Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Ons mense

Ontmoet die techies: Quinton Luiters

Vrydag, Augustus 22nd, 2014

Quinton-web“IT Hulplyn, goeiemiddag!” Feitlik almal op kampus is al op dié manier begroet as hulle IT se Dienstoonbank geskakel het. Maar vir Quinton Luiters is dit al so `n outomatiese reaksie dat hy soms selfs die telefoon by die huis ook op dieselfde wyse antwoord – tot groot vermaak van sy vrou.

En as `n mens dit al vir 8 jaar doen is dit ook geen wonder nie. Benewens foonoproepe vang, is Quinton daarvoor verantwoordelik dat almal se e-posbusse en netwerkspasie werk soos dit moet. As Outlook jou kwaai aanspreek oor jou spasie, is hy die ou wat jou gaan red uit jou penarie.

Hy is gewoond aan vele balle in die lug hou. By die hulplyn moet jy veelvuldige take gelyktydig kan doen.

“Diegene wat sê mans kan nie “multitask” nie, moet kom kyk hoeveel dinge ons sewe ouens by die hulplyn gelyktydig doen!”

Quinton “multitask” al lank voordat hy by die hulplyn-miernes aangesluit het. Hy was destyds by UWK `n punteadministreerder en verantwoordelik vir, onder andere, die administrasie van tutors, tutoriale en ook eerste en tweedejaarspunte.

Maar hy het eers na UWK, toe hy hom by IT aangesluit het, dat daar `n geleentheid was om uiteindelik in die veld te werk waarin hy vier jaar studeer het. Met `n Nasionale Diploma in Informasietegnologie kon hy hom met die intrapslag goed van sy taak kwyt.

As hy egter nie destyds die kans gewaag en Informasietegnologie bo Siviele Ingenieurswese gekies het nie, was dit ons verlies en Ingenieurswese se wins.

In 1996 was Informasietegnologie nog `n nuutjie en is dit by PENTECH (nou CPUT) aangebied. Die internet, soos ons dit ken, was skaars twee jaar oud en nog maar `n lammetjie.

“Ek moes kies tussen iets onbekend en elke dag pendel stad toe of op my tuisdorp, Stellenbosch, Siviel swot”.

Vandag maak die diverse span mense saam met wie hy werk, dit vir hom ekstra lekker.

“Almal het hul eie maniertjies en snaaksighede, maar die positiewe gesindheid en behulpsaamheid maak werk ‘n plesier”.

As jy in `n stresvolle situasie gegooi word, kry jy vinnig maniere om die spanning te verlig, soos met `n grappie af en toe.

Druk tye sal daar altyd wees, maar Quiton se grootste satisfaksie is as hy iemand kan help en die waardering wat mense daarvoor wys. Om situasies te hanteer wat buite sy beheer is, is aansienlik moeiliker juis omdat `n mens so graag iemand wil help en jy kan nie.

Gelukkig is daar buite die werk dinge om die stresvlakke weer `n bietjie te stabiliseer. Reis en nuwe plekke ontdek is hoog op sy lysie.

“Soos hulle sê, “Life’s a journey, enjoy the ride!””

“`n Paar jaar gelede was ons gelukkig om Washington, Virginia te besoek vir my swaer se troue – ek was een van die strooijonkers. Ek sal definitief weer wil gaan as die Here ons spaar.”

Terug by die huis werk hy en Alicia, volgens Quinton, die eintlike wyn connoisseur, so af en toe `n wyntoertjie deur. Van hul gunstelingplase in die omgewing is DevonValley en JC le Roux op Stellenbosch en Haute Cabriere, Leopard’s Leap en Solms-Delta in Franschhoek.

En natuurlik, wie het dan nie tyd vir `n braaitjie, biertjie en goeie geselskap nie? As `n mens elke dag hard werk, moet jy hard speel ook, sê hy.

IT DIENSTOONBANK KONTAKDETAILS

Foon: +27 21 808 4367
E-pos: helpinfo@sun.ac.za (enquiries)
help@sun.ac.za (to log an error)
Skype: handle = ITStellenUni
Twitter: handle = ITStellenUni
Web: www.sun.ac.za/itselfhelp
Blog: www.sun.ac.za/infoteg

Ontmoet die techies: Mandy Wanza

Vrydag, Augustus 8th, 2014

mandyDinamiet kom in klein pakkies – dit mag  nou wel `n cliche wees, maar dis waar as Mandy ter sprake is. As jy `n geklik-klak van hakke in IT se gang hoor, kan jy maar weet dié klein pakkie is op `n missie om iets gedoen te kry.

Mandy het aanvanklik in 2006 net tydelik by IT aangesluit as Dienstoonbankagent, maar teen 2008 is sy permanent aangestel. Na die agte jaar is sy die enigste vrou wat oorgebly het tussen die sewe ander hulptoonbank-manne, maar hierdie Sneeuwitjie laat haar nie onderkry nie.

