteloos produkte kan terugstuur indien hulle nie tevrede is nie. 

Aan die positiewe kant is aanlyninkope se gerief en gemaklikheid nie te betwyfel nie. Dit bied jou die geleentheid om te kies tussen `n verskeidenheid produkte, ook wêreldwyd, en sodoende die beste keuse vir jou sak te maak. Daarnenewens hoef jy nie meer weke te wag vir aflewering nie. Goeie aanlynwinkels lewer binne 24 uur jou aankope by jou af – mits dit in voorraad is.

Teen die einde van die dekade word voorspel dat e-handel in Afrika 20 maal sal vermeerder en volgens McKinsey & Company sal dit teen 2025 10% van alle kleinhandel-verkope uitmaak. 

Of ons daarvan hou of nie, aanlynwinkels is hier om te bly en hopelik kan ons as gebruikers, ook daaruit voordeel trek.

[BRONNE: www.mybroadband.co.za; www.ventureburn.com; www.eprop.co.za; www.itnewsafrica.com]

Selfoonbetalings maak die lewe nog makliker

Vrydag, Mei 29th, 2015

Net toe jy gedink het dis veilig om jou kredietkaart by die huis te los. Ons stel bekend – selfoonbetalings.

Snapscan, ontwikkel hier in Stellenbosch, is die mees bekende vorm van selfoonbetaling. Maar buiten SnapScan word PocketPOS, FlickPay en Payment Pebble ook tans in Suid-Afrika gebruik. 

Teen die tyd het ons almal al gehoor van Snapscan. Hoe anders, dit het sy oorsprong hier op Stellenbosch. Maar Snapscan is nie die enigste selfoon betaalmetode nie. Die ander drie bestaande platforms: PocketPOS, SnapScan, FlickPay en Payment Pebble gebruik ook jou selfoon as Mobile POS (point of sale) sodat jy nie kontant of `n kaart by jou hoef te hou nie.

Die veronderstelling is dat niemand ooit sonder `n foon is nie, maar nie altyd `n beursie saamdra nie. Daarom is die “mobile wallet” `n gemaklike alternatief. Jy hoef ook nie meer in rye te staan of te wag vir die kelner om jou raak te sien nie – hy betaal self vanaf jou foon.

Jy mag dink dat hierdie net nog `n verbygaande gril is, maar volgens navorsing is selfoontranssaksies in Afrika groter in Amerika. Maklike en goedkoop toegang tot selfone vir internet eerder as rekenaars is waarskynlik die rede vir hierdie statistieke. In 2012 het Afrikane meer as 57.8 biljoen dollar spandeer net op selfoonbetalings.

Alhoewel QR kodes  (soos die wat SnapScan gebruik) steeds algemeen is, is daar alreeds nuwer tegnologie beskikbaar. Beacon-tegnologie gebruik jou ligging vir verskeie funksies. 

SnapScan het onlangs Snapbeacon, `n eerste in Suid-Afrika, ontwikkel. Tik `n knoppie in die Snapscan-toepassing en `n transaksie word geaktiveer met Bluetooth. As die funksie op jou foon geaktiveer is, sal dit outomaties `n Pay here opsie wys. Jy kan dit ook deaktiveer as jy dit nie wil gebruik nie.

Snapbeacon is slegs versoenbaar met spesifieke fone – iPhone 4S en hoër en die nuutste slimfone met Android 4.3 en hoër. Aan die begin van April was Snapbeacon beskikbaar by 30 SnapScan-handelaars in Kaapstad en 20 in die res van Suid-Afrika.

[BRONNE: www.memeburn.comwww.ventureburn.com]

Probleme met Firefox 37-toegang tot Oracle

Dinsdag, April 14th, 2015

Die nuutste weergawe van Firefox blyk nie versoenbaar te wees met die aantekenproses van verskeie Oracle-toepassings nie. Dit sluit sun-e-HR se betalingsfunksie, waarmee ad-hoc betalings gemaak word.

Daar is egter `n verstelling wat in die Firefox-program gemaak kan word en die IT Dienstoonbank sal u kan help hiermee. Indien u dus probleme ondervind, kontak asb. die IT Dienstoonbank.

Maklike leêroordrag met FTP

Vrydag, Maart 13th, 2015

Jy’t dalk al die woord erens gehoor en weet vaagweg dat dit iets te doen het met leêrs. Maar buiten dit het jy geen idee wat FTP is nie. Buitendien, wat sou jy tog daarmee doen?

Maar hier is die goeie nuus. Dis eintlik maklik om te gebruik en mag handig te pas kom as jy groot hoeveelhede data met iemand buite die universiteit-netwerk moet deel. Is jy nou al meer geinteresseerd?

Goed, maar voor ons in die diep kant inspring, kom ons begin eers deur te verduidelik wat FTP presies is.

File Transfer Protocol of FTP is `n standaard netwerk-protokol wat gebruik word om rekenaarleêrs van een gasheerrekenaar na `n ander oor `n TCP-gebaseerde netwerk, soos die Internet. FTP-gebruikers kan hulself staaf deur die gebruik van `n gebruikersnaam en wagwoord, maar sommige FTP-bedieners is wel so opgestel dat gebruikers anoniem kan aanteken daarsonder. (Indien jy meer tegniese inligting oor FTP soek, lees gerus op Wikipedia)

Om Universiteit Stellenbosch se FTP-bediener te gebruik, het jy die adres van die bediener en wagwoord nodig:

ftp-bediener: ftp://tydelik@ftp.sun.ac.za
wagwoord: tydelik

Hou net in gedagte dat hierdie spasie nie gebruik mag word vir die stoor of rugsteun van data nie. Dis slegs `n tydelike spasie om leêrs te sit sodat iemand anders maklik toegang daartoe kan kry. Die persoon wat die data aflaai, gebruik dieselfde aanteken-inligting. 

Om FTP op jou rekenaar op te stel, volg hierdie stap-vir-stap instruksies op Microsoft se webwerf.

As jy meer inligting oor FTP soek, hier is `n paar bronne: 

https://kb.iu.edu/d/aerg
http://www.webopedia.com/TERM/F/ftp.html

As `n gebruiker van die US-netwerk is daar ook `n paar ander voordele as dit by gratis toegang kom. Jy kan `n paar webwerwe besoek sonder om jou internetrekening daarvoor te gebruik. Lees meer oor hierdie webwerwe op ons blog –  https://blogs.sun.ac.za/it/2012/04/20/free-access-to-selected-websites/ en https://blogs.sun.ac.za/it/2012/06/08/mirror-mirror/

 

 

 

© 2013-2025 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.