Gala 2025

Gala 2025 – Mosselbaai tot Stilbaai

Deur Olivia Liebenberg

Proloog

Daar is iets so uniek aan die einde van ‘n hoofstuk.

Dalk die einde van ‘n seisoen.

Die laaste tree van ‘n jaar.

Hoe spesiaal is dit nie dat daar so ‘n groot groep mense wie dieselfde liefdes deel, daardie laaste paar tree van ‘n jaar saam kan neem.

Dit is die kitaar speel in ‘n kring onder die sterre en die saam sing al ken jy nie eintlik die woorde nie. Dit is die lag-uit-jou-maag oomblikke vir mense wie jy eintlik nog net ‘n oogwink ken.

Hoe uniek is dit nie dat ons skepper elkeen van ons op hierdie oomblik op hierdie plek saam gesit het.

Geniet hierdie gedagte terwyl ek jou terugneem na daardie salige staptoer.

Dag 1: Waar is die Marialle Erasmus?

Ek word Vrydagoggend 21 November om kwart oor vyf wakker met ‘n breë glimlag op my gesig.

Ek wil-wil opgewonde word, want ek weet. Ek weet wat kom.

Na die bymekaarkomplek vir die tweede keer verander sien ek uiteindelik die busse. Hier begin die georganiseerde chaos. Hessie, Jurgens, Tone, Theunie, Elsa en die res van die krat-kolonie neem ook hul sitplekkie in die bus. Selfs die blou yskas verkies hierdie keer padvervoer bo lugvervoer – ek dink dit mag dalk wees as gevolg van vorige trauma – dankie Candice…

Die kringetjie is gemaak en hier kom die belangrikste vraag van die dag: “ Weet iemand waar Marialle Erasmus is?” Toemaar, ons weet sy sou nooit die Gala mis nie, sy wil maar net haar twee jaar streak behou.

Ry nou.

Die stap begin in Mosselbaai en hier geniet ons roosterkoeke en ‘n skiet demonstrasie deur Stefani en Corne. Die sketsskrywer het so lekker gesels sy het eintlik vergeet wat alles tydens die stap gebeur het, toemaar dit was darem net 2.32km. Emile se sy Strava caption gaan wees “ stappie plato toe”. Wat is n gala nou sonder ‘n “frolick” op die strand.

Die kokke is aan die werk vir die skare se gunsteling dis, nachosssss!

Kok Anna-Mart versoek saplose lensies. Hierdie keer gooi Leonard dit binne die pot en nie orals oor kok Rachel se rug nie…Skiet maak oop, grond is gekoop, etenstyd.

So tussen ete word daar nog geskiet. Die volgende oomblik vlieg Liesje verby, Jacobus agterna.

Maar dié se sagte voetjies jaag vir Liesje en hy hoop eintlik niemand hoor hoe kreun hy van die pyn

nie.

Klippies – 1

Jacobus – 0

Items vir die aand word oopgemaak, maar na ‘n traantrekker emosionele ballade van ‘n sterwende bok uitgevoer deur Mnr die voorsitter, is almal veranderd.

Mario en Luigi skrik so groot vir die vreemde Martha-‘like’ dele dat hulle sommer die Italiaans ruil vir ‘n Chinese aksent!

Merkwaardige hekels van die aand:

Blykbaar wil Talitha haar gebrande bene wys.

Waarom vind Ruben ‘n vrou met ‘n mop aanloklik?

Druk Jian sy vinger in almal se monde? Toemaar, Charlize doen dit ook!

Hekels is toe

Nag dames.

Dag 2: Ierland se geelkaarte

Opstaantyd is eintlik eers 06:30, maar 05:45 word daar reeds geswem en in die sonsopkoms gebaljaar.

Veels geluk Izak (de Wet), jy verjaar! Die arme man is so deurmekaar, hy hoop eintlik daar word verwys na sy naamgenoot. Maar nee, voor hy kon oo en aa is daar ‘n kring dames om hom en daarna word hy gepos. Weereens, baie geluk Izak.

Voor ons in die pad val, word die oggend op die regte manier geopen. Oom Jan se woorde van daardie oggend het diep spore in my getrap. Waar lê jou identiteit? Wat laat jy toe om jou identiteit te bepaal?

Ek geniet die eerste paar kilo’s se stap terwyl ek met die Here oor hierdie vrae gesels. Wat ‘n voorreg om Sy skepping te kan verken!

Nes die “deep meaningful conversations” vloei, en ander redelike oppervlakkig en soon-to-be-hekel gesprekke, ego die s-woord tussen die stappers deur.

Daar is geen meer kommer oor ‘n bloublasie nie, nee wat. Sand spat en binne etlike sekondes word spasies in die slee soos fliek kaartjies geboek.12.31 Kilometer later – die einde. Maar wat is ‘n BTK staptoer sonder ‘n ou bus “issue’tjie”.

Parallel park at its finest, but how do you unparallel this?

Wie sou nou dink ‘n byl is ‘n valid paklys item? Die manne vat een vir die span en die dames ruk hul

sangbundels uit vir morele ondersteuning. Vinnig-vinnig is die stappers weer in die bus en oppad na die kampterrein.

Ek neem jou graag terug na daardie salige Saterdagaand, gevul met stokbrood, snoek braai, Springbok truie, kitaar, kaart en klets. Sulke aande is wat vir my die BTK maak. Tye waar die Here se teenwoordigheid so tasbaar is. Ek besef net weer, wat ‘n voorreg!

Carla vertel ons van die deeg dilemma. Die deeg is geblouyskas, of sal ek eerder sê die blouyskas is gedeeg! Ons is tog te dankbaar vir ons kosma en haar span, wie al die winkels in Gouritz se deeg opgekoop het om hierdie stokbrode vir ons moontlik te maak.

Bite Me Grill het nog nooit soveel voete gesien nie, dis amper ekwivalent aan die hoveelheid geelkaarte wat Ierland daardie aand gekry het.

Dankie bokke, ons aand is gemaak. Hou maar jou hekels vir ‘n volgende keer.

Nag dames.

Dag 3: Papsopwinterwaternat

Opstaan opstaan, dis ‘n heerlike dag! Dis vyfuur in die oggend en dit stortreën, maar dankie stokers.

Op sy eie tafel word die koffiekultuur al die pad van Stellenbosch uitgestal. Dis net bialetti, aeropress, french press, brewspoon, you name it!

Sameul verjaar! Maar hierdie keer regtig. Die kring vorm om hom en hy word gepos. Baie geluk Sameul.

Die tente is afgeslaan en die busse is gelaai. Met ‘n kraak in sy stem vra Drian, “umm, is hierdie die damesbus?” Drian, hierdie is nie ‘n laerskool uitstappie nie, klim.

Op die bus bekyk ons die “runway” , waar Marietjie haar “limited edition” Gucci black bag dress vir ons wys. Soos ons weer afklim hoor jy net “hou my bietjie vas, ek kry koud”. Daar word op en af gespring, gedans en gesing en ons is gou-gou opgewarm en gereed vir aksie.

Stap Nou.

Vir die eerste 5km wandel ons op ‘n Jeeptrack en stop onder vir krieket, touchies en sandkastele bou. Ons val weer in die pad en so elke nou en dan hoor jy hoe fluister iemand, wanneer gaan ons middagbroodjies maak? Nog ‘n paar kilos dieper en ek wonder toe self…Daar word gesê wysheid kom met ouderdom, maar ek weet darem nie hoor. Cilliers & Drian – toevallig beide “students of age” – is gekul deur hul eindste maat, Emile, om sy walvisrib vir ‘n hele paar kilos te dra. Dis seker maar hulle vorm van boats & logs.

Na nog heelwat BTK eenhede kom ons uiteindelik tot stilstand. Hier vind ons uit dat die bestuur eintlik die middagbroodjie sakke vergeet het, dus het ons nie gestop vir middagbroodjies nie. But you live and you learn I guess.

Nes ons dag se kilometers tot ‘n einde kom, word skiet oopgemaak. Vandag mag die eerstetoeriste nie skiet nie, maar hul bekyk die oud BTKners se skiettegniek.

By die kampterrein slaan die mans die tente op en die dames begin die middagbroodjie produksie lyn.

Sondag se saligheid val oor ons en daar word kitaar gespeel en gesing. Die eerstetoeriste is hard aan die oefen want toe weet ons almal, maar hulle weet nog nie.

Na ‘n merkwaardige aand in nog 32 eerstetoeriste se lewens word items oopgemaak en vele hekelsvolg.

Merkwaardige hekel van die aand: Wie se enkels wil Marialle byt?

Nag dames.

Dag 4: “Julle kan doen net wat julle wil!”

Geen opstaantyd vanoggend want vandag is die een waarvoor ons nog heel toer wag!

Kyk, hierdie dag is al in jou dagboek nog voor jy jou Ma se verjaarsdag daarin kon skryf. Hierdie is die hoofrede vir geen A3s.

Die koel briesie en die oggend son ontmoet mekaar en ek sit in die stilte op Stilbaai se strand. Oom Jan open vanoggend vir ons en ‘n golf van dankbaarheid tref my. Dankbaar vir mense wie hul stories met my deel, dankbaar vir die Here se kunsprent aan ons en dankbaar vir Sy grootheid.

Na ontbyt volg ‘n BTKaner se heel gunsteling woorde: “Julle kan doen net wat julle wil, maar wees 13:00 terug vir middagete… ”

Tussen die strand en die Seekombuis versprei die stappers. Daar word geswem, geklets en roomys geëet. Na 3 porsies elk van alles wat lekker is moet daar eers ‘n middagslapie ingewerk word. Moeg van niks doen.

Laatmiddag het die tyd vir die legendaries Spikeball toernooi aangebreek. Na vele heen en weer spelle en ‘n tandknersende finaal wen die Huismanne vir die Makkespan! Baie geluk Izak en Willem en welgedaan Jacobus en Jian. Net daar word damesskiet oopgemaak. O jitte en toe is dit omtrent ‘n maraton se hardloop vir elke dame, maar uiteindelik – na so bietjie hulp van die ouens – is elke sitplek in die slee gevul.

Na ‘n volle fotosessie, ‘n sokkie playlist en aandete word items oopgemaak.

Merkwaardige hekels van die aand:

Waarom is Leonard bekommerd oor sy troudag wat nader kom?

Hoekom moet Marialle vir Jian dra?

Vir wie gee Burnette diep kyke tydens items?

Hekels is toe.

Nag dames.

Dag 5: Sirkelroete en die pad na jou hart

Die oggend skop vroeg af want vandag gaan ons Jongensfontein besoek.

Veels geluk, Erin. Indien jy nognie weet nie, jy verjaar vandag.

Dis nog vroegoggend en die weird gesprekke begin al klaar. Die dames verduidelik vir die ouens die ideale huisdans blom rangskikking. Ek is nog al die jare onder die indruk dat die ekwivalent aan blomme vir ‘n ou piesangbrood is, maar Schutte dink anders. Volgens hom is dit ‘n goudvis. Nou ja, ons los dit maar daar.

Sakke op, en ons is aan die stap.

By game break word daar geswem en ons almal is heel verbaas toe Yiasoumi en Michael ‘n vis vang! Dis nou geen goudvis nie, maar Schutte, daar is jou blomme.

Ons stap nou al 5 dae lank by die see maar ek word elke dag van voor af verlief. Verlief op die see briesie, die koue water en die sanderige voete. Ek voel weer kind, so amper asof die Here die strand vir ons as ‘n speelparkie gee.

Skiet word by die mond oopgemaak en die dames laat spat in die water in, dit lyk nes ‘n ironman se opening scene.

Ons is terugverwelkom met middagete voorberei deur sjefs Kobus en JA-cobus.

Ten spyte van al die vuil kyke wat ons gekry het, smul ons aan rondte 2 by die Seekombuis.

Die middag is gevul met koffie, kitaar, spikeball en waatlemoen! Jy weet ‘n spikeball game is ernstig aan die gang as jy hoor “Charlize Theron, jy moet duik!”

Op my eerste toer het ‘n toerouer iets merkwaardig vir my gesê. Hierdie is die eerste en die laaste keer wat presies hierdie groep mense ooit presies hierdie tyd op presies hierdie plek saam gaanspandeer. Elkeen met sy eie storie en sy eie planne. Ons moet dit koester, want so plaas die Here elkeen soos ‘n legkaartstukkie in die prentjie in.

Ons baljaar in die sonsondergang en neem foto’s om die oomblik vas te vang.

Na aandete word ons met roomys bederf – kyk hierdie is nou die ‘pad na my hart’ deel van die titel.

Reuben oefen sy pickup lines, maar ongelukkig val hulle almal onder die top 100 most used pickup lines. Dis ok, Reuben, ons back jou.

Dis tyd vir slee en die items rol!

Kobus en Carla se koejawels los so soet smaak van ‘n blou yskas, maar dié land toe eers in die middel van Konstabel Mentz se troep-oefening.

Die aand raak lank en daar is selfs ‘n paar snorkgeluide vanuit die slee.

Items is toe.

Nag dames.

Dag 6: ‘n Bittersoet einde

En so kom ons by die laaste oggend. Die laaste bietjie seebriese van nog ‘n goeie toer.

Die laaste koffie word gemaak en ‘n veiling van die lost & found items begin. Lepel, t-hemp, iemand se sleesous? Die tente word afgeslaan en die busse gepak. Ons vind toe ook uit dat Ans vandag verjaar! Daar word vir hom gesing, gestamp en gepos. Veels geluk Ans!

