Oranjerivier Roei

Klik hier vir toervideo op youtube.

“Roeiers, is julle reg om te roei?”
‘n Skets van gebeure deur Charlotte Hauman

Maandag 6 April

Kennismaking met die vyand

Dit is vroegoggend op die Neelsie-kampterrein, en 60 gesigte, party meer bekend as ander, wag jou in. Die Oranjerivier is ver, of so hoor jy en julle wil gou in die pad val. Voorsitter Lodi Muller laat nie op hom wag nie, en wanneer hy almal daaraan herinner om hulle paspoorte byderhand te hê, is die laaiers minder vriendelik toe Anina Botha se sak toe die heel diepste gepak is van almal s’n, paspoort en al… en so word die hele waentjie toe uitgelaai. Maak nie saak hoe jy reël en beplan nie, dit wil voorkom of ‘n BTK-bus maar net nie betyds kan vertrek nie. Toe die busbestuurder boonop in die Kaap se rigting begin ry wonder jy of julle ooit by die grenspos gaan aankom. Lodi se opsomming van die dag was redelik akkuraat “Julle gaan in die bus klim, en sit en sit en sit…”, maar gelukkig gee dit jou bietjie tyd om die name te leer ken, en natuurlik ‘n getuie of twee te kry om jou vrywaringsvorm te teken, al ken jy hulle van geen kant af nie. Jy wil nou nie snaaks wees nie, maar tussen vanne soos Visser, Zeeman en Vorel en die visstokke wat in die bus gelaai is, wonder jy of kerrievis dan net een keer op die spyskaart gaan wees, dit ten spyte van kosma, MiJeanne de Villiers wat gesorg het dat julle sommer genoeg kos het vir twee Woensdae, dit na sy glo gesukkel het om binne die begroting te bly!

Die N7 is lank, die Noord-Kaap is droog en dorpe is skaars. So skaars dat Esther McFarlane so opgewonde raak oor ‘n dorpie, dat sy dit sommer as “extreme travelling” klassifiseer. En julle wil net iets koop om die honger mae te stil, toe Lodi julle verseker dat julle binne die volgende uur by Springbok gaan stop. Toe julle uiteindelik ‘n bordjie na omtrent ‘n halfuur gewaar, vertel die vir julle dat Springbok nog 193km verder is. “Sit en sit en sit” of hoe? Koop Lubbinge kom bietjie deurmekaar voor as hy vir Lodi vra hoe ver ons van Springboks is, waarop Lodi gemoedelik antwoord “Vrek ver”. Of julle vrek ver is van Springboks of Springbok voel vir jou soos dieselfde ding, want die mense is honger!

Jy moet nog gewoond raak aan die idee dat julle nie gaan stap nie, en val omtrent van jou sitplek af toe jy Tinus Labuschagne se gegipsde been oplet. Julle gaan miskien nie stap nie, maar Tinus sou wel vir jou wys dat ‘n paar krukke nie in sy pad sou staan nie. Einste Tinus en Walter Hildebrand is eerstetoeriste wat sommer altwee gemerk as Toerleier op die lys, dit terwyl groepie 1 duidelik gaan sukkel om kos te maak – Luize Feldmann se status is verander van kok na Net Nog ‘n Mond. Jy raak bietjie bekommerd oor die BTK se hiërargie, eerstetoeriste as toerleiers, en glo twee sketskrywers …

Springbok en sy KFC is soos ‘n oase wanneer julle uiteindelik daar stop en julle laat nie op jul wag nie. Maar party is gelukkiger as ander, jy weet nie op watter stadium het die misterieuse Jan Vorel besef dat hy ‘n visum nodig het nie, maar julle is daar weg sonder dat enige-iemand hom ontmoet het.

‘n Entjie voor die grenspos stop die bus, en Lodi gee vir julle ‘n “briefing” oor wat om te verwag. Dit klink nie te ingewikkeld nie, behalwe sy vermaning dat ons asb net normaal moet voorkom, net jammer einste Lodi is die eerste een wat by die bus uitklim.

Die intog in Namibie vat toe bietjie langer as verwag… miskien omdat 60 mense vorms probeer invul met iets soos 4 penne. Tussendeur is daar darem tyd om te lag vir almal se foto’s, en te probeer kyk of jy Rone en Esther kan uitken. Dit help ook nie dat jy in jou 3 minute met die pen nog moet probeer wonder hoeveel geld jy dan nou in Namibie gaan spandeer, jy’t gedink julle gaan reguit rivier toe?

