Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

selfoon

Mobiele tegnologie opname wys nuwe gebruikspatrone uit

Vrydag, November 1st, 2013

Diit blyk dat Android- en Apple-selfone waarskynlik binne die volgende jaar om studente se guns gaan kompeteer, terwyl Blackberry se populariteit vinnig wegkwyn. Die prentjie het beduidend verander sedert 2012:

mobile-phones

Hierdie is slegs een voorbeeld van die resultate van ‘n onlangse mobiele tegnologie opname, geneem deur Informasietegnologie, om patrone in mobiele toestelle onder studente te bepaal.

Die doel van die opnames, waarvan die eerste in September 2012 uitgevoer is, is om gedragspatrone te identifiseer sodat toepaslike universiteitsdienste en -strategieë in die toekoms implementeer kan word. Die kombinasie van toestelle waaroor studente beskik en hoe vinnig omstandighede verander, is kritiek vir ingeligte beplanning en besluitneming.

‘n Ander onverwagse neiging is die stadige toename van tablette op kampus. Aangesien die meerderheid studente daagliks toegang tot ‘n skootrekenaar, ultrabook of notebook het, word die tablet gesien as ‘n “derde” toestel wat 47% van studente nie kan bekostig nie en 25% verkies om nie te gebruik nie. 

Slegs 28% van deelnemers besit ‘n tablet, waarvan bykans die helfte Apple iPads is, met Android tablette kort op sy hakke. Studente dui aan dat `n styging mettertyd sal plaasvind, maar wel geleidelik. 

Ongelukkig is bewustheid rondom die Studente Tegnologie Program, wat aan studente die geleentheid bied om skootrekenaars, tablette en notebooks teen afslagpryse te koop, steeds gebrekkig. 

Aan die positiewe kant sien studente deurlopend dienste en inhoud wat verband hou met leer, akademiese geleenthede en skedules, byvoorbeeld eksamenresultate, klas- en eksamenroosters en taakinformasie, as die noodsaaklikste funksie wat mobiele toestelle moet vervul.

Dis moontlik dat, wanneer meer leerinhoud, insluitende e-handboeke, meer beskikbaar raak via mobiele toestelle, ook vir aflyn gebruik, die toename van tablette ook mag versnel.

mobile-content

Verdere opnames sal in die toekoms uitgevoer word om gebruikspatrone en addisionele veranderinge oor tyd te bestudeer.

Een gelukkige wenner, BComm-student Pierre-Etienne, was die gelukkige wenner van ‘n Incredible Connection geskenkbewys ter waarde van R1500.

2832 studente uit 32266 uitgenooides is, het die opname voltooi. 

[FOTO: Ralph Pina (direkteur: ontwikkeling) met wenner Pierre-Etienne Rossouw]

 

 

Gerat vir die toekoms

Vrydag, Oktober 4th, 2013

Onthou jy nog daai ou, groot Casio horlosies met die ingeboude sakrekenaars? Wel, moenie te hard lag nie (buitendien, ons weet jy het ook een gehad). Een van die dae gaan jy weer ‘n groot horlosie wil hê en dié keer kan dit meer doen as net optelsomme.

Die Samsung Galaxy Gear slimhorlosie is onlangs in Berlyn, twee weke voor die  Berlyn IFA elektronika verbruikerstentoonstelling, deur Lee Young-hee, Samsung se vise-president van mobiele tegnologie, bekendgestel. 

Met Samsung se nuwe slimhorlosie kan jy telefoonoproepe maak, die internet gebruik en e-posse bestuur. Dit alles terwyl jy soos ‘n wafferse lyfwag of FBI-agent lyk.

Ander handige ekstras sluit `n kamera,  toepassings soos Evernote en Pocket, sowel as MyFitnessPal en RunKeeper vir die meer sportiewes onder ons, in. Vir diegene wat wyn bo  sport verkies, is daar Vivino Wine Scanner, waarmee jy `n wynetiket kan afneem en dadelik die inligting oor die betrokke wyn tot jou beskikking het.

[Foto: www.samsung.com]

Maar voordat jy TE opgewonde raak – om die Galaxy Gear te gebruik, moet jy ook `n Galaxy Note besit. Dit word beraam dat die Gear reeds dié maand beskikbaar sal wees teen die aanbevole bedrag van R4 599. Die nuutste Galaxy Note model, waarmee die slimfoon versoenbaar is, is reeds vanaf 27 September beskikbaar teen R8 999. 

Die totaal van die twee toestelle kom dus tot die aardige bedraggie van ongeveer R14 000. Nie noodwendig `n opsie vir die diegene wat `n gemiddelde salaris verdien nie, maar ons kan met sekerheid sê dat die tegnologie nou beskikbaar is en ook eendag meer bekostigbaar sal wees vir die res van ons. 

Meer inligting oor die Samsung Galaxy Gear kan gevind word op Samsung se webwerf. 