Oom Jan open vir ons vir een laaste keer. “Let my teaching fall on you like rain, let my speech settle like dew, let my words fall like rain on tender grass, like gentle showers on young plants” – Deuteronomy 32:2.

Ons stap hier weg met meer as net ‘n ervaring. Ons stap weg met ‘n dieper waardering, met lewenslesse en met die mooi verhaal wat die Here vir ons toelaat om te geniet.

Ons het die voorreg om 3 van ons maters maan toe te stuur. Talitha met 2 toere, Denise met 4 en Guillome met 9 (sy 10de verskyning sal as toerpa wees). Dankie vir die geur wat julle aan die BTK gebring het, julle voetspore het diep getrap. Hier groet ons ook ons toerouers wie saam met ons aan die lawwe pret deelgeneem het. Dankie Oom Jan en Tannie Georgine.

Kyk, jy sou nou dink na 6 dae van stap en son sou daar net geslaap word. Nee wat! Die energie borrel op die busse en daar word dik stories geklets. Ons stop by die Spur vir Terrash en soos altyd, weet hulle regtig nie wat vir hulle wag nie.

Met ‘n merkwaardige 1 minuut, 15 sekondes en 96 milisekondes breek Samuel de Wet die Terrash rekord! ‘n Hele sibling rivalry aangesien dit sy eie broer se rekord was!Ons arriveer die middag weer in Stellenbosch met meer sout in ons hare, sand op ons voete en sonskerm op ons wange.

“Gelukkig is dié wat besef dat hulle God nodig het, want die Koninkryk van die hemel behoort aan hulle. ” Matteus 5:3

Nog ‘n toer is verstreke van die ou BTK.

Lewe lank, lewe lank

Namakwaland 2025

Namakwaland 2025

Deur Hannah Botha

 Proloog 

Dit gaan oor die klein dinge in die lewe, soos kondensmelk op jou vinger, 7:30 in die oggend… in ‘n dam vol waterlelies te bad terwyl die son sak… te skoffel-skoffel in die stof en sand… of doodeenvoudig jou hart in die Namakwaland te verloor…

Dag 1: Afwagting

Die koue van die winter smelt weg, die aanbreek van ‘n nuwe seisoen. Goue, sonstrale strek oor die berge. Ons verlaat Stellenbosch. 6 ure, 468 km, en ‘n leeftyd van moontlike ervarings wat voorlê. Bene is lam gesit, nek seer gele, maar ‘n diep opwinding begin te borrel, want die mooie Namakwaland lê voor.

Na die lang busrit klim ons af by ‘n oulike klip-kerkie in die middel van Kamieskroon- afgeleë, maar nie vergete. Ons is verwelkom deur die kerkbasaar tannies, asook Oom Karl en Tannie Theresa. Hier open ons met gebed en oom Karl lees Psalm 121, wat op die randsteen van die kerkie gegraveer is: “Ek kyk op na die berge; waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die HERE, wat die hemel en aarde gemaak het.”

De Magtige Koning word gesing en ordentlikheids praatjies is gedoen. Jacobus is as slot aangewys, Marietjie as sleutel; vir die dag. Omdat vandag die eerste dag is, stap ons maar net 6 km. Die N7 sit aan ons linkerkant, en ons is omring deur die Namakwaland berge. Die warm son bak op ons gesigte, ‘n voorsmakie van die sonlig wat nog kom.

Op oom Cornelis Genis se plaas word skiet oopgemaak; dis net stof en mense wat hardloop en op een been knieel om die bekende vraag, “sal jy met my slee” te vra. Tente word in die kloof op geslaan; kort voor lank is almal vars “gestort” en liedere soos “Klein Tambotieboom” hang in die lig. Die sonsak brand helder, en die stokers is op hul pos. Kaas is gerasper, uie gesny. Vanaand eet ons nachos en mince; by vere ‘n gunsteling onder die groep!

Ons slee onder die sterre, die maan skyn in al sy glorie – volrond en helder! Slee skop af met SW se bekende “Balade van ‘n Sterwende Bok”, af gedra van generasie tot generasie… (gevolg deur snaakse dooie bok geluide…)

Koppe is verkoop, ouma en oupa maak ‘n verskyning en die pasiente is omtrent siek. Jian side-step al sy hele lewe lank, Jacobus kannie nies sonder om sy heupe los te twerk nie en… Pieter is swanger.

Hekels skop af met Schutte wat aan ons verduidelik hoe om baie mense met een pampoen te voer. Sy pampoenkoekies is beslis gewild onder die honger studente. En ja, ons soek graag die resep.

Talyah merk op dat Marialle eintlik so sterk is soos die average man. Martin spog oor sy ma wat ‘n “bombas” is.. Sy vat vas in die kombuis. Guillaume “strip”, net sy een been… ek bedoel, hy sukkel op sy broekspyp af te zip, en natuurlik word Marialle hieroor gehekel. En ons kannie vergeet van Jacques se bekende trademark nie… Hy is eintlik ‘n “bouncer by night, charmer by day.”  Alle grappies op ‘n stokkie.

Die aandlied word gesing, “Grote God wat altyd waak. O, beskerm my deur U almag…”  Slee behoort aan die mans, almal sien uit na ‘n goeie nag se rus.

Dag 2: Bitter-Soet

Voordat die stokers sing besluit ons om Bybel te lees en in die Here se sterk stilte te sit. Op ʼn rots sit ons, en kyk uit oor die vallei. Die vars oggend lug en gesuis van die stofies gee ons nuwe krag om die lang dag aan te pak. BTK pap, kondensmelk koffie en beskuit, is maar net van die klein dinge wat aan ons vreugde verskaf. Vir die mans, is orige lensies en mince nog meer van ‘n bederf…

Talitha verjaar vandag! Vrolik en opgewonde, neem sy elke oomblik van die verjaarsdaglied in en vertel trots dat sy vanoggend haar “birthday glow,” dra.

Vandag se stap skop af met ‘n paar stywe bulte. “Hierdie bult gaan ons hella boude gee,” merk Jacobus op. Buiten dit, brand ons kuite ook… Maar, man is man, ons vat vas en durf die rots aan – huig en snik na asem. Tree vir tree, al moet ‘n man ons dames van agter af stoot. Op verskeie plekke van ons 400 m klim droom ons oor ‘n yskoue bier en ‘n jakuzi wat uitkyk oor die vallei.

Dis uiteindelik game break op die bokant van die rots, en ‘n tevredenheid spoel oor ons. Die wit vlinders dans om ons en ons kyk terug om te sien hoe ver ons al geklim het.

Na ons “seven stages of grief”, is dit “suns out, bu… guns out,” en die peak van human performance (minder bekend as Frederick Botha), stel voor dat as ons val “val ons aan”. Dat sulke wysheid eendag tot niet moet gaan.

Ons stap in die kloof in, om oor middagete ‘n seil neer te lê en middag broodjies te eet. ‘n Sagte sny witbrood, roomkaas, en vyf snye salami… Dit se genoeg. Diep vreugde.

Nog broodjies word gesmeer met peanut butter en kondensmelk. Magies vol, ogies toe. Salig lê ons onder ‘n boom se skaduwee. Omring deur skakerings van geel-goud en oranje. ‘n Koel, sagte windjie koel ons af en die gefluit van ‘n voëltjie sorg vir ‘n goeie middag slapie.

“Sakke op” en ons stap weer verder. Ons leer Portugees, praat oor ons drome en lag oor die eenvoud van die lewe. Die son bak warm op ons skouers, enkele bye bestuig die helder blommetjies wat ons omring. Aanvanklik luister ons net na hul soet, monotone gesang, maar die kalm bars binne oomblikke wanneer ‘n voet onverwags die korf tref. Ons is omsingel met ‘n storm vlerke, angels en paniek. Brandpyn waar die bye ons steek. Vinnig probeer ons na veiligheid hardloop, en is ontmoet met Allergex en game om te kalmeer en die angels versigtig te verwyder.

Nog so ‘n paar BTK eenhede en ons arriveer by ons slaapplek vir die aand. Na die chaos van die middag  besef die Botha boeties hul tent het iewers langs die pad weggeraak. Hoopvol pak hulle die berg weer aan.

Met geen lopende water nie, maar ‘n groot dam vol waterlelies hoop ons maar dat die water-suiwerings tablette hul werk doen. Tente word in die oop veld opgeslaan, en ‘n verfrissende bad in die dam sorg dat ons skoon en vars voel na die dag se stap.

Na 600 m se klim en 40 minute se soektog, kom die Botha boeties uiteindelik, kort voor donker, by die kamp aan. Verlig en dankbaar. Almal is klaar gebad en skoon, die stokers se stofies suis alweer.

Daar is net nog “1 uur, 20 minute en eitlike sekondes…” Intussen staar ons in bewondering op na die sterrestel en maan verduistering- bloedrooi en volrond.

Tydens aandete kan SW nie genoeg beklemtoon hoe werklik dankbaar hy is dat die knoffel gebruik word nie. Die “hot girl walk” van vandag het meestal bestaan uit knoffel deur die manne se sake ruik. Kehan se 10 jaaroue whiskey is darem meer as genoeg om “die edge” af te vat, terwyl ons in afwagting uit sien na Pesto en Sundried Tomato Pasta. Soos die kokke pasta skep, pak die kosgroepies af oor die dag. Dis ongelukkig weer “roast Talitha tyd”  in die Sewejaartjies groepie en SW probeer weer matchmaker speel met Kyan-ti en Ke-han (want hulle name is blykbaar baie eenders). SW se pogings is nie suksesvol nie.

Theuns Jordaan sing vir Demi Levato, “what a power couple”. ‘n Tap danser sonder ritme vlei vir Money Money Mister Crabs. Die Arabier, sonder ‘n toon, vind liefde in ‘n slap tjippie. Jacobus-en-Pieter-se-alter ego raak beste maats met die Hoender met asma, en ou Liewe Heksie, of wel, Stoute Heksie, wil ‘n sigaret koop, maar vind liefde in die winkeleienaar…

Wat items betref kyk almal stuk-stuk Blou-Yskas. Niemand onthou eintlik enige iets verder nie, tussen die gesnork en ligte gape- aanduiding van ‘n lang rowwe dag se stap.

Hekels maak oop en edelagbare oom Karl is gevra wat Marialle bedoel het toe sy se, “Ek boer in Eendrag.”

“Dit is wat dit is…”. Iemand wonder, “Hoe was die oes?”. *stilte*

Ons bevestig dat Fred bekend staan as die Peak of Male performance (ug uhm, dankie Muller vir daardie opmerking…)

SW verduidelik aan ons hoe om na 10, 20, 30, 40 jaar verlief te bly, “Jy raak net weer en weer verlief.”

Martin spog liggies oor sy glutes wat “unmatched” is, en Marialle se voet-fetish, wel, kom ons se maar net, “Moenie haar kwaad maak nie, want anders byt sy jou tone…”

Edelagbare oom Karl, ons is almal baie moeg, hekels moet nou maar toemaak sodat ons net kan gaan slaap…

Dag 3: ‘n Meisie op jou “hande” dra

Dagbreek en ons proe klaar die warm, sterk koffie. “Pampoen” en “My Hartjie my Liefie” weergalm deur die vroeë oggend lig. BTK pap en swart koffie in bialetties, filters en aeropresses word aangemaak en gedeel. SW het alweer iets te se oor “die Bothas” wat nie boundaries het nie…

Tente word afgeslaan, waterdraers maak hulle papsakke vol, sonroom is gesmeer en hare word in ‘n treintjie gevleg. Jacobus vleg Carla se hare, Carla vleg Hannah se hare, ‘n kombinasie van Duitse- en Fransevlegsels.

Bucket hat secured, shades aan, sonbrandroom gesmeer en vandag verjaar Kobus “money, money” van der Westhuizen! “Yass queen, today is your day,” a classic Kobus one-liner.

Ons “slay-day” begin met ‘n lekker stappie tot by die oorblyfsels van die oorspronklike Kamieskroon kerkie. Blykbaar, eers nadat hulle die kerkie gebou het, en die dorpie probeer vestig het, het hulle besef die stuk grond is te klein vir ‘n hele dorp, en begin toe êrens anders bou. Spieëlkop kan nog van hier af gesien word, en ons staar in bewondering op na die res van die bergreeks wat ons omring.

Van die historiese oorblyfsels dra die manne ons dames op hul rûe om dorings te vermy en veilig weer by ons sitplek onder die boom te kom. Hier word skiet oop gemaak in die stof en sand. Eers dink ons, mense word weer deur bye gejaag (mmm, bietjie PTSD na gister se “insident”), maar besef vinnig dat dames-skiet oopgemaak is. Carla gee nie eers vir SW ‘n sekonde se kans om weg te hardloop nie, voordat sy hom vinnig in ‘n hoek druk en vra, “sal jy met my slee…” Marialle “COMMIT!!!” en hardloop heen en weer, in sirkels, om vir Muller te vang.

