Drakensberge Junie 2011

Dinsdag, 7 Junie

03:30 die oggend kom ongeveer 40 opgewonde, maar tog baie deur die mis, studente bymekaar op die Neelsie se parkeerarea. Bekendes groet mekaar en nuwelinge word voorgestel. Almal vertel watter warm klere hulle het en probeer vasstel of dit genoeg is. Party is minder gepla en praat net oor hulle laaste eksamenvraestel. Ander vergelyk weer die verskillende weervoorspellings wat hulle gehoor het en jy kan nie help om te wonder: Is ons regtig so mal soos wat almal al van die inskrywings af sê? Nee man, ons is braaf en avontuurlustig, ne?

Die kossakke word uitgedeel vir elke groeplid en rugsakke word in onderskeie motors gepak. Ja, motors. Volgens die toerleier, George Diener, doen ons dinge soos in die ou dae en word daar beplan om met agt motors die pad aan te pak. Toe alles klaar gepak, gereël en gesluit is, word ‘n kring gemaak en ons word ordentlik verwelkom. George vra seën vir die lang pad en ons spring in die karre. Ons vertrek 04:30.

Die eerste stop is teen dagbreek by Laingsburg. Volgens termometer is dit 2 grade celsius, maar dit is dan nie so erg nie, ons sal seker oraait wees?

Hoe verder noord daar gery word op die N1, hoe meer besef jy dat dit tog maar net Afrika kan wees. As dit nie vir die slaggate is nie, is daar elke nou en dan padwerke. Padwerke gee darem kans vir Jaques du Plessis om te sien dat hy ses missed calls en nie ander oproepe van Johan Wiid het.

Ons kry mekaar weer by Beaufort-Wes, êrens naby die sirkel, party bestel ontbyt by die Wimpy en ander wil vinnig weer op die pad kom. Net soos wat Charlie de la Harpe se reis-genote gedink het hulle is oppad, besef hulle dat hy egter ook een van die was wat ontbyt bestel het. George, Charlotte en Jacomien Hauman kyk in die toekoms in en verbeel hulle hoe vakansies sal gaan met Magriet Muller en Charlie.

Wat presies van Beaufort Wes tot by Sterkfontein in die verskillende motors gebeur het, is ongelukkig herhinneringe wat in die motors sal bly en hopelik op kamera vasgevang is. In Magriet se woorde:”Of ons nou of later ry, dit bly ‘n lang pad.” En ja, dit WAS ‘n lang pad. Een ding wat egter ‘n algemene herhinnering sal wees, is definitief die reën wat neergesif het en dit in die donkerte nog moeiliker gemaak het om oor al die gate te kom. George is egter van mening dat dit nog nie so erg soos Mosambiek kan wees waar jy gelyk is met die pad as jy in die gat is nie. Gelukkig het ons bekwame bestuurders gehad, net jammer almal se enjinkrag was nie so sterk was teen die bulte nie, ne Esther McFarlane?

By Sterkfonteindam het die renjaers solank begin met die vuurmaak en wors braai, terwyl tente opgeslaan is in die reën en gewonder is oor hoe die reën ons stapplanne sal beïnvloed. Toe die laaste vier motors uiteindelik, nadat Herman van Zyl opgelaai is, Hugo Minnaar nuwe liggies gekry het en Charlie weer olie gekry het, ook by die natuurreservaat opdaag, word laaste tente opgeslaan en daar word hotdogs geëet.

21 ure later, en ons vorm weer ‘n kring en ontmoet ons toerouers, Gerrit en Marlise Kotze. Ons dank die Hemelse Vader dat Hy ons veilig bewaar het op die pad en gaan bedtoe.

Die meisies vertoef nog ‘n hele ruk indie badkamer en oorweeg dit om sommer daar te slaap. Tussendeur het Anina Botha en Esther veel te sê oor die ander een se toerusting. Finale besluit is dat ons tog op ‘n BTK toer is en daar word in die tente geslaap.

Die kampterein word uiteindelik stil, met reën wat val, en donderweer wat in die verte slaan.

Woensdag 8 Junie

Die son vereis ongelukig nie met ‘n helder glans vanoggend nadat dit die hele nag gereën het nie. Daar word lekker laat geslaap, nog ‘n eerste vir die BTK. George roep almal uit die tente uit om die reëlings van die dag deur te gee. Daar is besluit dat ons nie meer die daguitstappie na Mount-Aux-Sources gaan doen nie, ons gaan nog by die kampterein bly en kyk wat die weer maak na more toe. Daar word water gekook in die waskamer vir iets te drinke en lekker BTK-muesli.

George was op die regte tyd by die kantoor toe ‘n oproep deurkom van ‘n tannie in Harrismith wat ons soontoe nooi vir die dag. Alle dank aan Chantel Kets wat toevallig met die tannie begin gesels het voor die vakansie, ‘n ware primaria. Charlie dink egter dat die enigste rede waarom met soontoe sal wil gaan is omdat daar ‘n kroeg is. Jana de Wet vra vir George om sy skoene aan te trek, hy reageer verontwaardig en vra: “Wat? Moet ek my broek aftrek?” Charlotte antwoord vinnig: “In jou drome, George”.

