Skoonste Kaap April 1993

Dis donker. Dis stil.
Dis vroegoggend – 3 April.
Voor die Fisikagebou, wat kan dit wees?
37 Studente vol opwinding en gees!

Kwart voor ses het ons (in BTK taal)
Soos beesmis gemaak en in die pad geval
In die bus het ons gesing en gesels
En kort voor lank was ons almal pels.

By Kaappunt, grappig en baie pittig
Is saam met ‘n bobbejaan ontbyt genuttig
Met die dagstap in die reservaat het die toer begin
Wat nog vir ons voorlê, weet ons min ….

Die vyf dae het so vinnig verbygesnel
Hoe sal mens ooit al die dinge kan oorvertel?
Dae van sonskyn, dae van reën
Dae van saamwees en soms ek alleen.

En die dapper eerste toeriste word deur niks getraak
Behalwe …. die soete smaak van die wrede wraak.
Met taroem-taroem-tarata het Remco sy debuut gemaak
Al het hy met die woorde effens deurmekaar geraak.
Gelukkig was alles Sondagaand reeds klaar
En nou is ook ek ‘n trotse rooi-serpie-eienaar.

Maandagoggend was almal windverwaai
Die hoenders in en wakkergekraai.
Die tyd het saam met ons aangestap
Vanaf die klooster, terug na die pub.

En voor ek vir iemand kon sê: “Keer die ou!”
Bel Steven vir Good Hope Stereo.
En Hendrik hoef nie uit te gaan om alles te kry nie
Maar hieroor sal ek liewer nie nou uitwy nie.

En ek weet van ‘n ambulansman wat steeds aan skok ly
En nog lank skure se drade saans sal vermy.
En ek weet van ‘n lyk wat hang aan ‘n tak
Nie ver van die see nie in ‘n pienk duikpak.

Ja, dis sing en slee, koffie en konsert
Dié dinge maak alles BTK die moeite werd.

Ai, en in groepie 4, so so kosbaar
Leer ons bietjie van kos, en baie van mekaar
Saam was ons vrolik, saam was ons laf
Die natuur haal werklik alle maskers af.
Wel, Woensdagmiddag – uitgeput
Bereik ons geselskap die Tafelberghut
Toe smag ek na pannekoek en brandewyn
Louis se unieke medisyne vir seervoetpyne.
En met die vuilste klere maar in die skoonste
Het ek die aand onder die volmaan gaan slaap.

Die volgende dag, jipha, dis nou vir jou ‘n ding
Het selfs die ou Duitse oomies saam’t ons gesing
Ons is toe af met die kabel, terug op die Bos.
Maar iewers het ek ‘n deeltjie van myself op die berg gelos.

On the spur of the moment het ons by die Spur gaan eet
Ongeag the scent of the women en die manne se sweet
Na die lekker saamwees het ons uitmekaar gespat
Elkeen met die vooruitsig van ‘n bed en ‘n bad.
Moeg maar gelukkig het ek ‘n lang gaaaaap gegee
Met die wonnerlike BTK toer in my langtermyngeheue ….

Erika Steyn