Uitstappie beskrywings 2010/2011

NAWEEKUITSTAPPIES:

Stellenboschberg / Haelkop – 16-18 Okt 2010

Hierdie lekker roete is sommer geleë in ons eie agterplaas. Ons begin by Paradyskloof en stap dan met ‘n steil paadjie tot op Stellenboschberg waar ons kamp opslaan. As dit nie te dynserig is nie, behoort ons die son agter Tafelberg te sien wegsak. Die volgende dag klim ons Haelkop uit en geniet die uitsigte oor Valsbaai, Stellenbosch en die Kaapse vlakte vanwaar ons met die selfde roete weer tot onder stap.

Waterval (Porterville) – 17-20 Feb 2011

Die kampplek naby Porterville se naam is Waterval. Die naweek sluit ‘n avontuurlike 8 uur stap in deur ‘n woudagtige ravyn met meer as 20 watervalle en swempoele! Daar is hope geleentheid vir swem en baljaar in die helder verfrissende water. Hierdie is ‘n rustiger tipe roete en geskik vir almal.

Arangieskop – 8-10 April 2011

Hierdie roete is geleë in die Dassieshoek-natuurreservaat naby Robertson. Die eerste dag behels ‘n styging van meer as 1100 m na die luukse oornag hut wat oor die Koovallei uitkyk. Die tweede dag se roete begin met ‘n klim na die 1850 m hoë Arangieskop wat asemrowende uitsigte verskaf. Daarna daal die roete redelik vinnig terwyl dit in ‘n ravyn met ‘n aanloklike swemkuil afkronkel. Daar is ook ‘n hele paar geleenthede vir swem langs die pad. Hierdie is ‘n meer uitdagende tipe roete vir fikse stappers.

Fonteintjiesberg – 29-31 April 2011

Fonteintjiesberg is geleë aan die die Noord-Oostelike kant van Worcester in die Breederiviervallei. Die stap begin aan die voet van die berg, binne die Fairy Glen natuurreservaat. Aanvanklik is dit ‘n stewige klim teen die hang van die berg, maar wanneer jy die bekende Lemoendraai bereik, is dit ‘n rustige stap tot by die Thomas hut. Die hut is goed ingerig met meeste van die basiese benodighede bv. matrasse, lopende water, toilet en eetgerei. Die rugsakke word by die hut gelos om tot by Fonteintjeisbergpiek te stap waar jy ‘n asemrowende 360 grade uitsig oor die hele Breederiviervallei, Hexriviervallei en in die rigting van Ceres het.

Matroosberg (5-7 Augustus 2011)

Hierdie is beslis ‘n piek wat jy agter jou naam kan skryf aangesien dit die hoogste een in die Weskaap is. As moedernatuur saamspeel gaan daar sneeu wees om teen af te gly, sneeumanne mee te bou en mekaar met sneeuballe te peper. Ons slaap twee nagte in De Doorns vanwaar ons die berg sal aandurf. Ons gaan slegs met dagsakkies stap, so ‘n rugsak is nie nodig nie. Fiksheid word vereis vir die byna 2 km se vertikale styging.

Hottentots Holland (14-16 Oktober 2011)

Hierdie roete is die naaste naweekstap aan Stellenbosch en tog het so min mense dit al gedoen. Die begin van die roete is naby Grabouw. Ons slaap in die Landroskop hut en stap deur ongelooflike mooi bergfynbos, rotspoele en watervalle.

DAGUITSTAPPIES:

Katedraal – 18 Sep 2010

Hoër as die Pieke

Kom klim een van die indrukwekkendste berge in Jonkershoek, 1515 meter bo seespieël, en hoër as die Pieke! Dis ´n vol dag se klim en jy moet verkieslik nie te kwaai bang wees vir hoogtes nie, en relatiewe fiksheid word vereis… m.a.w. as jy meer as tien series per week kyk, moet jy maar tuis bly! Dit beloof asemrowende uitsigte oor die Kaapse berge, so moenie jou kamera vergeet nie!