En toe, die oomblik waarvoor ons almal uitsien… ‘n Afkoel- en haarwas sessie in die dam, tuna en mayo broodjies eet ons onder ‘n seil (een man per stapstok-poot),  en stilte… Of wel, 11 minute en 41 sekondes van stilte- ‘n rekordtyd vir Marialle. Gustav gaan op ‘n “soul-searching” avontuur en bederf ons meisies met blomme, “what a lad”, hy vlei ons. Tip nommer een, manne: dis nie so moeilik om ‘n meisie se hart te wen nie, dis die klein goed wat raakgesien word… Kyanti soek graag ‘n aandeel in Muller, en Muller vang nie die “hint” nie. Hy soek eerder graag ‘n aandeel in Fred se oormaat geblikte pilchards en tamatiesous.

Na middagete durf ons weer die hitte aan, maar nie voordat ons, ons quick-dry handdoekies nat maak en soos Shaylas om ons koppe bind nie (soos ʼn serp om ons gesigte gevou) – ‘n stukkie Midde Ooste hier in die Namakwaland.

Dis net berge en blomme en kunstenaars. Ons sing. Ons dans. Ukelele. Bekfluitjie. Engelstemme.

En wanneer die dag lank word, weet ‘n BTK-man hoe om ‘n meisie op sy “hande” te dra. Sonder moeite dra Schutte, letterlik, vir Ingrid op sy skouers (ter selfde tyd dra hy ook sy Stoorman-rugsak!). Tip nommer twee, manne: “die ekstra moeite is altyd die moeite werd”…

Ons slaan tent op tussen skakerings van helder geel en oranje blomme. Die riviertjie is opgedroog, maar die dames maak steeds mooi… want vanaand is dameskiet.

Die son het ons wange rooi gekleur- natuurlike blos. Ons lippies- glans warmrooi van ”Juicy Bomb”. Rooi nekdoekies is soos kopbande gebind, reg om die oomblik in fotos vas te vang, terwyl die daglig sy laaste asem uitblaas. ‘n Sielsrus hang in die koel aandlug. Vanaand sien ons die melkweg en ‘n sterrestel wat ons herinner aan die Here se beloftes. Matthys speel kitaar, ons sing saam, “Bless the LORD oh my soul, we’ll worship His Holy Name.”

“Talitha, vertel ons ‘n storie!” ‘n gewilde opmerking onder ons groep. En so word Switserland se stories vertel oor ‘n oorvol bakkie Alles-Wat-Lekker-Is… Biltong, chutney, rys en kips! Gevolg deur die geliefde Beertjie Poeding- ryk en romerige sjokolade poeding met Biscoff koekies.

Vanaand se slee is afgeskop met “Hans en Mans”. Muller (Hans) proe die vrot vis en is verskrik deur ‘n mondvol sand. ‘n Wille tweeling (Talyah en Marialle) skop en skree vir Princess en Rainbow gegeurde roomys, terwyl hulle hang op die “2 suckers op ‘n stick”. “The Jills” bring nog meer vermaaktheid, toe “Little Joe” shot, shot, shot, shot, shoshotttt is… in haar houtbeen. Flip, Flippert, Frik, Frikkert (watookal sy naam was) sit vas in meneer Fourie se drankwinkel, hy rook ‘n lekker sigaret en suip Amarula tot die vroeë oggend ure…  “Edelagbare oom Karl” sonder konteks:

“Wat het Jian bedoel toe hy vir Stefani ‘n vet vark genoem het? Of toe hy vir Kobus se om te dink aan ‘n zyn in sy mond sit wanneer hy De Magtige koning sing?”

“Ek soek ‘n aandeel in Muller…”

“Ek dink jy het genoeg geëet.” (Daar’s geen tuna in die sewejaartjies groepie nie, net BEEF…)

En so kom nog ‘n heerlike aand in die Namakwaland tot ‘n einde. “Dan lê ek my rustig neer, dood of hel sal ek nie vrees nie, want U is my Rotssteen Heer.”

Dag 4: Lofprys aan Hom

‘n Vroegoggend vuurtjie brand, en die son begin stadig oor die berge loer. Ons sit, knus toegedraai in ons slaapsakke, en staar in bewondering uit na die berge wat ons omring. Stokers se lofliedere “loof Hom, prys Hom Hallelujah”, hang salig in die lig. Tente word opgepak, en ‘n ligte mis trek oor ons toe. Hare word weer gevleg en Bobby van Jaarsveld, One Direction, Mamma Mia classics en golden oldies soos Toto speel oor Kyanti se luidspreker.

Tannie Theresa lees uit Psalm 33, “Dank die Here met begeleiding van liere, besing Hom met tiensnarige harpe. Sing vir Hom ‘n nuwe lied; speel mooi snaarinstrumente met uitroepe van vreugde.”- ‘n Vooruitspelling van die gesang en dreuning van die bokant van die heuwel. Sonder sakke stap ons ‘n sirkel roete tot bo op ‘n koppie waar Marialle ukelele speel en sing, en ons volg. So ook volg die motreën en ‘n koel, verfrissende wind- die Here is hier teenwoordig…

“Sakke op,” is geroep nadat ons waterbottels volmaak; en die grondpad word weer aangedurf. Ons stap in die stof, en die son maak weer sy verskyning. Dit bak warm op ons gesigte, terwyl ons jolig gesels oor ons liefde vir piesangbrood en ‘n biertjie. Game break- en ons stop om te rus onder ‘n brug. Uiteindelik bietjie skaduwee.

Die speaker word weer aangesit en ons skoffel-skoffel op Afrikaanse musiek in die stof en sand. Kinderlik opgewonde en tevrede – dis so maklik om Stellenbosch studente gelukkig te maak! Pretzels en grondboontjie botter, nartjies en yskoue, soet game, “Dit is FINOMINAAALLL (in growwe-mansstem)” merk Marialle op. Ons stap verder om in die dam op oom Cornelis Genis se plaas te swem en middagbroodjies te geniet.

Skiet is oopgemaak voordat ons eet. Frederick hardloop agter Karla aan. Met die duikslag eindig sy broek op sy enkels.. SW jaag vir Kyanti, hulle swem vir ‘n paar minute net in sirkels totdat hy haar vang… En Marietjie, sy is “oor-it” en besluit om op haar stoel te bly sit wanneer Jacobus haar vra of sy al geskiet is…

Afkoel in die dam, middagslapie op die syl, Provitas met tuna en mayo, peanut butter en jam… Dis tog te lekker om aan niks anders te dink as, “watter ander weird kombinasie kan ek op Provita eet.”

Ek leer by die Daisies oor die “Hikersdownfall cocktail”, wat beslis ‘n resep is wat op volgende toere benut moet word:

  • 100 mL Bugu Brandewyn
  • Mango & Pineapple flow electrolytes (meng dit eers by die brandewyn, en wanneer dit ophou borrel kan jy die ander bestandele bygooi)
  • 3 x scoops Game (nartjie)
  • 500 mL water

Met nog so kilometer om te stap voordat ons by ons slaapplek kom vir die aand, trek ons crocs en plakkies aan en stap die laaste stukkie grondpad. Vinnig verander die grondpad in ‘n krieketveld. Pieter se stapskoen word die kolf, Jacobus bowl, en Carla bat net sesse. Wolke stof dans om ons voete terwyl ons lag en agter die bal aanhardloop.

En natuurlik, die bekende DTF (Down to Frolick) moes ‘n verskyning maak. Kobus se Amarula word diep waardeer, en die icy zoos word vinnig opgeëet. Die son sak stadig, die veld gloei in pienk en oranje. SW verras ons met bier en skaaptjoppies – ‘n beantwoorde gebed van vroeër vanmiddag. Vuur is weer aangesteek en ons kuier lekker terwyl die kokke op hul poste is.

Vanaand eet ons mieliepap, smoor en wors. Pieter maak pap soos ‘n swart vrou in Zambia – ervare, ‘n ou hand met die houtlepel. Tussen die lag, stories en eenvoudige kos, besef ons dit is ons laaste aand op toer.

“Let’s get the slay on the way,” roep Kobus (“Money Money”), sy mond nog vol taai malvalekker terwyl hy nog aan ’n “s’more” kou. Vanaand maak ons die laaste van ons sleelekkers en -sous klaar. Amarula en vla – hoogs underrated, timtams en sparkling water, en ‘n “Bless Aeropress”  warm koppie swart koffie sorg vir ‘n lekker slee vanaand.

Vanaand se Items:

Talitha is switched on by the Imbiscles and Capitan. Agnes deo is ‘n “Must, so hier is ons om te sing…”. Jian en Jakes maak “4” .

Troepe hou ons op die punt van ons stoele… “Hier kom ‘n “trop” mansmense”. Die “Money Money” hond “waf waf” net heeltyd. Een troep se ma is oorlede terwyl sy haar seun se khaki hemp was, “tra-jic”. “Hoekom khaki hy in sy hemp,”- Troep Botha. Troep Botha se ma is toe oorlede toe die kunsmis in haar koek ontplof, ‘n herbal-life is toe nou nie die play nie. En troep van der Westhuizen se broek skeur… Sersant lei nou nog aan PTSD…

Maar, die hoogtepunt, of wel hoofpyn punt, van die items, was Salome. SW sing saam. Nekdoekies is op die kop en om die nek gebind. Marietjie nies, headbutt vir Marialle, sy val voorentoe, en “domino-e” nog drie meisies… en ja, Marialle het die volgende oggend met ‘n hoofpyn en ligte concussion wakker geword…

“Cinema” volg, met die liefdes-stryd tussen Talitha en Fred, met ‘n kwaai Kobus en Pieter tussen die twee.

In die 6-Botha item roep Fred (pappie), “Mmm, uhm, uhm, Pappie bly net hier, Pappie was al by baie begrafnisse gewees,” uit wanneer Carla (mammie) nie meer in die prentjie is nie…

Schalk Willemina en Jianina “debrief” alweer oor die afgelope staptoer, elk met ‘n Plato koffietjie in die hand. Hierdie BTK-meisies “loveee” ‘n stukkie Nivea room en ‘n crop-top. “Vriendin, daar was nooit water nie… en dan verwag hulle dat ons stilstande water drink, imagine that…”

Edelagbare oom Karl…

Schutte: “Volgende maak ek hom reg… (Beduie na Pieter)”.  Drakensberge 2025 bewys dat Schutte eintlik enige wilde perd kan mak maak…

Fred: “Muller, jy het mooi nipples…”. Eintlik, Fred het gese, “rooi”, nie mooi nie…

Guillome: “When nature calls, and it’s a missed call…”. Dankie tog hy het verwys na Stefan se pastei-storie!

Andrew: “Sit jou arms om my Jakes…”. Wel, “dis een manier om te vra dat iemand jou rug knak”…

Pieter: “Gee my 2 Melbrows, 12 jaar en ‘n Henessey, dan sing ek hom vir jou…”. Geen konteks, dis maar net

Pieter…

Toermaters, so kom ons laaste aand tot ‘n einde… “Hoed my as ek my gaan neerlê, Grote God wat altyd waak…”

Dag 5: die Namakwa-vlaktes

Mis hang vanoggend laag. ‘n Vuurtjie knetter in die duisternis, en die stokers se liedere vul die lug met vreugde en soetheid. “And then I saw her face, now I’m a believer,” en “Sweet Caroline” bring aan ons genot; die beste wekker na ‘n goeie nag se rus.

Vanoggend leer ons van die THAT (Talitha se Handboek van die Afrikaanse Taal) terwyl ons ontbyt eet. Sy verduidelik aan ons wat grievels is, “die dun stukkies beskuit of koffie aan die onderkant van die koppie, wat absoluut noodsaaklik is om te meng.”

Vir oulaas word tente gesak, en die ligte motreën begin val. Dames kamp is verras met ‘n stroom water wat van die middel van die kamp af begin vloei. ‘n Pyp is raakgeslaan met die tent-op-slaan, en toe Nikoali die tentpen uittrek, is dit net water wat volg. Vinnig skarrel ons om tente te skuif. Die manne spring vinnig in, en die situasie is binne minute onder beheer. Almal ontspan, en die meisies besluit dis weer tyd vir bietjie musiek… kort voor lank dreun Vrystaat Vlaktes oor die luidspreker, en Naude vra vir Laurika om te dans. So in die stof – ‘n prentjie van genot en vreugde!

In vanoggend se stiltetyd lees oom Karl vir ons uit Spreuke 12: “Daar is skinderpraatjies wat soos dolksteke is, maar die tong van wyses is ‘n geneesmiddel.” (AFR20 Bybelapp)

SW gee sy laaste toespraak as voorsitter en oorhandig sy walkie-talkie en medicsakkie aan Jian Slabber- “die BTK is in bekwame hande.” So word Jacques Robbertze, Hannah Botha, SW Zeeman, Chris-Marie Olivier en Pieter Botha maan toe gestuur.

“Stap so veel as wat jy kan,”

“Kom terug as jy kan,”

“Natuur genees dele van jou hart wat jy nie weet is seer nie,”

“Hier ontmoet jy lewenslange, hartsmense,”

“Dis die Here, Sy mense, en Sy skepping…”

Dis nou SW se beurt om te verjaar. Ons serenade vir SW; bietjie vals, maar uit volle bors met ‘n oorvloed van dankbaarheid vir alles wat hy vir die BTK beteken. Die manne tel tot drie… en SW vlieg deur die lug…

“En ons hardloop in die veld in”… nog 4km se stap en ons eindig weer by die kerkbasaar op Kamieskroon. Hier tel die bus ons op, pannekoek in die een hand, ‘n jaffel in die ander- en route tot Terrash.