Die pad tot hier het `n paar interessante wendings gemaak voordat Mandy haar nis by IT gevind het. Dit het in 1999 begin met `n aansoek by UWK vir `n BA-graad, met die doel om joernalistiek te studeer. Sy het egter gou agtergekom dat haar verwagtinge, gebaseer op haar betrokkenheid by `n  skoolkoerant en realiteit verwyderd van mekaar was. Kort voor lank het Joernalistiek verander na Sielkunde, maar weens persoonlike redes moes sy ook dit, haar eintlike roeping, opgee.

Sy en Adrian vier dié jaar hul tiende huweliksherdenking en het `n dogter wat in graad 4 by De Kuilen Laerskool is. Familie is vir haar belangrik en sy glo daarin om so veel moontlik kwaliteit-tyd saam met hulle te spandeer.

“Ek noem myself `n alspeler, `n “Jack of all trades”.”

“Ek was in die kleinhandel-industrie vir `n tydjie …. ek skat dis waar ek my sterkpunt ontdek het – om goeie kliëntediens te bied en aandag te gee aan detail.”

Sy het selfs al as `n tandartsassistent gewerk – `n “heel interessante” ervaring!

“Maar ek het meer werkstevredenheid gesoek en ingeskryf vir `n paar basiese rekenaarklasse en ek raai dis waar my reis eintlik begin het …”

Op die oomblik is Mandy `n dienstoonbank-agent en haar hooffunksies is om oproepe te beantwoord, insidente aan te teken en eerste vlak gebruikersondersteuning te gee. Maar dit sluit `n bietjie meer as dit in. Sy behartig ook netwerkregistrasies en sagteware navrae en daarmee saam is sy verantwoordelik vir die Microsoft IT-kursusse. Sy behartig die registrasies, besprekings, administrasie en kursusnavrae. Dis haar rol by IT in `n neutedop.

“Die lekkerste deel van my werk is die bevrediging wat jy kry as jy iemand se probleem kan oplos. Op die ou end is dit tog die hoofdoel van ons werk!”

Die minder lekker deel is wanneer belangrike stelsels skielik net ophou werk en gebruikers antwoorde soek.

Ten spyte van die stresvolle tye, is daar darem ligter oomblikke. Soos wanneer jy vir die eerste keer `n afstandsessie (VNC) doen met `n nuwe gebruiker. “Hulle skrik SO groot as die muismerker skielik vanself op die rekenaar beweeg. Daardie reaksie is kostelik.”

“Om by IT te werk, het my so baie geleer – dis die plek waar ek geleer het om my opinie te lug en in die diep kant te leer swem! Elke dag daag jou uit, terwyl dit aanhou om `n leerkuwe te skep.”

IT DIENSTOONBANK KONTAK DETAILS

Tel:: +27 21 808 4367
E-pos: helpinfo@sun.ac.za (navrae)
help@sun.ac.za (foutaanmelding)
Skype: handle = ITStellenUni
Twitter: handle = ITStellenUni
Web: www.sun.ac.za/itselfhelp
Blog: www.sun.ac.za/infoteg

Ontmoet die techies: Petro Uys

Vrydag, Julie 25th, 2014

“Om vir IT te werk is soos om elke dag op ‘n nuwe planeet te wees.”

profile-petroPetro Uys, IT Dienstoonbank bestuurder en alombekende simpatieke oor, se loopbaan by die universiteit strek veel verder terug as net die afgelope agtien jaar by Informasietegnologie.

Na die voltooiing van haar Honneursgraad in Voorligtingsielkunde begin sy in 1985 as datavaslegger by Studenterekords, waar dit haar taak is om studentedata op microfiche te stoor. Rex van Staden, haar destydse hoof, merk op dat sy `n buitengewone belangstelling in en vaardigheid met rekenaars het en speel `n beduidende rol in die rigting wat haar loopbaan inslaan.

Na `n draai by Kursusse en `n breuk om ma te wees, aanvaar sy `n halfdagpos by Huis Horison, ‘n tehuis vir volwasse gestremdes, as, onder andere, boekhouer. Vier jaar volg waartydens Petro en haar familie nou betrokke raak by die tehuis se inwoners.

Die rekenaargogga het egter gebyt en selfs voordat sy by IT beland, bied sy rekenaarklasse aan by twee laerskole in die Wes-Kaap vanaf 1994 tot 1996.

In April 1996 begin haar IT-loopbaan by die destydse hulptoonbank  – eers as hulptoonbankagent, daarna ondersteuningspesialis en later as bestuurder.

Gedurende die 18 jaar leer sy om analities te dink, haar probleemoplossingsvaardighede te slyp en gebruikers se navrae soomloos kaf te draf. Benette Kriel se mentorskap in die aanvangsjare as ondersteuningspesialis, bly haar steeds by.

“Ek is baie dankbaar vir al die opleidingsgeleenthede wat IT US vir my gegee het. In die omgewing moet jy bereid wees om deur te druk en jou nie deur struikelblokke te laat onderkry nie.Dit bied legio geleenthede en met die nodige belangstelling en passie, is daar vir ieder en elk `n plek binne hier.

