Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Groen IT

Nuwe houers vir e-afval by IT

Maandag, Oktober 4th, 2021

 As deel van die “Going Green”-projek sal Fasiliteitsbestuur e-afval houers op uitgesoekte plekke op kampus uitplaas. Ons moedig personeel en studente aan om hierdie houers te gebruik vir enige e-afval wat nie US-bates is nie.

Twee van hierdie geel houers (sien voorbeeld regs) sal ook voortaan by IT wees. Een houer word geplaas by die IT HUB-ingang en die tweede sal geplaas word by die diensingang (die deur aan jou regterkant as jy voor IT staan) van die IT-hoofgebou in Hammanshandstraat. Beide houers sal binne die gebou geplaas word by die ingang. 

WAT IS E-AFVAL?

Elektroniese afval (e-afval) is die term wat gebruik word om verouderde of weggooi-toerusting wat met elektrisiteit werk, te beskryf. Dit sluit rekenaars, enige elektroniese toerusting, batterye, ens. in wat uit die weggeruim is deur die oorspronklike eienaars. Meer oor e-afval.

Houers sal onderhou word deur Wasteplan en die universiteit se Wasteplan terreinopsigter sal bepaal wanneer die houers leeggemaak moet word.

Vir enige navrae oor die e-afval projek, stuur gerus `n e-pos aan fmhelpdesk@sun.ac.za.

 

Raak ontslae van jou e-afval

Maandag, Oktober 4th, 2021

Het jy verouderde rekenaars, skerms, selfone of batterye wat geen nut het nie en net onnodige spasie opneem in jou kaste? Gee jy genoeg om vir die ongewing om eerder op die regte manier daarvan ontslae te raak i.p.v. om dit op ʼn vuilgoedhoop te gooi?

Daar is ʼn verantwoordelike oplossing. Fasiliteitsbestuur het geel e-afval dromme op strategiese plekke op kampus geplaas waar ou elektroniese toestelle in geplaas kan word en dan deur buite-kontrakteurs opgetel, hergebruik en veilig van ontslae geraak kan word.

Elektroniese afval (e-afval) is die term wat gebruik word om verouderde of weggooi-toerusting wat met elektrisiteit werk, te beskryf. Dit sluit rekenaars, batterye en enige elektroniese toerusting in waarvan die oorspronklike eienaars ontslae geraak  het.

Toksiese bestanddele, soos lood, kwik, kadmium en ander stowwe hou ʼn gesondheidsrisiko en is ook gevaarlik vir ekosisteme. Wanneer e-afval afbreek en nie op die korrekte manier mee weggedoen word nie, beland giftige stowwe in grond en grondwater. Die materiaal kan eerder herwin word om rou materiaal te skep wat hergebruik kan word. 

Die onvolhoubare, vinnige omset van verouderde elektronika en rekenaartegnologie is nog ʼn goeie motivering om te herwin of e-afval te hergebruik.

Wat gebeur met e-afval?

Kontrakteurs skei die artikels in die volgende drie kategorieë. Items wat

  • opgeknap kan word,
  • herwin kan word en
  • veilig ontslae van geraak moet word.

Opknapping van toerusting en rekenaars skep werk en die items word hergebruik in behoeftige skole en gemeenskappe. Nuttige, skaars en waardevolle metale en ander stowwe word verwyder d.m.v. herwinning, terwyl giftige e-afval, soos ou rekenaarskerms(CRT’s) en fluoor-buisligte in spesiale afvalfasiliteite gestort word. 

Die prosedures is as volg: 

  1. Maak eers seker dat alle items afgeskryf en hanteer is volgens die Universiteit se beleid rakende die hantering van oortollige bates.
  2. Verwyder al jou data, privaat en werksverwant, van die toestelle. IT is nie verantwoordelik vir die uitvee en rugsteun van data of vir die risiko dat data toeganklik kan wees na wegdoening nie. Jou toestelle moet volledig skoongemaak wees. 
  3. Bring jou ou toerusting na of die IT HUB of IT Hoofgebou vir plasing in die geel e-afval dromme. Beide dromme is aan die binnekant van die ingange. Die geel drom by die IT Hoofgebou is in die binneportaal van die diensingang (regterdeur as jy voor die gebou staan)
  4.  Indien jy steeds navrae het kontak Clive Layman op Stellenbosch-kampus, Le Roux Franken by Belpark of Kevin Vermaak op Tygerberg. 

Vir meer inligting: www.ewasa.org

Teken uit, sit af

Donderdag, Desember 1st, 2016

Dis amper tyd vir vakansie, maar wat van daai lang lysie met goed om te doen? Ons het vir jou een vir die kantoor saamgestel sodat jy nie daaroor ook bekommerd hoef te wees nie.

1. Maak seker dat jou wagwoord nie verval terwyl jy met vakansie is nie. Verander dit liewer betyds sodat jy nie uit jou rekeninge gesluit is wanneer jy terug is in Januarie nie.