Tente word afgeslaan, sakke word gepak en in die karre gelaai. Anina dink sy’s klaskaptein en jaag almal aan. Daar word vir oulaas na die dam gekyk en ons vertrek in ‘n konvooi na Harrismith.

Wat? Laat hierdie tannie veertig studente in haar huis toe? Verbasing word groter hoe verder daar in huis ingestap word, kaggelvure, koek en koeldrank is maar net die begin. Iemand vra wat die tannie se naam is, Hanno Oostenbrink antwoord: “Awesome”. Toe Chantel afkondig dat ons maar kan nader staan vir pannekoek, maak Anina die opmerking dat ons definitief waarde vir ons geld kry. Ons sit omtrent by ‘n feesmaal aan, regdeur van koek vir voorgereg, pannekoek, spagetti en broodrolletjies en nog pannekoek. Anina en Esther sorg mooi vir Adriaan Zeeman en skep vir hom ‘n groot bord spagetti, wat hy, soos hy grootgemaak is, met groot moeite opeet.

Tente word weer in die tuin opgeslaan om ‘n bietjie uit te droog. En natuurlik, kan daar ook net so lank stilgesit word, so ‘n spel touchies word begin op die nat gras, nodeloos om te sê, dat dit net ‘n groot moeras was toe dit tot ‘n einde kom. In die sitkamer vlieg voorstelle van speletjies wat gespeel kan word heen en weer, daar word uiteindelik op alien besluit. Ongelukkig sukkel die konsentrasie so bietjie, en word die alien verveeld en besluit om terug te keer na sy tuiste. Vermaak word ook verskaf deur die ketel waarin daar lekkertjies verskyn as dit gevryf word. En raaiskote waaroor George en die tannie so diep gesels.

Teen laatmiddag word die tente weer afgeslaan en rugsakke gepak. Daar word besluit om die Pinksterdiens te gaan bywoon. Ons is egter ‘n bietjie laat, en moet met ons uitrustings wat wissel van jeans en boots na sweetpakke en stoakies heel voor in die kerk gaan sit. Die preek gaan oor verskillende gedagtes wat ons het oor die hemel, Jesus en die wederkoms en hoe dit miskien vernuwe moet word. Soos wat ons sit in die kerk, besef jy net weer, hierdie mense van Harrismith, hulle is ware mens-mense.

Terug by die huis wat nou al soos ‘n regte tuiste voel, word rugsakke finaal gepak, geweeg en in party gevalle weer gepak. Ons eet ons eerste BTK-ete, baie dankie kokke.

As jy gedink het 40 mense in een huis is erg, dink net hoe is dit as dit 40 mense in een kamer is, waar daar nog gasse van ‘n kaggelvuur ook is, bymekaar is. Ons bedank die tannie en oom vir hulle gasvryheid. George gee die planne van more deur. Francois du Plessis maak die opmerking dat daar more-oggend uit die slaapsakke geskiet moet word soos ‘n broodrooster. Skiet, slee, items en hekels word verduidelik. Beaula Buitendag raak baie bekommerd oor die woord: skiet. Gelukkig volg daar ‘n demonstrasie deur Magriet en Charlie. Jana word heeltemal deurmekaar met hoe die geslagte werk met skiet en damesskiet, maar sy word darem reggehelp. Charlie, Francois en Hendrik Smith demonstreer ‘n item. En laastens word hekels deur Hugo Minnaar verduidelik. Hekels wat volg: Margo Slabbert hekel vir Charlie wat gesê het: “Shit, kom ons gaan” toe die tannie die honde uitjaag. Hy antwoord dat hy in iets getrap het en skuldig gevoel het dat die tannie nou die honde blameer vir die reuk. Hendrik vra vir Jacques du Plessis wat hy bedoel het toe hy gesê het dat Renee Crous maklik is. Jacques sê dat hy net bedoel het dat dit maklik is om met haar gek te skeer. Magriet hekel Esther vir haar opmerking: “Ons meisies sou verlore gewees het sonder AD” terwyl Hanno saam met haar gery het. Esther sê dat sy hierdie opmerking gemaak het toe hy geslaap het. George wil dadelik hoor hoe hulle dan verdwaal het as AD dan so goed is met die paaie, AD glimlag verleë en sê: Dis ‘n baie mooi pad. Hekels toe.

Charlotte hou aandgodsdiens en lees vir ons uit Matteus 7 oor die sorge van die lewe. Asook Psalm 121 en ‘n stukkie uit Efesiërs. Sy daag ons uit om in die tyd wat kom bietjie te dink en vas te stel waarop ons hoop gerig is.

Nag dames.

