Kougatoer April 1994

Oos van Uniondale, tussen die Langkloof en Baviaanskloof is daar so ‘n kaal kol op die landkaart met baie kontoerlyne. Daar lê die Kouga.

Kwart oor ses op Vrydag, 1 April was daar al ‘n gewerskaf voor die Lückhoffskool. Dertig gelyste toeriste plus Hans Scheffler (of is dit nou Groot M (Tannie Miems Swanepoel) 4 Hendrikse en 26 ander) met net soveel rugsakke moet in twee bussies, twee sleepwaentjies en die Hendrikse se motor in. Toe ons na ‘n paar u-draaie ‘n oop hek gevind het, kon ons die pad vat.

Op Buffelsjag kry ons niemand anders nie as Oom Bethel Müller en familie. Ons vorder fluks van dorp na dorp. Hansie Swart se bussie het die voorreg om met die besoek aan plekkies soos Calitzdorp en De Rust blitsige studietoere met die tema Karoo-argitektuur mee te maak. Anderkant Uniondale stop ons vir middagete, maar aangesien die meeste mense reeds geëet het, bly daar baie tyd vir kattekwaad met groen watergeweertjies uit Ladismith se algemene handelaar. Tannie Miems wie se belangstelling in die tweede deel van haar portefeulje as “babawagter en watergooier” skielik opgevlam het, gebruik sommer een standaard waterbottel as grofgeskud.

Ons vat die pad AVONTUUR toe en kom op die plaas Uitkykhoogte aan waar ons ‘n groot kis vol klein appeltjies present kry en kaarte wat wys waar ons nie gaan stap nie, sê ons “Touleier-en-Gidshond”.

Daar word die aand in ‘n populierbos gekamp. Ons vier Goeie Vrydag op ‘n besondere manier met paasbolletjies en wyn of druiwesap en terugdink aan Christus se kruisiging amper 2000 jaar gelede. Daarna volg heerlike braaivleis, gebakte aartappels en koolslaai.

Saterdag, 2 April.

Wat moet saamgaan en wat moet bly is die groot vraag; en die tweede wat hiermee gelyk staan: sal ek hierdie 17/20/25 kg gedra kry? (Oom Jurgens het ‘n skaal daar gehad as maatstaf vir toekomstige swaarkry.)

Ons stap vir oulaas motorpad, verby die werf waarheen ons gister ‘n slag verdwaal het voor die eindbestemming bereik is, tot op ‘n mooi hoogtetjie waar Jac Wilsenach ons laat asem skep. Ook nie vir spek en bone nie, want daar verlaat ons toe die pad en die doel voor oë is Staptoukop doer bo teen die blou lug agter drie of vier laer rûe. Van toe af is dit stap vir stap wilskrag teen gravitasie met ‘n swaar rugsak wat nog net nie mooi sy samewerking wil gee nie en jou gruwelik van balans gooi as jy nie oppas nie. Gamebreak so op die tweede koppie. Toe lê nog twee voor, maar op die semi-finale een stop ons. Toerleier gaan kyk of ons die kruin sal kan omseil terwyl die res middagbrood maak. Dis maar ‘n toerleier se onbenydenswaardige voorreg sê Hans Scheffler uit ondervinding.

Na middagete “kontoer” ons om die kop – daar word van agter af geprotesteer dat ons darem steil op en af gaan in die proses. Krampe raak ‘n probleem en selfs Tannie Miems word vir ‘n ruk buite aksie gestel. Water raak ‘n skaars substansie op die af-tog. Die eerste klofie op die pad is droog – maar toemaar – die tweede is ook droog – die Van Veldens het gesê daar is altyd water – die hoofstroom is ‘n sanderige rivierbedding. Geen grap nie. En skielik besef jy presies hoe klein en weerloos die mens teen die natuur is, hoe beperk sy krag en kennis. Maar wat ‘n nagmerrie kon wees het vir ons net ‘n nagmars geword toe Jackie Crafford van ‘n hele ent laer in die kloof af terugkom met ‘n waterbottel vol vars water.

In die sterk skemer het ons aangekom by ‘n kampplek – klipperig, maar taamlik gelyk en so 200 meter van die water. ‘n Mens is selde so dankbaar vir water wat so effens na modder smaak, ‘n warm bord kos en ‘n lê-plekkie tussen die klippe en rietpolle na aandgodsdiens. Groep 1 het besluit om by die spyskaart te hou en kitspoeding te maak wat ‘n bron van groot vermaak was: aangemaak met minder melk as wat vermeld word, word dit uitstekend dik – amper rubberagtig – en gee ‘n interessante effek as dit in jou beker met ‘n porsie van die orige melk gemeng word.

