Knysna-George Gala 1991

Met ‘n groot gejuig het ons Vrydag die 29ste November met wa en al vertrek na die Heuwelkruin kampterrein te Knysna. Eksamenspanning was iets van die verlede en almal het uitgesien na ‘n week van son, sand, swem en laaste maar nie die minste, stap, stap en nogmaals stap…

Die eerste dag was in tipiese BTK-tradisie een van baie opwinding. Houtkapper André Venter het met die eerste probeerslag sy duim in plaas van die hout oopgekap. Die toontjiesdokter het met vaardigheid hul eerste pasiënt behandel en die medikasie van twee netjiese steke toegedien.

Hierdie gala het ook nie verniet as die gala van die terrashe bekend gestaan nie. Die eerste terrash was dan ook reeds te Brenton-on-Sea – die eerste plek waar ons verby gestap het! By Buffelsbaai aangekom is alles in orde gekry vir die eerste nag, waartydens die tentekomitee se tentopslaanvermoë sterk beproef is toe die wind ons byna weggewaai het.

Sondag is baie rustig deurgebring. Almal moes herstel van die eerste dag se sonbrand nadat die son ons lelik gesteek het op die eerste stapdag. Eddie Turner het vir ons die Sondagboodskap gebring. Nog BTKaners het in rukke en stote opgedaag vanaf skoolverlaterskampe, Trap-der-Jeug asook die her-mense wat vir tannie Miems en oom Jurgens saamgebring het. Die heerlike Sondagmiddagete het almal net nog rustiger gemaak. Die aand het die eerste sleeëry van die toer opgelewer. Richard Müller se hond Stompie het ook sy bydrae tot die items gelewer. Marianne Bingle het haar verjaarsdag gevier deur binne-in die koek te gaan sit! Teen middernag het nog drie-en-veertig mense geweet ….

Maandag se staptog het die laaste bietjie energie uit elke stapper getap. Die strand vanaf Buffelsbaai, verby Sedgefield en tot by Swartvlei is deeglik betrap. Hans en Anine se arbeid het ‘n plaas in ‘n kampterrein verander. Die kafee se koue koeldrank was soos water uit ‘n rots – totdat ons agtergekom het dat die pryse styg soos die klandisie vermeerder!

Dinsdagoggend is ons stap na Ebb & Flow onderbreek deur ligte reën. Gelukkig kon ons middagbrood asook baie chocolates, chips, koeldrank en veral 20c-piesangs van ‘n kampterrein-kafee verorber onderdak iewers op pad. Hiervandaan het ons die strand agtergelaat, maar vele stywe kuite en min opgeleide masseerders het ons telkens daaraan herinner. Met ons aankoms vroegmiddag op Ebb & Flow het ons almal eers die natuurprag bewonder. Tannie Miems het almal aan die lag gekry met haar hardloop-speletjies. Danie van Schalkwyk, Lood Prinsloo en Gardi Steyn het ons verder laat skater toe hulle dit alles verdraai het en telkens agter die rondawels verdwyn het. Hans het met sy drafbroekie en atletiese voorkoms vir ons gewys waarom hy nie bang is vir damesskiet nie!

Vanaf half-vier Woensdagnag het ons een vir een in plasse water, wat later damme geword het, wakker geskrik en die badkamers het baie vinnig in slaapkamers verander. Die reënstorm het egter nie vir tannie Miems en Marina Stals onderkry nie: “Never mind the weather, as long as we’re together!” Die kosmakers het met ‘n massiewe ontbyt bestaande uit pap en brood, worsies, kaasfrikkadelle en koffie vir ons laat vergeet van al die natreën. Dirk van der Merwe het teen alle raad in beenaf geraak en moes maar die res van die toer saam met Henry in die wa deurmaak. Die res van die droeër dag het ons terrash gehou by die Republiek van Fairy Knowe, bootjie gery soos wat Antonie en Marianne vir ons kan vertel (watter deel van haar anatomie is nou weer so swaar, Antonie?), tot by die waterval gestap deur ongelooflike plantegroei waar Lize Weich sê daar definitief feetjies en kaboutertjies woon, en teruggeswem tot by die kampterrein wat veroorsaak het dat warm storte en Koos se chocolates goed ondersteun is. Die komiteeskiet het soos altyd baie pret opgelewer.

Donderdagoggend vroeg het Danie v S gehoor hoe lief elkeen van die meisies hom het. Sy verjaarsdagwense het ook ‘n baie groot pak slae van al die ouens ingesluit. Ons het die Karos Hotel so vroeg oorgeneem dat die kroeg nog nie eers oop was nie! Ná koeldrank en tee het ons besluit om vir P.W. te gaan sêr. Ons oud-kanselier het dit verskriklik waardeer en vir ons almal op ‘n toer deur sy studeerkamer gevat. Middagbrood is onder die nasionale pad met ‘n uitsig oor Wildernis gehou. Die mans met die stemme het vir ons die byklanke voorsien. Nadat ons eers die verkeerde pad ingeslaan het, was ons op koers na Saasveld Bosboustasie. Die tweede terrash van die dag was sommer op die Bosboustasie-alle-kampterrein se gras met Dirk as kroegman. Ons het aan die slaap geraak met die vrolike klanke van die sêr vir Lize Weich met haar verjaarsdag.

Vrydag het sowat sestig van ons saam met Hans van Dalen en sy twee seuns, die een net ses jaar oud, ‘n staptog deur Saasveld se bos onderneem. Sommige het ook in die Gorge opgeswem om die asemrowende kranse te aanskou. Stoffel Snyman het besluit dat die beste manier om vir tannie Miems nat te gooi, is om eers ‘n duikpak aan te trek. Spesiaal vanaf George ingevoerde koeldrank, chocolates en natuurlik bier vir die ernstig dorstiges, het gesorg vir nog een van die vele terrashe. Met die laaste slee van die toer is ook afskeid geneem van een-en-twintig toeriste. Stompie het weereens die verrigtinge ontwrig toe hy besluit het hy hou nie van Leon nie en moet hierdie gevaar probeer verjaag. Daar is nog tot baie laataand en vroegoggend toe gekuier om die kampvuur, want nog ‘n toer is verstreke ….

Saterdagoggend het almal gehelp om op te ruim, die tente af te slaan en die wa te laai. Die laaste foto’s van nuwe vriende en vriendinne is geneem en adresse en telefoonnommers is uitgeruil. Nadat ons die laaste toeriste almal maan toe gestuur het omdat hulle te goed is vir hierdie aarde, was ons gereed om uitmekaar te spat.

Michelle