Donderdag 9 Junie

Meisies kom stuk-stuk terug van hul verskeie huise af. Ons eet ‘n ontbyt wat voel asof dit nie ophou nie. Ons kry die gevoel dat tannie Koers ons probeer volmaak vir die volgende paar dae en dat sy duidelik nie weet hoe daar geëet word by die BTK nie. Francois sê ‘n tandeborsel rympie op:

Ek borsel my tande terips teraps
ek borsel my tande terou
ek borsel my tande hier bo en onder
sodat hulle langer kan hou!

Sakke word gelaai en ons wend ‘n poging aan om die huis aan die kant te maak. Ons kom buite bymekaar en bedank vir oulaas die famlie Fourie’s. Ons vertrek net soos wat dit weer liggies begin reën.

Ons het nog nie baie ver gery toe ons begin om die sneeu op die berge te sien nie, NOU TOER ONS! Foto’s word geneem, minwetend oor hoe naby ons nog daaraan gaan kom! Ons arriveer by Mnweni. Johan het van die pad af gery om om te draai, net om die waarde van sy 4×4 te bewys. Toe een van die locals vir Mariaan Zeeman vra van waar ons kom, is sy so in verwondering oor die mooi om haar en antwoord sy baie entoesiasties: “We’re from South Africa!”

Ons toer al twee dae lank, en hoor vir die eerste keer die woorde: “Stap nou!” Die grondpad word aangedurf en daar’s is ‘n paar noue ontkomings in die modder. Gelukkig het ons stapstokke gekry by die vriendelike Mnweni-werkers. Anina en Charlotte het sommer dadelik ‘n wedenskap aangegaan om te kyk wie kan die langste hulle stokke hou, verloorder moet vir die wenner steers chips of burger koop, en ‘n roomys word sommer ook ingegooi. Elke keer as Charlotte haar kom kry, is sy agter by die slot, Francois en sy sleuteltjie, Jana. Daar ontstaan verwarring of sy ‘n ouvrou of houvrou is.

Middagbroodjies met cream cheese word geniet by ‘n mooi waterstroompie. Party groepies hou vir hulle oulik om nog komkommer ook by te sit. Dawie le Roux, wraakkaptein, begin met die uitkyk. Toe Reinhardt Venter geroep word, sit hy nog eers ‘n rukkie voordat hy opspring. ‘n Poging tot middagslapies word aangewend, maar word kort geknip. Stap nou!

Nie baie verder nie, word die ordentlikheidpraatjies gehou, en skreeusnaaksse grappies word in onderskeie geslagsgroepe vertel. De magtige koning word gedoen op die stuk oop veld, en veroorsaak groot vermaak, net jammer vir die sloot. Stap weer en Mariaan vra baie besorgd vir Adriaan of hy al ‘n foto geneem het van die sneeu.

Klim die laaste bietjie tot by Dassiekop. George sê dat as hy ‘n tent was, het hy nou daar gelê. Skiet word oopgemaak voordat die slot by is, en veroorsaak groot drama vir al Francois se sleuteltjies.

Daar word kamp opgeslaan en kos gestook. Almal geniet hulle sop, kos en poeding en kuier lekker saam in die apparte groepies. En toe word daar vir die eerste keer geslee.

Items sluit in die blondine grappie oor die gloeilampie deur die Hauman-susters en Anina, Jana en Marguerite le Roux voer vir Maria, pull yourself together man op, Doepie en Babes doen Hildebrandt-voete en trou in Brakpan met ‘n wit sweetpak, George en Yolandi Maritz as hulle ouers en ‘n spitbraai vir ‘n onthaal en Anina en Hugo is ‘n paartjie wat aan die verkeerde kant van die pad ry.

Hekels maak oop. Francois wil by Pieter van Rooyen hoor hoekom hy so teleurgesteld is dat hy nie tent in die son kan opslaan nie. Pieter verduidelik dat daar op die tent staan dat mens dit nie in direkte sonlig moet opslaan nie. Reinhardt word uitgevra oor sy verwarring met vitamien C pille, hy vertel dat hy by toervergadering gedink het dat sleepille eintlik seepille is, soos vir skeurbuik en dat hy dus super C’s saamgebring het vir sleelekkers. Daar word vasgestel dat Renee nie baie goeie rigting het nie, aangesien sy oor die telefoon net gesê het dat ons naby die Drakensberge is.

Magriet lees vir ons uit Prediker en sê dat God wil hê ons moet die lewe geniet.

Nag dames.

Vrdag 10 Junie

Die opstaan gebeur redelik vinnig en daar word geëet en afgeslaan. As dit moontlik is, is die sneeu vanoggend nog mooier. Oggendgodsdiens word gehou en daar word vir die eerste keer gesing terwyl mense stuk-stuk bykom en inval. Danie Malan lees vir ons Esegiël 47:2 en sê dat God ons nie verder gaan forseer nie, dit gaan oor ons verwagting. En dit gaan van jou afhang hoe oorvloedig geseën jy word. Hy gebruik ook voorbeelde uit Romeine 12 oor die riglyne vir liefde.

Stap nou!

