Waterval (Porterville)

Die afgelope naweek se uitstappie was ‘n fees. Agtien BTKners het Vrydagmiddag die akademie agtergelaat vir ‘n wegbreek in die natuur. ‘n Verdere drie wat nog ander verpligtinge gehad het, het eers Saterdagoggend by ons aangesluit. ‘n Hele boks “Oats”-pap is genuttig voordat die pragtige kloof met meer as twintig watervalle aangepak is. Debat is gevoer oor wat nou klassifiseer as ‘n waterval, maar konsensus kon nie bereik word nie. Teen twaalfuur was ons reeds besig om die kloof te verlaat asook die skaduwee van die digte bome. Ons het ‘n ent verder teen die berg opgestap sodat almal darem ‘n idee kan kry van hoe dit nou is om ‘n berg te klim. Nadat Rossouw sowat ‘n kilometer se verkenning gedoen het, het ons weer teruggestap om middagete langs die rivier te geniet. Daar is nie minder nie as ses snye brood deur elke stapper opgeëet. Die sjokolade was in ‘n vloeistofvorm en dit het oorgestaan. Verder in die kloof af het ons onder ‘n waterval geswem terwyl Willem en Sebastian hulle rotsklimtegniek geoefen het. By die kamp het feitelik almal in die dam gaan ontspan met Carike wat gesorg het vir eindelose vermaak. Die aand is afgesluit met die bekende BTK-pasta en die vla-en-“Toppers” poeding asook baie spesiale “hot chocolate”. Vroeg Sondagoggend moes nege BTKners alweer die pad terug aandurf vir persoonlike verpligtinge. Na ontbyt het ons weer opgestap na die tweede waterval wat as outomatiese vryfbedryf gedien het. Terug by die kamp is die tente almal afgeslaan en alles in die motors gepak. Heelwat stappers het ‘n dik uiltjie geknip op die terugpad. As ek die tekens reg gelees het, het almal dit baie geniet en ek glo almal het sommer nuwe energie vir die week wat voorlê.

— Anton Kraemer (20-2-2011)