Aangekom by die rivierkamp word daar gou verduidelik wie slaap waar, en julle braai lekker wors op die vuur. Verbasend genoeg maak party groepies, (jy dink hulle het later “Groepie Incredible” geword) nogsteeds ‘n groot punt daarvan dat hulle kos reg is, jy verstaan nie lekker die logika nie, almal se wors word tog op dieselfde vuur gebraai, maar dit nou daar gelaat.

‘n Paar BTK-tradisies word verduidelik, en soos gewoonlik is die eerstetoeriste nie seker of hulle moet lag of huil nie. Party meisies ag dit nodig om hulself te adverteer as die perfekte roeimaatjies, en kla glo na die tyd dat dit nie juis gewerk het nie. Jy wil nie snaaks wees nie, maar met slogans soos “Kyk die meisies jou mis as jy jou hemp uittrek”, en “Jy roei jou dood” is dit geen wonder dat ‘n paar ouens effens geskrik het nie.

Party staan bed se kant toe terwyl ander nog ‘n bietjie sing met die mondfluitjie, maar die rivier en sy stroomversnellings wag, en gou is almal bed toe.

Nag Dames

Dinsdag 7 April

Veldslag 1: Watergevegte

Vanoggend word jy wakker gesing terwyl die sterre nog vir jou loer, maar die muggies is knaend genoeg dat jy gou heeltemal wakker is. Dit vat egter lank vir julle om die laaste voorbereidings te tref voor julle dit op die water kan waag. Julle doen julle studente-status gestand en daar staan sommer ‘n ry by die “bar”, die inhoud van die emmers word gemeet en gepas en die modebewustes onder julle probeer die besonder klein pers reddingsbaadjies afpull. Die laaste “base-partners” word ook gekies, maar jy is effe bekommerd oor die BTK van ouds wanneer julle besef dat Oom Johan McFarlane nie eens die moeite gedoen het om vir tannie Marietjie te vra nie.

Lodi probeer sy bes om ‘n inspirerende toespraak te lewer, oor sy ideale van bloeddorstige oorlogskrete, iets so uit die Gladiator-fliek. Sy woorde is skaars koud of Iris van Reenen voel sy moet hierdie beeld van hom bevestig, en oorhandig aan hom lemmetjie-groen vlerkies.

Toe als uiteindelik lugdig verseël is en die bootjies op die water dobber, moet jy stroomop roei om stil te staan. Lodi se eerste “Roeiers, is julle reg om te roei??” weerklink teen die kranse, maar jy sukkel om die prentjie van die lemmetjiegroen vlerkies te vergeet en dit is met ‘n halfhartige “Jip ja” dat jy daar weg is.

Jy wil net die rivier waarop jy die volgende drie dae meeste van jou tyd gaan spandeer beter leer ken, toe ‘n skoot water in die gesig vir jou ‘n aanduiding gee hoe goed jy die Oranje en sy water sou leer ken. Ja, jy en jou “base-partner” was nog besig om in ritme te kom, toe die eerste volskaalse watergeveg uitbreek. Die basis-kamp is nog skaars buite sig, of meeste bootjies het die volmaakte strategie bewerk, party roei skelm nader, en wanneer jy die minste verwag gooi hulle jou vol in die gesig, ander spat jou met die verbyroei nat, maak nie saak hoe nie, dit kom van voor en agter, maar dit duur net ‘n paar minute of die hele toergroep is papsopnat.

Julle stop langs die rivier vir gamebreak, en is gou aan die frisbee gooi en asof julle nog nie nat genoeg is nie, te swem. Hier word ordentlikheidspraatjie en die eerste koning op ‘n lekker stuk strand gedoen. Jy’t gedink jy moet ‘n toutjie kry vir jou sonbril met al die wilde rapids wat op die rivier wag, maar Lodi verduidelik gou: “Haal maar af julle sonbrille, die meisies kan rof wees.”