Neem eerste groepfoto, na waarskuwing, goed anderkant dameskamp. Ons gaan oor die rivier en oorweeg dit om te swem, maar ons is eintlik ook haastig om by die slaapplek en sneeu uit te kom. Die eerste toeriste begin oefen aan die liedjies. Ons hou gamebreak waar die riviere bymekaar kom. Geneke du Plessis se skoene word gemodifiseer met rooi tape, net om in te pas by die BTK. Esther en Jacomien dink ‘n nuwe patent uit vir mense wat nie waterdigskoene het nie, en Esther probeer dit. Die patent: Trek aan jou sokkie, sit jou voet in ‘n plastieksak en sit dan jou voet met sak en al in jou skoen.

Stap die laaste bietjie na kampterein en slaan, na baie stryery oor die lyn tussen mans- en dameskamp, staan al die tente. Anina se dag word gemaak toe Charlotte met skok agterkom dat sy haar stok verloor het. Ons stap sonder sakke, maar toegerus vir die sneeu, terug op die padjie… ons gaan sneeu toe! Ons stap nogals met ‘n redelike spoed deur hoë plante en takke wat skraap, maar ons sien net die sneeu daar in die verte, wat ook nie eintlik nader kom nie. Jacomien val nie net eenkeer nie, maar twee keer op dieselfde modderige plek, dis regtig moeilik met kortbene. Realiteit skop in en daar word besef dat die sneeu nie gou gehaal gaan word nie, so ons eet middagete. Mmmm, die reuk van kerrievismiddagete heers oor die groep. Margo het die ilussie dat hoe stywer jy jou oë toeknyp hoe vinniger gaan die gebed wees. Oppad terug word Jacomien aangemoedig om nie weer te val nie, en Mariaan val en maak ‘n bollemakasie of twee.

Ons klim, soos in klim soos ‘n bobbejaan, op na ‘n grot met boesmantekeninge. Daar ontstaan groot sports om die vreemde bolletjies van ‘n plant aanmekaar se klere en hare te sit.

Kom terug by kamp, skiet is oop!

Daar word lekker in die rivier gebad, gesing terwyl kos voorberei word en geëet. Groepie 3 is so teleurgesteld dat daar nie poeding is nie, dat elkeen iets uit eie sak gaan haal onder leiding van Renee. Vanaand is wraakaand en almal kom vinnig in die slee’s om te sien wat die eerstetoeriste kan bied. Hulle konsert het iets te doen met ‘n time-machine wat ons terugvat na verskillende mense se verledes in die weermag of Harley Davidson klub. Manrich van Greunen dra ook ‘n gedig voor van die toer so ver. Nadat die sing oraait klink, word hulle weggelei, als verloop volgens plan, totdat George so bietjie struikel. Hulle word gewraak en 15 lede word ook welkom geheet by die BTK deur die ou-toeriste. Uiteindelik proe hulle die soetheid van die wraak en slee gaan verder. Die eerste-toeris groentetuin bestaan uit die volgende: Jaco-Chris Koorts: ‘n Rooi brand rissie. Renee: Rrromantiese rrrooi rrrissie. Reinhard: Rooi radys. Helene Booyens:is Helene die Green bean. Beaula: Beste boude blom. Christiaan Scholtz: Die boontjierank. En Leandri Groeneveld: Spinasie. Christelle Leuvenink, Grietjie, Jana, Magriet, Esther, Charlotte, Anina en Jacomien vertel die storie van hoe Tim in sy wooden leg gewounded is, hulle oorleef tot nog ‘n aanval van ‘n klomp makkers wat bietjie moeilik was om te identifiseer in die donkerte. Ons leef weer in die dae van die army en troepe. George besoek Francois se Abdulakopwinkel en Jaco-Chris is die kop wat die meeste werd is. Ligtoring Renee word aangesteek deur Francois en Hendrik.

Vanaand is daar weer ‘n klomp hekels wat heen en weer vlieg. Soos bv. Christelle: Jaco-Chris is die beste conveiner, en ek’t al baie gehad. Sy gee duidelikheid dat sy lekker saam met hom gewerk het i.v.m. ander conveiners. Francois redeneer dat ons êrens met nuwe tradisies moet begin en wil weet wanneer ons begin met soen in die slee.

Esther lees Romeine 12:1-2 en sê vir ons om hemelse burgerskap te kry, moet ons nou aan onsself sterf en dat ons moet doen aan onsself wat ons wil hê ander moet aan ons doen.

Nag dames.

Die dames word egter nie gou stil nie, en skree nog opmerkings oor hoe ongemaklik hulle lê.

Saterdag 11 Junie

Almal staan vinnig op om die sonsopkoms te sien, maar eintlik wil die meisies net uit die ongelyke dameskamp kom. George vertel ons dat ons vandag 900m gaan styg binne 1,5km soos wat ons met die Mnweni pas gaan opgaan, hy’t egter dadelik ‘n aanhaling vir aanmoediging: “Pain is weakness leaving the body”. Ons sing lekker saam en Anina lees vir ons Psalm 121. Sy herhinner ons dat God, ten spyte van sy ongelooflike grootheid, ons elkeen op ‘n spesifieke manier wil gebruik om ‘n rol te speel in sy groter plan en dat ons sy liefde moet uitdra deur hierdie rol te vervul.