2. Tweedens, het jy al verlof ingesit? Ons hoop so, maar as jy nie het nie, lees hier.

3. As jy beplan om jou rekenaar of toestel te gebruik tydens jou vakansie en enigiets verander, opgestel of reggemaak moet word voor dan, bring dit asseblief ASAP na IT. Net soos Kersfeespersente, wag die meeste mense tot op die nippertjie. Dit maak dit ongelukkig moeilik om almal te kan help. Hoe gouer jy dit bring, hoe gouer kan ons jou help.

4. Indien jy eers middel-Januarie weer op kantoor is, maak seker dat die nodige reëlings in plek is en jou kollegas op hoogte is van jou verantwoordelikhede. Byvoorbeeld, persone wie se SUNid-registrasies gedurende die vakansietydperk verval en daarmee saam alle toegang tot die netwerk en geboue. As jy die SUNid-verteenwoordiger is, maak seker daar is `n plan in plek vir die persone vir wie jy verantwoordelik is. Meer oor SUNid hier.

5. As jy gereeld sleutels, selfone, ens. verloor, stel sekuriteit op jou selfoon en sit `n opsporingsmeganisme in plek. Lees ons artikel oor sekuriteit en hoe om jou selfoon op te spoor.

6. Sit jou Outlook Out of Office assistant aan sodat jy nie met `n posbus vol kwaai e-posse begroet word as jy terugkom nie. Volledige instruksies is op Microsoft se webwerf.

7. Laastens, voordat jy jou kantoordeur met `n glimlag agter jou toetrek en met vakansie gaan, moenie vergeet om alle toestelle wat krag gebruik, af te skakel nie. Dit sluit rekenaars, drukkers, laaiers, monitors en ligte in.  

Bewaring via hommeltuig

Donderdag, Oktober 27th, 2016

Jy het al die videos op YouTube gesien – uitgestrekte, asemrowende lugskote van areas wat feitlik ontoeganklik is vir die meeste mense. Rhino Africa het Woensdag`n video vrygestel wat met behulp van `n hommeltuig verfilm is. Die video wys die skoonheid van Afrika en die resultate is asemrowend.

Deesdae kan ons toegang kry tot feitlik enige afgeleë area met behulp van`n hommeltuig of UAV (unmanned aerial vehicle) met afstandbeheer, sagteware of ʼn GPS-stelsel. Hierdie vlieënde robotte word “hommeltuie” genoem omdat hulle klink soos die eentonige gedreun van ʼn manlike by.  

Aanvanklik is hommeltuie nie net as blote tydverdryf gebruik nie. Die eerste toestelle is aangewend deur die weermag, maar vandag is siviele hommeltuie meer algemeen as hul militêre eweknieë. Na beraming is daar teen 2015 reeds meer as ʼn miljoen verkoop en word hulle gebruik vir kommersiële, wetenskaplike, ontspannings- en landboudoeleindes, sowel as ander funksies soos polisiëring, toesig, lugfotografie en natuurbewaring.

droneDie idee om UAV’s te gebruik vir natuurbewaring is in Januarie 2011 deur Lian Pin Koh, ʼn natuurbewaringsekoloog en Serge Wich, ʼn primaatbioloog bedink. Dit was egter gou duidelik dat die beskikbare UAV’s te duur was vir ontwikkelende lande waar hulle die nodigste was. Lian en Serge se enigste oplossing was om hul eie, meer bekostigbare weergawe te bou. Die prototipe se koste het uitgewerk op minder as $2,000.

ʼn Jaar later is die prototipe getoets in Noord-Sumatra, Indonesië waar dit meer as 30 ritte onderneem het en duisende hoë-resolusie lugfoto’s en videomateriaal van woude en die natuurlewe versamel het. (https://conservationdrones.org/our-story/)

Na mate Lian en Serge se navorsing bekend geraak het, is die term “Conservation Drone” gebore en teen 2012 is UAV’s ook deur die International Anti-Poaching Foundation.

(https://www.youtube.com/watch?v=FIrgjCNcDBI)

Hommeltuie word reeds wêreldwyd vir natuurbewaring gebruik. Die WWF (World Wide Fund for Nature) het dit in 2012 in die Chitwan Nasionale Park in Nepal, begin gebruik om renosters, tiere en olifante te monitor, maar ook om te dien as ʼn afskrikmiddel vir stropery. In dieselfde jaar Google $5 vir die WWF gegee om hommeltuie aan te koop om gedeeltes van Afrika en Asië te monitor en stropery te bekamp.

Ook in Suid-Afrika is UAV’s suksesvol in die Kruger Nasionale Park teen renosterstropers gebruik nadat Denel Dynamics, ʼn vervaardiger van die tegnologie, dit aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Parkeraad geleen het vir natuurbewaring. 

