Oranjerivier 2011 verkorte skets

Op Sondag 10 Julie, gans te vroeg om oggend genoem te word, het ‘n klomp deur-die-slaap dog opgewonde studente aan die Universiteit van Stellenbosch die lang pad van Stellenbosch na Raap-en-Skraap (of Haak-en-Steek soos dit later sou heet) kampterrein aan die Oranjerivier aangedurf. Die pad is kort gemaak deur ‘n paar treffers oor die draadloos. Tog moet mens wonder of die stap dan so hard gaan wees aangesien daar redelik gehammer word op die lirieke: “Every day I’m shuffling!”

By die kampterrein gekom is daar kamp opgeslaan en ‘n grootskaalse worsbraai word van stapel gestuur. Nadat almal se mae gevul is is daar vreemde begrippe soos slee, skiet en item aan die eerste toeriste verduidelik. Die aand word daar vroegerig ingekruip want more begin die groot stap!

Maandag more vroeg terwyl dit sommer nog donker is word almal uit die vere geskud om die laaste stuk pad Onseepkans toe te pak.

By Onseepkans word die bus agter gelaat en vir die volgende paar dae moet daar op jou eie voete staatgemaak word om te kom waar jy wil wees. Dis egter geen probleem nie aangesien die beeldskone omgewing en interessante mense genoeg afleiding bied sodat jy nie eers agterkom dat die kilometers tree vir tree verby gly nie.

Sommer van die begin af word daar lyne natgemaak, maar sonder enige noemenswaardige suksesse. Teen die einde van die toer kan mens nie anders as om die manne effens jammer te kry wat visstokke, visgerei, mielies en selfs ‘n klein braairoostertjie of twee vir 60 km saamgepiekel het en die enigste vissetjies wat hulle uitgetrek het moes terug stuur skool toe nie!

Elke dag se stap deur die doringbosse, oor die klippe en op die sanderige oewers van die Oranjerivier gaan gepaard met ‘n hengelary, singery, grapmakery en ‘n algemene verwondering aan en waardering vir die pragtige natuurskoon waarin mens jouself bevind. Elke aand word daar uitgespan onder die sterrehemel en mens kan vergewe word as jy dink dat dit eintlik ‘n baie aantreklike lewenstyl is en jy so sou kon leef in Stellenbosch as die grond daar net bietjie sagter was!

Teen die einde van net ‘n week se toer word daar met ‘n swaar hart afskeid geneem van mense wat jy voel jy eintlik al baie langer ken. Dit is weer tyd om Stellenbosch se klasse, harde werk en lekker gejollery aan te durf, maar diétoer was beslis nie net ‘n mislukte hengelekspedisie nie maar oor die loop van ‘n paar dae is vriendskappe gesmee en ervarings meegemaak waarna daar nog lank met ‘n warm hart aan terug gedink sal word.