Ons stap met die rivier op, en hou gamebreak langs die rivier by al die los klippe. Nie lank na gamebreak, begin ons om te styg, maar dit word stukkie vir stukkie aangepak. Opwinding heers soos wat ons al nader aan die sneeu kom. Toe die ys so langs die padjie begin lê is dit wonderlik en word daar net links en regs foto’s geneem. Hoe hoër mens gaan, hoe mooier raak die uitsig rondom jou, hoe kouer word dit en hoe meer sneeu lê daar, totdat dit later kniediep is, dis nou Christiaan se kniediep.

Uiteindelik kom ons bo, George wens elkeen geluk met ‘n handdruk. WOW! Elkeen verbeel hom dat hy ‘n top model is en glimlag, spring en gooi sneeu vir foto’s. Handskoene word uitgehaal om te speel, ‘n sneeuman word gebou en versier met ‘n nekdoekie, ‘n groot bol word opgerol en dan ook afgerol by die berg, ag, die kind in elkeen kom weer uit. Toe almal oor die grootste opgewondenheid is, word middagbroodjieseiltjies uitgegooi en provitas word gesmeer. Na ete word nog ‘n groepfoto geneem en ons stap ‘n entjie verder tot waar ons die aand gaan slaap.

By die kamp aangekom, word daar dadelik gewerskaf om plekke te kry vir die tente. Sneeu word weggeskop of weggeskep met grawe of sommer met plastiekborde. Toe meeste tente al staan, sukkel Esther, Yolandi en Anina nog met hulle eerste mxm blokkie. Die ouens gaan bad in die oorsprong van die Oranjerivier, ja, ons was ook daar, so moenie te sleg voel as jy die tweede toer gemis het nie! Hulle hou ‘n ook polobearchallenge. Man is man, maar ek kan nie help om eerder te dink: Man is mal, nie.

Foto’s sal nooit kan vasvang hoe ongelooflik dit daar bo gelyk het nie. En as jy ‘n bietjie stilbly, hoor jy dat dit tjoepstil is, nie eers voëls wat heen en weer roep nie, stilte. Maak nie saak watter kant toe jy kyk nie, jy sien net sneeu. Wat stelselmatig verlig word deur die maan. Kyk jy op, is dit ‘n wolklose hemelruim wat jy sien, met sterre mooi wyd en helder.

So word dit weer tyd om te eet. Groepies is wydverspreid oor die rotse en jy sien maar net die liggies in die verte. As jy die groep van die kant af dophou glimlag jy elke nou en dan as jy sien hoe iemand gly op die ys wat stuk-stuk uitsteek. Skielik is die plastieksakskoen nie meer so eienaardig nie, en almal begin dit tog doen.

Daar word nie vannaand geslee nie, maar tog gekuier in van die tente, en dis stories en herhinneringe wat daar sal bly. Jacomien help vir groepie 3 deur kondensmelk te blaas. Hasie-grappies word vertel terwyl daar styf gesit of gestaan word om bietjie hitte te kry. Daar word liedjies gesing, regdeur van FAK-liedjies tot by Eminem.

Sondag 12 Junie

Slaan die ge-ysde tente op met die wysie van Breek die ys in jou kop. George en Adriaan sweer hoog en laag dat dit ‘n kraai was wat groepie 3 se jelly babies opgeëet het, tot ‘n foto is geneem as bewys, maar dit is maar moeilik om te glo. Gerugte van ‘n benseenbottel wat oop was in een van die tente loop ook rond, en skielik verstaan mense wat daar geslee het die vorige aand waarom hulle so giggelrig was.

Gerrit lees vir ons uit Spreuke en Genesis met die boodskap dat God alles weet wat met jou gaan en moet gebeur, al wat ons kan doen is om te vertrou.

Stap nou! Net buite kamp versoek George dat ons ‘n bietjie net moet stilstaan en luister. Hierdie hoendervleisoomblik word ongelukkig kortgeknip deur Johan wat herken dat hy ADD het, en skielik dink jy jy verstaan hom dalk ‘n bietjie beter.

Ons stap verder en sink plek-plek in. Net voordat ons weer begin afgaan met die Rockeries-pas neem ons vir oulaas nog ‘n groepfoto in die sneeu en begin die styl, glad en klipperige pad na onder. Ons rus seker genoeg, maar George bly van mening dat hoe vinniger jy stap, hoe vinniger kom jy daar.

Ons stop by die rivier vir middagete. Groot verwarring ontstaan in groepie 1 omdat die provitas nêrens te vinde is nie, maar probleem word vinnig opgelos deur ‘n lekker pot pasta te maak. Vanaf middagete stap ons met ‘n stewige pas tot by die grondpad. Daar gekom, stap ons nog vinniger en sing liedjies soos wat die BTK kan sing. Ons stop by ‘n sokkerveld vir die gentlemenchallenge, en kom agter dat Charliebird, slot vir die dag, en sy sleutel, Ladybird bietjie lank vat om by te kom. Toe al die eerste-toeriste uiteindelik ook reg staan met ‘n tweede rugsak, laat val Christelle die nekdoekie en hulle hol. Hugo kom eerste, Adriaan tweede en Jacques Taljaard kom in op derde posisie.