In Piketberg stop ons vir Terrash. Die eerste toeriste is almal op hulle plekke, reg vir die kompetisie. “Roeiers, roei..” Na bietjie meer as 2 minute is Reuben se tjips, uieringe en burger opgeeet. Heinrich is kort op sy hakke, Gustav en Danie, nie te ver agter nie. Ons klim weer op die bus, om die laaste 114 km, tot in Stellenbosch, te ry…

“Ek het my hart verloor

Langs ‘n stofpad in die Namakwa waar die

Vlaktes en berge toor

En van vreemdelinge hoofkarakters maak

Sal jy verder skryf aan hierdie storie saam met my?

Jou hart verloor langs ‘n stofpad in die Namakwa”

En so is nog ‘n toer verstreke. Die ou lede maak klaar, en die nuwe tree nou in. Ons kyk terug oor die afgelope 5 dae, en kan bevestig, dit is wel die “klein goed” wat die lewe net soveel soeter maak. Eerste lig na ‘n goeie nagrus, soetheid van die wraak na ‘n lang dag se stap, hare was in die dam oor middagete, kondensmelk koffie en Ouma beskuit,  en sing-sing en dans-dans deur die Namakwaland saam met vreemdelinge, nou vriende…

Met trots, en ‘n oorvloed van dankbaarheid vir drie van die bestes, se ek vir nou “totsiens, lewe lank, lewe lank, BTK.”

Hantamberge 2025

Hantamberge

Deur Inge Botes

dag 1

“moenie verslaap soos Willem Breytenbach nie.” 

het SW se toerskyfies beveel 

“dan hoef ons nie vir jou te wag nie.” 

en geen tyd innie Hantam word gesteel 

nostalgie wat die Neelsie versier

want ou vriende omhels met plesier 

en nuwes trap onseker rond

vir die wraak? of die Noord-Kaapse kouefront? 

die bus: ‘n rumoer, lawaai, makietie as jy wil

maar na die Karoo-drumpel sommer tjoepstil

en só sluk die eenvoud 60 van ons in 

of was dit bloot leër blase na Clanwilliam? 

ons eet chiprolls, granola bars, continental buns

in klipwerf groet ons die hendrikse en oom hans

en ons laai ons woolies sakkie innie bakkie

en kry ‘n rooi mussie uit die bussie

en hou kring-geselsies oor ordentlik wees

oor die bestuur wat ons diepslee vrees

gou verlig deur vals gelag en dan geskreeu 

en chaotiese gesang van De Machtige Koning se Leeuw 

Jakes en Bianca is aangewys as slot en grendel 

en Jurie is genooi, hy mag maar agterna drentel

sandsteen-skalie-skapie-stappie

is dag 1 se 2 kilometer-proehappie

grasperk tentopslaan en lensies week vir nachos 

en skiet oopmaak met ons mage vol kos 

kosma bederf ons met nuwe Meksikaanse spesery 

en ons arme Nederlander het buikpyn gekry

ballade van ‘n sterwende bok, was soos altyd, bok 

Petrus & Philip het koppe se punchline opge-

mors

die Jills het vergeet dat die Indiane hulle jaag

Mario & Luigi skat nog steeds vir Maria laag 

edel agbare Oom Hans

hoekom sê Bertus sy verloofde praat te veel

en waarom ken Laurika die inhoud van Jian se koshuiskas

lyk ons rooi mussies regtig soos puisies op die Karoo-gesig

laat die toerpa nou op roekelose sê-goed ondersoek inrig

toemaar liefie, ek like it, het Bertus verduidelik

Jian is my kêrel se kamermaat, sê Laurika, dis onvermydelik! 

“dit is wat dit is” het Inge oor die mussies verklaar

min om nog te sê is daar 

en SW parafeer die dag met sy unieke voorsittermerk

met die geheime bestanddeel wat ‘n wintertoer laat werk

opstaantyd more is 8 uur, en toe sê hy vir die dames nag

maar dis dan 10 ure se slaap! is die BTK nou sag? 

die kort antwoord en reine waarheid is nee

want later bad ons in ys en vergader in minus temperature vir slee!

dag 2

nou ja, die stokers sou eers 8 uur sing

maar vir Petrus was dit ‘n onnodige ding 

die Kkkaroo-kkkoue het hom beetgekkkry 

toe staan hy maar vieruur op om frostbite te vermei 

en gooi ‘n paar houte op gisteraand se vuur

man-alleen, met die perde, het hy die donker verduur 

“bobbejaan klim die berg” het die res van ons genooi

na die winter wonderland in ys getooi 

die gevries glinsterend soos verloofringe in die son

vroeg het die dames gedink aan hulle dag wat kom 

Dorothy, hemelshoog verskiet, sál lekker verjaar

as Lize en Marlize net asseblief hulle tent kan afslaan 

toerpa het ons siele die oggend bedien

met ‘n kleurvolle vertaling van psalm sestien

smeer sonblok, hidreer en trek jou skoene uit

het die voorsittersfluitjie op ons gefluit

só begin ons stap, maar hou gamebreak met die beginpunt nog in sig

daar, daar BTKaners, hierdie wille bulte sal jou nou jou knieë laat lig 

en daardie middag het ons sleeptong na elektroliete gesmag 

en Thommedaris besluit om sy kosgroepie te laat lag 

hy sluk die salami water soos stroop 

en trek sy gesig in ‘n Europese knoop

“dit smaak SAUT” het hy gesê 

en gevra of ons ook daarvan wil hê

ná middagete maak SW skiet oop 

die dames góói hul sakke af en laat loop

veral Marlize wat van Jian probeer wegkom 

en toe hardloop sy reguit vas in Thom 

die Nederlander wou nog vra of sy sal slee

en toe is die Hopefielder al op sy knieë

ons bestemming was ‘n knus baksteenhuis

die dames sug van verligting en die ouens bal ‘n vuis

want die ander kry kaggel en dié buite se gevries

en die manne mag nie kla nie, want hulle het hierdie toer gekies

die bruidegom-son dans die daglig minder

en groet die geliefkoosde mense-kinders

sodat die sukkulente veld weer more kan glinster.

voor pikdonker kom ‘n vent na sy stokerkring

en wys vir ons ‘n skrikwekkende ding:

sy hemp was oor sy tent gegooi

en binne minute trek dit nie meer plooi

onbeweeglik gevries maak sy hemp ons bang

want dit het dan netnou nog aan sy bolyf gehang

bacon pesto pasta gekook uit die boonste rakke 

die ouens lus vir seconds met die dames kort op hul hakke

vir oulaas vlieg Bertus & Danielle as bejaardes met hul blou yskas

terwyl Hans en Mans nog in ons agterkop raas

die ice kleam man het als behalwe kaas, stroopwafel en stompot geure

en Carla-skat bel vir Jian-lief huistoe, met baie goeie rede? 

sy bou legkaart maar van Kellogs-pap

en party slaap in dié item want hulle is moeg gestap 

Mialize en Marlo lei ‘n koor wat graag op die verhoog wil wees

van ‘n atleet tot skrynwerker en vrou wat ‘n maatband lees

tot ‘n ballerina, verkeersbeampte en een wat wasgoed was

só het elkeen se beweging by die ander ingepas

‘n deur gaan oop, een bestuur en dan ‘n karate man

maar dan tuimel almal inmekaar met die laaste een se pannekoekpan

onse voorsitter was omtrent alleen gehekel

SW, ons vra jou pleinweg, wat? 

wat meen jy, dit moet nou jou lippe slat? 

ons dog nog ons droom 

toe jy sê Laurika is jou persoon

“maak vol wat lieg is, maak lieg wat vol is” 

en sy verduideliking sit ma’ ook die pot mis

“ek was in Worcester op skool, oukei.” 

toe laat ons maar “wees net intelligent” gly 

toe is hekels toe en ons moet almal wakker maak

wat van Biscoff-kondensmelk-sugarcrashes slaap

“hoed my as ek my gaan neerlê” 

en die manne het dit bedoel

want buite, in hul tentjies, was die aand effens koel. 

dag 3

PAM, PAM, PAM

Gaan die stokersang

Vroeg va’môre aan

Sweet caroline kry sommer haar dagsak

Om met geesdrif die sirkelroete aan te pak

Ons stap al langs die Hantam-plato

Eet, kyk uit oor Calvinia en sit-sit so

Ons bene was teen gamebreak al moeë

Want vroeg vanoggend rondom tien

Is die perfekte geleentheid vir skiet oopmaak gesien

En ons maermerries is oop 

Want ons moet deur doringbosse loop

En die Vriendinne probeer hul frustrasies verwoord

Want dis dag drie en ons eet alweer brood

Teen half vyf klaar en ons was ons gewonde lyf 

In ‘n halfmas stukkie stroom waarin die ys nog dryf

Romerige hoender cous-cous is gestook 

En die eerstetoeriste koes-koes ook: 

Iewers is daar wraakvuur, want hier trek rook

Toe skoutyd kom, was almal verstom

Die storie het net begin rol

Toe Putin almal wegbom

“dis te kort” het die ou toeriste gehuil

Toe doen hulle dit weer, maar moes karakters ruil 

Dit was ‘n romans tussen Barbie en Ken 

Gebaseer op ‘n grappie, onderbreek deur ‘n draffie 

Van ‘n  skaap met Burnt tights en Mountain Dew se paashaas

En toe hou die paartjie troue vir oulaas

Maar die dronk seerower wil dit stop

En In Cinderella se hart het Ken se naam geklop

En voor ons kon uitmaak wat aangaan, het ‘n bottle JC le Roux gepop

Ken en Cinderella het toe elope

Om met koue voete teenoor Barbie te cope

Cinderella kry geen silwer slipper, net ‘n plakkie

En die spoedkamera rapporteur steeds hierdie verhouding kannie waggie 

‘n sleutel, koue wind en powerpuff girl

Was ook in die storielyn ingedril 

Met items lees Lize uit haar Oumie se lewensboek 

En die bui word bederf deur almal wat die gedroggie besoek 

Stefan eet alweer ‘n vrot hoenderpastei

En moes met groot ongemak in sy ou bakkie ry

Die eerstetoeris manne het die dag se sirkelroete herhaal

Toe hulle in hul demonstrasie van veldties vang verdwaal

Jayden, sy vriend en sy Zef-week brille

Veroorsaak weer historiese gille 

Not all that glitters is gold, moes hulle besin 

… en dit sluit trompet-toilette in

Philip die pasiënt kry hoofpyn en buikpyn van ‘n ander kaliber

Hoespoepie-hondsdolheid-disco vinger

Gejik, gekrap, en Seesterretjie geïnfekteerde oor 

En hardloop weg voor hy nog van swangerskap moet hoor. 

dag 4

my nooi-in-‘n-naartjie-oranje en appelkoos

is hoe die son die skaam Karoo-oggend laat bloos

sal jy my by die Suiderkruis in die hemelruim kan kry

is die Red Sheep lirieke aan die dageraad gewy

my-nooi-in-‘n-naartjie-oranje het die vuur ook buite gebrand

sodat die dames uit die huis sal kom na die winterwonderland

bossies lemmetjiegroen, mint en bewolkte-dag-grys

só het die platobioom haar skoonheid vir ons gewys

dis Wifey Wednesday by die BTK 

man is man, waarvoor meer sal ons vra? 

ons het die Hantam se hoogste piek geklim

en oor die tempo van ons Stellenbosch lewens besin 

toe maak al die groepies hulle sjokolades oop 

en met verhoogde bloedsuiker stap ons vlink voort

tuna het ons aan gesmul by rotse van ‘n hawemuursoort

daarna 2 sentimeter dik grondboontjiebotterbrood

met afwaarts klim het die manne gedebatteer:

oor die onderwerp van die eeu kon hulle my leer

die vraag was: aeropress of bialetti?

met soveel argumente dat ekkie weet hoe ek dit hettie

die laaste lig het die Hantam weer in appelkoos bedek

en so betree ons die laaste kilo’s op ‘n plat jeep track 

met die laat stap is damesskiet gekanselleer

maar min verstaaan en skiet sommer twee keer

eers jaag sy hom, maar toe draai die rolle om

en ons is herlaai met ‘drenalien voor die eindstreep kom 

vinnig kry onse voorsitter sommer baie lekker

want toe gooi niemand hul rugsak op die trekker 

in die donker nag stap Laurika en Inge voor 

en die engelkoor wat hul toe hoor laat hul stop in hul spoor

so twee-honderd meter en ‘n bietjie terug 

flikker teen bergsilhouette net kopflitslig

met geesdriftige vertel van stories oor die dag 

is dit ‘n hemelse klank van stap en skaterlag

ons raak toe stil en eenvoudig bewoë

ligdraers op die berge: lewend voor ons oë

by Oom Francois se plaas kom ons aan half-ag 

met hooibaal-sitplek, sirkustent en braaivleisvuur wat wag

skaaptjops, wors, sheba en pap is verslind

en ons kon selfs ‘n gaatjie vir karamelpoeding vind

kan jy glo? ná die driegangmaaltyd se gevreet

het Sigaret die hond (Philip) in sy binneste geweet

van iets op die spyskaart wat hy nog steeds wil eet

so tydens troepe kry hy sommer Sersant Slabber se boud beet

“lyk dit of ek lag” het Slabber vir van Zyl gevra

en hulle albei moes hul pose hou want toe sê van Zyl “ja” 

verder het die items as volg geloop: 

meneer, wanneer maak jou bottelstoor dan oop? 