Hy moes geweet het wat wag, kyk, ‘n meisie met ‘n halwe chloor-bottel in haar hand is nogal ‘n vreesaanjaende gedagte. Dit is ook nie lank na game-break nie, of “Pirateee” weerklink teen die kranse. Hierdie oorlogskreet is natuurlik vir hierdie einste rowwe meisies om met ‘n arrr in die water te spring en vir hulle ‘n kano te kry om te beset. Of altans, dit was die idee. Groot is jou skok as jy besef party meisies het rustig oorgeklim en nie eens ‘n toon natgemaak nie… Die luukse was van korte duur, want dit gee mos nou perfekte geleentheid om seker te maak dat hulle WEL nat word.

Die naam Dead Man’s Rapid pas miskien by die oorlog-tema van die toer, en jy moet se van ver af het dit soos ‘n waterval geklink, maar dit sorg toe nie vir veel van ‘n adrenalieninspuiting nie.

By middagete is die eerstetoeriste aan die oefen vir hulle liedjies, en hulle verskaf heelwat vermaak aan die outoeriste wat luilekker teen die wal lê. Veral Kobus Muller as die brullende leeu en met sy demonstrasie van “winde wat waai” lok vele giggels uit. Convenor Walter Hildebrand is ook indrukwekkend as hy ‘n paar motiverende woorde spreek om aan die ander te verduidelik, presies hoekom hulle die liedjies moet leer.

Dit is ook hier waar jy begin wonder hoe die Wraakkaptein, Koop Lubbinge sy pos gekry het. Nie net loop hy en glimlag die heeltyd nie, maar Cor van Deventer dra vir hom ‘n wit emmer nader om darem net iets aan sy lengte te doen. Maar gelukkig het hy ander liggaamsfunksies onder beheer, wat meer is as wat jy kan sê van Dana Pretorius, wat met die een uitkyk al die uitkykers laat uitbars van die lag. Kom ons sê maar net dat dit glo sou kon werk as ‘n perfekte Kleenex advertensie.

Erens deur die loop van die dag besef jy die wonder van spanwerk, of eerder, hoe belangrik elke skakel in ‘n span is. Omtrent al 60 van julle het immers julle hoop gesit op Frans-Hendrik en sy grashalmpie, maar toe julle julself 50meter stroomaf bevind, besef julle dat jy net so sterk soos jou swakste skakel is… Ja, as die hele toergroep aan jou vashou is een grashalmpie dalk net te min.

Die beroemde nappy-run, waar jy jou reddingsbaadjie soos ‘n doek aantrek, sorg ook vir vele genot, veral Geneke du Plessis wat, na die stroom haar onverwags meegesleur het, paniekerig uitroep “Middel middel middel!”. Jy wonder nou nog wat sy bedoel het… ‘n BTK toergroep kry dit weer reg om ander mense hulle wenkbroue te laat lig, wanneer julle ‘n treintjie van sowat 50 mense maak. Die kleintjies op die oewer se oë het geblink en jy is maar net bly jy is nie die pa wat aan die kind moet verduidelik, dit is nie éintlik hoe dit gedoen moet word nie.

Andre Haasbroek vat die watergevegte na ‘n volgende vlak as hy amper Kobus en Suné se ondergang beteken soos hy hulle kano vol water gooi. Ander val sommer van self om, San-Marie Muller is glo bekommerd oor haar appels toe sy en Cor omval, en Geneke spring met soveel momentum terug in die boot dat sy en Hoppies Uys toe aan die teenoorgestelde kant uitval.

Julle stop vir die nag, en ‘n volskaalse badsessie word geloods, met moeite natuurlik, want die stroom is so sterk dat selfs ‘n bottel sjampoe nie veilig is nie, tensy iemand dit 50 meter verder gevang kry. Die eerstetoeriste oefen sommer verder in die water, totdat een terloops opmerk, kan ons dalk droog gaan aantrek?

Jy is bly Anina was nog nooit jou blikwasser nie, wanneer sy haar koppie se logika verduidelik “As ek iets soets eet die volgende oggend, weet ek daar was poeding die vorige aand”.

Jy moet se, die kokke kwyt hulle goed van hulle taak, toe jy verby Groepie 1 loop is daar doodse stilte soos hulle die kos eet, gepraat van vreetsaam.

Die eerstetoeriste is besonder vermaaklik in die sleekring. Tussen Nico de Wet se aborigine byklanke en dAAI oranje broekie, Kobus se skokkende Engels “I want dead quiet”, Yolande se besondere miming vaardighede en veel meer is jou maag skoon seer aan die einde.