Ons kom weer by Mnweni kampterrein, haal rugsakke af en maak ‘n sirkel. George bedank almal vir hulle toewyding en dat almal fiks was en met die regte toerusting gekom het. Ons dank God ook dat ons weer veilig terug is en dat ons so geseënd was met die weer. En natuurlik, word daar gekoning. Magriet maak damesskiet oop, nie baie hard nie, maar dame is tog dame.

Daar word gestort! Net bietjie gesukkel met die waterdruk en geaser, so meisies is toe nie so vinnig soos verwag nie.

Ons kamp op gelyke grond. As jy gewonder het of die toergroep nader aanmekaar gegroei het, kan jy maar net vannaand kyk hoe daar kosgemaak word: Al is daar ‘n groot grasperk, wat orals gelyk is en beter is as enige plek wat ons die afgelope paar aande was, sit al 4 groepies styf teen mekaar in ‘n ry. Groepie 1 word bederf met Johan se gasverwarmer, luuks.

Doepie begin kitaar speel en Jaco-Chris herken dat hy so verlief is op die kitaar dat hy sommer van die tent af nader gestap het. Ons geniet die bekende BTK-biltonggereg en eet lekker warm vla vir poeding.

Dit is asof mense besef dit is die laaste kans om te item en die items hou net aan. Die yskas-dokterbesoek word gedoen, met Johan as die dokter, George die man wat verneuk word deur Magriet, Charlie die werkende wat laat is vir werk en Francois wat regop gehou moet word deur Babes die sekretaresse. Ons is Saudi-Arabie met Avis-kamele, wat verby ‘n gesin ry wat stry oor wie wat in/van die kar gaan kry, nog mense wat in ‘n kar ry, is die blonde Jacomien wat afgetrek word deur ‘n nog blonder speedkop – Charlotte. Magriet en Grietjie is op hulle wittebrood in die ooste waar Ninja en Sumurai stry oor watter dag hulle gekom het. Anina en Hugo is Magriet en Charlie wat praat oor wat Charlie gaan doen met al Magriet se goed as sy voor hom moet sterf, hy sê hy sal als hou, behalwe die gholf-stokke, aangesien Jacomien nie gholf speel nie. Grietjie poog om die hasie en eend te wees wat die kroeg besoek vir onderskeidelik wortelsappies en spyker, maar getrou aan die Le Roux-gewoonte, vergeet sy die punchline. Yolandi doen Oscar-werk met haar vertolking as ‘n deur.

Hekels sluit in Johan wat vir Geneke vra hoekom sy sê dat sy ook ‘n man is, as sy al haar klere aanhet. Al wat sy bedoel het is dat sy ook dan kan deelneem aan dei polobear-challenge. Esther soek duidelikheid by George oor sy opmerking: “Dit was nou mooi” toe Leandri en Sanmarie Malan terugkom van dameskamp. George was eintlik net tevrede dat hulle so spoedig was. Esther loop ook deur, Yolandi wil weet waarom sy bly is sy’t vandag ‘n broek aangetrek. Esther verduidelik dat sy bang was vir die koue, endus bly was dat sy ‘n langbroek aangetrek het. Esther word ook gehekel deur Christelle, “Wat gaan daar voor aan, kan ek solank my broek uittrek?” Blykbaar was die sweetpakbroek net lekker, totdat dit begin warm raak het. Magriet vra vir Francois wat hy bedoel het toe hy reageer met: “Wat het jy aan?” nadat Yolandi vir hom gevra het wat hy van haar wil hê. Hy erken dat hy bietjie koud gekry het en eintlik nog ‘n warm iets gesoek het. Hendrik vra vir Jacques Taljaardt waarom hy gesê het: Back your boudjies, Jacques vertel dat dit maar net ‘n spontane uitlating van woorde was.

Jacomien lees uit Psalm 139 en 8 vertel hoe dankbaar ons moet wees vir die feit dat God ons so fyn aanmekaar geweef het met die nodige reflekse om nie ernstige beserings opgedoen het met die pad af nie. En ook hoe geseënd ons is om die afgelope paar dae te kon ervaar in ons leeftyd.

Nag dames.

Maandag 13 Junie

Ons word wakker gesing met ‘n BTK-weergawe van Stand by me, met BTK-weergawe bedoel ek: ‘n lae toonhoogte, wat ook plek-plek sukkel om te haal. Grietjie is dadelik ontsteld oor die moontlikheid dat Jana dalk in die sleekring geslaap het, nadat sy weggejaag is, darem het Jana, soos ‘n paar ander, die koue trotseer en buite, veilig in dameskamp, geslaap.