ja, nee, nee, ja, nee, nee, ja-nee

“pappie bly net hier” en toe’s ons omtrent klaar geslee

vir hekels wil Jakes by SW hoor

wat het hy bedoel met “net een kilo oor?” 

en Philip sal seker vir lank in sy lewe onthou

dat as sy jou voethare liefhet, is sy jou trouvrou

dag 5 

Marlo en Petrus gesels sesuur die oggend sommer baie lekke

en die dames hoor elke woord van hul kampvuurgesprekke

hulle praat die plaas wakker dat die skape en bokke begin blêr 

en later is dit nie eers nodig vir die stokers se sêr 

ons eet ribbetjies vir ontbyt en Mialize het regtig verjaar

toe ‘n sirkelroete tussen ses en veertien kilo’s ingevaar

ag, Oom Francois en sy lieflinghond Daisy

ons kan nie genoeg van sy stories kry nie

van kurktrekkers, aardvarkspore en korsmos

verwonder ons almal meer ‘n plein Karoo-bos

vir ons asemsonthalwe stop hy op die heuwel 

ons ego’s het in sy oudag-gesondheid gesneuwel 

hy vat ‘n ander roete berg op

en laat die slotte vir iets besonders stop

“bly agter as julle wil,” sonder die res

en hy wys hulle saggies ‘n kruisarendnes

by dié einste berg op was dit sy 165ste keer

en hy probeer om vir ons te leer 

dis al hoe jy jou omgewing kan waardeer

by middagete verloor ons berghitte met reënwolk en konveksie

en almal hop met nou die aand se seesterretjie-oorinfeksie

daarna wou ek van vreugde fluit

want toe kom die rooi sangbundels uit

love is not a victory march

it’s a cold and it’s a broken hallelujah

dié het ons heel gepas in die koue gesing 

en ons Skepper het ons van voor af bemin

damesskiet is op los gruis oop vir oulaas

seergeval koop Karla Rossouw ‘n stukkie plaas

OBS moes in nood haar wonde ontsmet

en haar dokter vat toe ‘n slukkie vir die pret

plaashuis uit die 1800s het ons besoek

en aandagtig geluister hoe die oom herroep: 

mure van klei en sederhoutvloer

tot in hul solder het ons getoer

damesskiet foto’s blaas uit soos ballon ongeknoop

want om in winter van warm lae te stroop

kos meer as melktert vir omkoop 

laaste aand van item en die program is volgelaai 

skop hom af met Frikkie, Sarel, Gatiep en Meraai

Lighthouse gekus en lipstiek-Salomie-koor

en toe verloor SW amper sy spoor:

“Juané, weet jy wat hierdie lippe kan doen” 

“nee, ek’s seker Lize weet [hoe jy soen]” 

Thom was vir twee items ‘n gevaar

Nooi soek ‘n Booi kry ‘n wafelgranaat

en hy dag Kaptein kan vroeg met Blou Yskas baat

maar niks kon ons voorberei vir item van die jaar

geen rokerstem of Liefie, sit dit op die kaart

nie eers “Ouma, nou’s dit skande op sy huis”,

BTK meisies óf Willem in tights

ja, Weegskaal en Vriendinne was goed

selfs die laaitie wat ‘n troklift soek,

maar dit kon doodeenvoudig nie vergelyk 

met Carla & Hannah se Yesterdie kyk

sewe maal ninja-wawiel-geflop

en net-net nie mekaar raakskop!

met hekels het ons net so gelag vir Jacques

wat vir sy seksie manne wou klere maak 

“sit nader aan my, ek kan sien hoe jou beenhare groei” 

SW moes hard werk om homself uit daai een te stoei

noem vir Carla Breërivier sommer leatherman

want manne, verklaar sy, ek is alles in een

“hoe ontpomp ek hom?” was Jakes gevra

hy het net oor die benzene-stofie gekla

Petrus sê: “SW was Simson; sterk soos ‘n leeu

daarom moes ek vir hom op die radio meeuw!”

dag 6 

die laaste oggend is gewoonlik bittersoet

uitsien vir jou eie bed, maar ook jou toermaters groet

tent en kampmatras vir eers nie meer jou kooi

pak weg en laat dit tot innie bosch ontdooi

toesprake en trane rol soos branners

met die wegstuur van sewe maangangers

dankie Oom Hans vir die toer se reël 

en geluk Jana en Inge wat ‘n BTK verjaarsdag deel 

en dis vier kilo’s buswaarts wat ons aandurf 

ons harte verfris al is ons velle skurf

Jian en Bertus maak gentleman’s race top twee 

en ons is tyd vir laaste veldties voor Piketberg gegee

wraggies: êrens op pad nêrens en niks

sien ons immigrasie polisie en ons skrik

hulle vra na identifikasie van elkeen op die bus

om te sien wie onwettiglik in die land is

en onse Thommedaris het onseker rondgeskuifel 

maar hulle skat hom ‘n Afrikaner sonder twyfel 

by Terrash het Ryan eersteplek gevat

ons lek ons borde leeg net voor die huispad

op die bus word daar ge-One Direction en Riana Nel 

van ABBA & Afrikaanse treffers kan ons ook vertel

en teen skemer sing ons nog ‘n toer is verstreke, 

blou oor die volgende akademie-weke 

so ek kan nou ‘n slot in my paarrymskema skryf

maar ek laat dit vir Leipoldt om die nostalgie in te vryf: 

“’n handvol gruis en gedroogde blare

vertel soveel meer van die wonderjare

in my liewe lekker Hantam-wyk

waboom-blare Ghnarrabos-blare

arm eergister en nou skatryk!”

Breërivier 2025

Breërivier 2025

Deur Kyanti Greyling

“Diewe! Almal van julle is diewe!” 

Dit is ‘n alombekende feit dat Stellenbosch studente ‘n hoë waardering het vir wyn, maar nooit het ek gedink sal ek die dag sien dat wyn sal maak dat ‘n BTK’ner sy toermaters so fel beskuldig nie. Geïnteresseerd in die rede vir dié uitbarsting? Ons storie skop af vroeg een oggend in die Neelsie parkeerterrein… 

Dag 1 – Rietdakkie padstal

Al sit die slaap nog dik in sommige BTK’ners se oë, kan dit nie die sprankel daaragter verberg nie. 

“Dink julle rerig ons gaan wynproe?” 

“Met toergeld van net R1200? Moenie laf wees nie.” 

Verskeie soortgelyke gesprekke spekuleer presies wat die beloofde wyntoer vir ons inhou soos ons wag vir Matthys en Simone Anna-Mart om terug te keer met hopelik meer as niks in die voorheen dolleë medikit. Hierdie mag dalk nie die Drakensberge wees nie, maar wanneer dit by die BTK kom, het ek nou al geleer: mens weet nooit nie. ‘n Medikit gepak vir elke moontlike aanval, ongeval & ingeval, was nog nooit ‘n slegte ding nie. 

Aangekom in die Breëriviervallei word die res van ons toermaters met vreugdevolle omhelsings gegroet terwyl Lenka met groot verligting vasstel dat Charlize wel nie verslaap het nie, maar net reeds by die beginpunt vir ons gestaan en wag het. Soos al die ander groepe hulle kos onder hul lede verdeel, dink ons liefste toerouers, Tannie Maryke en Oom Rian, ‘n slim dog slinkse plannetjie uit om hul groepie, Pinotage, ‘n bietjie gewig te spaar. “Hulle weet nie wat ons weet nie,” word daar gefluister terwyl die hele groep se kos summier agterin die Botha bakkie gelaai word – die bakkie wat nou deur Frederick teruggery word na die eerste aand se slaapplek. Te lui om ons stapskoene aan te trek, doen ek en Marietjie spoedig ons navorsing deur vir Oom Rian te peper met vrae oor die dag se stapterrein en stel ons vinnig vas dat ons maar in ons Crocs kan stap. Dis mos nou al deel van die amptelike BTK drag. 

Müller is aangestel as slot vir die dag met die uwe aangestel as sy sleutel – ‘n keuse grootliks bevraagteken deur meneer die voorsitter, maar in vrede gelaat nadat hy eers moes keer dat sý sleutel nie vir die dag moes agter stap nie. Nog ‘n keuse grootliks deur die groep in die algemeen bevraagteken, is Eden se keuse van stapsak. Wel, ek weet nie of ek dit regtig ‘n stapsak kan noem nie; ek is redelik seker daai sak het nog nooit in sy lewe die woord “stap” gehoor nie. Dit was ‘n toksak. Op Eden se skouers gelaai soos ‘n rugsak. Eina. Sterkte, Eden. 

Dit het nie lank gevat vir die agterosse om hulself te skei van die res nie. Selfs sonder haar Drakensberge tent van ‘n reënjas op haar rug vat Jada maar haar tyd, jong. Kort voor lank bulder ‘n uitgerekte “Kom aan stappeeeeeers!” van agter af deur die lug. Met groot oë kyk die agterosse vir Müller aan. Ongeërg trek hy sy skouers op en reken “ek staan net in vir die voorsitter; sy stem word mos altyd weg.”

Teen Game Break #1 het die einste bakkie besturende Frederick die groep ingehardloop met sy spiekeries nuwe draftekkies. In die koelte van die blaredak bo ons ruk ek my breipenne uit en luister hoe Carla haar amptelike BTK “snack” rangorde voorlees: (1) sjokolade, (2) pretzels, (3) grondboontjies & rosyntjies, (4) melkbotteltjies. Nou ja, daar het julle dit uit die mond van die kosdogter haarself. So gepraat van kos – sou jy ‘n roosterkoek wat jy langs die pad in ‘n bossie weggesteek vind, vertrou? Dit is die vraag op Matthys se lippe nadat Frederick soos wat ons stap een uit die bos uitpluk en dikgelukkig daaraan begin eet. 

Al het ons nie ver gestap nie voel die middagete worsbroodjies soos ‘n wolkie op my tong. Daar word vinnig besef dat die tamatiesous nie só streng gerasioneer hoef te word nie – “die bottel moet op asb!” vra die wat daaraan dra – en so word daar gou sommer aan broodjies met nét tamatiesous op gesmul (Müller het opinies hieroor). Enige steeds oorblywende tamatiesous word aan die Wraakkaptein, Drian, geskenk en gou drentel eerstetoeriste met rooi tamatiesouswange terug in ons geselskap in. Die ewig betwiste vraag oor watter geur Game die beste is, word onder die enigste koelte afdakkie vurig gedebatteer. Ongeag waar jy staan met dié saak, een ding is verseker, sê Müller: die beste Game in Stellenbosch is by Game te vinde. 

Op die deuntjie van Meisie Meisie daal ons neer in die vallei en verkyk ons aan die wingerdblare, bont verkleur asof ‘n kleuter nie mooi kon besluit watter kryt om te gebruik nie en sommer iets van alles aangewend het. Die meer opgewasse landbou studente lig ons in dat baie van dié mooi in werklikheid deur ‘n siekte veroorsaak word en ons stel net weereens vas dat die Here se skepping in elke fase, lewe of dood, beeldskoon is. 

Eindelik aangekom by die Botha huishouding word skiet oopgemaak tot die groot opwinding van rifrûe Demi en Tunzi wat saam met die manne tussen die dames rondbaljaar op soek na ‘n sleemaat. Ons verbeel ons vir ‘n oomblik dat ons nie op ‘n staptoer is nie en hardloop almal deur die Bothas se storte – slegs 2 minute elk nè, dames! Met skoon hare en warm voete wandel ons oor die pad na Rietdakkie toe en moet ek myself uitdruklik herinner dat dit wel die eerste aand van toer is en nié die laaste nie, want die toneel wat voor my afspeel, is een van uiterse bederf: sommige sit salig op die stoep, glase wyn en koppies warm sjokolade in die hand, en peusel aan dadels, gedroogte pere en perskes terwyl ander padel speel op die gras of op stelte rondjanter. Liggies is gestring tussen die bome en ‘n vuurtjie knetter vriendelik voort. Die tente is opgeslaan in die padstal se agterplaas, onder ‘n lae blaredak wat die prentjie van ‘n geheime tuin, weggesteek in die woud van ‘n sprokie namaak. Die kwynende winterlig val in sagte pienk en oranje op die berge wat ons van alle kante magies en groot omring. Ek draai en draai en draai totdat ek lighoofdig raak in ‘n poging om al die mooi van ons Vader se skepping in te neem. 

In my draaiery vang my oog die tafel swaargelaai onder roosterkoek, botter, kaas en wortelkoekkonfyt (!!) en blitsvinnig kom my draaiery tot ‘n einde. Kos. Nog beter – Botha kos. Ek het al genoeg van Carla se bakprojekte geproe om te weet dat dáái roosterkoeke my lewe gaan verander. Tannie Maryke en Oom Rian deel die storie van geloof, hoop en liefde wat die fondasie van Rietdakkie vorm asook hul gesegde: “We are blessed to be a blessing.” Wat ‘n seëning is dit nie om op so ‘n spesiale plek in die gemeenskap wat die Here ons elkeen mee voorsien het, te verkeer nie. 

Ek was reg. Die roosterkoek het my lewe verander. Ek is seker joune ook, indien jy op toer was. Indien nie – shame. Klim nóú in jou kar en vat die afdraai Rietdakkie toe. Jy sal nie spyt wees nie. (Bring sommer vir my een terug asseblief en dankie.) Carla, wie die volgende dag moet terugkeer Stellies toe vir ‘n chemie vraestel, vliet wraggies tussendeur ‘n laaste bietjie swottery met ‘n groot glimlag tussen die bondel honger studente rond en maak seker dat almal oorgenoeg warm sop en vars roosterkoek in hul mae kry. 