Sondagoggend – 3 April, Opstandingssondag – word ons wakker in natgedoude slaapsakke. Opstaantyd is eers half agt, maar sewe-uur kap iemand al blikke plat. Verder kla die wat op ‘n sekere kol geslaap het, van naggeluide. Tannie Miems word by ‘n latere geleentheid (hekeltyd) gevra om te vertel van die keer toe daar ‘n beer op die stoep geslaap het, maar Magdalena het die saak later in die reine gebring: Tannie Miems snork NIE.

Na Bingle-beskuit vir ontbyt vaar ons teen die steiltes uit. Die kloof self is te ruig, maar bo-op die kruin beweeg ‘n mens vinnig. Die son is net warm en toe ons na die afstap in ‘n ruie kloof by die eerste poel kom, was daar baie wat klere en al ingeklim het. Daar bly ons toe sommer ook vir ‘n laat “brunch” (VURKontbyt is onvanpas by die gebrek aan sulke gesofistikeerde instrumentasie in party van ons se staptoerusting.) Rosyntjiebrood, biltong, groenmielies, saggekookte (hoender)eiers en paaseiers. Laasgenoemde moes eers in die stroom afgekoel word.

Nie lank na “stap nou” die middag nie, roep Jac weer halt op ‘n ronde oop graskol in die boskasie langs ‘n groot rots. Daar is selfs badplek met privaatheid – dit is nou as niemand op die rots is nie – en dames en mans kry afsonderlik ‘n uur vir reiniging. Hans S., Etienne van der Poel en Jac gaan vaar eers teen die kranse uit met die rotsklimtou wat darem nie verniet kan saamry nie. Toe word daar gekook. Hans S. se stofie sorg vir vuurwerke en dit was so hittete of hy het opgestyg; daarna het hy op ‘n sloerstaking gegaan. Party mense was blykbaar al moeg geslee toe groep een eindelik klaar geëet het.

Die eerstetoeriste dramatiseer die vorige dag se dorslandtrek. Na die kort maar vreeslike WRAAK is daar warm sjokolade en koekies op die kombuisverdieping. Daarna het elkeen maar ‘n onbeboste kolletjie gesoek vir die nag

Maandag, 4 April.

Sewe-uur is opstaantyd en Tannie Miems kom rol almal wakker wat moedswillig nog lê. Die waaroor daar nie gerol kan word nie, word natgespat en as laaste uitweg uitgeskud uit die slaapsak.

Weer klim ons steil uit die kloof uit om die boskasie te vermy. Waar ons weer afkom na die rivier toe is ‘n lekker swempoel waar ons gamebreak maak, swem en toe sommer bly vir middagbrood. Na middagbrood lê ons in die skaduwee en lui wees. Onder ‘n doringboom ontstaan daar ‘n lewendige debat met die spyskaart as vertrekpunt. Daar word bespreek waar spagetti vandaan kom, of groei dit dalk aan iets soos spinasie. Wat dan van broodbome? En is toppers eetbaarder saam met smash of spagetti? Maar die slotsom is dat die toppers wel vanaand geëet moet word, want Hans Scheffler hou daarvan en die ander wil dit verby kry.

Daar was toe toppers vir aandete, maar eers na ‘n behoorlike stukkie BOSBARS. Die term besdryf ‘n unieke wyse van voortbeweging deur digte plantegroei wat deur die werkwoorde kruip, klouter, stoei en beur nader omskryf word. Jac, Steven Steyl en helpers baan die weg en Radio Francois (Smith) saai heelpad lopende komentaar oor die vordering uit.

So halfvier bereik ons die nag se uitspanplek (objektief gesien is dit ‘n stuk van die voetpaadjie wat breed genoeg is om ‘n tent in op te slaan, maar daar is ‘n lieflike swempoel net om die draai.) Etienne v.d.P. kry so amper ‘n dosyn sleemaatjies soos die meisies sy biodegradeerbare seep “leen”. Die aitems van die aand is ‘n bietjie beperk deur die gebrek aan spasie en twee wildeolyfspruite in die middel van die sleekring. Maar daar was tog ‘n Wim en Joachim en iets van Adam en Eva se kinders Sem, Gam en Jafet. Wie se idee was dit om man en muis in die ruigtes te verdwyn toe die Groot M deur die loop van die aand ‘n minuut lank haar rug gedraai het? In hekeltyd probeer Francois S. uitvind wie sy watergeweertjie gevat het. Maar Zanne Cronje sê sy het dit “nie op die oomblik nie” en oom Jurgens knip die 29 soortgelyke hekels wat moontlik daarop sou volg, kort. Hans S. verduidelik sy verwysing na ‘n hark waar ‘n verlore kam ter sprake was met “hoe groter die probleem, hoe groter die implement wat benodig word.”