Ons sing met die kitaar en Margo lees uit Matteus 18 en moedig almal aan om weer geloof soos kinders te hê en God se wonders orals om ons raak te sien.

Ons klim in die karre en vertrek om Mount-Aux-Sources te gaan klim. Mens probeer om vir oulaas die prentjie vas te lê, maar dit bly onmoontlik, gelukkig het ons kameras wat ons bietjie kan help. Ry deur interessante dorpe en sien vreemde goed, TIA.

Kom uiteindelik by die natuurreservaat aan en ry op iets wat lyk soos ‘n pad, maar dink nie mens gaan ooit kan seker wees nie.

Ons begin die klim, en wonder so bietjie hoe erg die kettingleer nou rêrig kan wees. Maar dit sal ons ook nooit weet nie, aangesien daar ys op die padjie is en dit baie gevaarlik kan raak om op hierdie gladde besigheid te loop. In plaas daarvan neem ons maar groepfoto’s en stap terug na die uitkykpunt toe. Die uitkykpunt is ook moeilik om te verduidelik, as jy af in die kloof kyk kan jy nie glo hierdie skoonheid lê in Suid-Afrika nie. Na die eenkant toe is dit net vou op vou en groen, en anderkant toe is dit weer berg op berg wat versier word met die wit sneeu. Ons eet vir oulaas middagete en begin dan weer terugstap.

Terug in die parkeerterein, word daar weer ‘n sirkel gemaak. Ons bedank die toerouers vir hulle betrokkenheid en goeie gees in die groep en val sommer dadelik in met de magtige koning. Daar word afskeid geneem van die toerouers, Christiaan, Sanmari en Jacomien wat verder noord moet gaan.

Dis met die wysie van nog ‘n toer is verstreke in my kop en ‘n seer hart dat Jacomien Babes Hauman, sketsskrywer vir Drakensberge, moet afskeid neem van die groep, maar ek weet egter dat ek die sketsboekie in bekwame hande gelos het toe ek dit vir oud-sketsskrywer Charlotte Croconator Hauman om die storie te voltooi.

En so het almal in die verskillende karre geklim vir die roadtrip deel 2. Jy weet nie veel van wat gebeur het nie, maar George is die aand deur Magriet gehekel: “wat het jy gedink toe jy ‘n kar met 5 meisies ‘n radio gegee het”. Jy is vir die eerste keer bly dat jy net die geselskap van die mense in jou kar gehad het.

Op Betlehem gekom was dit tyd vir bietjie huise kyk voordat julle uiteindelik by jul slaapplek uitgekom het. George se GPS-battery was seker teen die tyd pap, dit het immers die pad gewys in die wit wêreld bo-op die berg. En die idee van backpackers (bunk beds ens) is toe vinnig vervang met ‘n grand bed and breakfast. Na so paar aande in ‘n tent, waarvan ten minste een onder vriespunt was, is ‘n warm kombers so luuks soos wat kan kom. Om van die stort nie eers te praat nie. Die Vrystaatse koue is nie vir sissies nie, maar ons voel baie welkom by die Spur, veral aangesien daar ‘n spesiale plekkie vir ons afgemerk is, BTK – Private Function. Kyk, jy sou graag wou te kenne gee dat die toer nogal epic was, die Drakensberge oor met so bietjie sneeu langs die pad… Maar geen Spur burger challenge? Ek voel amper half spyt dat ek daaroor moet skets-skryf, dis asof dit afbreek doen aan enige stories wat ons by die huis kan gaan vertel. Maar die burger-special maak plek vir ‘n hele nuwe challenge, 2 burgers vir die prys van 1, man is man, en so ‘n burgertjie is mos ‘n lekker voorgereg. Teen die tyd het die lus vir dans almal beetgekry. Esther is die brawe een wat vir die manager van die Spur gaan vra waar in Betlehem mens ‘n bietjie kan gaan dans. Bygesê, as jy vir 2 dae lank met sakke om jou voete en ‘n checkers-sak op jou rugsak rondgeloop het, het jy alle idees van wat sosiaal-aanvaarbaar is by die deur uitgegooi en staan jy nie terug as iemand moet vra of daar op ‘n dorpie in die middel van die Vrystaat ‘n dansplek op ‘n Maandag-aand oop is nie, en die opsies klink toe ook taamlik beroerd. Met vol mae is julle toe maar terug na die B&B, en met ‘n gebrek aan dansplek, doen ons dit soos net die BTK kan. ‘n Boot-party in die oprit, ook genoem ‘n stokie-sokkie.

Dis vir oulaas ook tyd vir hekel en Bybellees, en na ons geoefen het in Tannie Koers se huis, pas al 40 maklik in een van die B&B kamers, en daar word lekker gekuier. Van die hekels kan jy nie veel onthou nie, behalwe dat George nogal deurgeloop het. Die idee om verder te dans is deur die bestuurders doodgeskiet, en so is daar toe maar verder gekuier in die kamers. Jy voel nie jy kan jou uitspreek oor gerugte van snow-burn behandeling nie so dit sal ongelukkig moet bly by gerugte.

