BTK Berghut!

Die Berghut ‘n werklikheid!

Na jare se afwagting is die kontrakte vir die bou van die berghut in Junie 2011 onderteken. Na meer as drie jaar se onderhandelinge met trustees van die See Eike Trust en die “Wortelgat Outreach Trust” (WOT) is daar ooreengekom vir die bou van ‘n berghut wat vir beide partye se gebruik sal wees.

Die bouplanne vir die berghut is tans ingedien, en sodra dit goedgekeur is sal daar gewoel en gewerkskaf word deur die studente om verskeie take op die perseel te verrig. Die berghut sal deur huidige sowel oud BTK’aners gebruik kan word, en is so ontwerp om vir jonk en oud te akkommodeer!

Volgens die kontrakte sal die berghut gebou word binne die volgende 24 maande te Bellevue perseel, ongeveer 9km buite Hermanus. Die perseel is geleë naby die Maanschynkop Natuurresrvaat, en het ‘n asemrowende uitsig oor Hermanus se strandmeer. Dit sal vir stappers slegs 20 minute neem om die hut te bereik, waar hul kan afkoel in die groot waterpoele van die rivier of ‘n waterval wat nie te ver van die hut geleë is nie.

Die volgende fase is ‘n baie belangrike fase vir die BTK. Hier gaan die studente se hulp baie benodig word. Take soos ontbossing, pad bou en materiaal vervoer word aan die studente oorgelaat om koste te bespaar. Hulle gaan hier in noue bande saam met die lede van WOT en die oud BTK’aners werk om te verseker dat die bou van die berghut ‘n sukses is. Die komende tydperk is voorwaar ‘n opwindende tydperk waarby elke BTK’aner ‘n bydrae kan maak tot die toekoms van die BTK.

Indien jy meer inligting wil bekom of betrokke wil raak by hierdie geskiedkundige gebeurtenis, dan kan jy my gerus kontak by

Selfoon nr: 076 684 2332

E–pos: 15367908@sun.ac.za

Bou nou, studeer later!

Charlie de la Harpe