Julle verkeer lekker gesellig met ‘n koppie soetheid, nuwe BTKners inkluis, waarna die toerouers ook wys hulle is nie bang vir item nie, en hekels raak interessant wanneer Andre opmerk: “Mens mag nie onder die lifejacket hekel nie”.

Die maan is so helder dat jou liggie ver weggepak is, saam met jou warmtop. En terwyl die Skerpioen oor die kranse uitkom, raak jy weg met die dreuning van die rivier in die agtergrond.

Nag dames

Woensdag 8 April

Veldslag 2: Omgegooide bote

Vanoggend se roei is mooi tussen die kanale deur. Jy’t gedink dat die ergste watergooiery nou eers verby is, maar jy was verkeerd . Die son was nog nie eens agter die berg uit nie, of almal is weer volskaal aan die gang. Soos Ena Muller dit stel “Ek is nou natter as wat ek ooit in ‘n swembad was.”

By Gamebreak stap julle teen die berg uit opsoek na Kalsiumfluoried klippies, en natuurlik vir die pragtige uitsig oor die rivier. Die klip-soek bring die geoloë in julle uit, veral George Diener spog met ‘n besonder groot klip wat hy erens uitgegrawe het. Die gamebreak in die modder was dalk vir sommige van julle minder lekker, maar ander gebruik die geleentheid vir modderstoei. Dit lyk miskien lekker, totdat jy sien hoe hulle sukkel om skoon te kom, veral Didi Roos se wit-blonde hare het in die slag gebly.

Hierna volg die Sambok, die ergste versnelling van die roete, maar die rivier is besonder vol en meeste se reaksie aan die ander kant is “Let’s do that again!”. Dit nou behalwe Oom Johan en Tannie Marietjie, die se huweliksbootjie beland letterlik op die rotse en julle moet net plakkies, emmers en wie weet wat nog uitvis aan die onderkant.

So gepraat van vis, die spyskaart vir vanmiddag is Kerrievis (of dit nou die eerste of tweede Woensdag se spyskaart is is natuurlik ‘n ope vraag) en arme Aldi, die marine-kultuur kenner moet aan Groepie 5 die visspesie identifiseer. Dana gee nuwe betekenis aan klipvis, die klip waarop hy sit breek sommer middeldeur. Gelukkig is Darryn-hulle besonder bedrewe met die herstel van oom Johan hulle se boot en dit sorg toe ook vir ekstra lank rondlê in die water. Wat presies Andre onder die water sê is steeds ‘n geheim, maar jy wonder of HY dalk weet wat met Koop se seep gebeur het…

Die middag verloop sonder enige ernstige insidente, behalwe vir die feit dat ‘n nuwe tegniek tot die oorlog-arsenaal gevoeg word, die grootste straf? Om iemand uit hulle boot te tiep…

By aandete het Groepie 1 se Bacon Kips glo skoonveld verdwyn, en is skielik baie vriendelik met almal. Almal kry darem op die ou end geëet, en daar word oor en weer gekuier met mondfluitjie-klanke wat die lug vul, en hot chocolate en kondensmelk wat hier en daar verskyning maak.

Die aitems word vanaand versteur deur verskeie kleurvolle items, onder andere ‘n groen groen komkommer en rooi rooi mikrogolfoond. Nico is die oortuigenste stinkmuishond in ‘n lang tyd met sy “bones in the light”, hy bly ‘n goeie 5 minute so lê. Roné McFarlane, Charlotte Hauman en Ena se kerkafkondigings is vir party snaakser as ander, en jy wonder of Gerrit ‘n Indier of ‘n Chinees is as hy Supplies! skree… moeilik om te se met daai aksent van hom.

