Drakensberge Julie 1991

Donderdagaand, 11 Julie, vertrek veertig BTKaners uit Stellenbosch. Van hier tot by Monk’s Cowl sluit die res van die groep van sestig by ons aan. Die vertrek geskied egter nie sonder voorval nie, want die bus is ‘n uur laat. Toe ons uiteindelik oppad is, het ‘n (ekstra) koue rilling langs die Eerste Toeriste se ruggraat afgegly toe stemme uit die donker hulle aan die gevreesde wraak herinner.

Buite Colesberg, waar die bus die eerste van vele kere gebreek het, is daar met ‘n skok ontdek dat ys aan die ruite gevorm het. Sonder dat iemand dit hardop uitgespreek het, het almal gewonder: as ons nou al so koud kry, wat gaan van ons word in die Drakensberge?

Agtuur Vrydagoggend laai ons vir Rita de Wet, ons Kosma, in Bloemfontein op. Dit is ‘n welkome stop, want hier kry ons heerlike broodjies en koffie. In Bethlehem sluit nog ses BTKaners aan en dan is ons oppad na Witsieshoek. Daar aangekom, kry ons ‘n aangename verrassing, naamlik huise met spoeltoilette en warm water! Die aand met hekeltyd, nadat alle reëls verbreek is, kom groot skandes op die lappe. Wie sou nou ooit kon droom dat daar sulke onheilighede by Msinga kan plaasvind? Na al die pret van die hekeltyd is die Eerste Toeriste op ‘n meer ernstige noot daarop gewys dat indien hulle nie in hulle spoor trap nie, dit “tata-in-Qwa-Qwa” is.

Saterdagoggend is die tog na Mont Aux-Sources aangepak. Vir die van ons wat nog nie daar was nie, was die idee van ‘n kettingleer ‘n bietjie skrikwekkend, maar die geswoeg teen die steilte uit het almal se gedagtes ‘n bietjie van die leer afgetrek.

By die leer aangekom, kry ons ‘n aangename verrassing, naamlik dat daar nie net één leer is om van te kies nie, maar twéé! Hennie Breytenbach het almal se gevoel uitgebeeld deur op-en-af te spring toe hy bo kom; net om seker te maak hoe dit nou weer voel om op vaste grond te staan. Ons het op die rand van die Amfiteater middagbrood gehou waarna die terugtog aangepak is.

Sondagoggend was dit opstaan en oppak om na Monk’s Cowl te vertrek. Voor ons vertrek het prof. Odendaal van die plaaslike kweekskool ‘n paar gedagtes met ons gewissel oor Qwa-Qwa.

Sondagaand was dit die Eerste Toeriste se kans om die ou toeriste te vermaak. Nadat Allah vir hulle drie donkies geskenk het, het Desireé Erasmus nie net ‘n duikboot gesink nie, maar ook die hele item. Maar nou ja, na die aand het hulle ten minste van beter geweet.

Maandagoggend het daar ‘n geskokte stilte oor die kamp gehang toe elkeen sy rugsak op sy rug sit en besef dat die steilste gedeelte van die roete met hierdie swaaaar rugsak aangepak moet word. Onder luide kreune en steune laat ons dan Maandagoggend die beskawing agter en pak ons die wildernis aan.

Laatmiddag kom ons by die kampeerplek onder Champagne Castle aan. Nadat die tente opgeslaan is, is daar vinnig na handdoeke, biodegradeerbare seep en warm klere gegryp om in die ysige water te gaan was. Met die laaste sonstrale wat agter die berg verdwyn, het die nag om ons toegesak en het die laaste bietjie hitte van die dag daarmee saam verdwyn. Alle moontlike warm klere is aangetrek en een na die ander het die musse ook tevoorskyn gekom.

