Kalahari Safari Maart 1991

Kalahari Safari het sowaar geklink na ‘n nuwe opwindende breinkind van die BTK. Min het ons geweet wat vir ons voorlê.

Vrydagaand, 22 Maart, het ons uiteindelik die regte bus gekry en was ons oppad na die rooiduinwêreld. Die singende troebadoers, Eddie en Cornell, het almal uit die slaap gehou. Toe daar uiteindelik stilte neerdaal oor die slapende massa, word ons weer gewek om ‘n heerlike ontbyt te nuttig op die gepaste tyd: drie-uur in die oggend.

Op Upington het ons ‘n bakkie en Coke, wat deur dr Eksteen aan ons geskenk is, opgetel. Met groot opgewondenheid oor wat voorlê, het ons Saterdagoggend op Lentlanspan, die plaas van oom Kotie Burger aangekom.

Met die lendene omgord – sonder ons rugsakke, want dis mos ‘n safari – het ons die sewe kilometer aangepak na die jaghut waar ons die nag geslaap het. Die aand is ons grootste verwagtinge oortref toe ons ‘n weerligskouspel gade geslaan het.

Sondag het almal met hul safari-uitrustings – waterbottels en verkyker – die veld agter Antonie ingevaar op soek na wild. ‘n Paar springbokke en ‘n slang verder het ons die grootste vonds van die dag gemaak: ‘n kleipan!!

Gou-gou was meer as die helfte van die groep vasgevang in ‘n klei-ekstravaganza en Eddie het die maag-gly-beweging vervolmaak na ‘n paar probeerslae.

Laatmiddag het ons die sewe kilometer terug na die plaashuis aangepak en Antonie se probleme met die stadige slotte het begin, maar agterosse kom ook in die kraal.

Watertand het ons uitgesien na die aand se skaapvleis wat deur oom Kotie geskenk is ….

…. en die aand het ons skaap geëet en Coke gedrink.

Maandag se dertig kilometer was geen ligte vooruitsig nie maar met ‘n toerleier wat gereed is vir die ergste, het ons dit sommer gou-gou afgedraf.

Met ons aankoms op Loch Lomond, die plaas van oom Bossie Knoetze het ‘n groot verrassing op ons gewag. ‘n Dam!! Hier kon almal na hartelus baljaar sonder die ekstra bruin kleur van klei.

Met die gasvryheid van ‘n Kalahari-boer het die skaap nie vergete gebly nie ….

…. en die aand het ons skaap geëet en Coke gedrink.

Die sestien kilometer van Dinsdag het soos ‘n nietigheid gelyk na Maandag. Op met die duin en af aan die anderkant en met middagbrood pak almal op die groot duin af waar ons die nag sou slaap.

Deur die loop van die middag het almal ‘n kans gekry om agter-op die bakkie deur die wildkamp te jaag en so in die verbygaan die wild te bewonder. Terug in die kamp, wag ‘n groooooooooooot verrassing op ons. Die Kalahari-boer het vir ons ‘n skaap geskenk….

…. en die aand eet ons skaap en drink ons Coke.

Vróég-oggend is almal verfrissend gewek deur die reën. Gou moes almal spring vir die groot trek na die plaasopstal, twee kilometer daarvandaan.

Hier het almla hul onderbreekte nagrus voorgesit – party natter en kouer as ander.

Donderdag het ons gestap na die Aardpanne waar die bus ons opgelaai het. Agt kilometer voor Uisep is almal weer afgelaai en het die groep rustig langs die Oranjerivier tot by Uisep gestap, waar die braaivleisvure gou gebrand het ….

…. en ons het skaap geëet en Coke gedrink.

Met groot tevredenheid het ons die langpad met die bus aangepak. Alhoewel sommiges daar flouerig uitgesien het, moes ons almal saamstem:

“Ver in die ou Kalahari, daar braai die boere skaap. Gee ons die ou Kalahari, met reën en Coke daarby!!”