[BRONNE: www.cnet.com, www.wikipedia.org, www.news24.com, www.mybroadband.co.za, www.pcadvisor.co.uk  en www.t3.com] 

 

 

Oppas vir SIM-kaart omruilbedrog

Vrydag, Februarie 22nd, 2013

Dis `n bekende kuberstrik, maar as dit met een van jou kollegas gebeur, word dit skielik `n realiteit en groter moontlikheid dat dit ook met jou kan gebeur. SIM-kaart bedrog vind plaas as kuberkriminele `n SIM-kaart ruiling gebruik om jou sekuriteitsboodkappe en eenmalige wagwoorde, gestuur deur jou bank, te bekom. Deur die eenmalige wagwoord te gebruik, kan begunstigdes se detail verander word, nuwes byvoeg en fondse uit jou rekening oorgedra deur jou persoonlike inligting te gebruik. 

Gedurende die afgelope vakansie het een van ons Tygerberg-kollegas R20 000 op hierdie wyse verloor en versoek dat ons ander personeel ook  waarsku.

Hoe werk `n SIM-kaart omruiling?

  • `n SIM-kaart omruiling vind plaas nadat kuberskelm jou bank aantekeninligting geoes het, omdat jy op `n “phishing” e-pos reageer het. (Hierdie is een van die redes hoekom “phishing” e-posse so gevaarlik is en jy nooit daarop moet reageer of op die skakels in dié e-posse moet kliek nie.)  
  • Sodra die persoon jou selfoonnommer en ander persoonlike inligting in die hande gekry het, kan hy jou identiteit aanneem en `n nuwe SIM-kaart versoek van jou selfoonverskaffer. 
  • Die selfoonverskaffer dra jou SIM-kaart identiteit oor na die nuwe SIM-kaart en kanselleer die ou kaart. 
  • Geen sein word vanaf die ou SIM-kaart ontvang nie en geen SMS’e kan gestuur of oproepe kan gemaak word nie.  Hierdie is die eerste teken dat daar fout is, ook as jy die boodskap “SIMCARD INVALID” kry.
  • Die SMS-magtiging verwysingsnommer, wat normaalweg aan die klient gestuur word, bereik die kuberkraker ipv jou, die geldige eienaar, en hy kan eenmalige betalings maak en begunstigdes skep. 

Wat moet ek doen as ek `n onwettige SIM-omruiling vermoed? 

  • Indien jy die slagoffer is van `n onwettige SIM-omruiling of vermoed dat jy moontlik is, skakel dadelik jou selfoonverskaffer vir hulp.
  • Kontak jou internetbankdienste hulplyn en versoek dat internetdienstetoegang onmiddellik beëindig word. Dit sal voorkom dat die skuldiges toegang tot jou rekeninge verkry. 

Wat kan jy doen om SIM-kaartbedog te voorkom?

  • Beskerm jou informasie – al jou informasie.
  • Moet nooit jou ID-nommer verskaf tensy jy doodseker is van die geldigheid van `n webwerf nie. Die bank het reeds jou ID-nommer en sal dit nie weer vra nie. 
  • Moenie jou selfoonnommer verskaf op webwerwe tensy jy die egtheid van die webwerf geverifieer het nie. “Phishing” webwerwe versoek gewoonlik inligting soos `n ID-nommer, e-posadres en e-pos adres wagwoord.
  • Maak altyd seker dat jou kontakdetails op internetbankdienste geldig en korrek is. Wanneer jou inligting verander, dateer dit op by op internet bankdienste of by jou plaaslike bank.  

[INLIGTING VERSKAF DEUR DAVID WILES]

Hou jou selfoon veilig

Vrydag, Februarie 22nd, 2013

Jou slimfoon is deesdae net so kragtig soos jou skoot- of tafelrekenaar van`n paar jaar gelede. Jy stoor ook meer kosbare persoonlike en werksinligting daarop en is feitlik altyd verbind aan die internet. Dit is egter ook juis hierdie gerieflikheid wat vereis dat jy net soveel sekuriteit toe pas op jou selfoon as wat jy op jou rekenaar sou gebruik.  

Cooltech, iAfrica se tegnologiese afdeling, het `n paar idees om seker te maak dat die inligting op jou foon veilig bewaar word van “malware”, kuberkriminele, toestelfoute en ander sekuriteitsrisikos.

Stel `n wagwoord op 

Die eenvoudigste en eerste stap is om doodeenvoudig `n wagwoord op jou foon te sit. Meeste slimfoonvervaardigers laat jou toe om `n pinnommer of wagwoord in te sleutel elke keer as jy jou toestel aansit of weer gebruik na `n tydperk van onbruik. 

Installeer sekuriteitsagteware

Aangesien slimfone nie meer net telefoonnommers en sms’e stoor nie, maar ook, onder andere, bankinligting, is hulle ook `n maklike en perfekte teiken vir kuberskelms. 