Nadat Drian en Müller klaar baklei het oor wie waar op die seil mag slee, open die toer se items. Oorweldig deur die groot oomblik “spoel [SW se] gedagtes soos ‘n skottelgoedwasser rond”, maar eindelik haal hy Van Wyk Johannes Joubert Louw se woorde aan met die fynste aanvoeling wat slegs toegeskryf kan word aan jare se bestudering van digkuns. Luigi sit vanaand ‘n kop korter as Mario, wie wil weet “what is the word when it is gaar but still firm?” waarop Luigi uit volle bors lostrek met ABBA se “Andante Andante”. Marialle vergeet so ‘n bietjie hoe Jill begin – seker maar al die “shots shots, shots shots shots” wat sy geneem het. Die hoogtepunt van die aand móét egter toegeken word aan die revolusionêre Candice met haar stokkielekker en gebreekte Kway zip wat met haar hele hart net wil weet “How can I help you?”. 

Met hekels kom dit aan die lig dat SW van Müller versoek om sy kinders met sy wysheid te baar, Drian sou huil oor die Drakensberge, Kyanti se breiwerk vir haar baie seksiepunte verdien en Jada nou dalk nie kan sing nie, maar wel kan suip. Ons bevestig ook dat Kehan nie gemaak is vir die myne nie, dat Tanya aangestel is as Kyanti se Tydelike Kêrel op toer en dat ons in oorvloed lewe met 28 mans en 33 dames op toer. 

Dag 2 – die droë rivier

Koud. Die algemene konsensus onder die groep as jy gevra het hoe ons geslaap het. Dis natuurlik uitsluitend Carla, Frederick en ons liewe toerouers wat warm in hul knus beddens oorkant die pad geslaap het. Hulle is natuurlik nie wakkergesing deur die stokers se geesdriftige weergawes van “Hasie, hoekom is jou stert so kort”, “Padda moet gaan opsit by sy nooi in die vlei”, en Shrek se “Believer” nie, so. Jy kan besluit wie’t nou eintlik iets misgeloop hier. 

Oor BTK pap met mini malvalekkers in word daar bespreek wat die mees aanvaarbare verloop van aksie sal wees in die geval dat jou pel ‘n onderbroek benodig en jy slegs ‘n addisionele vuil een byderhand het – dop jy hom binneste buite om, of trek jy self die vuil een aan en bied hom jou huidige skoner een aan? Indien jy wonder wie hierdie gesprekspunt by ontbyt aangeknoop het – natuurlik niemand anders nie as die BTK meisies. 

Johannes verjaar, maar die dames is duidelik nog effe aan die slaap en wens hom baie entoesiasties geluk deur die mans se verjaarsdagliedjie te sing. Moenie bekommer nie, Cozette sorg vir ‘n behoorlike gelukwensing met ‘n private optrede van die regte lied kort daarna. Dis tjat koud en my hande word summier onder my Tydelike Kêrel, Tanya, se kieliebakke ingedruk om die bloedvloei na my vingers te herstel. Oom Rian spoor ons aan om so ‘n bietjie die moontlike verteenwoordiging van die Heilige Gees deur wyn in die Bybel uit te pluis. Ons bied ongelukkig ‘n paar siekes vaarwel, maar met Carla, TJ en Tiaan se afskeid verwelkom ons ook vir Johannes in die groep. Slot Christof word ‘n kombinasieslot toegeken en so stap Tanya en Jada vir die dag agter. 

SW prikkel ons nuuskierigheid toe hy aankondig dat daar klomp Lekker Dinge vir die dag beplan is, maar dat dit beteken dat ons asseblief moet bybly en nie moet ronddrentel nie – ‘n dapper poging om die onmoontlike van die BTK te vra. Drian bring egter sy kant deur op en af op die treinspoor langs die groep te draf en in Matthys se woorde ons “aan te spoor.” 

Getrou aan sy woord lei meneer die voorsitter ons kort voor lank deur die ingang van Lekker Ding #1, die Botha kelder, waar ons onsself in die Bolandse weergawe van Willy Wonka se sjokoladefabriek bevind. Dis nuwe terrein dié, maar BTK’ners weet mos van klim. Met pype wat kruis en dwars oor ons koppe en teen die mure konkel, klim en klouter ons met behulp van lere en metaal loopgange oor die massiewe masjinerie. Te danke aan ons persoonlike toergidse kom die studente van Stellenbosch eindelik so ‘n bietjie meer te wete van die wyn wat ons so graag geniet. Ons stel ook vas dat indien daar nou ooit die perfekte plek was om wegkruipertjie te speel, hierdie kelder heelbo aan die lys sou wees. 

Die BTK kan baie dinge doen, maar klaarblyklik is grootpaaie oorsteek nie een van hulle nie. Genadiglik is dit baie duidelik dat ons so vaardig soos die hoender in Crossy Road is en stop karre en trokke dood sodat ons veilig oor die pad kan kom – ‘n baie belangrike taak, want aan die ander kant van dié pad wag die Botha “real magic” spaza winkel waar meer as een BTK’ner inhardloop om ‘n vergete tandeborsel te vervang. 

Ons roete neem ons volgende deur die hekke van Bosjes, tot in die bekende Bosjes Kapel. Onder leiding van Oom Rian weerklink “In die Hemel is die Heer” tussen die glasmure en grond ons onsself weer in die glorie van ons Vader. Voor die boom wat die Boom van Goed en Kwaad verteenwoordig, voel ek weer klein soos ek opnuut bewusword van die grootheid van my Vader en sy genade.  

Lekker Ding #2 doen hom voor in die vorm van koffie en ‘n soetigheid, geborg deur die BTK, in Bosjes se tuine. Wiskunde sommetjies word vinnig gedoen om te sien hoeveel mense moet saamspan om die maksimum voordeel uit dié geleentheid te put. Terwyl tentseile eenkant lê en droogbak, strek ons soos bakvissies uit in die son. Dit is in hierdie toestand van absolute tevredenheid dat Karli tot die gevolgtrekking kom dat om medisyne te drink eintlik is soos om Smarties te sluk. 

Ons los ons stapsakke agter en vertrek op ‘n sirkelroete vir middagete. Marialle moedig die agterosse met soveel woema op die ukelele aan dat haar vingers begin bloei en die groep wat reeds ‘n ent agter die res is, teenstrydig met haar intensie, moet stop dat Tone haar vingers kan dokter. Gevolglik begin die agterosse ‘n drafstappie aanpak om die res in te haal, net om te besef dat arme Eden se voete, wat meer pleisters as voet is, dit nie kan volhou nie. Nou ja, as hulle gaan agter wees kan hulle netsowel met gees agter wees en so begin die Taylor Swift “sing-a-long” sessie van die dekade. Middagete word voorberei op die wal van ‘n groot dam wat praatjies van kleilat en glip en gly ontlok. Groepie Muskadel het tot die verbasing van almal anders broodjies oor aan die einde van middagete. Groepie Pinotage het deur twyfelagtige eksperimentering vasgestel dat salamisap dien as goeie sous vir droë brood. 

Die skeptiese oë wat SW tegemoetkom met die aanwysing van ons kampplek vir die aand word blitsig vervang met vreugdevolle juiging met die aankondiging van Lekker Ding #3: ons benzyne bottels kan vanaand maar weer styftoe in die stokers se sakke bly slaap – SW se ouers is op pad en ons gaan nóú braai. 

In ‘n poging om ‘n koue stort ná sononder vry te spring, hardloop Anna, Marialle en hierdie einste sketsskrywer in die rigting van die veronderstelde badplek in die rivier. Ek het geweet iets is woes verkeerd toe ek al begin ópdraend hardloop en daar steeds geen rivier onder my voete was nie – waar ek vandaan kom, vloei riviere nie opdraend nie. Terughardloop in die rigting waarvandaan ons gekom het. Die son hang al gevaarlik laag oor die berge. Vind ‘n bruggie waaroor ons voorheen laat spaander het. Brug beteken rivier, nè? Wel, as ‘n stroom so breed soos my hand en so diep soos die voorste lid van my pinkie tel as ‘n rivier, dan ja. Bel vir SW. 

“SW, die rivier het opgedroog.”

“Dit kan nie wees nie. Is julle seker?” 

“Ek weet hoe water lyk, SW. Hier’s niks.”

“Dis nou jammer. Sterkte, dames.” 

Dankie, Tanya se wet wipes. 

Onder ‘n koeëlronde volmaan so groot hy sluk jou in, val ons weg aan die feesmaal van boereworsrolle met smoor wat die Zeemans vir ons voorberei het. Nes ons begin dink die lewe word nie beter as aandete om die vuur met iemand wat rondtokkel op ‘n kitaar nie, word koeksisters onthul as nagereg. 

Items skop af met Hans (of was dit nou Mans?) wat verklaar dat hy effens benoud, bietjie paniekerig, dalk versigting, maar NOOIT bang is nie. 

En toe. 

EN TOE. 

Die item van die jaar. Moontlik van ons leeftyd. ‘n Item 1 jaar en 5 maande in wording. Dit begin met Simi-simi Simson en ‘n sak. Dit eindig met ‘n haarknipper in Lize en Taylor se hande en SW se krulle op die grond. Müller spring sommer ook in die ry en spog gou met ‘n vars buzz cut. 

Drian, die jar, neuk Bottelstoor legendaries vinnig op deur binne 30 sekondes te verklap waarvandaan hy bel. Johan, die sopraan, lewer ‘n opvoering van “Jolene” wat jou  ‘n traan of twee sal laat pik (so tussendeur die rondrol van die lag). Die afsterwe van Pappie Matthys se vrou sien spoedig die geboorte van Matthys-Masuips-Mavapes. Die eerstetoeris manne herinner ons mooi om ‘n selfie of twee vas te vang tydens jou veldies. Stefani kla dat “niemand die emmer wil skop nie” en begin so langs die treinspoor ondersoek instel in Ouma se “aftreeplan”. Plathond Johannes kraai koning oor veghond Kehan, maar eers nadat die slee behoorlik verreneweer is. Post-toasties sien ‘n angsbevange Kyanti wat regtig hoop Pieter kom gou huis toe, want fluisterings van ‘n blou yskas word nou al hardop gespreek. 

Tydens hekels versoek Karli van al die dames om nou al hulle weerstand teen hoofpyn op te bou vir hulle swangerdae deur “minder pille te pop”. Almal se monde val oop vir – 

“Edelagbare Oom Rian, wat het Drian bedoel toe hy sê ‘ek het gisteraand vir Emile oopbek gesoen’?”

“… Edelagbare Oom Rian – did I stutter?” 

Ons sak salig weg in ons slaap daai aand met die vreugdevolle gelag van Carla Botha wat helder deur die naglug klingel en ons kom gerusstel dat sy weer terug onder ons geledere is, presies waar sy behoort. 

Dag 3

“My oom se motor is ‘n ou masjien…” 

‘n Oggendvuurtjie is luuks vir BTK’ners wat gewoond is aan die baba vlamme van benzyne bottels. Dit begin te blyk dat “luuks” die slagspreuk van hierdie toer word. 

Te midde die dames se kamp-opslaanery word daar bespiegel presies wanneer jy nou eintlik agter is met die hele proses. Marietjie verklaar dat dit eintlik doodeenvoudig is: solank Lenka Visagie se tent nog staan, is jy fine. Sodra Lenka Visagie se tent gesak is, dán het jy moeilikheid. 

Slot Pieter vind sy sleutels in Carla en Cozette en arms vol vars naartjies word gegryp vir padkos. (Wys vir my nog ‘n BTK stap waar vars vrugte op dag 3 opgelewer word. Ek sal wag.) 

‘n Paar BTK eenhede se stap later gooi ons ons sakke sonder ‘n tweede gedagte agterop twee tamaai groot trokke en klouter spoedig agterna om ‘n goeie sitplek te kry. Dié wat nog gestaan en ginnegaap het, moet maar tevrede wees met ‘n sitplek in die middel en ‘n goeie rondte “slap tjips”. Dis eers so ‘n paar kilo’s in die rit in dat iemand dit goeddink om te vra waarheen die trokke ons nou eintlik neem. Ons wil darem net weet waarheen ons ontvoer word, jy weet? 

Ons ontvoerders blyk toe die Lategans van Bergzicht plaas te wees en ek dink ek praat vir die groep wanneer ek sê dat ons met liefde weer deur die Lategans ontvoer sal word. Ek weet nogal nie van baie ontvoerders wat jou met gratis koffie en beskuit begroet nie. Jada het wel helfte van my koffie op my uitgegooi te midde die chaos van ‘n BTK groepfoto, soveel so dat ek en Anna in die Lategans se voortuin gestaan en stort het, maar nou ja. Dit is dan nou ook hier wat ons vir Frederick verruil vir Viljoen en voortwaartsmars, maters, ons het nog ‘n plaas om te verken! 

Bergzicht is een van die min wynplase met botteleringstoerusting en ons loop verby kratte wyn van Ernie Els, Koelenhof en nog te meer wat wag om gebottel te word. Villa en sy wyndief vaar bietjie by die vate in om vir almal van Bergzicht se Pinotage te laat proe. Dit is egter waar die Bergzicht wynproe eindig; ongelukkig mag ons die oudste Port in die land (wat al vir 30 jaar in hulle vate lê) slegs besigtig. Mag ons eendag genoeg geld hê om so ‘n bottel te bekostig. 