Nag dames.

Dinsdag 14 Junie

Dis 4uur die oggend, en nie regtig ‘n geleë tyd om uit jou warm-kombers bed op te staan nie, maar julle is gepak en daar weg. Die lang rit word die keer aangepak in ‘n konvooi van al 8 karre, en daar word gereeld geruil en gekuier langs die pad; met so ‘n ervaring agter die blad is dit net BTK-gees waar jy kyk, en jy wil met soveel as moontlik mense vir oulaas kuier. Wel, dis nou met almal behalwe AD. Om in pas te bly met die honderde trokke langs die pad dra die vandag ‘n sweetpakbroek met ‘n belt (ja jy’t reggehoor) en daarby ‘n wife-beater. ‘n Uitrusting wat vir seker by die trokdrywer-modeparade met ten minste ‘n eerste plek sou kon spog.

Die vele Stop-and-go’s is die keer (anders as met die komslag in die reen) ‘n bron van vele vermaak, jy dink dis die eerste keer in jou lewe dat jy spyt is as die bordjie GO wys. Want die spesiale groep maak toe sommer ‘n nuwe BTK-tradisie, die stop-and-sokkie manier van dinge doen. En met 8 karre is daar natuurlik ‘n verskeidenheid opsies, van boere-musiek by Dawie, tot electric-avenue by Sneeuleeu George en “today I don’t feel like doing anything” by Esther. Die BTK is immers inklusief – daar is ‘n plekkie vir elkeen in die stop-and-go son om sy inner-style uit te leef, tot die vermaak van die werkers langs die pad. Die een vroutjie merk op “Julle is lekker mense”, nadat sy eers uit haar maag gelag het vir die moves. Dit natuurlik tot dit tyd is om weer in die kar te klim, met almal wat scatter in verskillende rigtings, party met minder gemak as ander.

En toe die stop-and-go’s verby is, en ‘n laatmiddagete by Laingsburg ook agter die rug is, is dit toe afdraend huis toe om die epic-roadtrip af te sluit by die Neeslie-parkeerterrein. Dis met gemengde gevoelens wat jy daar aankom, aan die een kant bly dat die 17 uur lange rit verby is, maar aan die ander kant regtig spyt dat die toer verby is. So jy klou maar vir oulaas aan jou Mnweni-stok vas en sing verby die knop in jou keel as jy dink aan die hele nuwe, uitsonderlike spesiale ervaring wat jy by jou duisende-ervarings kan voeg, en die “lekker mense” wat dit saam met jou kon deel, in die kar, op die voetpaadjies, teen die berg, in die sneeu.

Dis ‘n week later, en ek vlieg bo-oor die Drakensberge. Dit voel onwerklik dat ek, saam met 40 ander mense, mense wat so baie soos ek is, wat gevoelens, perspektief en geloof met my deel, in daardie sneeu gespeel, gelag, gesing en geslaap het. Daar kom sit ‘n knop in my keel dat ek nie die laaste bietjie saam met julle kon ervaar het nie, maar ek besef ook dat hierdie ervaring, waarvan die kanse maar skraal is om te weer te beleef, saam met julle gedeel is. Julle, wat ook volgens ander mal is om in die Drakensberge te gaan stap in Junie. Die dae het inderdaad snel verby gegaan, maar gelukkig weet ek dat die BTK nog lank in elkeen van ons gaan leef.

Jacomien Hauman

die Wit draak

veertig opgewonde harte
verbind verpak vervoer
na ‘n verre-weg plek
waar die Wit draak waak

veilig verreis die harte
deur storms en wind,
deur paaie met gate
en ligte wat blind
en ongesiens, hou die Wit
draak waak

die nag verruis verby met blitse en reën maar met die vroeg oggend lig bring die Wit draak wat waak vir ons ‘n engel-seën

:’n liewe tante Fourie met
‘n oop hart en hand
gee vir ons sluiling-
kaggelvuur en die
lekkerste pannekoek in die land

maar vroeg volg die more
met groetes en dank
want vêr wag Mweni
en die pad is nog lank

skaars aangekom en die son hang hoog
flink skarrel die harte met sakke gerug die eerste tree tref hard die nat pad en vêr in die verte waak die Wit draak se oog

met stappe oor trappe
en klimme oor klippe
so stap die harte langs afgrond-krans
en suutjies deur grashalems wat dans

want die donker kruip nader
en die kamp moet nog gemaak,
vure gestook en waters gedra
dit als terwyl die Wit draak waak

die vroeë more verklink met sirkel-gesang “ons kyk op na die berge waar sal ons hulp van kom?”
“veilig gevestig soos ‘n ribbok”,
vra ons aan Hom

en aan die einde van alles met
hoogtes bereik, herhinnerings herdink
vriendskappe geheg en harte verbind
is daar regtig geen verskoning
om aan almal te vertel
dat dié Wit draak wat waak
ís De Machtige Koning

Manrich van Greunen