City Rock – 25 Sep 2010

Vir al die rotsklimmers

Ons beplan om ‘n inleidings “top rope” kurses by City Rock in Kaapstad te doen. Die kurses is 2 ure lank en daar gaan na die tyd ‘n (verniet) halfuur lange inleidende “bouldering” kurses wees.Verder gaan almal wat deelneem ‘n verniet 7 dag vrye toegang pas kry. (‘n dag pas is R60!) Ons vat die trein, so maak reg vir grootskaalse avontuur!

Tafelberg – 3 Okt 2010

Ons gaan Tafelberg in twee groepe klim. Een groep gaan van Kampsbaai se kant af (via Corridor Ravine) by die berg op om die Tranquility Cracks en versteekte geelhoutbome te soek. Van hier gaan ons na die Hutchinson-Hely dam en dan af by Nursery Ravine tot in Kirstenbosch. Die tweede groep stap teen die gesig van die berg uit met die bekende Platteklip Gorge paadjie tot by die hoogste punt op Tafelberg, MacClear’s Beacon, en gaan dan af via Skeleton Gorge tot in Kirstenbosch.

Bothmaskop volmaan – 24 Okt 2010

Ons beplan om met volmaan ‘n soortgelyke uitstappie te doen as die Kapenaars en Bothmaskop in plaas van Leeukop te klim. Dit sal die BTK se eerste naguitstappie wees so moet dit nie mis nie!

Sjampanje Ontbyt (30 Januarie 2011)

Hierdie is ‘n ‘welkom terug’ uitstappie en is gratis vir alle lede van die BTK. Kom kyk hoe kom die son op oor Bothmaskop met die BTK se eerste uitstappie van die jaar. Ontmoet ook die BTK bestuur en hoor wat beplan ons vir die jaar!

Happy Valley (Bainskloof) (13 Februarie 2011)

Die Happy Valley staproete begin so 10km buite Wellington in Bainskloof. Die 9km roete bevat ‘n hele paar indrukwekkende bergpoele en die Junction Pool, aan die einde van die roete, is baie gewild. Die roete is geskik vir stappers van alle vlakke en fikshede en dit is veral beginners wat dit sal geniet.

Rock Hopper (Bainskloof) (13 Februarie 2011)

Die Rock Hopper roete is ‘n kort, maar avontuurlike roete in Bainskloof. Stappers moet van rots-tot-rots spring en selfs by plekke swem om deur hierdie 6km lange kloof te beweeg. Dit beloof om groot pret te wees in die somer!

Crystal Pools – 26 Februarie 2011

Crystal Pools is ‘n rustige staproete 7km buite Gordons Baai. Die 8km roete begin by die mond van die Steenbras rivier en neem stappers deur die Steenbras Reservaat tot by asemrowende poele en watervalle. Daar is ‘n hele paar poelspronge vir die brawes daar buite.

Helderberg (30 Maart 2011)

Die Helderberg Natuurreservaat in Somerset-Wes is geleë teen die pragtige Helderberg. Daar is ‘n 8km staproete wat tot heel bo op die berg gaan en ‘n ongelooflike uitsig oor Valsbaai bied. Die stap is rustig, maar ‘n matige fiksheidsvlak is nodig vir die styl dele.

Pieke – 16 April 2011

Kom stap die legendaries Pieke, een van die hoogste berge in Jonkershoek! Dis ´n vol dag se klim en relatiewe fiksheid is ‘n vereiste! Dit is verseker nie ‘n rustige stap nie en jy moet verkieslik nie te kwaai bang wees vir hoogtes nie.

Somerset Sneeukop – 23 Julie 2011

Ons beplan om die hoogste piek in die Boland, Somerset Sneeukop, te klim! Dis ´n vol dag se klim, maar nie tegnies moeilik nie. Die roete is besonders mooi met uitsigte soos min. Ons begin in Jonkershoek en gaan verby Eerste- en Tweede Waterval en by Kurktrekkersnek op.

