Botmaskop uitstappie

Op die aand van 23 Oktober het 14 van Stellenbosch se gehardste studente die stemmetjies in hul kop wat hulle aanmoedig om te swot, heeltemal geïgnoreer en eerder Botmaskop gaan klim. Toegerus met 3 bottels wyn, chips, hopeloos te veel crackers en geen haas om terug voor die boeke te kom nie, is die pad op aangepak met ‘n soort rustigheid wat jy nie in die eksamenseisoen sou verwag nie.

Bo gekom is tops en langbroeke aangetrek en is die wyn sommer gougou geskink. In die bibberende windjie het die trop van veertien gesit en wag vir die maan om kop uit te steek.

Na die groepfoto’s is die pad af vinnig gevind het en was die algemene gevoel van die groep dat Botmaskop af in die donker stukke beter as af in die lig is, want dan kan jy mos nie sien hoe ver jy val nie.

— Gerrit Coetzee (26/10/2010 )