Doringrivier September 1992

Hitte, dorings, uitstekende items, sonbrand, swem en nogmaals hitte: dit was alles definitief kenmerkend van die Doringrivier-toer. Weens die oorvloed inskrywings en mev Hugo se gewilligheid om vir on ‘n bussie te organiseer, kon vyftig avontuurlustige BTKaners op Saterdag, 26 September om half-sewe by die stoor bymekaar kom. Danksy Gerhard se uitstekende organisasie het ons net na sewe-uur weggekom. Dit is voorwaar ‘n prestasie om soveel mense se bagasie, kos, ensovoorts te laai en nog betyds te vertrek. Drie lekkers vir Gerhard!

Toe die groeplyste uitgedeel is, is ‘n onderduimse gekonkel aangaande Groep 2 se stoker en kok opgemerk. Is hulle regtig broer en suster of is dit ‘n andersoortige bedryf? Wat het Hansie nou juis in die Woongids gesoek? Soos Christoffel later opgemerk het, is Marianne se naam swart (of is dit nou Swart?) gesmeer.

Nadat ons nekdoekies op Clanwilliam gestempel is, het ons die middag op Doringbos aangekom waar middagete genuttig is. Daarna was dit tien kilometer stroomaf na die eerste oornagplek. Op pad het sommige mense dit nodig gevind om in die rivier af te koel terwyl Hans S. die nut van ‘n handdoek op ‘n staptoer gedemonstreer het.

By die oornagplek het baie mense gou-gou agtergekom waar die Doringrivier sy naam vandaan gekry het – dit was ‘n gevaarlike bedryf om kaalvoet rond te stap. Daardie aand het Johan (vir ‘n verandering die énigste Johan op ‘n toer) elke portefeulje hartlik welkom geheet …. baie, baie welkom! Hansie is in die besonder in sy nuwe hoedanigheid welkom geheet.

Sondag het sonnig en warm aangebreek – later so warm dat Lize, later gevolg deur Louise, besluit het om Witels-streke uit te haal met “splash-cover” oor die rugsak en al. Gerhard wil weet: “Wie gaan slot swem?”

Dit het spoedig ‘n snikhete dag geword en by middagete het almal dit geniet om die stroomversnellings te ry. Maar kort voor lank was ons ywerige toerleier weer reg om te stap en sy bloedstollende “Stap oor vyf minute!” het later nog in gevreesde woorde ontaard.

Sondagaand het tannie Miems, Marianne en Christoffel hulle by ons aangesluit. Marianne was maar al te bly, want blykbaar is “enige iets beter as tannie Miems se geselskap”! Ten spyte van die feit dat die gevreesde wraak daardie aand plaasgevind het, was Eddie blykbaar so desperaat dat hy met ‘n eerste-toeris geslee het, want hy “is reeds deur al die ander”.

Die BTK se eie weergawe van die Camel Man se avonture het ook daardie aand begin in die eerste van drie uiters oorspronklike en lagwekkende aflewerings.

Alhoewel Maandag veronderstel was om ‘n oorstaandag te wees, het iemand êrens per ongeluk die afstande op die kaart onderskat en Gerhard het dus besluit om ‘n volle dag se stap in te sit. By game-break het die Groot M, wat genoeg gehad het van die dooierige bedryf, ‘n volkspele uitgepak.

Na ‘n redelike ent se stap, waartydens ons ons eerste pofadder gesien het, het ons ‘n lekker lang middagete geniet waartydens die vele ingenieurs skuilings opgerig het om ‘n bietjie koelte te verskaf. Groep 5 het skynbaar nie die hitte gevoel nie, want nadat hulle ‘n paar keer treintjie by die versnellings afgery het, het hulle probeer om ‘n groep onskuldige, droë baaiers te bewater. Hulle het egter lelik tweede gekom toe ‘n teenaanval met sand geloods is.

Ons het vroeg by die oornagplek aangekom en diegene wat nie op tannie Miems se “Hotspot” gekuier het nie, was bedrywig by die vryf-bedryf of streel-perseel. Daardie aand was ons besonder bevoorreg, want tannie Miems se suster, Sus, wat net agter die berg woon, het ‘n besoek kom aflê. Na ‘n blitsige oorsig van die vorige aand se gebeure, het die tweede episode van die Camel Man se avonture gevolg. Hansie het na vele toere ‘n suksesvolle toetrede tot die verhoog gemaak met onder andere ‘n oulike blommetjie-item saam met Christiane.

Later die aand het sommige mense pannekoek gebak, danksy Louise wat die deeg en alle ander benodighede saamgedra het. Konrad het ook besluit om ‘n sentimentele spotprent te na-aap deur so veel moontlik marshmellows op een stok te braai.

By Dinsdag se eerste knieknakker is Alet se verjaarsdag aangekondig, terwyl die meisies onder leiding van die M-Faktor vir Gerhard gesêr het. Weer eens was dit ‘n bloedige warm dag en dit was verbasend hoe klein Lisa die groep se moraal hoog gehou het deur haar energieke lewenslus.

Die rivier was weer ‘n lafenis oor middagete, na ‘n besondere lang en uitputtende stap dié oggend. Daardie middag het tannie Miems haar portefeulje as Watergooier vervul, maar sy is met ‘n billy water vinnig op haar plek gesit deur Louis T. Dit het egter duidelik geword dat Lisa as leerling-watergooier aangestel is deur tannie Miems. Moet ons nou bly of hartseer weer hieroor?

Om 17:00 het ons uiteindelik by ‘n mooi kampplek aangekom en Gerhard het onder oorweldigende groepstuk besluit om daar te oornag. Tot almal se spyt is die avonture van die Camel Man daardie aand gesluit. Net jammer dit het op ‘n teleurstellende anti-klimaks uitgeloop – wie van ons wil nou eintlik vir sewe jaar in ‘n klooster bly net om uit te vind wat daardie “tok-tok-tok” geluid maak? Verder was arme tannie Miems so bitter teleurgesteld toe Hans S. haar gunsteling Koud-koud-koud-item laat misluk het.

Die laaste oggend was tone, met aspirant-toontjiesdokters Gerhard en Louis K. druk besig om al die blase te dokter vir die laaste skof. Konrad se verjaarsdag is aangekondig, en Louise was so oorywerig om haar geluk te wens dat sy hom sommer plat geduik het! Gelukkig het die doringbosse en -bome verminder na die eerste paar kilometer en kon ons die pas so ‘n bietjie versnel -veral na die vorige paar dae se twee kilometer per uur.

Kort nadat die groepfoto geneem is, het ons ons laaste middagete gehou. Dit het gou duidelik geword dat Groep 1 se ingenieurs nie Siviel swot nie, want hul skuiling was maar ‘n wankelrige bedryf, om maar die minste daarvan te sê!

Uiteindelik na ‘n bietjie “bundu-bashing” het ons die eindpunt bereik waar die bus vir ons gestaan en wag het. Daar was nog tyd om vir oulaas in die rivier te swem terwyl tannie Miems en Christoffel die ander twee bussies gaan haal het. Nadat ons by die Olifantsdam-restaurant ‘n terrash gehou het, het vyftig tam BTKaners teruggekeer na die Bos, vasberade om nie gou weer ‘n doringbos te sien nie.

Ten spyte daarvan dat almal moeg en tam was, het Hans se woorde van daardie oggend by ons almal bly vassteek: “And so from the hills we return refreshed in body, mind and spirit, to grapple a new with life’s problems. For a while we have lived simple, wisely and happily; we have made good friends; we have adventured well. The hills have taught us to be content in our faith and in the love of God who created them.”

– Frank S Smythe –

L Melck