Tafelberg uitstappie

Sondag, 3 Oktober het 35 ywerige stappers vroeg opgestaan, in die bussies geklim en vertrek om die ikoon van Suid-Afrika, Tafelberg, te bestyg. Die groep is in twee verdeel. Die eerste groep, gelei deur Daniël Kotzé, is aan Kampsbaai se kant op om die versteekde geelhoutwoud of Tranquility Cracks te soek, terwyl die tweede groep, gelei deur Anton Kraemer, die berg van voor aabgedurf het om die hoogste punt, MacClear’s Beacon, te bereik.

Vir groep 1 was die opstap taamlik maklik by Corridor Ravine, na ons deur van die mooiste klowe in die Kaap gestap het. Ons kon gelukkig maklik die Tranquility Cracks kry en dit was iets besonders! Daar is ou geelhoutbome wat uit 20m diep krake in die berg groei. Die krake het ook gesorg vir interessante doolhof van tonnels en gate waardeur ons geskuur het. Te danke aan ‘n ou veteraan stapper wat ons langs die pad raakgeloop het, kon ons die eerste kabelspoor sien en ook ‘n belaglike foto van Francois du Plessis op die punt van die Kasteelspoort rots neem (sien collage). Middagete was by die Hutchinson-Hely dam bo-op die berg, waar ons ook die klein waterwerke museum besoek het. Hier het die mis ons bietjie begin vang en was dit amper soos ‘n feetjieswoud toe ons by Nursery Ravine tot in Kirstenbosch afgeklim het. Hier het die twee groepe weer bymekaar gekom en kon groep 1 vir groep 2 uithelp na Tinus Laubaschagne hulle bussie se sleutel in die kar vergeet het..

— Daniël Kotze (08/10/10)


Groep 2 het die Platteklip roete opgevat en het stadig tot by die bokant van die kabelkarretjie gevorder. Daar is gamebreak gehou aangesien daar water beskikbaar is en die netjiese badkamer is ook waardeer. Die bestuurders wat die bussie by Kirstenbosch gaan los het, het ook hier weer by ons aangesluit. Vandaar het ons na die beroemde MacLear’s baken gestap waar middagete genuttig. Dit was ook hier waar die tafeldoek oor die berg gekom het en ons het die res van die tyd in die mis gestap. Nadat ons die afdraai na Skeleton Gorge gemis het en byna met Kasteelspoort die berg af is, was daar gelukkig ‘n paar ander stappers wat ons weer op die regte pad gely het. Skeleton Gorge was ongelooflik met sy stroompie en watervalletjies. Onder in Kirstenbosch het sommige stappers die hoë pryse trotseer en ‘n koffietjie aangeskaf terwyl Karen met moeite ‘n sekuriteitsbeampte ontduik het. Hier het ons vir die motor met die bussie se sleutel gewag en ons is terug na Stellenbosch.

— Anton Kraemer (12/10/2010 )