Oorweeg dit om antivirus-sagteware te installeer om jou toestel te beskerm teen “malware”. F-Secure, Norton, en ander groot sekuriteitsagteware-verskaffers bied elk hul eie weergawe vir die hoof slimfoon platforms. 

Aktiveer die afstanduitvee-funksie

Die grootste risiko vir jou as slimfoongebruiker is as jou toestel gesteel of verlore raak. Eerder as jou bekommer oor iemand wat deur jou belangrike inligting snuffel, aktiveer die uitveefunksie wat van `n afstand gedoen kan word. 

Hierdie funksie sal jou toelaat om jou fotos, besigheidskontakte en e-posse uit te vee met die hulp van enige internetverbinding as jou foon weg is en jy vermoed jy gaan dit nie weer terugkry nie. As jy nog nie jou foon wil opgee nie, kan sekere posisiebepalingsfunksies jou help om `n idee te kry van waar jou telefoon hom bevind. 

Sommige vervaardigers soos BlackBerry en Apple bied die afstanduitvee-funksie en opspoortoepassing vir hul nuutste toestelle, terwyl derdeparty toepassings beskikbaar is vir ander platforms.  

Laai veilige, goedgekeurde toepassings af

Die versoeking om gratis, nie-amptelike toepassings op jou iPhone of Android te probeer laai i.p.v. om dit te koop deur die iStore, is nou wel baie groot, maar jy neem `n groot risiko en stel jou foon bloot aan “malware”. Hou eerder by gemagtigde bronne wat streng kwaliteitskontrole toepas op die toepassings wat hulle verskaf en nie met nare ekstras kom nie.

Rugsteun jou data

`n Groot deel van jou lewe is op jou slimfoon – e-pos, telefoonkontakte, dokumente, fotos en baie meer. Net soos jy jou rekenaar (hopelik!) rugsteun, doen dieselfde met jou selfoon sodat alles nie verlore is as jou foon wegraak, gesteel word of beskadig word nie. Baie slimfone laat jou toe om `n deeglike rugsteun te maak na jou rekenaar of ten minste net die belangrikste data en opstellings aanlyn te stoor.

Nuwe prosedures vir Outlook-opstelling op Android veroorsaak verwarring

Vrydag, Oktober 26th, 2012

Met die onlangse opgradering van Exchange is gebruikers gekonfronteer met `n paar ongewone vrae as hulle e-pos wou opstel op Android-fone. Maar eintlik is dit minder intimiderend as wat dit met eerste oogopslag lyk.

Sodra die standaard Outlook-opstelling gedoen word (kliek hier vir die volledige instruksies), verskyn Activate device administrator “ met `n  lang lys opsies – onder andere Erase all dataChange Screen unlock password, Password recovery . Hierdie boodskap is standaard vir enige opstelling van Exchange/Outlook vir `n Android foon so moenie skrik of bekommerd wees nie.Dit dui slegs aan wat die toepassing alles kan doen. Ander fabrikate/bedryfstelsel fone ondersteun moontlik dieselfde eienskappe, maar vertoon dit nie soos Android aan die gebruiker wanneer die program installeer word nie.

Die teks wat vertoon word is standaard vir die spesifieke Android-toepassing – IT het geen beheer daaroor nie. Dis ook standardpraktyk by verskeie universiteite wat MS Exchange gebruik.

Onder die opsies wat verskyn is die volgende – Erase all data: Perform a factory reset, deleting all of your data without any confirmation. Vanselfsprekend het hierdie opsie veral vrae laat ontstaan. As ons egter na die Exchange-implementasie kyk, is dit duidelik dat die posbuseienaar die enigste persoon is wat die handstuk kan skoonvee.

Hierdie en ook ander voordele en ekstra e-pos funksionaliteit, is na installasie aan die Androidgebruiker beskikbaar op www.sun.ac.za/webmail. In webmail, onder Options -> See All Options -> Phone -> Mobile Phones is daar verskeie funksies beskikbaar aan gebruikers.

Sync Logging: Stel jou in staat om die sinkronisasieproses te ondersoek, te selekteer watter data jy gesinkroniseer wil hê, watter bedieners gebruik moet word, ens.

Remote Wipe: Met hierdie opsie kan jy jou foon se data (kontakte, sms’e, foto’s ens.) afvee, indien dit in die verkeerde hande sou beland. Die foon sal slegs sy oorspronklikr fabrieksopstelling ophê. SLEGS die e-pos gebruiker het regte tot die funksie – niemand anders kan toegang kry nie.

Details: Wys presies watter toestel dit is, model, en sagteware weergawes, ens.

Delete Device: Dit verwyder die verbinding van Exchange se kant af na die toestel.Indien jy dit doen via webmail, sal die persoon wat jou foon het nie weer `n Exchange-opstelling kan doen nie. Jou data bly dus beskerm.

(INLIGTING VERSKAF DEUR FRANCOIS DE KOKER)

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.