Dit is nog ‘n pragtige volmaan-aand en die rivier se druis sus jou aan die slaap

Nag dames

Donderdag 9 April

Veldslag 3: Volskaalse Oorlog

Jy voel soos Shrek in die “swamp” waar julle vanoggend wakker word soos die muggies weer orig is. Walter begin die dag met ‘n oorlogskreet, min het julle geweet wat op julle wag; ‘n volwaardige oorlog, tussen die Alliansie (ook glo die Anti-Lodiansie) en ‘n bietjie later die Anti-Alliansie wat gevoel het hulle moet iets doen aan hierdie barbare wat bote omtiep so ver as wat hulle gaan. Dit raak lelik, Iris van Reenen verbaas almal as sy soos ‘n tiran sommer op iemand anders se boot klim, Charlotte hou vol dat sy gebloei het vir die saak en Rudolph gebruik skokkende taktieke om Luize aan die Alliansie se kant te kry, en jy’t gedink Luize se “nee is haar nee”. Tussen bote omtiep, en spane steel, gehijackde bote (soos Naomi en Nico s’n) en selfs ‘n “Generaal Hendrik” en wie weet wat nog kan julle met reg sê dat ‘n volwaardige oorlog op 9 April plaasgevind het. Die wat nie deelneem nie moet mooi besluit wat om te antwoord as hulle gedreig word met ‘n bloeddorstige “Alliansie of Anti-alliansie”. Party probeer hulle eie party stig, maar tot hulle eie spyt, George en Anina word soveel keer getiep dat die ander groep roeiers hulle verbyvat, en hulle by Gamebreak opdaag wanneer julle amper weer oppad is. By Gamebreak speel julle lekker kleilat, die gidse is teen die tyd al lekker in die gees van die groep en speel tog te lekker saam. Waar Nadia van der Merwe te kort skiet met tegniek, maak sy op met entoesiasme. Sy skryf sommer haar eie spanlid af!

Na Gamebreak is dit asof daar ‘n effense skietstilstand heers en julle roei rustig voort. Maar julle het nie geweet wat op julle wag nie, wag nie. By middagete sê André, “daar is twee kante aan ‘n saak, die Alliansie se kant en die hartseer kant.” Minwetend, terwyl hulle rustig aan middagbroodjies sit en eet, beplan die anti-alliansie ‘n guerilla oorlog, die wapen… ‘n bottel stroop; die teiken… die hoede. Dit lewer nie die verwagte slagveld nie, in teen deel, jy dink nie iemand het hulle hoed opgesit nie, maar nie te min besluit hulle om wraak te neem. Arme Lodi word gebrandmerk as die skuldige en sy boot word VOL gelaai met sand… dit terwyl sy medepligtige nou nog op vrye voet is.

Annejan maak dat jy nooit weer met dieselfde oë na kondensmelk sal kyk nie, sy besonder dodgy broekie is verewig in jou brein, en jy wonder of ENIGE iemand hom ooit weer gaan antwoord as hy vra of hulle honger is.

Julle dryf vir 5 minute in stilte, om “al julle sugte vir die nuwe kwartaal klaar te sug”, en dit is besonder spesiaal. Julle het nie eens besef hoe baie julle raas nie, en jy’s amper spyt toe die stilte weer verbreek word. Die rivier neem julle nou deur ‘n baie mooi deel, en julle dryf/roei tussen die riete deur. Julle sien verskeie voëls en selfs ‘n slang, Anina het glo meer as een pompstasie gewaar. Jy word vir ‘n oomblik verblind deur die son op die water, maar besef dan dat dit eintlik net Christiaan Rabie is wat met sy shimmering sonbrandroom so bietjie soos ‘n Kersfeesboom lyk, en dit in April. Tyd vir die laaste groot rapid, en wanneer Petrus die gids vir julle gil “Roeiers is julle reg om te roei” antwoord hyself: “Ja, julle is regtig reg!”. Ja, die gidse het omtrent deel geword van die groep, dit besef jy toe jy agterkom hoe goed Deon is met die oorlogvoering, ervaring tel defnitief in sy guns, jy’s seker Marietjie het hom sommer gou aan die speel gekry.

Te gou bereik julle die afklim-punt, jy kon nog vir lank op die rivier lag en speel. ‘n Paar bittereinders besluit om Gentleman’s Challenge te hou oor die laaste stukkie, en jy wonder hoekom Naomi haarself as Gentleman klassifiseer as sy saam roei.

Die aflaai en oplaai proses is omtrent iets om te aanskou, vir die meisies ja, maar ook vir Tinus. Jy sal dit vir hom gee, om berg op en af met sy krukke, tussen modder en water deur, getiepde bote en wie weet wat nog op een been heel ander kant uit te kom verdien mens seker bietjie om te sit en kyk.

Julle word op verskeie maniere terug vervoer, party met die bus en ander op ‘n trok en aangekom by die basis-kamp raak almal stuk-stuk skoner soos die warm storte waardeer word en julle julle laaste swem in die Oranjerivier geniet terwyl die son rooi wegsak. Tussendeur is dit ook ‘n groot gesoek na jou emmers, tannie Marietjie sukkel so dat sy sê dis erger as ‘n Memory Game!