Devon Valley wingerdstap/wynproe – 6 Aug 2011

Devon Valley is ‘n wynplaas net buite Stellenbosch. Die baie rustige staproete kronkel tussen deur hul wynlande en eindig met ‘n lekker wynproe.

Simonsberg – 20 Aug 2011

Die hoogste losstaande berg in die Wes-Kaap

Kom klim een van die bekendste berge in Stellenbosch! Simonsberg is met ‘n hoogte van 1399m die hoogste losstaande berg in die Wes-Kaap. Ja, mense het respek vir jou na jy hierdie reus oorwin het. Van bo sien jy die Kaap en sy plooiberge soos jy dit nog nooit gesien het nie. Die roete is relatief steil so ‘n beginners graad van fiksheid word vereis. Ons beplan ook ‘n moontlike skakel met EcoMaties om die ‘n klomp jong indringer denneboompies bo-op die berg af te saag. Moenie jou kamera vergeet nie!

Duiwelskloof – 17 Sep 2011

Hierdie is een van die mooiste klowe in die Groot Drakenstein berge met inheemse bos en groot kranse weerskante. Ons begin verby die Duiwel se Tand en hoop om later die ‘volstruis’ rots te sien. Daar is een stukkie klouter om verby ‘n waterval te kom.

AVONTUURUITSTAPPIES:

Valskerm spring (15-18 Oktober 2010)

Het jy nog altyd gevoel jy wil graag vlieg? Dan is hierdie net die regte geleentheid vir jou. Die BTK gaan weer valskerm spring by Robertson. Ons gaan by die vliegveld kamp waar hulle vir ons ‘n kursus sal gee voor die groot sprong. Dit gaan groot pret wees. LET WEL: Ons spring static line en jy spring alleen. Jy is welkom om saam te kom al waag jy dit dalk nog nie om te spring nie.

Suicide Gorge (Omkomkloof) (5 Februarie 2011)

Hierdie outjie is maar net die begin van groot dinge vir die avontuurlustiges onder ons en wanneer jy jou matie dagboek kry is dit die outjie wat jy eerste gaan inskryf (vergeet nou maar eers van jou ouma se verjaarsdag!) Ek glo geen matie met ‘n tikkie avontuurlustigheid kan sy loopbaan (onthou universiteit is ‘n loopbaan nie ‘n renbaan nie) hier afsluit sonder om Omkomkloof ten minste een keer te doen nie.

Hierdie is nie ‘n katjie om sonder handskoene aan te pak nie en die naam se reeds die meeste van wat jy moet weet. Die roete is egter net so mooi as wat dit gevaarlik klink. Ons gaan vroeg die oggend vertrek en dan die die dag spandeer deur in die rivier in Omkomkloof af te beweeg en by ‘n reeks watervalle in die rivier af te spring. Wees gewaarsku dat alhoewel dit nie noodsaaklik is om by al die watervalle af te spring nie daar tog een of twee (laererige) spronge is wat gemaak moet word. Dis ook nie nodig om ‘n olimpiese goue medalje agter jou naam te hê om hierdie uitstappie mee te maak nie, maar jy moet darem nie in jou eie badwater verdrink nie! (M.a.w. jy moet so bietjie kan swem aangesien van die dele geswem moet word). Ons begin naby Grabouw.

See Kajak (5 Maart 2011)

Somer, son, sand en see – wat meer kan enigeen dan nou voor vra? As jy gesê het ‘n tikkie avontuur spits jou ore!

Die BTK gaan al hierdie lekker dinge kombineer deur ‘n see-kayak uitstappie romdom Gordonsbaai aan te pak. Dit is ‘n pragtige roete wat min mense die kans kry om van hierdie hoek af te beskou. Die vaardigheidsgraad van hierdie uitstappie is darem nie te hoog nie en met die son op jou gesig en die see-sproei in die lug is hierdie mos net die manier om die somer tye ten volle te benut!

