Het jy verouderde rekenaars, skerms, selfone of batterye wat geen nut het nie en net onnodige spasie opneem in jou kaste? Gee jy genoeg om vir die ongewing om eerder op die regte manier daarvan ontslae te raak i.p.v. om dit op ʼn vuilgoedhoop te gooi?
Daar is ʼn verantwoordelike oplossing. Die IT-afdeling het ʼn elektroniese afval depot op kampus waar ou elektroniese toestelle versamel word sodat dit deur buite-kontrakteurs opgetel, hergebruik en veilig van ontslae geraak kan word.
Elektroniese afval (e-afval) is die term wat gebruik word om verouderde of weggooi-toerusting wat met elektrisiteit werk, te beskryf. Dit sluit rekenaars, batterye en enige elektroniese toerusting in waarvan die oorspronklike eienaars ontslae geraak het.
Toksiese bestanddele, soos lood, kwik, kadmium en ander stowwe hou ʼn gesondheidsrisiko en is ook gevaarlik vir ekosisteme. Wanneer e-afval afbreek en nie op die korrekte manier mee weggedoen word nie, beland giftige stowwe in grond en grondwater. Die materiaal kan eerder herwin word om rou materiaal te skep wat hergebruik kan word.
Die onvolhoubare, vinnige omset van verouderde elektronika en rekenaartegnologie is nog ʼn goeie motivering om te herwin of e-afval te hergebruik.
Wat gebeur met e-afval?
Kontrakteurs skei die artikels in die volgende drie kategorieë. Items wat
- opgeknap kan word,
- herwin kan word en
- veilig ontslae van geraak moet word.
Opknapping van toerusting en rekenaars skep werk en die items word hergebruik in behoeftige skole en gemeenskappe. Nuttige, skaars en waardevolle metale en ander stowwe word verwyder d.m.v. herwinning, terwyl giftige e-afval, soos ou rekenaarskerms(CRT’s) en fluoor-buisligte in spesiale afvalfasiliteite gestort word.
Die prosedures is as volg:
1. Maak eers seker dat alle items afgeskryf en hanteer is volgens die Universiteit se beleid rakende die hantering van oortollige bates.
2. Verwyder al jou data, privaat en werksverwant, van die toestelle. IT is nie verantwoordelik vir die uitvee en rugsteun van data of vir die risiko dat data toeganklik kan wees na wegdoening nie. Jou toestelle moet volledig skoongemaak wees.
2. Kontak Clive Layman op Stellenbosch-kampus, Le Roux Franken by Belpark of Kevin Vermaak op Tygerberg. Moet asseblief nie afval na die IT-afdeling bring voordat daar nie met een van die kontakpersone gereël is nie.
Vir meer inligting: www.ewasa.org