Ons vertrek (steeds sakkeloos!) op ‘n sirkelroete oor die plaas. Ek bevind myself weereens in verwondering oor die veerkragtigheid van die Here se skepping en die boodskap van hoop wat dit ewig dra: die heuwels om ons lê nog swart ná die brand waaronder dit minder as 3 maande gelede deurgeloop het en tog is die nuwe wit en pers blomme wat reeds die grond oortrek hul gebrande voorgangers se eweknie. Die meisies is vinnig om hulle hare met hierdie tekens van hoop en nuwe lewe te versier en so dra ons die hoop van die Here in meer as net ons harte saam met ons terug. Dis egter nie net die BTK meisies wat so die blommetjies langs die pad pluk nie. Ek het ‘n voëltjie hoor fluit dat ‘n sekere voorsitter sy eie blomme-pluk aksie aangegaan het om vir mejuffrou Burger BTK dans toe te vra . 

Blomme in die hare wals ons by Country Sjiek se trou venue in waar mini burgers, vars sap en water, koffie en koekies ons inwag. (Ek kom graag terug na die gesprek wat ek aan die begin van hierdie skets [*kortverhaal] aangehaal het – al hierdie vir slegs R1200? Moenie laf wees nie. Mense het hulle harte en hande verseker vir die BTK oopgemaak op hierdie toer.) Nadat René haar danspassies op die amfiteaterverhoog gedemonstreer het, klim ons vir oulaas in blinde vertroue agterop die trokke vir ‘n laaste rondte “slap tjips” terwyl die hele As Jy Sing album luidkeels opgevoer word. Ek moet bieg, dié rit het effens meer hobbelrig as die voriges geword; ek het bietjie gegiggel toe ek sien hoe geharde, gesoute BTK’ners spring om hulle boude te beskerm wanneer daar net te vinnig oor ‘n klip of twee gejaag word. Dit is nou, totdat my eie boude dit gevoel het nadat ek ‘n meter of wat in die lug in gebons het soos ons oor ‘n besonderse groot klip geshnoll het. Kom ons sê maar net my ogies was nie die enigste blou ding aan my lyf ná daai trokrit nie. 

Van die trokke afgeklim word wawiele op die gras gedoen; Lenka demonstreer vir almal waarom sy die gimnas in die groep is en ek waarom “doen ‘n ordentlike wawiel” letterlik op my lepellys (“bucketlist”) vir die jaar is. Dit voel nou al soos tradisie dat die dames iewers halfpad deur ‘n toerdag ‘n harewas sessie langs ‘n rivier hou. Ons volgende rivierkruising verloop geensins anders nie.  Spoedig word die salon oopgemaak en bioafbreekbare sjampoe en conditioner van stasie tot stasie aangegee. Tanya blink uit in haar pos as Kyanti se Tydelike Kêrel met ‘n baie billike ruggiekrap terwyl ons wag vir die laastes om af te droog voor ons aanstap. 

Op, op, op klim ons in die berge in. In die verte blink die waterval waarnatoe ons sou stap as dit nie vir ons verlengde kuiertjie by Country Sjiek was nie. Niemand voel egter ingedoen nie; almal stem soos een man saam dat die gratis salami en pesto burgers 100% die regte keuse was. Arme Christof wat al vandat ons van die trokke afgeklim het per Oom Rian se instruksies met ‘n boks vol wynbottels in sy hande stap, word eindelik deur Drian afgelos. Opgepraat na ‘n lang dag van stories spin, skop ‘n speletjie af waarin niemand om de dood aan ‘n dier wat met ‘n “u” begin, buiten ‘n uil, kon dink nie. Die dinkskrum word kortgeknip deur SW wat die hele groep tot stilstand bring, vir Drian ‘n stok in die hand stop en hom aan die woord stel vir ‘n vinnige motiveringspraatjie. Vasoortuig dat skiet nou oopgemaak gaan word, sit al die ouens suutjies en versigtig hulle sakke neer en skuifel-skuifel nader aan die naaste dame. Dit is, totdat Drian daar lostrek met die motiveringskreet van die jaar:

“Weet julle wat? Julle is almal wille honde – WILLE HONDE! Hoor julle my? Julle kan enigiets doen, want julle, is wille. Honde. WILLE HONDE!!” 

Beter kon SW dit nie sê nie, Drian. Voorwaartsmars, manne. 

In die kwynende lig merk die einste Drian later op dat die Heilige Gees (die wyn) nou nogal swaar word. Nou ja, en so stap ‘n paar BTK’ners dus met ‘n bottel wyn elk in die hand verder. Tot almal se groot verligting bring SW die dag se stap tot ‘n einde nes die son oor die berg se rand wegglip en die donker van die nag ons omvou. Aand nommer een van self moet kosmaak, bring saam met hom al die chaos van “het iemand ons derde pak pasta gezop?” en “wie’t ons tweede pot?” Bestanddele word by eerstetoeriste, wie se eerste fokus by die wraakkonsert lê, gesmeek en met tyd hang die reuk van bacon en pesto pasta in die koue berglug. Dit is ook dan nou hier, presies in die middel van die toer, liewe leser, waar die eersgenoemde diefstal geskied het, want terwyl Wraakkaptein Drian die laaste uitkykkring gelei het, het die kosgroepies elkeen ‘n bottel Heilige Gees geskenk gekry by Oom Rian en summier ook opgedrink. Die einste bottels waaraan Drian berg op so swaar gedra het. Dit is met die ontdekking dat ‘n ieder en ‘n elk van dié bottels wyn sonder hom deur die groepe dolleeg gedrink is dat Drian se ontstelde stem deur die naglug getrek het – 

“Diewe! Almal van julle is diewe!”

Dit kon erger wees, Drian. Dit kon jóú sak, in plaas van Villa s’n, wees waarin Oom Rian skelmpies al die leë wynbottels gelaai het. 

Ek moet oop kaarte speel hier: ek is steeds nie 100% seker wat geklap het in die wraakkonsert nie, maar ek deel wat ek wel kon vasstel: ‘n Waatlemoen het op Isaac Newton se kop geval en skielik maak dinge nie mooi sin nie. ‘n Een-been Usain Bolt hinkepink agter sy runaway bride Nina aan en Frederick verklaar sy liefde aan Cozette (hulle hoef nie te bekommer oor Carla nie, sy sê dan al ewig vir Frederick hoe oulik haar vriendinne is). Die vegan besluit dat varktjoppies tog dan nou te lekker lyk om nee te sê en die voëlverskrikker wat bang is vir mielies prewel elke vyf sekondes ‘n beteuterde, vreesbevange “mielie”. Kathonde en hondkatte dwaal die hele plek rond en die krieketspeler kry nie die dekselse runaway bride gebat nie. Eindelik ontdek ou Newton die wette van… emosies? In my ervaring volg emosies nie enige wette of handleidings nie en as hulle doen, kon ek tot op hede nog nie self uitpluis hoe hulle werk nie, maar laat weet my as jy dalk kon. 

SW verloor amper ‘n oog gedurende “Two suckers on a stick” danksy Stefan se onbeheerbare behoefte aan roomys. Gedroggie skrik vir influencer Charlize en Kazakhstani Drian diep in die donker in. Die BTK meisies herinner ons weereens dat die BTK manne die meisies se gebrek aan fiemiese laaik. Villa word omtrent verhoog toe gesleep om te item, net om man alleen gelaat te word deur Drian wat in ‘n absolute lagbui verval toe Villa onwetend vir Klippies vermoor deur aan te kondig dat hulle besig was om hom “in die water te skiet”. Stoute Wouter Kabouter maak weer sy verskyning om die aand mee af te eindig. 

Hekels is vanaand kort en kragtig. Anna hou vol dat mens in die wildernes moet “kapitaliseer op elke toilet wat jy vind” en Stefan berou die afwesigheid van sy “rubberduck Janu” by die middag se rivieroorsteking. 

Almal kruip in hulle tente in vir ‘n heerlike nagsrus op die warmste aand van die toer. Wel, amper almal, maar meer hieroor môre. 

Dag 4

In die luukse verloop van hierdie toer is opstaantyd vir alle toeriste vanoggend eers 08:00. Die opwinding van nog ‘n dag se stap tussen ons geliefkoosde berge sorg egter dat ‘n hele klompie mense reeds hul tente ooprits met die eerste sonstrale wat oor die grond naderkruip. Gevolglik is die stokers ‘n paar sopraanstemme ryker met die wakkersing van die laatslapers. Na ‘n paar floppe aan die Pinotage potte vasgebrand het, smul ‘n hele paar gelukkige siele aan kosdogter Carla se meesterstuk ham, kaas en blatjang geroosterde toebroodjies. 

Noem dit maar my en Marietjie se “series of unfortunate events”, want een oomblik is dit aand en smul ons aan ons pesto pasta, die volgende het ‘n vreemde vlaag naarheid ons heelaand in sy greep, dwaal ons beide uit radeloosheid middernag op die berg rond, het ons boggerol geslaap en sit ek en Slabbert toe nou in die oggendson en sluk saam aan ‘n walglike, flou konkoksie nadat sy die medikit van ALLE Rehydrate beroof het. Nie een van ons weet wat die siekte voorafgegaan het nie, maar ons altwee weet wat volg: ‘n baie lang dag van stap. 

Die egtheid waarmee 60 stemme daardie oggend tussen rotswande ge-eggo het in lofprysing van die Here sal my altyd bybly. Die eenvoud van ‘n stem wat verklaar dat sy eienaar se hart aan die Here behoort, het die betekenis van lofsang in my hart kom herdefinieër. Oom Rian en Tannie Maryke lei hierna die nagmaal in en René deel met ons die belangrikheid en kosbaarheid van gemeenskap.

Slot Villa kies sonder huiwering vir sleutel Drian, maar hmm, wag, dit kan nie reg wees nie. Die skaterlag wat volg, bevestig hierdie vermoede. Drian is onbeïndruk – met die laggery, nie sy verkiesing tot sleutel nie. Inteendeel, hy het hard gestry teen die regime, maar moes maar vrede maak dat sy toekoms nie in sleutel-wees lê nie. Toe sy eerste keuse nie uitwerk nie raak Villa sommer voorbarig en begin vir hom ‘n hele bos sleutels kies totdat SW tussendeur sy gelag en gehyg na asem dit regkry om hom te beperk tot ‘n kombinasie slot. 

Na ‘n paar kettie-skiet lesse van Oom Rian val ons in die pad. Met geen plek in sy sak nie, stap Trevor sommer met ‘n pot in die hand voort. Tannie Maryke vermaak ons met stories van haar Nerina dae waar hulle die Eendrag manne geteister het deur stroop op hulle fietssale te gooi. Die beste was egter toe hulle al Eendrag se vurke met deurskynende, bitter aalwyn naelpolitoer bedek het, soveel so dat die manne die arme kombuispersoneel behoorlik laat hoor het hoe sleg die kos is – en toe ewe kwaai terug ingelig is hoe voel nonsens hulle is. Lekker, Tannie Maryke!!

Toe SW nog voor middagete aandring dat ALMAL ‘n bottel Game aanmaak, of jy nou lus het of nie, moes ons geweet het – na ‘n ellelange stuk son-stap op die jeep track verander SW se “lekker plat stuk” hopeloos te vinnig in ‘n lekker opdraend stuk. By verspoelde rivierpaaie op (en genadiglik later af) kruip Villa se slotgroepie ‘n goeie 15 minute agter die res. Vir eens toe SW oor die radio vra wie dan nou “so baie praat dat julle so stadig stap” en of dit “alweer Kyanti is”, kon ek met alle eerlikheid sê nee, want my woorde was, miskien vir die eerste keer ooit, bitter min. Stap nadat jy siek was, is nie snaaks nie. Ek het daai dag al my lewensbesluite bevraagteken.

Die beloofde waterval kon nie gou genoeg binne sig kom nie. ‘n Uitbundige gejuig en die neersmyt van stapskoene en -sakke gee vinnig aanleiding tot groot watersports. Nadat Pieter die diepe waters getoets het, volg die res agterna met groot spronge, bomme en flips. Seer voete word in die koel water ge-ys en sweterige hemde skoongewas. So sit ons vir ‘n oomblik waar die water oor die rotse val, af, af, af ondertoe, ewig aan die vloei om die volgende draai, in die volgende poel, na die volgende mens wat ‘n stukkie ewigheid daarin sal sien. Middagslapies en middagbroodjies in die middagson rond die watervalstop mooi af. 

Vanaand slaap ons by ‘n kampterrein met storte, maar wag! Voordat ons in die luuks lekker mensgemaakte watervalle kan klim, moet damesskiet eers geskied, want die son hang al gevaarlik naby aan die hoogste bergkrone. Alle oë is op Anna en sy weet dit. Sy geniet die spanning wat sy skep. Haar tone krul van die lekkerkry, ek kan dit sommer sien. Haar mondhoeke trek staaadig op in ‘n grinnik. Dames skuifel-skuifel solank nader aan hul gekose teiken. Anna kyk ‘n laaste keer om haar rond. Neem die meisies in hul wegspringposisies in. Skep asem. 

“SKIET IS OOP!!!” 