Daar word om die vuur gekuier soos die gidse vanaand aandete voorberei. Jy sien die rivier het tog ‘n paar slagoffers geëis soos baie dorings uit hulle voete haal, toegegee, julle het meer as een keer in ‘n doringbos of 10 gestop. Toe Petrus weer vra of julle reg is om te eet, dink jy nie hy het besef wat op hulle wag nie. Julle laai omtrent die heerlike potjiekos in, mens sou nie sê julle het genoeg kos vir twee Woensdae gehad nie. Slee is ‘n vergete gedagte as julle verder om die vuur kuier. Kitaar en saamsing is aan die orde van die dag tot laat in die aand, terwyl ander ‘n vryfbedryf of twee geniet. Dit was miskien stroomaf roei, maar jou skouers is lekker styf, en jy’s seker jou armspiere is dalk ‘n KLEIN bietjie groter as 4 dae terug. Julle kry darem tyd om te hekel ook, en moet ‘n paar keer stilgemaak word, maar dit is net ‘n paar bittereinders wat wakker bly vir die bus. Die res sou die volgende dag moes aanhoor van Christiaan se talent in miming, en vele kere moes luister na Yolande Maritz se “Wasi tjips?”

Nag Dames

Vrydag 8 April

Vredesooreenkoms

Met die bus weer gelaai vir die lang terugtog groet julle die Oranje en sy mense met die maan wat nog net so mooi is. Die grenspos gaan die keer aansienlik vinniger, al is Nico wragtig met sy oranje “slaap”broek daardeur (jy’t gedink jy’t als gesien), en Danie Malan soek is. Party van julle is nog lekker deur die mis, en dit vat ‘n harde koowee van die vrou agter die toonbank voordat Ludwig besef dat hy tans in die land van die lewendes is.

Veilig in Suid-Afrika gebruik julle die geleentheid om verder te slaap en dit is net ‘n paar wat wakker is om die mooi te sien van die son en maan aan weerskante van die bus. By Bitterfontein is dit ‘n vinnige stop vir ‘n badkamerbreuk, maar julle staan in ‘n lAng ry aangesien daar net een toilet is. ‘n Oom vra verbaas, “Hoekom staan julle in ‘n ry” waarop een antwoord “ Ons is georgansieerd, oom”. Ja, georganiseerd is julle defnitief, en dit is ‘n goeie halfuur later voor julle weer in die pad val.

Die “groot ontbyt” wat op Vanrhynsdorp sou plaasvind word toe sommer uitgestel na middagete op Piketberg, en julle is goed honger toe julle stop vir die Terrash, en ja, die mense het weer nie geweet wat hulle tref nie! Dit is tyd vir die toerlikse Spur Burger Challenge, en die spanning loop hoog. Kommentators Christa en Christiaan verskaf heelwat vermaak agter jou: JD van Deventer maak glo “sy palet skoon” as hy suurlemoen eet voor die tyd, Annejan het sommer ‘n “harem” van meisies rondom hom, en Dawie is die buiteperd. George is verbaas toe Dana die burgers aandra “Ek het nie geweet Dana werk by die Spur nie!”. Die buiteperd laat toe ook nie op hom wag nie, en Dawie tree ‘n minuut of twee later as wenner uit die stryd.

Met julle mae vir ‘n slag weer vol klim julle terug op die bus waar die laaste stukkie pad omgekuier word met 30 seconds, ‘n paar rondtes Mafia en natuurlik ‘n bietjie sing.

Die son skyn helder as julle weer op die Neelsie parkeerterrein stop, heelwat bruiner, strategies slimmer en met meer lagplootjies as 4 dae terug. En as jy terugdink aan 5 dae van lag en sing en gil, aan natword en omval en watergevegte, aan modder tussen jou voete en muggies in jou sop, aan volmaan en rapids, stroop en kondensmelk en tjips, maak jy met ‘n glimlag jou sketsboekie toe en wonder hoe jy ooit weer ‘n rugsaktoer sal kan doen. Duisend ervarings en heerlike dae… die Oranje gaan nog lank ‘n glimlag op jou gesig bring.

Naskrif: Hierdie sketsskrywer was eerstehands betrokke by die stroopinsident… All is fair in love and war!