Botmaskop Sjampanje Ontbyt

Ons het die jaar sommer op ‘n hoë noot afgeskop met die tradisionele sjampanje ontbyt op Botmaskop. Die uitstappie het plaasgevind op Sondag 30 Januarie. Omtrent 30 toeriste het opgedaag vir die ondervinding en almal het dit baie geniet. Dit is ook nie elke dag dat ‘n mens sjampanje, Franse-brood en waatlemoen bo-op ‘n berg kan eet terwyl jy die uitsig bewonder nie. Oomblikke wat onthou sal word is Christiaan wat nie die waatlemoen teen die berg uit kon dra nie en dié taak toe aan ‘n eerste toeris oorhandig het, Jacomien wat haar sjokolade tussen die rotse laat inval het en dit toe tussen die dassiemis moes gaan uitgraw, Charlie wat die oorblywende sjampanjebottel laat verdamp het en laastens ek wat almal ‘n voorsmakie gegee het van hoe ‘n harde toer sal wees deur almal met ‘n ompad deur die bossies te lei.

— Anton Kraemer (11/02/2011)