Nog voor haar woorde ophou weergalm, daal chaos op die kampterrein neer. Daar word oor tente gespring en om bome gekoes. Die paar wat dit gewaag het om eers te gaan stort, kom met handdoeke om die hare en seep in die hand daaruit gepyl. Dis net gras wat vlieg soos hakke grond tref en sleemaats omgeduik word. In al hierdie wanorde is daar een stukkie kalm; SW stap doodluiters vir Lize weg, mingespin met die toneel om hom. Dit is, totdat Cozette mik-mik om hom te intercept. SW gooi ‘n vuil gluur. 

“Jy DURF dit nie.” 

Na die chaos kalmeer, blyk dit dat een sleemaat nie genoeg is vir Viljoen nie, want kort nadat Anna hom geskiet het, kondig Drian luidkeels aan dat “Villa nog up for grabs is!” Die storttyd krimp intussen al hoe meer en na ‘n streng “EEN minuut storte, dames!” van SW laat spaander almal ablusie blokke toe. Betyds hare gewas (ek weet fisies nie hoe nie), dasse geknoop en rokkies oor die kop getrek, word foto’s in die laaste stukkie goue lig geneem. Marialle kry wonder bo wonder ‘n damesskiet rokkie opgetoor nadat sy haar uitrusting by die huis vergeet het en die eerstetoerismanne vou vir hulle dasse uit hulle BTK nekdoekies. Netjies, manne. 

Alles Wat Lekker Is is op die spyskaart vir vanaand – of wel, vir groepie Muskadel is dit net Alles Wat Is, want iewers langs die pad het hulle biltong verlore gegaan. Ons almal weet egter dat ons hier by die BTK altyd deel en kort voor lank is genoeg biltong donasies ingeneem om weer die Lekker in Alles Wat Lekker Is terug te sit. ‘n Spesiale dankie aan JJ wat sy persoonlike biltong aan sy groep geskenk het. 

Item geskiedenis is gemaak met wat meneer die voorsitter self beskryf het as “die beste weergawe tot dusver” van Salomé (no takesies backsies, SW). Met Anna en die ukelele in die middel lisp-sing die spulletjie voort met rooi BTK nekdoekies op al die verkeerdste maniere om hul koppe geknoop. Die ster van die hele affêre is egter loshande Tanya wat haar kop elke paar sekondes onwillekeurig ruk en haar hande uit nêrens uit laat opskiet om van ritme af te klap. Troepe buit so hard uit dat Matthys later sy eie broer blou yskas, maar nie voordat Sigaret die hond “Vape” herdoop word en Johannes ‘n entoesiastiese “tjoef tjoef” uitkry nie. K-k-k-kajuitknaap Ch-Ch-Ch-Christof haak op b-b-b-bietjie m-m-m-meer as n-n-n-net sy k’s vas. Lighthouse vereis ‘n paar addisionele “steps” weens wesenlike lengteverskille tussen die bemanning en die lighuis. Vriendin skop af met Pieter wat die vraag op almal se gedagtes uitroep – 

“Jissie, Matthys, is jy nou by Maties of Virgin?”

So bespreek die vriendinne hoe die BTK meisies wragtig kan innoveer met Country Sjiek se handeroom wat spoedig ‘n paar droë bene gedokter het, en dat Brendan dalk mooi, maar sy broer die eintlike “catch” is. 

Met ligte harte en swaar ooglede kruip ons almal vir oulaas by ons tente in om beskutting teen die koue Breërivierlug in ons slaapsakke te soek. 

Dag 5

Hoe klink Eet-Sum-Mors en kondensmelk vir ontbyt? 

Dis ‘n groot oggend, want Anna word 21 en dis tyd om ‘n paar legendes maan toe te stuur. Eersdaags bied ons vir Taylor, Trevor, Michelle en Carina vaarwel. Elkeen herinner ons van hoe kosbaar ons tyd met die BTK is en getuig van presies hoe ver hierdie vriendskappe ons nog in die lewe sal dra. 

Oom Rian se oggendboodskap kom in die vorm van ‘n vraag: hoe weet mens dat iemand die een is? Ek sal jok as ek sê dat almal se oë op hierdie oomblik nie onmiddellik in SW en Lize se rigting geskiet het nie. Alhoewel sy nou nie vir ons ‘n presiese resep kan gee nie, spoor Lize ons aan om iemand te vind wat weet dat nóg hulle nóg jy perfek is en dat net Jesus jou heel kan maak. Jada deel ook weer die eeue oue waarheid: hardloop so vinnig as wat jy kan na Jesus toe en as iemand kan byhou, stel jouself voor. Stefan is slot en word die eer van ‘n trippelslot toegeken. Dit is egter nie hierdie outoeris se eerste, tweede of derde rodeo nie en twee van sy sleutels is lankal, soos hy sê, “reeds deur hulleself aangestel” – Kyanti en Tanya. Anna sluit vir die dag aan by die trio. 

Toerpa wees sorg dat Oom Rian vanoggend seker die meeste Vadersdagdrukkies van sy lewe ontvang, maar dié dag bring daarmee saam ook ‘n unieke probleem: Spur neem nie besprekings nie. Eish. Die slotgroepie stap ekstra stadig agter die res aan soos Anna deur 3 Spurs se bestuurders werk om terrash gereël te kry. Intussen sit SW se pa se motorfiets vas in die modder en help die manne om dit uit te stoot terwyl die oom vir ons inlig presies hóé ver agter ons nou eintlik is. Dankie, Oom. Altyd goed vir die gemoedere. Met behulp van Stefan die plaaslike Paarl jeug pastoor en nog 6 oproepe is ons terrash bestelling uiteindelik geplaas. 

Ek moes al sleutels laat sny, maar hierdie sleutel moes gou ook leer spoorsny synde ons langvergete mede-BTK’ners se voetspore al bewyse van hulle deurtog deur die veldblomme was. Gelukkig sorg ‘n draadheining dat die groep bietjie moet brieke aanslaan en haal ons eindelik in. Carla ruk tot almal se bewondering ‘n blik Pringles uit wat na 4 dae nog heel is. Die brieke is nog skaars na die heining gelig of hulle word weer aangeslaan: Eden het Drian se stapsandale letterlik middeldeur gestap. Dis egter niks wat ‘n paar lae insulation tape nie kan red nie en gou doen ons soos Stefan sê en “make like a tree and leaf.” Die groep neem doelbewus (volgens SW) ‘n verkeerde afdraai om toe te laat (volgens SW) dat die agterosse die res inhaal (volgens SW). By die treinspoor neem ons vir oulaas ‘n Game breuk waar almal se beste snack en sokkie game sommer ook uitgeruk word. Jy weet jy’t lekker geëet op toer as al die beste snacks eers op dag 5 uitgeruk word; dis net Kiri kasies, biltong en sjokolade waar jy kyk. 

Opgekikker en reg om die busbestuurder te groet, klim ons op die treinspoor, maar hierdie is nie net enige treinspoor nie, o nee; hiérdie is Die Treinspoor Wat Tot In Ewigheid Aangaan. Dit neem nie lank vir die groep om ordentlik uit te sprei oor die lengte van die spoor nie. Toe Stefan iewers opkyk van die eindelose dwarslêers onder sy voete en sien dat daar weereens absoluut niemand in sig is nie, merk hy doodluiters op dat die res alweer spoorloos verdwyn het. Ons skep later asem in die skaduwee van ‘n tonnel en sommige bespiegel hoe ver weg die einde is waarop SW hul verseker:“dis net om die draai.” 

Die regte vraag is nou: hoe ver weg is die draai?

My brein hou daarvan om lukrake dinge te tel – die hoeveelheid trappe na my kriminele reg 314 klaskamer, die hoeveelheid slukke in ‘n small 18 cappucino. Ek het probeer met die dwarslêers van daai spoor, maar vrekkit, ek het myself woes deurmekaar getel. Die spoor het later tot ‘n einde gekom en stééds was SW se draai nie in sig nie. Dit is eers etlike BTK eenhede later dat die vae verre beeld van ons bus ‘n werklikheid word. Na ‘n gentleman’s race wat die stof laat staan, word deodorant en wet wipes vrylik in die bus rondgestuur ter voorbereiding van ons toetrede terug in beskawing. 

Terrash buite op die Spur se stoep beteken ons speel in die spuitfonteine terwyl ons wag vir die kos. Binnekort roei die roeiers en kom Johan eerste met Kehan kort op sy hakke. Te gou is dit tyd om ons liewe toerouers te groet en terug te keer bus toe. ‘n Kort rit later is dit weer bekende ou Simonsberg en Stellenboschberg wat teen die blou lug lê. Bus afgepak en toermaters gegroet, is nog ‘n toer verstreke. 

Met die lang wintervakansie wat nou vir die meerderheid voorlê, mag dit dalk ‘n rukkie wees voor ons mekaar weer sien, maar ons troos onsself aan die feit dat die BTK dans reeds in week 1 van die nuwe semester vir ons lê en wag. Intussen, koester ons die herinneringe wat ons op hierdie toer gemaak het saam met al die wyshede wat ons geleer het diep in ons harte. Tussen die gasvryheid, vrygewigheid en liefde van die Breërivier mense en ou Candice het ek regtig op hierdie toer geleer hoe om te vra:

“How can I help you?”

Drakensberge 2025

Drakensberge 2025

Deur Inge Botes

As Stellenboschberg jou hoërskoolmeisie is, is die Drakensberge jou trouvrou. Stellenboschberg is alledaags, jy sien dit in die verbygang, sy vereis nie veel opoffering nie. Ukhahlamba is ‘n ongemaklike dag se reis met min slaap. Sy is hemelhoë pieke en diep valleie en jy sal moet klim in wind en weer. Haar vlaktes bloos in kosmos en die taal van haar mense klink anders as waaraan jy gewoond is. Sy is nie ‘n berg wat jy in die verbygang groet nie, en as jy doen is jy ‘n dwaas. 

Baie woorde sal net geraas wees in ‘n skets oor die Drakensberge, want haar skoonheid laat jou stil. As ek mag voortgaan met hierdie metafoor, dat die Drakensberge soos ‘n bruid is, dan is sy een wat elke vrou droom om te wees en elke man droom om te wen. Ek glo die staptoer vra die vraag: “het ek wat dit vat?” 

Ons het almal foto’s geneem op hierdie toer, en as jy nie het nie, was jy êrens in een of jy het gevra dat iemand die wêreld om jou vir jou vasvang. Foto’s is net frustrasies, want dan kom jy by die huis en die mis omring jou nie en die hoogtes laat nie jou binneste wemel nie en jou bobene kramp nie en die donkies stap nie meer nederig verby jou nie. Met baie goeie rede onderwerp God ons aan hierdie frustrasie, en dit is heimwee. 

Heimwee vat die leisels van jou wil en beweeg vasberade in die moeilikheid in. Daar waar lafhartigheid wil onthou hoe jy nie jou vingers kon voel toe jy in die plato se storm moes tent opslaan nie, kom heimwee en maak jou ‘n ridder wat sê dit maak nie saak nie. Daar waar selfsug jou wil herinner aan ‘n warm stort, gemaklike bed en jou ma se kos, kom rig heimwee jou hart na ‘n altaar van ongebytelde klip in die bergstrome waar jy jou lewe in die koue water verloor. Die broodjies wat jou naaste in haar wapperende tent vir jou gesmeer het in die liggaamshitte-dreigende reën smaak beter as Kersfees se hoofgereg en die hardheid van die berg waarop jy slaap sluit die hemele vir jou oop soos Jakob se kopkussing by Bet-el. En jy onthou jy is net stof. En jy onthou dat God onthou jy is net stof. En jy RUS. Heimwee is verlange wat maak dat jy wil belowe om terug te kom na hierdie plek wat jou hart gesteel het. 

Stellenboschberg is bekend vir haar vals pieke. En dis opwindend want die objektief is om die toppunt te bereik, so jy klim daardie vals pieke en vergewe haar 7 maal dat sy vir jou gejok het. Jy voel mos die moeite werd as jy by die laaste piek kom en weet dis nou klaar, en ‘n sekere tipe self-tevredenheid kom oor jou soos jy in jou slaapsak klim, en Maandag vertel jy al jou vriende jy het Stellenboschberg gepiek en hulle klap jou oor die skouer. Maar die Drakensberge is wêrelde anders, die objektief is nie eers om te piek nie, is dit? Die objektief is om jouself te verloor. ‘n Tipe oorgee vloed jou binneste. Die ekstases is nie meer wat jou dryf nie, maar ‘n stop-in-jou-spoor verwondering vir die watervalle wat sy ontsluier vir jou oë alleen. 

En as jy wel ‘n piek in die Drakensberge bereik, kyk jy na die valleie onder jou met minder hoogmoed en dieper ontsag, want jy sien dat die groewe van die aarde onder jou die groewe van God se eie vingerafdruk is, en jy word nederig deur bloot te besef jy het die voorreg om dit te verken. 

Ek skryf nie oor die verhale van die April toer nie, want dit leef aan in die heimwee van die stappers en die Drakensberge hou haar bemindes soos mirrebossies teen haar bors. As jy die stories wil hoor, ry bus vir 22 ure en begin klim, en dalk, wanneer jy stil genoeg is, sal jy hoor hoe sy begin praat van ‘n groep jong, skarlaken-gevlekte BTKaners wat ontdek het, hulle het wat dit vat.