Doringrivier roei (29-31 Julie 2011)

Hierdie is weer een van daardie avonture wat jy tot op jou oudag gaan onthou en almal wat jy ken gaan later moeg wees om die storie te hoor!

Los maar die geafdrywery in ‘n stroompie soos die Oranjerivier, want hier gaan jy alles stewig aan jou boot moet vasbind as jy daarin belangstel om nog teen die einde van die dag enigiets behalwe die wifebeater aan jou lyf oor te hê! As dit op die regte tye reën (begin solank bid!) bied die Doringrivier ‘n paar lekker rapids wat op min ander plekke in Suid-Afrika in te vinde is. Hierdie is pragtige roete wat op ‘n unieke manier waardeer kan word. Hierdie beloof om ‘n naweek te wees met genoeg avontuur en natuurskoon om enigeen se lus vir hierdie dinge te bevredig.

Silwermyn grotkruip (1 Oktober 2011)

Wie’s bang vir die donker?

Kom verken saam met ons die Silwermyngrotte op Saterdag 1 Oktober! Hierdie grotte is een van daai onbekende juwele van die Kaapse plooiberge. Min mense weet van dit en selfs minder kan dit daarin waag sonder om te verdwaal. Die grotte is in die berge bo Simonstad geleë en is opgedeel in twee dele. Na die eerste korter grot (Boomslanggrot) kom jy uit op ‘n belaglike uitsig oor die Kaapse skiereiland. Die tweede grot is die taaier een met baie nou gleufies en tonneltjies so mense met engtevrees moet liefs eerder daai oggend series kyk by die huis. As jy avontuur gesoek het, het jy sopas daarop getrap!

BERGFIETSUITTRAPPIES:

Majiek forest (19 Feb 2011)

Is gelee in die Tygerberg en het ook ‘n paar ongelooflike paadjies om in te gaan speel. Hierdie uitstappie is ook vir ons BTK’ners op Tygerberg wat graag die roetes wat naby aan hulle gelee is te kan gaan ontdek.

Welvanpas (7 Mei 2011)

Die Welvanpas roetes is gelee net buite wellington naby bains kloof. Daar is drie roetes van tussen 8 en 18km, waarvan ons ‘n kombinasie gaan ry. Die roetes bestaan uit ‘n mengsel van uitdaagende klimme en tegniese enkel spoor tot rustige vloeiende paadjies. Hierdie roete is ‘n moet vir enige bergfiets liefhebber om te ry.

Lourensford (13 Aug 2011)

Lourensford is gelee in die Helderberg kom en is ‘n ongelooflike plek om met jou fiets te gaan speel. Toegang is baie beperk en daar word elke keer spesiaal gereel vir ‘n uitstappie. Daar is +-250km se grond paaie in Lourensford van bo in die berg tussen koel waterstrome tot onder tussen die plantasies. Roetes word self bepaal die oggend van die uittrappie afhangend van die fiksheid vlakke van die betrokke mense. Vir die wat van enkelspoor paadjies hou, kom gerus saam hier is so ‘n hele paar ongelooflike paadjies.

Oak Valley (Grabouw) (24 Sep 2011)

Taai 30km enkelspoor

Hierdie is ‘n uitdagende enkelspoor roete van ongeveer 30km op by Oak Valley, Elgin Grabouw. Oak Valley is een van die mooiste en beste plekke in Grabouw om te gaan ry. Dis ‘n droom vir enige ryer wat lief is vir ‘n lekker vloeiende enkelspoor paadjie. Ons gaan ‘n kombinasie ry van ‘n sterk amateur (rooi) en gevorderde (swart) roete. Daar is ook wel ‘n aangrensende beginner (groen) roete vir diegene wat nog nie loshande kan ry nie. Al drie roetes oorvleuel gereeld. Daar is ook ‘n moontlike wynproe wat by die eindstreep wag. Kom trap saam!