Dinsdagoggend, 5 April, kondig Tannie Miems ‘n verjaarsdag aan en verras vir Marius Wüst. (Wenk: as hulle “Veels geluk liewe maarjie” begin sing en jy het rêrig geen idee wie verjaar nie, maak spore… of aanvaar dit met grasie soos hy.)

Vandag stap ons in die kloof langs met ‘n dowwe voet paadjie, en die is ‘n belewenis. Ons stap deur varings en kruisement en skouerhoogte malvabosse waarvan party na rose, ander wild na malva ruik. Die kloof is nou met steil kranse weerskante en die reuse sipresbome wat aan die rivier sy naam gee. Ons kruis die stroom seker honderd maal. Eers probeer jy jou voete droog hou, maar na die stukkie moeras waar swart modder trailbusters en alternatiewe skoeisel ononderskeibaar maak, gee niemand meer soveel om nie.

Middagbrood by ‘n mooi bakkrans. Na ete verkeer almal rustig, want die voorsitter en trawante het gaan rotsklim. Die rus duur egter net solank as wat dit vir Tannie Miems geneem het om haar batterye met ‘n middagslapie te herlaai. So ‘n mooi stuk oop grond kan nie onbenut agtergelaat word nie. Daar is toe ge-“Jou kombers en my matras” en “Ver in die wêreld Kittie” dat die stof so staan tot ons Grote Koning van bo af laat weet: “stap oor 10 minute” en almal skarrel om op te pak.

Ons stap nog ‘n lekker ent terwyl die kloof om ons al meer oopmaak. Die aand se kampplek is ‘n oop vlakte waar ‘n mens na hartelus kan tent opslaan en kampvuur hou. Oom Jurgens se Captain Finkelstein “has everything under his control”, maar die lugwaard se toediening van drankies is ‘n baie betroubaarder barometer van die vermoë van hierdie beheer om die vliegtuig in die lug te hou. Die snaakste was dalk die klassieke “dan dim ons”-fiets-aitem met Jac as fiets en Hansie Swart wat moet klou om bo te bly en nog moet trap ook. Dis net bene en arms en amper skop hulle die blikemmer in die een kookgroep se kombuisbedryf wat per toeval deel van die sleekring geword het. In die doodsnikke van die laaste aand kom daar nog ‘n botteltjie wyn of wat tevoorskyn. Dit is nou behalwe wat Hans S. nog in sy spuitbottel oor het, maar waarvan daar gesê is dat dit is soos swem in koue water: as dit begin lekker raak, weet jy jy het te veel gehad.

Ons word Woensdagoggend vroeg wakker gemaak met ‘n vrolike liedjie: “Opstaan, opstaan,dis ‘n heerlike dag. Die sonnetjie skyn en die voëltjies lag” (…of so iets) tot plesier van almal wat al wakker genoeg is om oorspronklikheid te waardeer.

Na ‘n laaste muesli-ontbyt en koffie sonder suiker, neem ons afskeid van die Sepreerivier en volg eers ‘n dowwe spoor, later ‘n jeeppad in ‘n sykloof op. Teen ‘n stywe pas is ons vir gamebreak alreeds op Ouplaas se werf waar die twee hardlopers Marius W. en Steven S. reeds met die bussies wag. Ons stap darem nog die stukkie pas wat afkom na die plaaswerf toe uit voor ons inklim.

Ons het twaalfuur ‘n afspraak met die Jonkers van Uitkykhoogte gehad en daar is ons toe meer as feestelik ontvang deur tannie Rita Jonker met tuisgebakte brood, souttert, appeltert, koeksusters te kus en te keur. Die gasvryheid het dit net nog moeilike gemaak om te glo dat die toer verby is en ons moet groet.

Die vygiebos in Jaap de Lange se tuin moet swaarkry, anders blom hy nie. So, het Tannie Miems gesê, laat ‘n bietjie ontbering mense ook vir mekaar blom en dit is nogal waar, dink ek as ek my rugsak begin uitpak en weer die bitter-soet geur van die bossieveld kry.

Christine Steinmann