Elke dag is anders en tegnologie bly ontwikkel. Hierdie dinamika is vir haar lekker. “Om elke dag dieselfde werk te doen, sou sieldodend wees.”

“Die beste vergelyking wat ek nog daarvoor gekry het was: Om vir IT te werk, is soos om elke dag op ‘n nuwe planeet te wees.Die basiese oorlewingselemente moet daar wees, maar verder is alles nuut.”

Sy onthou hoe, destyds by die hulplyn, `n verwarde persoon geskakel en gevra het,  “Is this call-a-housewife?”, en ook die akademikus wie se kantoor bestrooi was met sigaretstompies.

Om op die grond rond te kruip om rekenaarkabels te koppel, of swaar toerusting op kampus rond te dra, was niks eienaardig nie. `n Tradisionele manswêreld het egter sy voordele. Sy het geleer om sterk te wees, op haar regte te staan en voorbereid te wees vir enige situasie.

Petro se onuitputbare geduld en toeganklike geaardheid verseker dat sy oor die weg kom met feitlik enige persoonlikheid. Moeilike kliënte is vir haar `n uitdaging en bied `n goeie geleentheid om haar liefde vir mense en tegnologie te beoefen.

Kommunikasie in `n IT-omgewing bly `n tameletjie en moet deurlopend aan gewerk word. “Daar bestaan steeds `n wanpersepsie op kampus oor wat IT presies doen. Ons is nie `n winsgewende afdeling wat gebruikers wil uitbuit nie. Gebruikers moet asseblief die vrymoedigheid hê om ons te kontak – ons wil regtig help en hulle tegnologiese lewens maklik maak!”

Petro glo dat IT nie `n entiteit op sy eie is nie, maar die universiteit as `n besigheid moet ondersteun. Met die voltooiing van die ITIL (Information Technology Infrastructure Library ) bestuurseksamens in 2009 het sy ook besef dat ITIL die beste raamwerk is om te volg om IT te belyn met besigheid.

As die ma van drie dogters, wat grotendeels nou al op hul eie gevestig is, geniet sy deesdae die rustigheid saam met haar man, Jannie. Maar wanneer jy haar nie op die telefoon sien nie, is sy `n kranige fietsryer wat al 9 Cape Argus fietstoere voltooi het.

Daarbenewens is sy tans besig om ‘n MPhil in Management Coaching te voltooi, sodat sy al haar mensekennis en ervaring ten volle kan benut.

IT DIENSTOONBANK KONTAKDETAILS

Foon: +27 21 808 4367
E-pos: helpinfo@sun.ac.za (navrae)
help@sun.ac.za (foutaanmelding)
Skype: handle = ITStellenUni
Twitter: handle = ITStellenUni
Web: www.sun.ac.za/itselfhelp
Blog: www.sun.ac.za/infoteg

Wie is aan die (be)stuur?

Vrydag, April 12th, 2013

Dave Platt het per geleentheid gesê “Managing senior programmers is like herding cats.” Die IT-afdeling bestaan uit meer as `n honderd personeellede wat strek van ondersteuningstegnici, stelseladministrateurs, ingenieurs, sagteware ontwikkelaars tot besigheidsanaliste.  So wie bestuur hierdie groep en ook die hele IT-personeel?

bestuur-organogram-bw

Lees die gedetaileerde posbeskrywings hier.

IT op jou drumpel

Vrydag, April 20th, 2012

Een van die dae sal jy eenkeer elke twee maande al jou navrae en klagtes kan stem gee by jou eie IT-fakulteitsbeampte.

As deel van IT se voortdurende pogings om kommunikasie met kampus te verbeter, is fakulteitsbeamptes in elke fakulteit onlangs aangewys. Met hierdie inisiatief sal daar twee-maandeliks insette, idees en voorstelle van gebruikers op kampus via hul eie verteenwoordigers ontvang word. In die proses sal dit Informasietegnologie in staat stel om vinniger probleme op te los en ook te bepaal waar daar spesifieke knelpunte en potensiële probleme mag ontstaan.

IT verteenwoordigers sal binnekort sleutelpersone binne elke fakulteit kontak om reëlings te tref vir die eerste kontaksessie:

IT VERTEENWOORDIGERS FAKULTEIT
Marita de Koker & André Elms Teologie
   
   
Clayton Adonis & Quintus Roos Natuurwetenskappe
   
   
Bradley van der Venter & Clive Layman Regte
   
   
   
Regan Janari & Leanne Farao Sport
   
   
   
Neels Blom & Zanfrick Witbooi Agriwetenskappe
   
   
   
Tian Petersen & Clint Adams Opvoedkunde
   
   
Peter Grift & Ryan Leroux Ekonomie
   
   
George Whitehead & Ronel Reynecke Ingenieurswese
Paul de Kock & Basil Pietersen
 
 

© 2013-2025 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.