Almal was redelik moeg na die dag se stap, maar voordat ons gaan slaap het, is daar eers lekker ge-item. Koud-koud-koud het oudergewoonte aan die beurt gekom en uiteindelik – na vele jare -het Leontjie Miemsie se ma gaan haal. Rocco de Wet, Marius, Wena en Satan het hul buiging gemaak en ons het kennis gemaak met Missie en Dungie in ‘n Miskruier-sage.

Dinsdagoggend is ons, soos gewoonlik, vals wakker-“gesing”. Seer-seer het almal tevoorskyn gekom na die nag se slaap in een posisie (tussen die polle). Na ontbyt het ons in die pad geval na Champagne Castle. Antonie van Heerden, ons toerleier, het ons sielkundige goed voorberei op hierdie strawwe stappie, maar o gaats, wat het van die suurstof geword?

Na ‘n strawwe klim was ons skielik bo! Grey’s pas het agter ons gelê en die gedagte het stadig begin deurdring dat hierdie die hoogste punt in Suid-Afrika is en dat ons dáár is. Bevrore riviere, ‘n bevrore waterval en die mooiste uitsigte het ons hier begroet. Dan was daar natuurlik ook nog die Verrassing, naamlik sjampanje! Wat is Champagne Castle dan ook sonder ‘n bekertjie sjampanje!?

Na middagbrood is die meeste van ons terug kamp toe, terwyl Hans Scheffler met omtrent tien ander die piek van Champagne Castle uit is. Almal was voor donker terug by die kamp en ons kon terugkyk op ‘n wonderlike dag waarin ons baie ondervind het.

Woensdagoggend was dit “ooooooopstaaaaaaaaan!” en oppak (met bevrore vingers) en in die pad val vir ‘n stappie van 22 kilometer. Antonie het ons genadeloos gedryf, maar dit het verseker dat ons voor donker in die kamp aankom. Hierdie kampterrein was so mooi dat baie gevoel het hulle bly maar liewer Donderdag in die kamp agter. Hierdie groepie het egter aansienlik gekrimp na oom Bethel se beskrywing oor wat hulle alles gaan mis – dis nou bo-en-behalwe ‘n taai klim en veertien kilometer se stap.

Donderdag val ons in die pad na die Orrelpype. Eintlik is hierdie nie die volle waarheid nie, want daar was geen pad, net ‘n vae aanduiding van een. Die kloof wat ons moes uit, is genoeg om menige stapper se moed te breek. Met Antonie se aansporing van vooraf en die morele ondersteuning van die sterkes van onder, het almal egter die kruin gehaal. Hier het ons middagbrood gehou en daarna was daar nog ‘n stywe klim tot op die volgende kruin, wat darem gelukkig bo is. Met die afgaan is ons verby die Orrelpype en die mooiste uitsig oor Natal. Die donker het ons egter oorval, maar gelukkig het die maan helder geskyn en het almal veilig by die kamp aangekom.

Die aand is al die “vervolg”-items afgesluit. Missie het sy mev Strongsmell gekry en Wena het tragies gesterf in die arms van Grensvegter, Rocco de Wet.

Vrydagoggend kon ons ‘n halfuur later slaap voordat die laaste sestien kilometer aangepak is. Gamebreak is langs ‘n waterval gehou en die kans is hier benut om vir oulaas in ‘n bergstroompie te bad. Toe ons ‘n paar uur later oor die laaste bultjie stap, was die verligting groot om die bus daar te sien staan en was die opgewondenheid nog groter toe daar ‘n “supermark” langs die bus staan.

Die terrash is by die Cathedral Peak Hotel gehou waarna ons na die karavaanpark is. Hier is daar behoorlik op die baddens en storte afgestorm. Ons het geëet en opgepak en toe was ons oppad huistoe!

‘n Heerlike tyd was agter die rug, baie vriende is gemaak, baie het ons van mekaar geleer en wat ‘n wonderlike voorreg was dit om so na aan die natuur te mag kom! En ja …. ons sal weer kom BTK!!!

Sketsskryfster