In Maart 2014 het die Howard G. Buffett Stigting aangekondig dat hulle 255 miljoen rand skenk vir ʼn driejaar inisiatief, in samewerking met die Natuurbewaringstrust, Suid-Afrikaanse Nasionale Parkeraad (SANParks) en ʼn Suid-Afrikaanse openbare winsorganisasie (PBO). Hierdie inisiatief se doel is om stropery in die Kruger Nasionale Park te beveg en nuwe anti-stropery tegnologie te toets. SANParke toets tans die hommeltuie en vanjaar het die Stigting ʼn verdere 37.7 miljoen gegee vir die aankoop van ʼn helikopter vir gebruik teen stropery bedrywighede. (https://www.savetherhino.org)

In Namibië is hierdie tegnologie deur die Sea Shepherd Conservation Society gebruik om die jaarlikse uitdunproses van robbe te monitor en ook om rensosterstropery in die Etosha Nasionale Park te bekamp. 

Ander gebruike vir UAV’s sluit in: opnames van gewasse, lugfotografie, reddingspogings, inspeksie van kraglyne en pypleidings, tel van wild, aflewering van mediese voorrade in andersins ontoeganklik gebiede, die opsporing van persone wat onwettige jag, verkenningsoperasies, koöperatiewe omgewings monitor, grenspatrollie-missies, beskerming van konvooie, bosbrandbeheer, toesig, humanitêre hulp, landmeting, vuur en ongelukke ondersoek, meting van grondverskuiwings, opsporing van onwettige stortingsterreine, die konstruksiebedryf en ook skare beheer.

[SOURCES: https://en.wikipedia.org/wiki/Unmanned_aerial_vehicle, https://conservationdrones.org/our-story/, https://en.wikipedia.org/wiki/Conservation_Drones, https://www.savetherhino.org/rhino_info/thorny_issues/the_use_of_drones_in_rhino_conservation]

Nuwe gebou, nuwe tye

Vrydag, September 4th, 2015

it-gebou

Sedert die 80s word die Informasietegnologie afdeling gehuisves in ʼn gedeelte van die Ingenieursfakulteit in Banhoekweg. Sommige van ons het oud geraak saam met die gebou en is feitlik deel van die meublement. 

Maar is ons opgewonde, erg gelukkig en entoesiasties om aan te kondig dat dit binne die volgende twee maande gaan verander. Ja, ons ontwortel al ons personeel en, in ʼn missie van epiese proporsies, skuif ons na ʼn nuwe gebou waar ons ʼn buurt gaan deel met Fasiliteitsbestuur. Jy kan oor al die fynere detail oor ons nuwe, groen tuiste hier lees en ook in die September-uitgawe van Kampusnuus. 

So opwindend soos hierdie nuwigheid is, is daar ook `n paar logistiese kreukels wat nog uitgestryk moet word. Sodra die strykwerk klaar is, sal ons ʼn meer gerieflik en vaartbelynde diens aan almal op kampus bied. 

Aangesien ons verder weg sal wees van die sentrale kampusarea, sal die IT HUB, ons huidige studentesentrum, ook funksioneer as ʼn addisionele dienspunt. Jy hoef nie meer daai massiewe rekenaarboks oor kampus te sleep na die IT-gebou en jou skouer te verrek in die proses nie. Jy kan nou hulp kry met jou persoonlike toestelle, sowel as batenommer rekenaars (US-toerusting) by die IT HUB. Dit sal as volg werk: 

US-toerusting (met batenommers en waarborge)

Personeel is voortaan welkom om hul toerusting by die IT HUB af te gee. Hou net in gedagte dat dit moontlik ʼn dag langer mag neem as normaalweg indien dit vir herstelwerk na die hoof-werkswinkel geneem moet word. Hierdie toerusting sluit in, skootrekenaars en tafelrekenaars wat onder waarborg is.

Alle toerusting word steeds herstel by die hoof IT-gebou, maar kleiner funksies soos die registrasie van toestelle, wagwoorde, ens. kan onmiddellik by die IT HUB gedoen word.

Persoonlike toerusting (geen batenommer of waarborge)

Personeel se persoonlike toerusting kan hanteer word by die IT HUB of IT-werkswinkel teen `n minimale fooi. Vir hierdie fooi, kan personeel 5 persoonlike toestelle (byvoorbeeld slimfone, tablette en skootrekenaars) op die netwerk registreer. Daar sal beperkte ondersteuning aan die toestelle gebied word.  

kaartOns sal steeds, soos altyd, tot jou beskikking wees deur middel van die gewone kanale en jy kan ons dienstoonbank op enige van die onderstaande metodes kontak:

Tel:  021-808 4367
Skype: ITStellenUni
E-pos: helpinfo@sun.ac.za (vir algemene navrae) of help@sun.ac.za (om ʼn fout aan te meld)
Twitter: @itstellenuni

Google Maps

Volledige instruksies vir die aanmelding van ʼn fout is hier.  Onthou asb. om die korrekte inligting te verskaf anders kan die fout nie aangemeld word op die stelsel nie.  

Al ons dienste is gelys op ons Dienskatalogus en as jy braaf genoeg is, kan jy ook kyk of jy jou probleem kan oplos met die hulp van ons Self-help wiki.

 

 

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.